Wat het geword van die Apaches?
VAN wie is daar gesê: “Niemand het nog ooit ’n wreder gesig gehad nie”? Maar wie was bekend vir sy uitsonderlike moed en vasberadenheid? Dit was die laaste Apache-leier wat hom aan die Amerikaanse leër oorgegee het. Hy het ongeveer 80 jaar oud geword en in 1909 in Oklahoma gesterf, skynbaar as ’n Nederduits-Gereformeerde Christen. Hy was Goyakla, beter bekend as Geronimo, die laaste groot Apache-leier.
Daar word beweer dat hy Geronimo genoem is nadat Mexikaanse soldate uit vrees na die “sint” Hieronimus (Jerónimo) geroep het toe Goyakla hulle aangeval het. Omstreeks die jaar 1850 het Mexikaanse troepe 25 Apache-vrouens en -kinders doodgemaak wat in die buitewyke van Janos, Mexiko, gewoon het. Onder hulle was Geronimo se moeder, sy jong vrou en sy drie kinders. Daar word beweer dat “Geronimo die res van sy lewe alle Mexikane gehaat het”. Aangevuur deur wraaksug het hy een van die mees gevreesde Apache-hoofmanne geword.
Maar wat weet ons van die Apache-Indiane, wat so dikwels as die skurke in Hollywoodprente uitgebeeld word? Bestaan hulle nog? Indien wel, hoe lewe hulle, en watter toekoms wag op hulle?
“Die tiers van die mensespesie”
Die Apaches (hulle naam kom klaarblyklik van die Zuni-woord apachu, wat “vyand” beteken) het as onverskrokke en vindingryke krygsmanne bekend gestaan. Die bekende 19de-eeuse vegter teen Indiane, generaal George Crook, het hulle “die tiers van die mensespesie” genoem. En tog sê een gesaghebbende dat “al die Apache-stamme saam in geen stadium ná 1500 meer as sesduisend mense was nie”. Maar ’n paar dosyn krygsmanne kon ’n hele vyandelike leër met guerrilla-oorlogvoering teëstaan!
’n Apache-bron sê egter: “In teenstelling met die gewilde opvattings wat deur die Spanjaarde, Mexikane en Amerikaners geskep is, was Apaches nie oorlogsugtige, bloeddorstige barbare nie. Ons het net in tye van skaarste strooptogte vir voedsel onderneem. Oorloë is nie na willekeur gevoer nie, maar was gewoonlik goed beplande kampanjes om wraak te neem vir onregverdighede wat teenoor ons gepleeg is.” En daar was baie van daardie onregverdighede!
’n Uitstalling by die San Carlos Apache- Kulturele Sentrum, in Peridot, Arizona, verduidelik die Apache-geskiedenis uit hulle oogpunt: “Die aankoms van vreemdelinge in die streek het vyandelikhede en verandering tot gevolg gehad. Die nuwe aankomelinge het min agting gehad vir die feit dat ons inboorlinge van die land was. In ’n poging om ons tradisies en kultuur te beskerm, het ons voorouers baie gevegte teen die soldate en burgers van Spanje, Mexiko en die Verenigde State gevoer en gewen. Maar ons oupas en oupagrootjies, wat deur ’n oormag en moderne tegnologie oorweldig is, is gedwing om uiteindelik die eise van die Amerikaanse regering te aanvaar. Ons is gedwing om ons vryheid prys te gee en in reservate te woon.” Die frase ‘gedwing om in reservate te woon’ wek diep meegevoel met ongeveer ’n halfmiljoen reservaatbewoners (uit meer as tweemiljoen inboorlinge van Amerika) in die 554 stamme in die Verenigde State en die 633 groepe regoor Kanada. Daar is nagenoeg 50000 Apaches.a
Vroeë oorlewing
Die meeste deskundiges op die gebied van die geskiedenis van die vroeë inboorlinge van Amerika aanvaar die teorie dat die oorspronklike stamme uit Asië oor die Bering-straat gekom het en toe geleidelik suidwaarts en ooswaarts versprei het. Taalkundiges bring die Apache-taal in verband met die taal van die Atapaskiessprekende volke van Alaska en Kanada. Thomas Mails skryf: “Daar word tans geskat dat hulle tussen AD 1000 en 1500 in die Amerikaanse Suidweste aangekom het. Antropoloë is dit nog nie eens oor die presiese roete wat hulle gevolg het en die pas waarteen hulle migreer het nie.”—The People Called Apache.
In vroeër eeue het die Apaches dikwels aan die lewe gebly deur stroopbendes teen hulle Spaans-Mexikaanse bure te organiseer. Thomas Mails skryf: “Sulke strooptogte het byna tweehonderd jaar lank aangehou, van ongeveer 1690 af tot ongeveer 1870. Dit is nie verbasend dat die strooptogte onderneem is nie, aangesien Mexiko waarlik ’n oorvloed van die nodige voorraad gehad het.”
Wie was die eerstes wat kopvelle afgesny het?
As gevolg van die voortdurende konflikte tussen Mexiko en die Apache-volk het die Mexikaanse Sonoraanse regering “na die ou Spaanse metode teruggekeer” om belonings vir kopvelle aan te bied. Dit was nie iets nuuts wat uitsluitlik by die Spanjaarde ontstaan het nie—die Britte en die Franse het in vroeëre tye hierdie gebruik gevolg.
Die Mexikane het kopvelle afgesny sodat hulle ’n kontantbeloning kon opeis, en dit het soms nie saak gemaak of die kopvel ’n Apache s’n was of nie. In 1835 is ’n wet in Mexiko aangeneem in verband met belonings vir kopvelle, en dit het bepaal dat 100 peso’s vir elke krygsman se kopvel betaal word. Twee jaar later het die prys 50 peso’s vir ’n vrou se kopvel en 25 vir ’n kind s’n ingesluit! In sy boek The Conquest of Apacheria skryf Dan Thrapp: “Die oogmerk van die beleid was in werklikheid om hulle uit te wis, ’n bewys dat volksmoord wydverspreide wortels het en nie ’n moderne uitvindsel van ’n enkele nasie was nie.” Hy sê voorts: “Die Apaches self het nie mense se kopvelle afgesny nie.” Maar Mails sê dat die Chiricahua soms wel mense se kopvelle afgesny het—maar nie dikwels nie, “weens hulle vrees vir die dood en spoke”. Hy voeg by: “Hulle het net uit weerwraak mense se kopvelle afgesny nadat die Mexikane met die taktiek begin het.”
Thrapp sê dat myners “dikwels saamgespan het . . . en Indiane gaan jag het. Wanneer hulle hulle kon vang, het hulle al die mans en soms al die vrouens en kinders doodgemaak. Die Indiane het natuurlik dieselfde aan die blankes en aan ander stamme gedoen.”
Oorlog teen die Apaches het ’n punt bereik waar dit vir die staat Arizona winsgewend was, sê Charles Lummis, aangesien “die voortsetting van die Apache-oorloë [beteken het] dat die Departement van Oorlog jaarliks meer as $2 miljoen [R9,3 miljoen] binne Arizona se grense uitbetaal [het]”. Thrapp sê: “Daar was magtige en gewetenlose belanghebbendes wat nie vrede met die Apaches wou hê nie, want as vrede gemaak sou word, sou die strome geld wat deur die leër bestee is, droogloop.”
Was reservate die oplossing?
Die voortdurende botsing tussen die indringende blanke nedersetters en die inwonende Apaches het gelei tot die federale regering se oplossing om die Indiane tot reservate te beperk—dikwels onherbergsame stroke land waarop daar van hulle verwag is om aan die lewe te bly. In 1871-72 is reservate vir die Apaches opsy gesit.
Van 1872 tot 1876 het die Chiricahua-Apaches hulle eie reservaat gehad. Hierdie nomadiese volk wat vryelik rondgetrek het, het ingeperk gevoel. Hoewel hulle 1108 000 hektaar grond vir tussen 400 en 600 mense gehad het, het hierdie gebied, wat grotendeels dor was, hulle nie genoeg ruimte gegee om vir voedsel te jag of om dit in te samel nie. Die regering moes elke 15 dae rantsoene voorsien om hongersnood te voorkom.
Die blanke nedersetters het nogtans gedink dat die aparte Chiricahua-reservaat ’n vermorsing van land was en dat die Apaches in een reservaat gehou moet word. Die blanke nedersetters se vyandigheid het ná die dood van die gerespekteerde hoofman Cochise in 1874 toegeneem. Hulle het ’n verskoning nodig gehad om die Chiricahua-Apaches uit die reservaat uit te jaag. Wat het gebeur? “In 1876 het hulle ’n skuiwergat gehad. Twee onwettige whiskyverkopers is deur twee Chiricahuas vermoor toe hulle geweier het om nog [whisky] te verkoop. Pleks dat die verdagtes in hegtenis geneem is, het die [regerings]agent vir die San Carlos-reservaat met gewapende manne daar aangekom en die Chiricahua-[stam] na San Carlos begelei. Die Chiricahua-reservaat is gesluit.”
Maar die Indiane is nog toegelaat om vryelik buite die reservaatgrense rond te trek. Die blanke nedersetters het nie van hierdie beleid gehou nie. “As antwoord op die nedersetters se eise het die regering die San Carlos-, White Mountain-, Cibecue- en Tonto-Apaches, sowel as die talle groepe Chiricahua-Apaches na die San Carlos-agentskap verskuif.”—Creation’s Journey—Native American Identity and Belief.
Op een stadium is duisende Yavapai-, Chiricahua- en Westelike Apaches in die reservaat aangehou. Dit het tot spanning en agterdog gelei, aangesien party van hierdie stamme ou vyande was. Hoe het hulle op die beperkings van die reservaat gereageer? Die Apache-antwoord is: “Ons is ons tradisionele lewe ontneem en het fisies, emosioneel en geestelik gely. Ons vryheid is weggeneem.”
’n Groep Chiricahua’s het egter in 1885 onder leiding van die beroemde hoofman Geronimo uit die reservaat gevlug en na Mexiko ontsnap. Generaal Nelson Miles het hulle met byna 5000 soldate asook 400 Apache-verkenners agtervolg—hulle almal het teen daardie tyd net 16 krygsmanne, 12 vrouens en 6 kinders probeer opspoor!
Geronimo het uiteindelik op 4 September 1886 oorgegee. Hy was bereid om na die San Carlos-reservaat terug te keer. Maar dit sou nie gebeur nie. Daar is vir hom gesê dat al die Apaches as gevangenes per skip ooswaarts gestuur is na Florida, waarheen hy ook sou gaan. Hy het in sy Apache-taal gesê: “Łahn dádzaayú nahikai łeh niʹ nyelíí k’ehge”, wat beteken: “Vroeër het ons soos die wind beweeg.” Trotse en slu Geronimo, nou ’n gevangene, kon nie meer so vryelik soos die wind beweeg nie.
Uiteindelik is hy toegelaat om weswaarts te trek, tot by Fort Sill, Oklahoma, waar hy in 1909 gesterf het. Soos soveel ander leiers van die inboorlinge van Amerika is hierdie Apache-hoofman gedwing om hom aan die onderdrukkende lewensomstandighede in tronke en reservate te onderwerp.
Voor watter probleme kom hulle vandag te staan?
Die Apaches woon in verskeie reservate in Arizona en Nieu-Mexiko. Ontwaak! het die San Carlos-reservaat besoek en ’n onderhoud met verskeie Apache-leiers gevoer. Hier volg ’n verslag van daardie besoek.
Net nadat ons die reservaat op ’n warm, droë dag in Mei binnegegaan het, is ons gasvry ontvang deur Harrison Talgo en sy vrou. Harrison, ’n goeie spreker, meer as 1,8 meter lank, met ’n groot snor, is ’n lid van die San Carlos-stamraad. Ons het hom gevra: “Wat is van die probleme wat die Apaches vandag raak?”
“Ons verloor ons tradisionele waardes. TV het ’n groot, negatiewe invloed gehad, veral op ons jongmense. Een voorbeeld is dat hulle nie ons taal leer nie. Nog ’n groot probleem is werkloosheid, wat in party gebiede tot 60 persent is. Ons het weliswaar die dobbelcasino’s, maar dit gee nie vir baie van ons mense werk nie. En die keersy is dat baie van ons eie mense soontoe gaan en hulle algemene bystandstjeks wegdobbel, wat eintlik hulle huur- en kosgeld is.”
Toe Harrison oor gesondheidsprobleme in die stam gevra is, het hy nie gehuiwer om te antwoord nie. “Suikersiekte”, het hy gesê. “Meer as 20 persent van ons mense ly aan suikersiekte. In party gebiede is dit meer as 50 persent.” Hy het erken dat nog ’n groot probleem die plaag is wat meer as 100 jaar gelede deur die wit man ingebring is—alkohol. “Dwelms het ook ’n uitwerking op ons mense.” Padtekens in die reservaat is ’n sprekende bewys van hierdie probleme, want dit lui: “Om nugter te bly—wees dan dwelmvry” en: “Ons moet ons land bewaar. Ons moet ons gesondheid spaar. Koester ons rykdom voorwaar.”
Ons het gevra of vigs in die stam voorkom. Met duidelike afkeer het hy geantwoord: “Die gevaar lê by homoseksualiteit. Homoseksualiteit kom geleidelik in die reservaat in. TV en die wit man se verdorwenhede tas van ons jong Apaches aan.”
Ons het gevra hoe dinge in die laaste jare in die reservaat verander het. Harrison het geantwoord: “In die vyftigerjare was dít die volgorde van prioriteite en invloede: Ten eerste, godsdiens; tweedens, die gesin; derdens, opvoeding; vierdens, portuurdwang en laastens, TV. Vandag is die volgorde omgekeerd, met TV as die oorheersende invloed. Portuurdwang is die tweede sterkste invloed—druk om die Apache-lewenswyse te laat vaar en die Amerikaanse lewenswyse te volg. Opvoeding kom nog steeds derde, en baie Apaches maak gebruik van geleenthede in universiteite en die toenemende aantal skole en hoërskole in die reservate.”
“Wat van gesinsinvloed?” het ons gevra.
“Ongelukkig is die gesin nou na die vierde plek verskuif, en godsdiens is nou laaste—hetsy dit ons tradisionele godsdiens of die wit man se godsdienste is.”
“Hoe beskou julle die Christendom se godsdienste?”
“Ons hou nie daarvan dat die kerke ons mense van die tradisionele opvattings probeer bekeer nie.b Die Lutherane en die Katolieke het al meer as 100 jaar lank sendingstasies hier gehad. Daar is ook Pinkstergroepe wat ’n emosionele aantrekkingskrag het.
“Ons moet deur middel van die gesin ons kulturele identiteit herstel en weer die Apache-taal begin gebruik. Dit is tans besig om verlore te gaan.”
Ekonomiese vooruitgang van die Apaches
Ons het nog ’n Apache-gesaghebbende besoek, wat vol vertroue oor die ekonomiese vooruitsigte van die San Carlos-reservaat gepraat het. Maar hy het verduidelik dat dit nie maklik is om beleggers te kry om geld in van hulle projekte te stort nie. Een goeie teken is ’n ooreenkoms met ’n groot telefoonmaatskappy om die Telekommunikasiemaatskappy van die San Carlos-Apaches te vorm. Dit word deur die Plattelandse Ekonomiese Vereniging gefinansier en sal meer werksgeleenthede vir Apache-werknemers skep sowel as die onvoldoende telefoonstelsel in die reservaat uitbrei en verbeter.
Hierdie amptenaar het ook met trots gepraat van die dialisesentrum wat binnekort in die reservaathospitaal ingerig gaan word, wat beter en intensiewer mediese behandeling sal gee. Hy het ons toe planne gewys vir die herontwikkeling van die handelsentrum in San Carlos, waaraan bouwerk binnekort gaan begin. Hy was optimisties oor die toekoms, maar het beklemtoon dat opvoeding die grondslag moet wees. ‘Opvoeding beteken beter lone, wat tot ’n beter lewenstandaard lei.’
Die Apache-vroue is beroemd vir hulle mandjiewerk. ’n Reisgids sê dat “jag, hengelary, veeboerdery, die timmerhoutbedryf, mynbou, buitelugontspanning en toerisme” groot faktore in die plaaslike ekonomie is.
Die Apaches probeer met die buitewêreld tred hou, ten spyte van die feit dat hulle kanse skraal is. Soos soveel ander mense wil hulle geregtigheid, respek en ’n behoorlike lewe hê.
Wanneer ware geregtigheid sal seëvier
Jehovah se Getuies besoek die Apaches om hulle te vertel van die nuwe wêreld wat Jehovah God vir ons aarde belowe het, wat so mooi in die Bybelboek Jesaja beskryf word: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei [nie].”—Jesaja 65:17, 21, 23; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.
Jehovah God gaan binnekort optree en die wêreld van alle selfsugtigheid en korrupsie reinig, sowel as van mense wat die aarde misbruik. (Sien Matteus 24; Markus 13; Lukas 21.) Mense van alle nasies, waaronder die inboorlingnasies van Amerika, kan hulleself nou seën deur hulle tot die ware God, Jehovah, te wend deur Christus Jesus (Genesis 22:17, 18, NW). Jehovah se Getuies bied gratis Bybelonderrig aan enige ootmoedige wat graag ’n herstelde aarde wil beërf en gewillig is om God te gehoorsaam.—Psalm 37:11, 19.
[Voetnote]
a Die Apaches word volgens stam in verskeie ondergroepe verdeel, soos die Westelike Apaches, wat Noordelike en Suidelike Tonto, Mimbreño en Coyotero insluit. Die Oostelike Apaches is die Chiricahua-, Mescalero-, Jicarilla-, Lipan- en Kiowa-Apaches. Ander groepe is die White Mountain-Apaches en die San Carlos-Apaches. Vandag woon hierdie stamme hoofsaaklik in suidoostelike Arizona en in Nieu-Mexiko.—Sien kaart op bladsy 15.
b ’n Toekomstige nommer van Ontwaak! sal die opvattings en godsdiens van die inboorlinge van Amerika bespreek.
[Kaarte/Prent op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NOORD-AMERIKA
Gebied vergroot aan die regterkant
Apache-reservate
ARIZONA
NIEU-MEXIKO
Jicarilla
Fort Apache (White Mountain)
San Carlos
Mescalero
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 13]
Geronimo
[Erkenning]
Met vergunning van die Arizona Historical Society/Tucson, AHS#78167
[Prent op bladsy 16]
Harrison Talgo, ’n stamraadslid
[Prente op bladsy 17]
Hoofman Cochise is in sy Chiricahua-vesting begrawe
Satelliet- skottelantennes bring TV in die reservaat in
[Prent op bladsy 18]
By Apache-begrafnisse lê familielede klippe om die graf. Linte in die wind stel die vier hoofwindrigtings voor