Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 1/22 bl. 22-23
  • Die veelsydige chitenge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die veelsydige chitenge
  • Ontwaak!—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Vasbeslote om volgens Jehovah se sedelike standaarde te lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • “Ek het nog nooit sulke liefde ervaar nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Soeke na die waarheid beloon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
Ontwaak!—1998
g98 1/22 bl. 22-23

Die veelsydige chitenge

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NAMIBIË

DIE chitenge—weet jy wat dit is? As jy ’n oomblik het, kan jy gerus saam met ons op ’n kort reis na ’n Afrikadorpie gaan en kyk hoe die veelsydige chitenge tydens werk en ontspanning gebruik word.

Die dorpie wat ons besoek, is Rundu, Namibië. Ons eerste stilhouplek is die bedrywige mark. Vroue met stralende gesigte onderhandel oor pryse, koop, verkoop of staan net en gesels. Maar bekyk hulle ’n bietjie van nader, en jy sal sien dat hulle feitlik almal ’n kenmerkende kledingstuk dra, ’n oorslagromp wat as ’n chitenge bekend staan.

Die chitenge, wat van katoen gemaak word, is twee meter lank en een en ’n half meter breed en spog met ’n eindelose verskeidenheid van kleure en ontwerpe. Party is versier met prente van diere en ander met mense of landskaptonele.

Daarna besoek ons van die dorpsbewoners by hulle netjiese kleihuise met ’n grasdak. Die vroue is besig met hulle daaglikse huiswerk—hulle hark die sand voor hulle huis of kry die vuur gereed vir die gesin se ete. Party het net ’n chitenge aan, wat nou hoog opgetrek en om die bolyf vasgemaak is as ’n soort kamerjas. Wanneer die vroue aantrek—miskien ’n bloes of ’n romp—sal hulle ’n chitenge om hulle heupe vasmaak sodat hulle romp nie vuil word wanneer hulle op die stowwerige dorpspaaie loop nie.

Het jy daardie aantreklike jong vrou gesien? Sy het van ’n chitenge—wat twee meter lank is—’n ingewikkelde en mooi tulband gemaak. En kyk hoe dra sy haar baba. Sy het ’n ander chitenge soos ’n hangverband geknoop en dra dit oor een skouer. Haar baba is heel tevrede om so op sy ma se rug gedra te word. As hy begin huil, trek sy eenvoudig die chitenge vorentoe en borsvoed of troos hom terwyl sy aanhou loop.

Jy het dalk ook gesien hoe sy haar geld toeknoop in ’n hoek van haar oorslagromp—’n gerieflike beursie. Nadat sy haar inkopies gedoen het, maak sy ’n ekstra chitenge los, sit die groente daarin, bind dit behendig in die materiaal toe en plaas die inkopiesak op haar kop sodat sy dit huis toe kan dra.

Wanneer sy by haar huis ingaan, sal jy ander vindingryke gebruike vir hierdie veelsydige stuk materiaal sien. Voor elke deuropening hang daar ’n helderkleurige chitenge. Soos jy kan sien, is daar geen binnemure nie. ’n Stuk lyn is van die een kant van die woning na die ander kant gespan, en vier chitenges hang daaraan wat die woonvertrek van die slaapkamer skei.

Ons gasvrou sit haar groente neer en besef dat die brandhout op is. Voordat sy in die bos ingaan om ’n bondel hout bymekaar te maak, maak sy seker dat sy ’n ekstra chitenge by haar het. Nadat sy die brandhout bymekaargemaak het, gebruik sy een chitenge om al die stukke vas te bind. Dan neem sy ’n ander chitenge en rol dit styf op tot ’n dik, ringvormige band, wat sy op haar kop sit. Dit dien as ’n uitstekende kussing wanneer sy die groot bondel hout op haar kop sit en dit huis toe dra.

Sodra ons vriendin haar kos saggies aan die kook het, besluit sy dat sy tyd het om ’n rukkie by haar naaste bure te gaan kuier. Terwyl sy gesels en beduie, gooi sy haar chitenge soos ’n kombers op die grond oop en sit sy haar baba daarop neer. Hy beloon sy ma met ’n vriendelike glimlag wanneer sy vir hom ’n stokkie gee om mee te speel.

Alte gou moet ons vriendin huis toe gaan om na die kos om te sien. Maar die lug het donker geword, en skielik begin dit reën. Ewe gerus sit sy haar baba op een arm en hang sy vernuftig die chitenge oor haar kop. Met haar kitssambreel oor hulle gaan sy huis toe om na die kos te gaan omsien.

Romp, kamerjas, beursie, inkopiesak, kussing, kombers, sambreel, kinderdraer, tulband—dit lyk of die chitenge se gebruike eindeloos is, en dit getuig van die vindingrykheid van hierdie mense van Afrika.

[Prente op bladsy 23]

Die “chitenge” is baie nuttig om brandhout in toe te draai, die baba in te dra, om as ’n mooi tulband of ’n kleurvolle kombers te dien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel