Ons beskou die wêreld
Die terugkeer van cholera
Nadat cholera meer as 100 jaar lank nie in Suid-Amerika voorgekom het nie, het dit op dramatiese wyse teruggekeer. “Sedert 1991 is 1,4 miljoen gevalle daar aangemeld wat tot 10 000 sterftes gelei het”, sê The Times van Londen. ’n Bykomende bekommernis vir gesondheidsowerhede was die verskyning in 1992 van ’n nuwe soort cholerabakterie in Indië, Bangladesj en buurlande, wat tot dusver 200 000 mense aangetas het. Cholera is ’n akute diarreesiekte, en as voldoende behandeling nie beskikbaar is nie, lei dit in 70 persent van die gevalle tot die dood. Maar voorsorg voorkom nasorg. Basiese veiligheidsmaatreëls is om drinkwater en melk te kook, vlieë weg te hou en rou voedsel te was in water wat met chloor behandel is.
Gesprekke oor wêreldvrede
Volgens die Yearbook 1997 van die Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut lyk dit asof streekoorloë, wat vroeër ’n betekenisvolle rol in die Koue Oorlog gespeel het, tot ’n einde gekom het. In 1989, die laaste jaar van die Koue Oorlog, was daar 36 “groot gewapende konflikte”. Die getal het in 1996 tot 27 gedaal, en almal, behalwe die konflik tussen Indië en Pakistan, was binnelandse oorloë. Daarbenewens het die meeste van hierdie konflikte, soos gemeet aan die aantal sterfgevalle, in intensiteit afgeneem. “Geen ander geslag was al so na aan wêreldvrede nie”, sê The Star, ’n Suid-Afrikaanse koerant. Die tydskrif Time sê: “Amerikaanse oorheersing . . . het aan die wêreld ’n Pax Americana gegee, ’n era van internasionale vrede en kalmte wat nog nie in hierdie eeu nie, en selde in die mensegeskiedenis, ervaar is.”
Steeds ’n treffer
“Daar word steeds meer eksemplare van die Bybel as van enige ander boek gedruk”, berig ENI Bulletin. Die lande waarin die meeste Bybels versprei word, is China, die Verenigde State en Brasilië. Volgens ’n verslag van die Verenigde Bybelgenootskappe (VBG) is 19,4 miljoen eksemplare van die volledige Bybel in 1996 versprei. Dit was ’n nuwe rekord en ’n vermeerdering van 9,1 persent oor 1995. Ten spyte van die “indrukwekkende toename in verspreiding in sekere wêrelddele”, het John Ball, koördineerder van die uitgewersafdeling van VBG, gesê, “moet daar nog baie meer gedoen word as ons aan almal makliker toegang tot die Skrif wil gee”.
“Bodes van die dood”
Ryk Westerse lande skep ’n “dubbele las” van siekte vir ontwikkelende lande, sê die 1997-verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Soos berig word in The Daily Telegraph van Londen, neem hartsiekte, beroertes, suikersiekte en sekere soorte kanker grootliks toe namate ontwikkelende nasies die Westerse lewenstyle aanneem, soos die rookgewoonte, diëte met ’n hoë kilojoule-inhoud en wat ryk aan vette is, asook verminderde liggaamlike bedrywigheid. Hoewel mense regoor die wêreld nou langer leef, is dit ‘’n betekenislose beloning, ’n lewe van ’n lae gehalte’, sê dr. Paul Kleihues, ’n direkteur van die WGO. Hy voeg by: “Diegene wat sê dat ons waarlik bodes van die dood is, is reg.” Die WGO staan nou ’n verskerpte wêreldwye veldtog voor om gesonde lewenstyle aan te moedig. Andersins, sê dit, sal daar “op ’n wêreldskaal [’n] krisis as gevolg van lyding” wees.
Boeddhisteleier raai soeke na waarheid aan
“Onversetlikheid is nie goed” wanneer dit by godsdiens kom nie, sê Eshin Watanabe, die opperpriester en leier van een van Japan se oudste Boeddhistiese sektes. Waar die Mainichi Daily News sy verduideliking aanhaal toe hy gevra is of hy bedoel het dat lojaliteit aan jou oortuiging goed is maar dat onversetlikheid in oortuiging sleg is, het dit gesê: “’n Mens moet daaroor peins of jou oortuiging reg of verkeerd is. Dit is belangrik om te ondersoek hoe dit met ander oortuigings verband hou. Jy moet ook vasstel of dit die waarheid is of nie. Ons moet hierdie dinge weer ondersoek.” Watanabe is die hoof van die Tendai-sekte van Boeddhisme wat 1200 jaar gelede van China af na Japan gebring is.
Natuurlike ontsmettingsmiddel
Wanneer party mense hulleself raak sny, lek hulle die seerplek instinktief, soos diere ook doen. Interessant genoeg, navorsers by St. Bartholomew’s-hospitaal in Londen het ontdek dat speeksel in werklikheid ’n natuurlike ontsmettingsmiddel is. Soos berig is in die koerant The Independent, het farmakoloë 14 vrywilligers gevra om albei kante van hulle hande te lek, en hulle het bevind dat die vlakke van stikstofmonoksied op die vel grootliks toegeneem het. Stikstofmonoksied, ’n kragtige chemikalie wat kieme kan doodmaak, vorm wanneer die nitraat wat in speeksel voorkom met die suurvormende oppervlak van die vel in aanraking kom. Die reaksie word aangehelp deur ’n ander chemikalie, askorbaat, wat ook in speeksel voorkom.
Dagga—’n Gevaarlike dwelm?
Daggagebruikers voer al lank aan dat die dwelm betreklik onskadelik is. Maar “nuwe gegewens dui daarop [dat dagga se] uitwerking op die brein met dié van ‘gevaarlike’ dwelms soos heroïen ooreenkom”, berig die tydskrif Science. Wetenskaplikes van die Verenigde State, Spanje en Italië het die studies gedoen. Onder hulle bevindings was die feit dat “die aktiewe bestanddeel in dagga—’n kannabinoïed bekend as THK—dieselfde fundamentele biochemiese reaksie tot gevolg het wat blykbaar die persoon se afhanklikheid van ander dwelms versterk, van nikotien tot heroïen: die vrystelling van dopamien in ’n deel van die brein se ‘beloningspaadjie’” wat gebruikers dit weer en weer laat gebruik. Wanneer die langtermyngebruik van dagga gestaak word, styg die vlak van ’n ander chemikalie in die brein, ’n peptied wat kortikotropienvrystellingsfaktor (KVF) genoem word. KVF is al met die emosionele spanning en angs verbind wat die gevolg is van onttrekking aan verdowingsmiddels, alkohol en kokaïen. ’n Navorser het gevolglik gesê: “Ek sal tevrede wees as mense, in die lig van al hierdie bewyse, THK nie meer as ’n ‘veilige’ dwelm sal beskou nie.” Elke jaar is daar ongeveer 100 000 mense in die Verenigde State wat behandeling wil hê vir dagga-afhanklikheid.
Ys in eertydse Egipte
“Hoewel die eertydse Egiptenare geen kunsmatige verkoeling geken het nie, kon hulle ys maak deur middel van ’n natuurverskynsel wat in droë, gematigde klimate voorkom”, sê The Countyline, ’n koerant van Bryan, Ohio. Hoe het hulle dit gedoen? “Teen sononder het Egiptiese vroue water in vlak kleipanne op strooi geplaas. Die vinnige verdamping van die wateroppervlakte af en van die klam kante van die pan af, tesame met die daling in temperatuur gedurende die nag, het die water laat vries—selfs al het die temperatuur van die omgewing nooit tot naby vriespunt gedaal nie.”
Blootstelling aan die son
“Velkanker het epidemiese afmetings aangeneem in Noord-Amerika”, sê die koerant The Vancouver Sun, en “een uit sewe [Kanadese] loop gevaar om dit in sy leeftyd” te ontwikkel. “Blootstelling aan die son is vermoedelik vir 90 persent van melanoomgevalle verantwoordelik”, voeg die koerant by. ’n Vel wat deur die son bruingebrand is, is beskadig, sê die verslag, en lei tot voortydige velveroudering sowel as onderdrukking van die immuunstelsel. ’n Nasionale opname onder meer as 4000 Kanadese het aan die lig gebring dat 80 persent van hulle bewus is van die gevare wat daaraan verbonde is om hulle vel aan die son bloot te stel, en tog tref byna die helfte van hulle selde, indien ooit, enige voorsorgmaatreëls. Dr. Chris Lovato, ’n adjunkprofessor aan die Universiteit van Brits-Colombië en een van die vernaamste navorsers in die opname, waarsku dat “ons beskerming teen die son ’n gewoonte moet maak” en “verstandige en veilige maniere om die son te geniet”, moet aanleer.
’n Duur gewoonte
Om te rook, kos geld. Hoeveel? Volgens die University of California Berkeley Wellness Letter kan dit uiteindelik op R1100000 of R1900 000 te staan kom—dit hang af of jy een of twee pakkies sigarette per dag rook. “Sê nou jy is jonk en jy begin vandag rook, en jy hou 50 jaar aan, dis nou te sê as jy nie eerder sterf nie”, sê die Wellness Letter. “Teen een pakkie per dag teen $2,50 [R11,50] (om dit eenvoudig te hou, sal ons prysstygings buite rekening laat) sal dit meer as $900 [R4200] per jaar of $45 000 [R210 150] oor 50 jaar beloop. As jy daardie geld elke jaar teen 5% rente sou bank, kan die bedrag maklik verviervoudig.” As jy nog ekstra lewensversekeringkoste en ekstra skoonmaakuitgawes (vir die huis, klere en tande) byreken, kom dit uit op die bedrae wat hierbo genoem is. Die brief voeg by: “En dit sluit nie die rookverwante mediese uitgawes in wat jy sal moet betaal as jou gesondheidsversekering nie alles dek nie.”