Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/8 bl. 18-21
  • Die troebadoers—meer as net minnesangers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die troebadoers—meer as net minnesangers
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verskillende agtergronde
  • ’n Nuwe respek vir vroue
  • Hulle invloed op die maatskaplike lewe
  • Die nuusmedia van hulle dag
  • Kritiek teen die kerk
  • Die kerk se stryd teen vryheid
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
  • Die Katare—Was hulle Christenmartelaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die Franse Bybel se stryd om behoue te bly
    Ontwaak!—1997
  • Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/8 bl. 18-21

Die troebadoers—meer as net minnesangers

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

TROEBADOERS en swerwer-sangers—waaraan laat hierdie woorde jou dink? Miskien aan liedere van hoofse liefde en ridderlikheid. Jy is nie verkeerd nie, maar daar het veel meer agter die troebadoers gesit as dit. Hoewel hulle moontlik die beste bekend is vir die canso d’amor, of liefdeslied—en dus meestal met ’n luit in die hand afgebeeld word terwyl hulle ’n dame ’n serenade bring—was liefde nie al wat vir hulle van belang was nie. Die troebadoers was by baie van die maatskaplike, politieke en godsdiensgeskille van hulle dag betrokke.

Die troebadoers het gedurende die 12de en 13de eeu gefloreer dwarsdeur wat nou suidelike Frankryk is. Hulle was digter-musikante wat in die verfyndste van al die Romaanse landstale geskryf het. Dit is langue d’oc genoema—die verkeerstaal van naastenby die hele Frankryk suid van die Loirerivier en van die aangrensende streke van Italië en Spanje.

Die oorsprong van die woord “troebadoer” lok baie bespreking uit, maar dit is blykbaar afgelei van die Occitaanse werkwoord trobar, wat “komponeer, uitdink of vind” beteken. Troebadoers kon dus die regte woord of rympie vind om by hulle elegante vers te pas. Hulle gedigte is getoonset en gesing. Die troebadoers het van dorp tot dorp gereis, dikwels vergesel van professionele sangers wat jongleurs genoem is, en hulle liedere met ’n harp, viool, fluit, luit of kitaar uitgevoer. In die herehuise van die rykes sowel as op markpleine of by ridderspele, tentoonstellings, feeste of onthale was ’n musiekuitvoering gewoonlik deel van enige formele vermaak.

Verskillende agtergronde

Troebadoers het verskillende agtergronde gehad. Party is uit vooraanstaande families gebore; ’n paar was konings en ander was van nederiger afkoms en het tot die rang van troebadoer gevorder. Party het groot aansien verwerf. Baie was geleerd en het ver en veel gereis. Almal het omvattende opleiding ontvang in hoflikheidsreëls, galante maniere, die digkuns en musiek. Een bron sê dat daar van ’n goeie troebadoer verwag is “om al die jongste nuus goed te ken, om al die noemenswaardige verhandelinge van die universiteite oor te vertel, om goed op die hoogte te wees van skandale aan die hof, . . . om oombliklik vir ’n heer of dame verse te kan komponeer en om ten minste twee van die gunstelinginstrumente van die hof te bespeel”.

Die ontwikkeling van die handel in die 12de eeu het groot rykdom vir die suidelike streke van Frankryk gebring. Die voorspoed het ledige uurtjies, opvoeding en ’n verfynde smaak vir die kunste en ’n swierige lewenswyse meegebring. Die belangrike here en dames van Languedoc en Provence was die troebadoers se getrouste ondersteuners. Die digters het hoë agting geniet en het groot invloed op die smaak, mode en maniere van die adellikes gehad. Hulle het die vaders van Europa se baldanse geword. The New Encyclopædia Britannica sê egter dat “hulle groot prestasie was om ’n ongeëwenaarde aura van verfyndheid en beleefdheid om die hofdames te skep”.

’n Nuwe respek vir vroue

Wanneer ’n man ’n deur vir ’n vrou oopmaak, haar help om haar jas aan te trek of enige van die talle vorme van “dames eerste”-hoflikhede verrig wat al eeue lank in Wes-Europa beoefen word, sit hy ’n gebruik voort wat waarskynlik met die troebadoers begin het.

Middeleeuse gesindhede teenoor vroue is grootliks deur die kerkleer beïnvloed, wat die vrou verantwoordelik gehou het vir die mens se sondeval en sy uitsetting uit die Paradys. Sy is gesien as ’n verleidster, ’n werktuig van die Duiwel, ’n noodsaaklike kwaad. Die huwelik is dikwels as ’n verdorwe lewenstoestand beskou. Die kerkwet het vroueslanery en verstoting toegelaat, wat tot die vernedering en oorheersing van die vrou bygedra het. Vroue is in feitlik alle opsigte as ondergeskik aan mans beskou. Maar met die koms van die troebadoers het die denke van mans begin verander.

Die eerste bekende troebadoer was Willem IX, hertog van Aquitanië. Sy gedigte was die eerstes wat die elemente bevat het wat kenmerkend was van die troebadoers se unieke begrip van die liefde, wat later hoofse liefde genoem is. Provensaalse digters het dit verai’amors (ware liefde) of fin’amors (voortreflike liefde) genoem. Dit was revolusionêr in die sin dat die vrou nie meer in ’n posisie van willose ondergeskiktheid aan die man geplaas is nie.

Die troebadoers se gedigte het groot waardigheid, eer en respek aan die vrou verleen. Sy het die verpersoonliking van edele en deugsame eienskappe geword. Party liedere het die dame se koel onverskilligheid teenoor die bewonderende sanger beklaag. Die troebadoer se liefde sou ten minste in teorie kuis bly. Sy vernaamste doel was nie om die dame syne te maak nie, maar eerder die sedelike verfyning wat sy liefde vir haar in hom teweeggebring het. Die vooruitstrewende digter moes noodgedwonge nederigheid, selfbeheersing, geduld, lojaliteit en al die edele eienskappe wat sy besit het, aankweek om haar waardig te wees. Selfs die ongepoetsste man kon dus deur liefde verander word.

Die troebadoers het geglo dat hoofse liefde die bron van maatskaplike en sedelike verfyning is, dat hoflike en edele dade uit liefde spruit. Namate hierdie gedagte ontwikkel is, het dit die grondslag vir ’n hele gedragskode geword, wat mettertyd in die gewone stande van die gemeenskap opgeneem is. In teenstelling met die feodale gemeenskap, wat onverfynd en wreed was, het ’n nuwe lewenswyse begin. Vrouens het nou van hulle mans verwag om selfopofferend, bedagsaam en goedhartig te wees—om ware here te wees.

Dit was nie lank nie of groot dele van Europa het die troebadoers se kunsvorm begin beoefen. Spanje en Portugal het hulle temas aangeneem. Noordelike Frankryk het hulle trouvères gehad; Duitsland hulle minnesangers; Italië hulle trovatori. Die troebadoers se tema van hoofse liefde, wat vermeng is met die ideale van ridderlikheid, het aanleiding gegee tot ’n nuwe literatuurstyl, naamlik die roman.b Deur die ideaal van hoofse liefde met legendes van Keltiese Bretagne te meng, het die trouvère Chrétien de Troyes byvoorbeeld die deugde vrygewigheid en die beskerming van die swakkes in verhale van koning Arthur en die Ridders van die Tafelronde saamgevat.

Hulle invloed op die maatskaplike lewe

Terwyl die meeste troebadoerliedere die deugde van hoofse liefde geloof het, het ander oor die maatskaplike en politieke geskille van hulle dag gehandel. Martin Aurell, Franse skrywer van La vielle et l’épée (Die viool en die swaard), het verduidelik dat die troebadoers ‘daadwerklik deelgeneem het aan die stryde wat hulle tydgenote verdeel het en dat die troebadoers deur hulle komposisies selfs tot die welslae van die een of ander party bygedra het’.

Robert Sabatier lewer kommentaar oor die troebadoers se unieke posisie in die Middeleeuse gemeenskap en sê: “Nooit tevore het digters soveel aansien geniet nie; nooit tevore het enigiemand soveel vryheid van spraak gehad nie. Hulle het mense geprys en berispe, hulle het hulleself die spreekbuis van die volk gemaak, hulle het staatsbeleide beïnvloed en hulle het die medium vir nuwe gedagtes geword.”—La Poésie du Moyen Age.

Die nuusmedia van hulle dag

Daar kan tereg gesê word dat die troebadoers en ander swerwer-sangers lank voor die drukpers uitgevind is as die nuusmedia van hulle dag gedien het. Middeleeuse minnesangers was internasionale reisigers. Aan al die howe in Europa—van Siprus tot Skotland en van Portugal tot Oos-Europa, waar hulle ook al gegaan het—het hulle nuus versamel en verhale, melodieë en liedere uitgewissel. Aangesien die bekoorlike wysies van die troebadoers se liedere vinnig mondelings van jongleur tot jongleur versprei is, het die volk dit aangeleer en het dit ’n groot invloed op die openbare mening gehad en die volksmassa aangevuur om die een of ander saak te ondersteun.

Een van die talle digvorme wat die troebadoers gebruik het, word die sirvente genoem, wat letterlik “kneg se lied” beteken. Party het die onregverdigheid van heersers aan die kaak gestel. Ander het dade van dapperheid, selfopoffering, vrygewigheid en barmhartigheid verheerlik, terwyl dit barbaarse wreedheid, lafhartigheid, huigelary en selfsug gekritiseer het. Die sirventes van die vroeë 13de eeu gee geskiedkundiges ’n kykie op die politieke en godsdiensklimaat van Languedoc gedurende ’n tyd van groot omwenteling.

Kritiek teen die kerk

Met die mislukking van die Kruistogte het baie mense aan die geestelike en wêreldlike gesag van die Katolieke Kerk begin twyfel. Die geestelikes het beweer dat hulle Christus verteenwoordig, maar hulle dade was alles behalwe Christelik. Hulle huigelary, hebsug en verdorwenheid het algemeen bekend geword. Aangesien die kerk se biskoppe en priesters voortdurend meer rykdom en politieke mag nagejaag het, het hulle die rykes se wense bevredig. Hulle verwaarlosing van die geestelike behoeftes van die armes en middelstande het uiteraard verdeeldheid gesaai.

In Languedoc was baie mense van die middelstande sowel as die adeldom geleerd. Die geskiedkundige H. R. Trevor-Roper het gesê dat ’n meer geletterde lekedom ontdek het dat die 12de-eeuse kerk “baie verskil het van die eertydse voorbeelde wat dit voorgegee het om na te volg”. Hy voeg by dat baie mense begin dink het: “Hoeveel anders tog . . . was die ongevestigde Kerk voor Konstantyn, die Kerk van die Apostels, . . . van die vervolgings: ’n Kerk sonder ’n pous of feodale biskoppe of ryk skenkings of heidense leerstellings of nuwe voorskrifte wat bedoel is om die rykdom en mag daarvan te vermeerder!”

Languedoc was ’n land van verdraagsaamheid. Die grawe van Toulouse en ander suidelike heersers het aan die volk godsdiensvryheid toegestaan. Die Waldensec het die Bybel in langue d’oc vertaal en het dit in pare ywerig deur die hele streek verkondig. Die Katare (ook Albigense genoem) het ook hulle leer versprei en het baie bekeerlinge onder die adellikes gemaak.

Baie van die troebadoers se sirventes het die volk se teleurstelling in asook hulle minagting vir en afkeer van die Katolieke geestelikes weerspieël. Een sirvente deur Gui de Cavaillon veroordeel die geestelikes omdat hulle “hulle vernaamste roeping versaak het” vir meer wêreldlike belange. Die troebadoers se lirieke het die spot gedryf met die helse vuur, die kruis, die bieg en “heilige water”. Hulle het aflate en relieke as belaglik voorgestel en het onsedelike priesters en verdorwe biskoppe in spotdig as “verraaiers, leuenaars en huigelaars” aan die kaak gestel.

Die kerk se stryd teen vryheid

Die Roomse Kerk het hom egter as verhewe bo elke ryk en koninkryk beskou. Oorlog het die instrument geword waarmee mag uitgeoefen is. Pous Innocentius III het die hele Languedoc se rykdom beloof aan enige leër wat die prinse kon onderwerp en alle afwykende sienswyses in Frankryk se suidelike gebiede kon uitroei. Dit het gelei tot een van die bloedigste tydperke van marteling en moord in Frankryk se geskiedenis. Dit het bekend geword as die Albigensiese Kruistog (1209-29).d

Die troebadoers het dit die Valse Kruistog genoem. Hulle liedere het uiting gegee aan hulle woede oor die kerk se wrede behandeling van andersgesindes en die pous se aanbod van dieselfde aflate vir die vermoording van Franse andersgesindes as vir die vermoording van Moslems, wat as ongelowiges beskou is. Die kerk het hom grootliks verryk gedurende die Albigensiese Kruistog en die Inkwisisie wat daarop gevolg het. Families is onterf en daar is op hulle grond en huise beslag gelê.

Die meeste troebadoers het na minder vyandige lande gevlug omdat hulle daarvan beskuldig is dat hulle Katariese ketters is. Hierdie Kruistog het die einde beteken van die Occitaanse beskawing, sy lewenswyse, sy digkuns. Die Inkwisisiewet het dit onwettig gemaak om ’n troebadoerlied te sing of selfs te neurie. Maar hulle erfenis het voortbestaan. Trouens, hulle antiklerikale liedere het die weg gebaan vir wat die Hervorming sou word. Die troebadoers kan waarlik vir meer as hulle liefdesliedere onthou word.

[Voetnote]

a Die Latyn wat van die Romeinse legioene geërf is en Romaans genoem is, het teen daardie tyd tot twee landstale in Frankryk ontwikkel: Suidelike Frankryk het langue d’oc (ook bekend as Occitaans, of Provensaals) gepraat, terwyl noordelike Frankryk langue d’oïl (’n vroeë vorm van Frans wat soms Ou Frans genoem word) gepraat het. Hierdie twee tale is van mekaar onderskei deur die woord wat hulle vir ja gebruik het. In die suide was dit oc (van die Latynse hoc); in die noorde oïl (van die Latynse hoc ille), wat die hedendaagse Franse oui geword het.

b Enige werk wat in die noordelike of die suidelike volkstaal geskryf is, is ’n roman genoem. Omdat baie van hierdie ridderverhale oor hoofse liefde gehandel het, het dit die standaard geword vir alles wat as ’n roman of as romanties beskou word.

c Sien Die Wagtoring, 15 Oktober 1981, bladsye 11-15, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

d Sien Die Wagtoring, 1 September 1995, bladsye 27-30.

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Printer’s Ornaments/deur Carol Belanger Grafton/Dover Publications, Inc.

Bibliothèque Nationale, Paris

[Prent op bladsy 19]

’n Miniatuur uit ’n 12de-eeuse manuskrip

[Erkenning]

Bibliothèque Nationale, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel