Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 12/22 bl. 22-25
  • Ongelooflike ontdekkings by die aarde se ewenaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ongelooflike ontdekkings by die aarde se ewenaar
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ware ewenaar
  • Verdere ongelooflike ontdekkings
  • Hoe het hulle geweet?
  • Wie was hulle?
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Ecuador—’n Land wat op die ewenaar lê
    Ontwaak!—1998
  • Buitengewone teleskoop onthul die son se geheime
    Ontwaak!—1990
  • Die uitsonderlike kenmerke van ons son
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 12/22 bl. 22-25

Ongelooflike ontdekkings by die aarde se ewenaar

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ECUADOR

’N DEBAT oor die presiese vorm van die aarde het in 1735 by die toonaangewende Akademie van die Wetenskappe in Parys gewoed. Ondersteuners van Isaac Newton se teorieë het tot die slotsom gekom dat die aarde bolvormig is met afgeplatte pole. Ondersteuners van die Cassini-denkrigting het gesê dat die afplatting by die ewenaar voorkom.

Om hierdie rede is twee ekspedisies in 1736 gestuur om die kromming van die aarde te meet. Een het na Lapland gegaan, in die rigting van die Noordpool, en die ander na wat vandag Ecuador is, na die ewenaar.a Die ondersoek het bewys dat Newton se ondersteuners reg was.

Om die 200ste herdenking van daardie Franse ekspedisie te vier, is ’n monument in 1936 naby Ecuador se hoofstad, Quito, gebou. Die monument is geleë op die lyn wat deur die 18de-eeuse Franse wetenskaplikes vasgestel is as die nulbreedtegraad, of ewenaar. Tot vandag toe besoek tallose toeriste die monument, wat die Middel van die Wêreld genoem word. Hier kan hulle wydsbeen oor die ewenaar staan en tegelykertyd in twee halfronde wees. Of kan hulle?

Nie regtig nie. Onlangse bevindings het die ligging van die ewenaarslyn effens aangepas. Verbasend genoeg, die inheemse volke het eeue voor die Franse wetenskaplikes se aankoms daardie presiese ligging reeds vasgestel. Maar hoe?

Die ware ewenaar

In 1997 is die oënskynlik onbelangrike ruïnes van ’n halfronde muur bo-op die berg Catequilla ontdek, wat net noord van Quito geleë is. Met behulp van die satelliettegnologie van die globale posisioneringstelsel (GPS) het die navorser Cristóbal Cobo ontdek dat een van hierdie muur se punte presies op die ewenaar geleë is.b

Die feit dat die muur met die ware ewenaar ooreenstem, kon maklik as toevallig afgemaak word. Maar ’n lyn wat die twee punte van die muur verbind, vorm ’n hoek van 23,5 grade met die ewenaar. Dit is amper presies die hoek waarteen die aarde se as gekantel is!c Daarbenewens wys een punt van die verbindingslyn na die plek waar die son opkom op die sonstilstand in Desember, en die ander punt wys na die plek waar die son ondergaan op die sonstilstand in Junie. Meer ontdekkings het gevolg.

Met behulp van ’n teodoliet bo-op Catequilla het navorsers vasgestel dat die piramides van Cochasquí, wat uit ’n pre-Inkatydperk dateer, teen ’n hoek oplyn wat saamval met die plek waar die son opkom op die sonstilstand in Junie.d Dit is betekenisvol dat Pambamarca, ’n ander argeologiese terrein, geleë is teen ’n hoek wat saamval met die plek waar die son opkom op die sonstilstand in Desember.

Kan dit wees dat Catequilla as die sentrale punt van sterrekundige waarneming gebruik is? Is ander plekke spesifiek gebou in ooreenstemming met sterrekundige berekeninge wat van hierdie sentrale punt verkry is?

Verdere ongelooflike ontdekkings

Namate meer sterrekundige rigtingslyne op ’n kaart aangebring is, het ’n vorm te voorskyn gekom—’n agtpuntige ster. Hierdie vorm word op antieke keramiekwerk gevind en is al dikwels verduidelik as ’n eenvoudige voorstelling van die son, aangesien vroeë inwoners van die land sonaanbidders was. Keramiekfragmente wat op Catequilla opgegrawe is, is ontleed en daar is gevind dat dit tot amper ’n duisend jaar terugdateer. Tot vandag toe weef die inheemse stamme ’n agtpuntige ster in hulle tapisserieë en klere in, net soos hulle voorvaders blykbaar gedoen het. Maar hulle voorvaders het heel waarskynlik meer betekenis aan hierdie vorm geheg as wat oor die algemeen vermoed word.

Die Quitsa-to-Projek, onder leiding van Cobo, versamel dwingende bewyse van die vroeë inheemse volke se sterrekundige vernuf.e Daar is meer as 12 argeologiese terreine en talle antieke dorpies gevind wat presies oplyn met die sterrekundige stervorm as dit bo-op die ewenaar geplaas word met Catequilla as die middelpunt.

Dit is selfs verstommender dat die ligging voorspel is van ruïnes wat destyds nog nie eers ontdek was nie. Hoe is dit gedoen? In September 1999 het die Quitsa-to-Projek aanbeveel dat opgrawings in die Altamira-sektor van Quito gedoen word, op een van die lyne wat teen ’n hoek van 23,5 grade van Catequilla af uitgestraal het. ’n Groot nekropolis is daar gevind, asook baie keramiekwerk van koloniale, Inka- en pre-Inkatydperke.

Sommige straallyne uit Catequilla loop ook deur kerke wat gedurende die Spaanse koloniale era gebou is. Cobo verduidelik dat die raad van Lima in 1570 daarop aangedring het om “kerke, kloosters, kapelle en kruise [te bou] op al die heidense ‘guacas’ en plekke van aanbidding van die inboorlinge”. Waarom het hulle dit gedoen?

Wel, hierdie plekke van aanbidding is deur die Spaanse monargie as heidens beskou. Dit is dus vernietig, en Katolieke kerke is op die oorspronklike terreine gebou. Dit was makliker om die inboorlinge tot Katolisisme te bekeer as die kerke op antieke sontempels gebou is.

Die Kerk van San Francisco in die ou koloniale deel van Quito is geleë op een van die straallyne uit Catequilla. Dit is in die 16de eeu op ’n pre-Inkastruktuur gebou sodat die strale van die opkomende son op die sonstilstand in Desember in die koepel inskyn en op ’n driehoek bo die altaar val. Namate die son hoër beweeg, skuif die ligstraal afwaarts en veroorsaak dit ’n helder gloed op die gesig van ’n beeld getiteld “God die Vader”. Hierdie verskynsel vind presies op die sonstilstand in Desember plaas! In ander plaaslike kerke is sulke sonligvertonings ook in die argitektuur ingesluit met die doel om sonaanbiddende inboorlinge tot Katolisisme te bekeer.

Hoe het hulle geweet?

Hoe kon daardie antieke beskawing geweet het dat Catequilla die “middel van die wêreld” is? Daar is slegs een plek op die aarde waar voorwerpe om twaalfuur die middag op die dag-en-nag-ewening geen skaduwee werp nie: die ewenaar. Die Quitsa-to-Projek doen dus aan die hand dat die antieke volke die ligging van die aarde se ewenaar deur die noukeurige waarneming van skaduwees sou kon vasstel.

Daarbenewens is die berg Catequilla ’n natuurlike sterrewag wat sonaanbidders beslis sou raaksien. Die berg is, van sy basis gemeet, 300 meter hoog en lê tussen die oostelike en westelike bergreekse van die Andesgebergte. Die sonsopkoms en -ondergang sou elke dag vaste verwysingspunte hê teen die asemrowende agtergrond van die Andesgebergte. Byvoorbeeld, die pragtige sneeubedekte vulkane Cayambe en Antisana staan op die oostelike horison met hulle vyf kilometer hoë pieke—opvallende merkers om die beweging van die son te monitor.

Die berg Catequilla bied ook ’n onbelemmerde uitsig van 360 grade oor ongeveer 20 antieke dorpe en sowat 50 argeologiese terreine, wat almal met die blote oog sigbaar is. Daarbenewens is die suidelike sowel as die noordelike hemelruim vanaf Catequilla sigbaar weens sy ligging op die nulbreedtegraad. Catequilla kan dus waarlik die middel van die wêreld genoem word, want daar is geen ander plek op die ewenaar wat al hierdie voordele bied teen ’n hoogte van meer as 3 000 meter bo seespieël nie.

Die grootste deel van die ewenaar loop deur die see of tropiese woude, waar plantegroei sterrekundige waarneming belemmer. Daarbenewens voorsien sulke plantegroei nie stabiele verwysingspunte op grond waarvan ’n mens gevolgtrekkings kan maak nie, aangesien die plante voortdurend verander terwyl dit groei en doodgaan. Slegs in Kenia is daar berge naby die ewenaar, maar dit lê nie soos Catequilla tussen bergreekse nie. Ja, Catequilla het ’n unieke ligging, ideaal vir sterrekundige waarneming.

Wie was hulle?

Wie was hierdie antieke sterrekundiges? Volgens die Quitsa-to-Projek was inheemse stamme, soos die Quitu of Cara, moontlik die eerstes wat hierdie kennis gehad het. Maar die projek is nog in die beginstadium en daar is nog baie wat geleer moet word.

Nogtans is party basiese konsepte van die vroeë inwoners duidelik. Hulle moes die skynbare bewegings van die son verstaan het om kalenders te ontwerp wat nuttig was vir die landbou. Aangesien die son noodsaaklik is om lewe te onderhou, is dit geen wonder nie dat hulle die son aanbid het. Op hierdie manier is sonwaarnemings en -berekeninge van ’n sekulêre vlak tot ’n godsdienstige vlak verhef.

Godsdiensywer het blykbaar die mense gemotiveer om die hemele en hemelligte noukeurig te ondersoek. Deur die eeue heen het hulle studies blykbaar ’n indrukwekkende skatkamer van sterrekundige kennis tot gevolg gehad wat nou eers deur die ongelooflike ontdekkings in die omgewing van Catequilla geopenbaar word.

[Voetnote]

a “Ecuador” is Spaans vir “ewenaar”.

b Daarenteen plaas die GPS die beroemde Middel van die Wêreld-monument sowat 300 meter suid van die ware ewenaar.

c Die presiese hoek is 23,45 grade.

d Die Inkas het wat vandag Ecuador is, ingeval en dit vir ’n redelike kort tydperk beset—van ongeveer 1470 tot 1532, die jaar toe die Spaanse koloniale tydperk begin het.

e “Quitsa-to” kom uit die taal van die Tsáchila-Indiane en beteken “middel van die wêreld”. Party meen dat die naam Quito van hierdie term afgelei is.

[Venster/Diagram op bladsy 23]

Die sonstilstand en die dag-en-nag-ewening

Weens die aarde se kanteling van 23,5 grade is die sonsopkoms en -ondergang nie elke dag op dieselfde plek nie. Dit migreer eerder geleidelik noord en suid van die ewenaar. Dit is natuurlik net ’n skynbare migrasie van die son, aangesien dit die aarde is wat gedurende sy jaar lange reis om die son voortdurend van posisie verander.

Een keer per jaar, wanneer die aarde se wentelbaan die planeet se as in die Noordelike Halfrond reguit na die son laat wys, sal die son op sy noordelikste punt opkom: 23,5 grade noord van die ewenaar. Dit gebeur omstreeks 21 Junie. Wanneer die Suidelike Halfrond op sy verste punt na die son gekantel is, kom die son by sy suidelikste punt op: 23,5 grade suid van die ewenaar. Dit gebeur gewoonlik 21 Desember. Hierdie twee uiterste punte kom ooreen met die sonstilstande.

Maar halfpad tussen die sonstilstande is die son vertikaal bokant die aarde se ewenaar. Hierdie gebeurtenis staan bekend as ’n dag-en-nag-ewening, wat beteken dat die dag en nag oral op die aarde ewe lank is. Ongeveer 20 Maart en 21 September kom die son presies in die ooste op, volg dit die ewenaar 12 uur lank en gaan dit presies in die weste onder. Op ’n dag-en-nag-ewening is die son teen twaalfuur die middag op sy hoogste punt bo die ewenaar, en geen voorwerp sal daar ’n skaduwee hê nie.

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Sonstilstand

20, 21, 22 of 23 Desember

Dag-en-nag-ewening

19, 20 of 21 Maart

Sonstilstand

20, 21 of 22 Junie

Dag-en-nag-ewening

21, 22, 23 of 24 September

[Prent op bladsy 24, 25]

Die berg Catequilla, waarop antieke ruïnes voorkom wat op die ewenaar geleë is

[Prent op bladsy 25]

Talle argeologiese terreine en antieke dorpe is presies opgelyn met die sterrekundige stervorm

[Prente op bladsy 25]

Die agtpuntige ster wat op antieke keramiekwerk en tapisserieë gevind is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel