’n Besoek aan die berggorillas
Deur Ontwaak!-medewerker in Tanzanië
NET ongeveer 320 van hulle woon in die vulkaniese gebied op die grens van Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Nog 300 woon in die ondeurdringbare woud in Uganda. Hulle is die berggorillas—van die mees bedreigde soogdiere in die wêreld!
Die Amerikaanse dierkundige Dian Fossey het baie gedoen om openbare belangstelling te wek in die lot van hierdie diere. Dian het in die laat sestigerjare na Afrika toe gekom om berggorillas te bestudeer. Op daardie stadium was hulle vinnig besig om te verdwyn as gevolg van wilddiefstal. Die moedige wetenskaplike het in die Virungagebergte ’n kluisenaarsbestaan begin voer en gou met die gorillas wat daar gewoon het bevriend geraak. Dian het haar bevindings in tydskrifartikels en in die boek Gorillas in the Mist gepubliseer. Met verloop van tyd het sy al hoe meer vasbeslote geraak om haar gorillavriende te beskerm en feitlik oorlog teen wilddiewe gevoer. Maar sy het ’n slagoffer van haar eie kruistog geword en is in 1985 deur ’n onbekende aanvaller vermoor.
Aangevuur deur die hoop om self hierdie vreedsame diere te sien, het ek en my vrou in 1993 besluit om dit in die gorillahabitat in te waag. Laat ons asseblief toe om ons avontuur te herlewe.
Dit begin waar ons gidse ons ’n uur lank laat klim van die voet van die 3700 meter hoë Visokevulkaan af tot aan die rand van die Vulkane- Nasionale Park, in Rwanda. Terwyl ons ’n welkome blaaskansie vat, verduidelik ons gidse hoe ons ons by die gorillas moet gedra. Daar word vir ons gesê dat net agt besoekers per dag toegelaat word om hierdie spesifieke groep diere te besoek. Dit verminder die gevaar dat hulle aan siektes blootgestel word en voorkom ook gedragsversteurings.
“As ons eers in die woud is”, herinner een gids ons, “moet ons saggies praat. Dit sal ons help om die ander diere en voëls in die woud te sien, want buiten die berggorillas is daar goue samango-ape, duikers, bosbokke, olifante en selfs buffels.”
Ons word ook daarvan bewus gemaak dat daar brandnetels en miere in die park is en dat ons dalk in die mistige en modderige bos sal moet loop. Ek en my vrou kyk vir mekaar. Ons is nie daarvoor toegerus nie! Maar die vriendelike gidse help ons deur vir ons reënjasse en stewels te leen.
Ons gids verduidelik dan dat die gorillas uiters vatbaar is vir menslike siektes en dat enigiemand wat siek is of weet dat hy dalk ’n aansteeklike siekte onder lede het, moet agterbly sodat die gorillas beskerm kan word. “As julle wil hoes of nies terwyl ons by die gorillas is, moet julle asseblief van die diere af wegdraai en julle neus en mond probeer toehou”, sê een van die gidse. “Onthou! Ons is gaste in hulle mistige tuiste.”
Naby genoeg om aan hulle te raak!
Die klimtog raak al hoe steiler. Ons bereik ’n hoogte van 3000 meter. Die lug is dun, wat dit redelik moeilik maak om asem te haal, en die paadjies is nou. Maar ons kan die prag van die hageniaboom geniet, met sy takke wat horisontaal uitgesprei is en met ’n digte groeisel mosse, varings en orgideë bedek is. Dit gee die woud ’n paradysagtige skoonheid.
Die gidse begin nou soek na die plek waar die gorillas die vorige dag gesien is, hoewel die gorillas voortdurend aan die rondtrek is op soek na vars kos. “Kyk daar!” roep iemand uit. Saamgepak in die sagte plantegroei is die bed, of nes, van die silwerruggorilla.
“Hy word Umugome genoem”, verduidelik die gids. “Wanneer ’n gorillamannetjie ongeveer 14 jaar oud is, word die rug wit soos silwer. Hy word dan as die leier van die groep beskou. Dit is net die silwerrug wat met al die gorillawyfies paar. Jonger gorillas wat dit probeer, word onmiddellik verdryf! Maar as ’n mededinger daarin slaag om die silwerrug dood te maak, maak hy ook al die kleintjies dood. Dan neem die nuwe leier oor en bring hy kleintjies voort saam met die wyfies in die groep.”
“Hoe lank kan ’n gorilla lewe?” vra iemand in ons groep terwyl ons die gidse in ’n pragtige bamboeswoud in volg.
“Tot omtrent 40 jaar”, antwoord hy saggies.
“Sjt! Sjt!” fluister iemand wanneer ’n diep gegrom gehoor word. “Wat was dit? ’n Gorilla?” Nee, maar een van die gidse grom soos ’n gorilla om ’n antwoord te probeer kry. Ons moet baie naby wees!
Sowaar, net vyf meter van ons af is daar ongeveer 30 van hulle! Ons word aangesê om op ons hurke te sit en stil te bly. “Moenie na hulle wys nie”, sê ’n gids, “aangesien hulle dalk sal dink dat jy hulle met iets gooi. Moet asseblief nie skreeu nie. Wanneer julle foto’s neem, moet julle stadig en versigtig beweeg, en moenie ’n flits gebruik nie.”
Ons is naby genoeg om aan hulle te raak! Maar voordat enigiemand dit kan doen, fluister ’n gids: “Moenie aan hulle raak nie!” Hy het dit skaars gesê of ’n paar gorillatjies kom nader om ons te bekyk. Die gids slaan hulle saggies met ’n klein takkie, en die nuuskierige kleintjies rol teen die afdraande af, al stoeiende soos klein kindertjies. “Ma” tree tussenbeide wanneer hulle te rof speel.
Die silwerrug hou ons van ’n afstand af dop. Skielik beweeg hy nader aan ons en gaan sit hy net ’n paar meter van waar ons sit. Hy is kolossaal en moet ongeveer 200 kilogram weeg! Hoewel hy ons dophou, is hy te besig om te eet om veel aandag aan ons te skenk. Trouens, dit is wat ’n gorilla hoofsaaklik doen! ’n Silwerrug kan tot 30 kilogram kos per dag eet. En elke dier in die groep is van die môre tot die aand besig om kos te soek. Partykeer kan ’n mens sien hoe hulle baklei oor “lekkernye” wat hulle gevind het.
Hulle gunstelingkos is die murg van die reusesenecioplant. Hulle geniet ook wildeseldery, die wortels van sekere plante en bamboeslote. Partykeer maak hulle selfs ’n “slaai” deur bamboeslote met groen blare van distels, netels, galium en verskeie wortels en ranke te meng. “Waarom word die gorillas nie gesteek deur die netels wat hulle vat en skoonmaak nie?” vra iemand. ’n Gids verduidelik: “Hulle het ’n dik laag vel aan die binnekant van hulle palms.”
Ons geniet nog hierdie rustige toneel toe die kolossale mannetjie skielik op sy agterpote staan, met sy vuiste op sy bors slaan en ’n aaklige, senutergende uitroep gee! Hy storm op een van die gidse af, maar kom skielik tot stilstand net voordat hy by hom kom. Hy gluur die gids kwaai aan! Maar ons gids raak nie paniekerig nie. Hy gaan sit eerder op sy hurke, grom en beweeg stadig agteruit. Die silwerrug wou ons blykbaar net deur sy krag beïndruk. Glo my, hy het daarin geslaag!
Die gidse gee nou vir ons die teken dat ons gereed moet maak om te vertrek. Ons het, as gaste “in die mis”, bietjie meer as ’n uur saam met hierdie wonderlike, vreedsame diere deurgebring. Hoewel ons besoek kort was, was dit een van ons onvergeetlikste ondervindinge. Ons kan nie anders nie as om te dink aan die Bybel se belofte van die komende nuwe wêreld, waarin daar vir goed vrede tussen mens en dier sal heers!—Jesaja 11:6-9.
[Kaarte op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Gebied van die berggorilla
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO
Kivumeer
UGANDA
RWANDA
AFRIKA
Gebied vergroot
[Erkenning op bladsy 18]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.