Beskerm jou vel!
“Mense is onbewus van die wesenlike gevaar wat blootstelling aan die son inhou . . . en die skade wat dit aan die vel se DNS kan aanrig. Wanneer hierdie skade opbou, kan dit tot ’n velkankertydbom lei.”—Dr. Mark Birch-Machin, velkankerspesialis.
DIE vel is die liggaam se grootste orgaan; dit is sowat 1,8 vierkante meter vir ’n gemiddelde man en 1,6 vierkante meter vir ’n gemiddelde vrou. Dit bevat reseptors wat reageer op pyn, aanraking en temperatuur. Die vel is die liggaam se eerste verdedigingslinie teen hitte, koue en trauma, sowel as teen gifstowwe, chemikalieë en besoedelstowwe. Dit maak die liggaam waterdig en lekvry. Die vel het egter ’n potensiële vyand—die son. Maar is sonlig nie noodsaaklik vir lewe nie?
Ja, dit is. Plante, waarop ons staatmaak, het sonlig nodig om te groei. Daarbenewens stimuleer klein hoeveelhede sonlig die liggaam om vitamien D te vervaardig, wat help met die opname van kalsium en dus sterk bene bou. Maar omdat ’n bietjie vir jou goed is, beteken dit nie dat meer beter sal wees nie. Ultravioletbestraling (UV) van die son kan die vel onherstelbaar beskadig. Voortydige veroudering is een gevolg hiervan.
Die boek Saving Your Skin waarsku egter teen ’n selfs groter gevaar: “Ultravioletlig beskadig DNS [die genetiese stof wat selbedrywighede, soos selverdeling, beheer], veroorsaak immuunonderdrukking en aktiveer moontlik chemikalieë in die liggaam wat ’n reeks gebeurtenisse aan die gang sit wat tot kanker lei.” Die woord “kanker” is skrikwekkend. Maar hoe algemeen is velkanker? Is daar rede tot kommer?
Velkanker—’n hedendaagse epidemie
The Merck Manual sê dat dit die algemeenste soort kanker ter wêreld is. In die Verenigde State kry 1 uit elke 6 tot 7 mense die een of ander vorm van velkanker. Maar hierdie syfers is besig om te styg. Volgens dr. I. William Lane in die boek The Skin Cancer Answer “word daar tans geraam dat 50 persent van mense teen die ouderdom van vyf-en-sestig die een of ander soort velkanker sal kry”. Kwaadaardige melanoom veroorsaak elke jaar sowat 7 500 sterftes in daardie land, en volgens die Amerikaanse Akademie van Dermatologie word dit al hoe meer. Mense met ’n donker vel het ’n laer voorkomssyfer van velkanker, maar hulle loop ook gevaar.
Waarom het velkanker so ’n epidemie geword? Hoewel daar moontlik baie faktore betrokke is, soos hoogte bo seespieël, breedtegraad, die hoeveelheid wolkbedekking en die toestand van die osoonlaag, is die hoofoorsaak dalk eenvoudig oormatige blootstelling aan die son. Lewenstyle het verander. Vakansies by die see en buitelugontspanning soos bergklim en ski het gewilder en toegankliker geword vir mense wat nie buite werk nie. Modes het verander. Hoewel beskeidenheid in die verlede vereis het dat mans en vroue lang swemkostuums dra, het swemklere al hoe skrapser geword en word meer van die vel blootgestel. Velkanker het ooreenkomstig toegeneem. Het woestynbewoners soos die Bedoeïene, met hulle lang, los gewade en hoofbedekkings, iets geweet wat ons blykbaar ignoreer?
Velkanker—’n wesenlike gevaar
Die drie algemeenste soorte velkanker is basaalselkarsinoom, plaveiselkarsinoom en kwaadaardige melanoom. Basaalselkarsinoom en plaveiselkarsinoom begin in die buitenste laag van die vel, wat gemiddeld net een millimeter dik is. Hierdie niemelanoom-kankers is blykbaar die gevolg van chroniese blootstelling aan die son, soos in die geval van mense wat buite werk, en dit kom amper uitsluitlik voor op dele van die liggaam wat aan die son blootgestel is, soos die gesig en hande.a Hierdie soorte kanker begin gewoonlik as ’n knoppie of letsel op die vel wat vergroot, dikwels bloei en nie heeltemal gesond word nie. Dit kan plaaslik versprei en omliggende weefsel aantas. Ongeveer 75 persent van velkankers is basaalselkarsinoom. Hoewel plaveiselkarsinoom minder algemeen is, is dit meer geneig om te metastaseer, of te versprei, vanaf die eerste aangetaste gebied na ander dele van die liggaam. Vroeë diagnose is belangrik, want al is niemelanoom-kankers die maklikste om te genees, kan dit tot die dood lei as dit nie behandel word nie.
Kwaadaardige melanoom, wat 5 persent van alle velkankers uitmaak, begin ook in die buitenste laag van die vel. Een van die hooffaktore by die ontwikkeling van melanoom is blykbaar intense, ongereelde blootstelling aan die son, soos wanneer kantoorwerkers in die son vakansie hou. Sowat 50 persent van kwaadaardige melanome ontwikkel uit gepigmenteerde moesies, veral op die boonste deel van die rug en onder op die bene.
Hierdie soort velkanker is die dodelikste, want as dit nie vroeg opgespoor en behandel word nie, kan dit die binnelaag van die vel, die dermis, binnedring waar bloedvate en die limfstelsel geleë is. Van daar af kan dit vinnig versprei. Die onkoloog dr. Larry Nathanson sê: “Die paradoks van melanoom is dat dit ’n baie maklik geneesbare siekte is wanneer dit vroegtydig behandel word. Maar wanneer dit versprei het, is dit betreklik weerstandbiedend teen behandeling met geneesmiddels of bestraling.” Trouens, slegs 2 of 3 persent van pasiënte met verspreide melanoom leef langer as vyf jaar. (Sien die venster op bladsy 7 vir vroeë waarskuwingstekens van melanoom.)
Wie loop die gevaar om velkanker te kry? Buiten diegene wat chroniese of intense, ongereelde blootstelling aan die son gehad het, loop mense met ’n ligte vel, ligte hare en oë, moesies en sproete en ’n familiegeskiedenis van die siekte veral gevaar. Die risiko van velkanker is kleiner onder mense met ’n donkerder vel. Beteken dit dat die moontlikheid om velkanker te kry, kleiner word hoe meer sonbruin ’n mens is? Nee, want al word die vel bruin om dit teen UV-bestraling te beskerm, word dit in die proses beskadig, en aanhoudende beskadiging vergroot jou kans om velkanker te kry.
Behandeling van velkanker
Afhangende van die soort gewas, sy ligging en grootte asook vorige behandeling, is daar verskeie metodes om velkanker te behandel: chirurgiese uitsnyding, velskraping, die gebruik van ’n elektriese naald om dit te brand, kriochirurgie (bevriesing) en radioterapie. Die uitdaging is om al die kankerselle te verwyder. ’n Prosedure wat Mohs-chirurgie genoem word, wat van mikroskopies beheerde uitsnyding gebruik maak, is veral doeltreffend om ontslae te raak van basaalselkarsinoom en plaveiselkarsinoom (95 tot 99 persent suksesvol), terwyl die meeste van die gesonde weefsel nie beskadig word nie en minder opvallende littekens gelaat word. Hoe dit ook al sy, weefselherbouing sal dalk nodig wees.
Die Amerikaanse Nasionale Instituut van Veroudering sê: “Alle velkankers kan genees word as dit ontdek en onder ’n dokter se aandag gebring word voordat dit ’n kans het om te versprei.” Vroeë opsporing is dus noodsaaklik. Maar wat kan gedoen word om velkanker te voorkom?
Leer om sonslim te wees
Van kleins af is dit noodsaaklik dat mense leer om sonslim te wees. Volgens Die Velkankervereniging kry die meeste ‘mense, nog voordat hulle 18 is, ongeveer 80 persent van die sonblootstelling in hulle lewe. As ’n mens tydens jou kinderjare net een keer blase brand, kan dit na raming die risiko van melanoom in jou latere lewe verdubbel.’ Die rede hiervoor is dat velkanker 20 jaar of meer kan neem om te ontwikkel. (Sien die venster op bladsy 8 vir nuttige wenke oor hoe om sonslim te wees.)
Australië het ’n hoë voorkomssyfer van velkanker—veral van melanoom.b Die rede hiervoor is dat die land se inwoners meestal immigrante van Noord-Europa is wat ’n ligte vel het en langs die kus met sy sonnige strande woon. In ’n studie van hierdie immigrante is bevind dat die risiko van melanoom vergroot afhangende van hoe vroeg in hulle lewe hulle in Australië aangekom het, wat die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon dat ’n mens van ’n vroeë ouderdom af moet leer om sonslim te wees. Die Australiese regering het ’n aggressiewe veldtog van stapel gestuur om mense teen die gevare van die son te waarsku, en gebruik die slagspreuk “Slip, Slap, Slop”—“Slip on a T-shirt, Slap on a hat, and Slop on sunscreen” (Dra ’n T-hemp, sit ’n hoed op en smeer sonbrandmiddel aan). Hierdie eenvoudige veranderinge in lewenswyse is besig om ’n impak te hê op die voorkomssyfer van melanoom onder jonger ouderdomsgroepe in daardie land.
Wat sonbrandmiddels betref, is dit verstandig om ’n breëspektrumproduk te gebruik wat UVA- sowel as UVB-strale uithou. Dit is selfs op bewolkte dae belangrik, want 85 persent van UV-strale kan deur wolke dring. Die strale kan ook deur helder water dring. ’n Sonskerm met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van ten minste 15 word deur sommige deskundiges aanbeveel. Om te bepaal hoeveel beskerming dit bied, kan jy die aantal minute wat dit gewoonlik neem voor jy brand, met 15 maal. Sonskerm moet ten minste elke twee uur weer aangesmeer word, maar dit verdubbel nie die algehele beskermingstyd nie.
Verder waarsku The Skin Cancer Answer dat ’n mens nie ’n valse gevoel van veiligheid moet hê net omdat jy sonbrandmiddel gebruik nie. Geen sonskerm is 100 persent doeltreffend teen sonbrand nie, en dit voorkom nie noodwendig velkanker nie. Trouens, die gebruik van sonbrandmiddel kan moontlik die risiko van velkanker indirek vergroot—as dit jou laat dink dat jy langer in die son kan bly omdat jy dit gebruik. Die boek sê: “Daar is geen plaasvervanger vir veilige sonbeskermingsgewoontes nie. Dra beskermende klere en bly binne wanneer die son op sy skerpste is; dit word beskou as ‘doeltreffende’ wapens teen velkanker.”
Is dit beter om sonlampe en -beddens te gebruik om bruin te word? Na raming is net 20 minute in ’n sonbruinsalon die ekwivalent van ongeveer vier uur in die son. Om binnenshuis bruin te word, is voorheen as veilig beskou omdat hoofsaaklik UVA-bestraling gebruik word, wat blykbaar nie sonbrand veroorsaak het nie. Maar The Skin Cancer Answer sê: “Dit is nou bekend dat UV-A die vel dieper binnedring as UV-B, [dat dit] velkanker kan veroorsaak en die immuunstelsel kan onderdruk.” In een studie waaroor daar in die internasionale uitgawe van The Miami Herald berig is, is bevind dat vroue wat sonbruinsalons een of meer keer per maand besoek het, “die moontlikheid om melanoom te ontwikkel, met 55 persent vergroot het”.
Dit is dus noodsaaklik om veilige sonbeskermingsgewoontes ernstig op te neem. Onthou, die sonbrand wat jy vandag opdoen, kan in 20 jaar of meer in velkanker ontaard. Hoe voer party ’n stryd teen velkanker, en wat het hulle gehelp om daarmee saam te leef?
[Voetnote]
a UV-bestraling kan ook die Langerhans-selle in die epidermis beskadig, wat ’n belangrike immunologiese rol speel. “Sommige wetenskaplikes meen dus dat ’n verswakking van die immuunstelsel tot die ontwikkeling van velkanker bydra”, sê die boek The Skin Cancer Answer.
b Volgens die Kankerraad van Nieu-Suid-Wallis “sal een uit twee Australiërs die een of ander soort velkanker gedurende hulle leeftyd kry”. In 1998, in Queensland, Australië, was die risiko om melanoom te ontwikkel 1 uit 15.
[Venster/Prente op bladsy 7]
VERNAAMSTE WAARSKUWINGSTEKENS VAN KWAADAARDIGE MELANOOM
1. ASIMMETRIE. Die meeste vroeë melanome is assimetries (die twee kante is nie dieselfde nie). Gewone moesies is rond en simmetries.
2. ONGELYKE RAND. Die rand van vroeë melanome is dikwels ongelyk en is dalk geskulp of gekeep. Gewone moesies het gladder, gelyker rande.
3. KLEURVERANDERING. Verskeie skakerings van bruin, geelbruin of swart is dikwels die eerste teken van melanoom. Namate die melanoom ontwikkel, kan dit ook rooi, wit en blou word. Gewone moesies is gewoonlik net een skakering van bruin.
4. DEURSNEE. Vroeë melanome is groter as gewone moesies en is geneig om tot ’n deursnee van meer as 6 millimeter te groei.
[Erkennings]
Bron: Die Velkankervereniging
Velmonsters: Images courtesy of the Skin Cancer Foundation, New York, NY, www.skincancer.org
[Venster/Prente op bladsy 8]
WENKE OM JOU VEL TE BESKERM
1. Beperk blootstelling aan die son, veral tussen 10:00 en 16:00, die tye wanneer skadelike ultravioletbestraling (UV) op sy hoogste is.
2. Ondersoek jou vel ten minste elke drie maande van kop tot tone.
3. Wanneer jy buite is, gebruik ’n breëspektrumsonskerm wat ’n SBF van 15 of hoër het. Smeer genoeg aan 30 minute voordat jy in die son gaan en elke twee uur daarna. (Sonskerm moenie vir kinders jonger as ses maande gebruik word nie.)
4. Leer jou kind van kleins af om sonslim te wees, want skade wat in die kinderjare opgedoen word, kan tot velkanker in hulle volwasse jare lei.
5. Dra beskermende klere soos ’n langbroek, langmouhemp, breërandhoed en ’n sonbril wat beskerming teen UV-strale bied.