Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/08 bl. 15-17
  • Gaboen—’n toevlug vir dierelewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gaboen—’n toevlug vir dierelewe
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Loango—’n unieke strand
  • Lopé—een van die gorillas se laaste toevlugte
  • Biodiversiteit word bewaar
  • Die verkragting van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • ’n Besoek aan die berggorillas
    Ontwaak!—1998
  • Skaduwees oor die reënwoud
    Ontwaak!—1997
  • Die voordele van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 1/08 bl. 15-17

Gaboen​—’n toevlug vir dierelewe

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GABOEN

KAN jy jou ’n tropiese strand voorstel waar olifante langs die see wei, waar seekoeie swem en waar walvisse en dolfyne naby die kus bymekaarkom? Aan die kus van Afrika is daar 100 kilometer strande waar sulke tonele nog algemeen is.

Hierdie unieke kusgebied sal beslis bewaar moet word sodat sulke tonele in die toekoms geniet kan word. Gelukkig is daar op 4 September 2002 iets gedoen omtrent die bewaring van hierdie belangrike gebied toe die president van Gaboen aangekondig het dat 10 persent van Gaboen—insluitende uitgestrekte dele met ongerepte kuslyn—as nasionale parke opsygesit sou word.

Hierdie wildernisgebiede, wat sowat 30 000 vierkante kilometer beslaan—’n gebied so groot soos Lesotho—het baie om besoekers te bied. “Gaboen het die potensiaal om ’n natuurmekka te word en pelgrims, wat op soek is na die laaste oorblywende natuurwonders op aarde, uit die vier windrigtings te lok”, het president Omar Bongo Ondimba gesê.

Waarom is hierdie reservate so belangrik? Woude beslaan sowat 85 persent van Gaboen se landoppervlak, en tot 20 persent van die plantspesies hier word nêrens anders op aarde aangetref nie. Daarbenewens bied Gaboen se ekwatoriale woude ’n toevlug vir laaglandgorillas, sjimpansees, bosolifante en baie ander bedreigde spesies. Die parke wat onlangs geskep is, sal Gaboen ’n uitstekende bewaarder van Afrika se biodiversiteit maak.

Loango—’n unieke strand

Die Loango- Nasionale Park is moontlik een van Afrika se uitsonderlikste bestemmings waar wild besigtig kan word. Dit is ’n bewaringsgebied wat honderde kilometers ongerepte strande insluit waaraan varswaterstrandmere en digte ekwatoriale woude grens. Maar wat werklik Loango se strande uniek maak, is die diere wat langs die strand aangetref word—seekoeie, bosolifante, buffels, luiperds en gorillas.

Waarom word hierdie diere van die woud na die strand gelok? Langs Loango se wit sandstrande is daar grasvelde waar seekoeie en buffels kan wei. Delebpalmbome, wat langs die strand groei, bring ’n oorvloed vrugte voort wat vir bosolifante byna so onweerstaanbaar is soos roomys vir kinders. Maar die belangrikste rede is die afgesonderdheid. Die enigste spore op die sand is dié van diere.

Die afwesigheid van mense maak hierdie afgeleë strande ’n ideale plek vir die bedreigde leerskilpaaie om hulle eiers te lê. Rooskleurige byvreters het soortgelyke voorkeure wanneer dit kom by nesmaak, en hulle grawe hulle kolonieneste net ’n paar meter bo die hoogwatermerk in die sand uit. Meer as ’n duisend boggelwalvisse kom gedurende die somermaande in Loango se kalm waters bymekaar om te paar.

Twee enorme strandmere vorm ’n skeiding tussen die strande van Loango en die ekwatoriale woud en bied ’n ideale habitat vir krokodille en seekoeie. Daar is volop vis in hierdie binnelandse seë, waarvan die oewers deur wortelboomwoude omring word. Visarende en visvalke fynkam die oop waters van die strandmere, terwyl etlike soorte kleurvolle visvangers in die vlak water na vis soek. Olifante, wat lief is vir water, swem graag deur die strandmeer om by die strand uit te kom en aan hulle gunstelingvrugte te smul.

In die ekwatoriale woud skarrel apies in die boonste takke van die wouddak rond terwyl kleurvolle skoenlappers in die sonnige ooptes fladder. Vrugtevlermuise slaap gedurende die dag in hulle gunstelingbome en dan, gedurende die nag, doen hulle die noodsaaklike werk om sade deur die woud te versprei. Op die rande van die woud drink glinsterende suikerbekkies nektar van die blombome en -struike. Loango word dus heel gepas beskryf as “’n plek waar jy die atmosfeer van ekwatoriale Afrika ten volle kan ervaar”.

Lopé—een van die gorillas se laaste toevlugte

Die Lopé- Nasionale Park sluit groot dele ongerepte reënwoud in, asook savanne en galerybos wat plek-plek in die noordelike deel van die park voorkom. Dit is ’n ideale plek vir natuurliefhebbers wat gorillas, sjimpansees of mandrils in die natuur wil besigtig. Daar is tussen 3 000 en 5 000 gorillas in die bewaringsgebied van 5 000 vierkante kilometer.

Augustin, ’n voormalige parkbeampte, onthou ’n unieke ontmoeting wat hy in 2002 met gorillas gehad het. “Terwyl ek deur die woud geloop het, het ek op ’n gesin van vier gorillas afgekom”, vertel hy. “Die mannetjie, ’n yslike silwerruggorilla wat sowat 35 jaar oud was, het bo my uitgetroon. Hy het seker ten minste drie keer swaarder as ek geweeg. Ek het die aanbevole prosedure gevolg en dadelik gaan sit, my kop laat sak en na die grond gekyk as ’n teken van onderworpenheid. Die gorilla het langs my kom sit en sy hand op my skouer gesit. Daarna het hy my hand gevat, dit oopgemaak en my palm ondersoek. Toe hy tevrede was dat ek geen bedreiging vir sy gesin inhou nie, het hy rustig in die woud ingeloop. Op daardie onvergeetlike dag het ek besef hoe wonderlik dit is om diere in hulle natuurlike habitat te sien. Hoewel mense gorillas doodmaak vir wildsvleis of weens die wanopvatting dat hulle gevaarlik is, is hulle vreedsame diere wat verdien om deur ons beskerm te word.”

In Lopé kom mandrils, groot bobbejane, in groot groepe bymekaar wat soms uit meer as duisend diere bestaan. Dit is een van die grootste groepe primate ter wêreld, en hulle is beslis ’n luidrugtige klomp. ’n Besoeker van Kameroen beskryf sy ondervinding met een van hierdie groot groepe.

“Ons gids het die mandrils opgespoor, danksy die radiohalsbande wat baie van die diere dra. Ons het voor die groep uit beweeg, vinnig ’n gekamoefleerde skerm opgerig en hulle ingewag. Ons het 20 minute lank na die musiek van die woud geluister, wat deur ’n magdom voëls en insekte uitgevoer is. Hierdie rustigheid is skielik verbreek toe die mandriltrop daar aankom. Die geluid van takke wat breek en harde roepe het my die indruk gegee dat ’n groot storm op pad is. Maar toe ek die [leiers] sien, het hulle meer soos die voorlinie van ’n leër gelyk. Die groot mannetjies het die trop gelei en vinnig oor die woudvloer geloop, terwyl wyfies en kleintjies bo hulle van tak na tak gespring het. Skielik het een van die groot mannetjies in sy spore vasgesteek en agterdogtig rondgekyk. ’n Jong mandril, wat bo in die wouddak gevolg het, het ons raakgesien en alarm gemaak. Die hele groep het hulle pas versnel, en ’n selfs groter lawaai gemaak toe hulle luidrugtig uiting begin gee het aan hulle ergernis. Binne ’n paar oomblikke was hulle weg. My gids het geskat dat sowat 400 mandrils by ons verbybeweeg het.”

Sjimpansees maak net soveel geraas as die mandrils en is selfs moeiliker om raak te sien wanneer hulle vinnig deur die woud beweeg in hulle voortdurende soeke na kos. Aan die ander kant sien besoekers byna altyd groot witneusape wat soms rondhardloop in die savanne wat aan die woud grens. Die skuuste inwoner van Lopé is moontlik die sonstertaap, ’n inheemse spesie wat eers omtrent 20 jaar gelede ontdek is.

Die groot, kleurvolle voëls van die woud—soos loeries en neushoringvoëls—maak hulle teenwoordigheid met kras roepe bekend. Sowat 400 voëlspesies is al in die park opgeteken, wat dit ’n mekka vir voëlkykers maak.

Biodiversiteit word bewaar

Loango en Lopé is net twee van Gaboen se 13 nasionale parke. Ander parke is ook bewaringsgebiede vir wortelboomwoude, unieke plantegroei en trekvoëls. “Gaboen het die beste ekosisteme in die hele land opsygesit”, sê Lee White van die Natuurbewaringsvereniging. “Dit is nie net die grootte nie, maar ook die gehalte van die bewaringsgebiede wat saak maak. In 2002 het hulle oornag ’n ideale stelsel van nasionale parke geskep wat al die biodiversiteit van die land insluit.”

Daar is natuurlik nog baie uitdagings, soos president Bongo Ondimba openlik erken. “Ons praat hier van ’n wêreldwye onderneming”, sê hy, “wat ongetwyfeld lang- sowel as korttermynopofferings sal verg sodat ons ons doelwit kan bereik om hierdie natuurwonders aan toekomstige geslagte na te laat.”

[Kaarte op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AFRIKA

GABOEN

Die 13 nasionale parke van Gaboen

Lopé-Nasionale Park

Loango-Nasionale Park

[Prente op bladsy 16, 17]

Boggelwalvis, en Loango uit die lug gesien

[Erkenning]

Walvis: Wildlife Conservation Society

[Prente op bladsy 16, 17]

’n Mandril (links) en ’n gorilla (regs)

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Robert J. Ross

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel