Ecuador—’n Land wat op die ewenaar lê
DIE ewenaar was die eerste ding wat ek en my vrou as besoekers uit Europa omtrent Ecuador opgemerk het. Dit is nou wel ’n onsigbare lyn, maar die invloed daarvan op Ecuador is onmiskenbaar.
Die naam Ecuador is Spaans vir “ewenaar”. Sommige dink dalk dat die ewenaar Ecuador se klimaat bepaal. Maar kort ná ons aankoms het ons ontdek dat warm of koue weer meer met hoogte te doen het as met die tyd van die jaar. Aangesien die son op hierdie breedtes regdeur die jaar hoog bo in die lug is, is die hoogte bo seevlak een van die beste maatstawwe waarvolgens ’n mens kan bepaal hoeveel lae klere jy moet aantrek.
Hoewel die ewenaar tipies van Ecuador is, gee die Andesgebergte karakter aan die land. Hierdie majestueuse berge loop soos ’n ruggraat deur die land en bring ’n oneindige verskeidenheid landskappe voort.
’n Verskeidenheid kleure
Kleur was ons tweede indruk van Ecuador. Een oggend kort ná ons aankoms het ons in die skaduwee van ’n paar groot bome gesit. Ons is verwelkom deur die fluitserenade van wielewale, die aanhoudende gekyf van winterkoninkies en die deurdringende akkoorde van parmantige stompstert-mierkrappers. Maar hulle kleure was selfs treffender as die klanke.
In ’n karmosynrooi flits het ’n rooi vlieëvanger van sy rusplekkie af gepyl om ’n muskiet te vang. ’n Swerm heldergroen parkiete het om aandag geroep terwyl hulle met ’n kalkoenaasvoël geraas het wat bo hulle in die lug rondgesweef het. Die pragtige geel-en-swart wielewale en die blinkblou morpho-skoenlappers het hulle eie kleurspatsels by die onvergeetlike toneel gevoeg.
Terwyl ons deur die land gereis het, het ons opgemerk dat die helder kleure van die voëls en die skoenlappers ook in die kleredrag en handwerk van Ecuador weerspieël word. Die helderrooi rompe van die Cañar-Indiaanse vroue het byvoorbeeld ooreengekom met die karmosynrooi kleur van die vlieëvanger. En dit het gelyk asof al die kleure wat in Ecuador te sien is in die helder tapisserieë van die Otavalo-Indiane opgeneem is.
Wisselende klimaat
Die ewenaar en die Andes werk saam om Ecuador van ’n wisselende klimaat te voorsien. Binne ’n paar kilometer—soos die kondor vlieg—verander die klimaat van die bedompige tropiese hitte van die Amasone na die sneeu van die bergspitse.
Ons het eendag van die voetheuwels naby die Bo-Amasone af na die hoë berge rondom Quito gereis. Namate ons motor al hoe hoër geklim het, het ons gesien hoe die tropiese reënwoud geleidelik ’n wolkwoud word en uiteindelik na wilde moerasgebied, oftewel paramo, verander. Die dramatiese veranderinge in die natuurtonele het die indruk geskep dat ons binne net ’n paar uur van ekwatoriale Afrika af na die Skotse Hooglande gereis het.
Baie Ecuadoriaanse dorpe en stede is in valleie geleë waar hulle tussen die berge genestel is en waar dit as ’t ware die hele jaar deur lente is. Maar dorpe hoër op in die Andesgebergte kan enige van die vier seisoene op enige tydstip ondervind—en soms al vier gedurende een dag! Soos ’n ervare reisiger dit gestel het: “Die voorspelbaarste aspek van Ecuador se weer is die onvoorspelbaarheid daarvan.”
Kolibries en kondors
Weens die verskillende klimate is daar ’n oorvloed fauna en flora. Daar is meer as 1500 voëlsoorte in Ecuador, wat twee maal soveel is as in die hele Verenigde State en Kanada en ’n sesde is van al die bekende soorte ter wêreld. Hulle almal kom voor in ’n land wat kleiner as Italië is.
Die piepklein kolibries was ons groot gunstelinge—daar is ongeveer 120 soorte in Ecuador. Ons het hulle die eerste keer in stadstuine gesien waar hulle vroeg in die oggend druk besig was om lappe blomstruike te patrolleer. Hulle kom diep in die Amasonereënwoud voor en selfs hoog op die winderige hange van die Andesgebergte.
In die dorp Baños het ons ’n kolibrie wat die rooswangkolibrie genoem word ’n hele uur lank dopgehou terwyl hy by ’n klomp rooi hibiskusblomme nektar gesoek het. Terwyl hy onvermoeid van die een blom na die ander gefladder en die kosbare nektar behendig opgesuig het, het ’n mededinger met ’n meer ontspanne benadering opgedaag. Dit was ’n sleepstertkolibrie, wat so genoem word weens sy lang swart stert wat hom na ’n swart komeet laat lyk wanneer hy in sy gebied rondvlieg en sy mededingers wegjaag. Pleks van in die lug te hang, het hierdie kolibrie op die steel van die blomme gesit en dit van agter af stukkend gesteek om by die nektar uit te kom.
Nie alle Ecuadoriaanse voëls is so klein nie. Die majestueuse kondor, die grootste van al die roofvoëls, sweef steeds oor die Andesgebergte, al is daar min van hulle oor. Ons het voortdurend die hoë pieke dopgehou om sy onmiskenbare silhoeët te sien, maar dit was tevergeefs. In die Amasonestreek is dit net so moeilik om die harpyarend—die sterkste roofvoël in die wêreld—raak te sien. Die grootste deel van die dag sit hy onopvallend op ’n tak van ’n tamaai boom in die ongerepte reënwoud en wag hy om neer te skiet op ’n niksvermoedende luidier of apie.
Geneeskragtige plante
Baie plante wat in Ecuador gevind word, is geneeskragtig sowel as vir versiering. Tydens ons besoek aan die Podocarpus- Nasionale Park in die suide van die land, het ons gids ’n boompie met rooi bessies aan ons gewys. “Dit is die kaskarillaboom”, het hy verduidelik. “Die bas daarvan is al eeue lank die bron van kinien.” Tweehonderd jaar gelede het kinien die lewe gered van ’n Spaanse edelvrou in die nabygeleë Loja wat besig was om aan malaria te sterf. Dit het spoedig dwarsdeur die wêreld gewildheid verwerf, hoewel dit lank reeds aan die Inkas bekend was. Die kaskarillaboom lyk dalk met die eerste oogopslag nie juis indrukwekkend nie, maar die medisyne wat van die bas gemaak word, het al baie lewens gered.
Die wolkwoud waar daardie boom floreer, huisves ook talle ou bome met hulle knoetserige takke wat met puntige bromelias versier is, waarvan party helderrooi blomme dra. Hierdie afgeleë woude is ook ’n skuilplek vir die brilbeer, die oselot en die poema sowel as tallose plantsoorte wat plantkundiges nog probeer katalogiseer.
Wetenskaplikes is besig om ’n klein Ecuadoriaanse padda te bestudeer in hulle soeke na beter pynstillers. Die vel van hierdie gifpylpadda skei ’n pynstillende middel af wat blykbaar 200 maal sterker as morfien is.
Hoog in die Andesgebergte het ons party plante gesien wat vir ons heeltemal vreemd was. Die poeja, ’n bromelia wat kolibries lok, het ons aan ’n groot outydse besem laat dink wat net wag vir iemand om dit op te tel en die omliggende gebied uit te vee. In beskutte laagtes van die verlate paramo kom dwergwoude voor van quinua, ’n geharde boom wat op dieselfde hoogte bo seevlak as die dennebome van die Himalajagebergte groei. Hierdie struikagtige bome, wat slegs twee tot drie meter hoog is, vorm byna ondeurdringbare ruigtes wat welkome skuilplekke vir voëls en diere is.
In die Amasonereënwoud is die bome egter hoog en welig. Tydens ’n besoek aan die Jatun Sacha- Biologiese Stasie het ons onder ’n woudreus gestaan wat ver oor die 30 meter hoog was. Skielik het ’n klein beweging naby sy enorme stutwortels ons laat skrik. Toe het ons besef dat een van die smal splete in die wortels die tuiste van ’n gesin van klein vlermuisies was. Hierdie ontmoeting het ons daaraan herinner dat die woud van baie van hierdie simbiotiese verhoudings afhanklik is. Vlermuise, wat vername saadverspreiders en bestuiwers in die reënwoud is, is belangrike bondgenote van die bome wat aan hulle beskutting bied.
Markte in die berge
Omtrent 40 persent van Ecuador se bevolking bestaan uit Indiaanstamme. Die verskillende etniese groepe—elk met sy eiesoortige drag—is ’n kenmerk van die meeste Andes-valleie. Ons het dikwels Indiaanse vroue gesien wat steil paadjies teen die berghange uitklim en skaapwol spin terwyl hulle loop. Dit het gelyk asof feitlik geen hang te steil vir hulle was om te bewerk nie. Ons het ’n graanland bekyk wat volgens berekeninge teen ’n helling van ten minste 45 grade aangelê is!
Die markte van Ecuador, soos dié van Otavalo, het beroemd geword. Dit is sentrums waar plaaslike inwoners diere en plaasprodukte sowel as tradisionele geweefde goedere of ander handwerk kan koop of verkoop. Aangesien die plaaslike inwoners in hulle kenmerkende kleredrag mark toe gaan, is die geleentheid ’n skouspel wat baie toeriste lok. Jehovah se Getuies maak ook van die markdae gebruik om die Bybel se boodskap aan die mense te verkondig.
’n Kenmerk van die wewer se werk wat mense aantrek, is die antieke styl en die kwistige gebruik van tradisionele kleure en ontwerpe. Die mense van die Andes het al lank voordat die Spanjaarde daar aangeland het hulle beroemde poncho’s geweef. Hoewel hulle tegniek gemoderniseer is, maak hierdie hardwerkende Indiane steeds pragtige breidrag en tapisserieë.
Berge in die mis
Iemand wat aan reisnaarheid ly, moet liewer nie deur die Andesgebergte reis nie. Die slingerpaaie styg en daal dig by die kante van kronkelende valleie. Die dapper reisiger word beloon met ’n panorama wat voortdurend verander en wat ’n mens net as ontsagwekkend kan beskryf.
Toe ons vir die eerste keer in die Andesgebergte rondgery het, het mis—wat ons byna altyd vergesel het—ons motor omring. Ons het soms uit die newel gekom, en dan kon ons sien hoe golwende, mistige valleie ver voor ons uitgestrek lê. Terwyl ons al met die Andiese bergreeks langs gereis het, het dit gelyk asof die mis met ons speel. Een oomblik nog sou ’n dorpie waardeur ons gereis het heeltemal in mis gehul wees. En ’n paar minute later sou die volgende dorpie in helder sonskyn baai.
Soms het die mis al warrelend van onder af opgestyg; soms het dit bo van die bergpieke af gerol. Hoewel dit irriterend was om nie die pragtige uitsig te kan sien nie, het die mis tog prag en geheimsinnigheid verleen aan die hoë pieke wat bo dit uittroon. Nog belangriker, dit onderhou die wolkwoud wat kosbare vog daaruit verkry.
Op ons laaste oggend in Ecuador het die mis opgeklaar. Ons het etlike ure lank ’n pragtige uitsig gehad oor Cotopaxi—’n byna volmaakte, sneeubedekte keël. Hierdie aktiewe vulkaan, die hoogste in die wêreld, is nou die middelpunt van ’n nasionale park. Toe ons nader aan die piek gekom het, was ons verbaas om ’n groot gletser te sien wat duim vir duim langs een van sy hange af beweeg. Op ’n hoogte van byna 6000 meter trotseer dit die kragtige ekwatoriale son met welslae.
Die volgende dag, toe ons vliegtuig Quito verlaat het op pad huis toe, het ons vir die laaste keer vlugtig oor Ecuador gekyk. In die vroeë oggendlig het ons Cayambe, nog ’n sneeubedekte vulkaan, gesien wat bokant die mis uitgesteek en amper soos goud in die sonlig geglinster het. Hierdie vulkaan, waarvan die piek byna reg bo-op die ewenaar lê, was soos ’n gepaste afskeidsimbool van die betowerende land wat ons besoek het. Net soos Cayambe, lê Ecuador ook ewe statig op die ewenaar.—Bygedra.
[Prente op bladsy 25]
Andiese landskap met Cotopaxi-vulkaan op die agtergrond
Indiaanse blommeverkoopster
[Prente op bladsy 26]
1. Wildepiesang
2. Gryskeelhoutkapper
[Erkenning]
Foto: Zoo de Baños