Die kuns om kieries te versier
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
“EK IS altyd verbaas as ek hoor dat daar groot dele van die Britse Eilande is waar niemand enige benul het van wat jy bedoel as jy sê dat jou stokperdjie kierieversiering is nie”, sê ’n meester in die kuns.
Baie mense ken die wandelstok of die herderstaf. Kierieversiering verander ’n doodgewone kierie in ’n buitengewone kunswerk. Herders en plaaswerkers vind eeue lank al dat hierdie fassinerende kuns aansienlike vaardigheid vereis—asook baie geduld. Maar wat behels dit om kieries te versier?
Hoe die hout gekies word
Die eerste stap is om die hout te kies. Enige hout met die regte lengte en dikte kan gebruik word—sleedoring, appel of peer. Engelse huls word dikwels gekies vir sy uitstaande en mooi kwaste. Maar baie kierieversierders verkies om die hout van die haselaar te gebruik. Soms het ’n boom ’n loot wat ’n effense hoek vorm met ’n tak of ’n wortel. Dít maak dit moontlik om die hele kierie—kop en steel—uit net een deel van die boom te maak.
Wanneer is dit die beste tyd om ’n stok uit te sny? Gewoonlik wanneer die boom rustend is en die sap nie vloei nie, hoewel baie kierieversierders volhou dat die beste tyd onmiddellik is—voordat iemand anders dit vind! In elk geval, wanneer die kierieversierder tevrede is dat hy ’n geskikte stuk hout gesny het, moet hy die gesnyde punte smeer of verf om te keer dat die blok kraak. Die hout moet dan gedroog word, ’n proses wat twee jaar of meer kan duur. Dan eers kan die kierieversierder begin kerf.
Die kop word gekerf
Wanneer ’n kierie nie ’n natuurlike handvatsel, of kop, het nie, sal die versierder moontlik een maak deur die horing van ’n bees, skaap of bok te gebruik. Soos die steel, moet die horing gedroog word, gewoonlik ’n jaar lank. Die kierieversierder gebruik dan ’n bankskroef en vorm die horing soos hy dit wil hê. Herders het geslagte lank die ystersmid se vuur, kookwater, die kole van ’n turfvuur of selfs die hitte bo ’n paraffienlamp gebruik om die horing vormbaar te maak. Dit is dan gereed om gevorm te word in wat ook al die herder se verbeelding en vaardigheid kan voortbring. Hy kan die handvatsel byvoorbeeld kerf sodat dit soos ’n kollie, ’n voël, ’n bruinforel, ’n patrys se kop of ’n klein diertjie lyk.
Terwyl die kierieversierder die horing kerf, skenk hy noukeurig aandag aan besonderhede. As hy byvoorbeeld ’n forel maak, word die stert- en vinbeentjies met ’n warm yster ingeëts, en ’n sirkelpons word gebruik om elke afsonderlike skub te vorm. Die oë kan van swart buffelhoring gemaak word. Ink, eerder as verf, word gebruik om die liggaam te kleur. Meer as een laag sal nodig wees, en die aanwending van die ink op die gepoleerde oppervlakte kan ’n langdradige proses wees. Laastens word die kleur verseël deur die horing met ’n lagie vernis te bedek.
’n Voltooide kunswerk
Die horing word met ’n staalbout, ’n spyker of ’n houttappen aan die steel vasgeheg. Dan word die kierieversierder se kunswerk behendig glad geskuur met fyn staalwol. Daarna vryf hy dit blink en vernis hy die steel. “Om ’n forel te maak, die vinne te sny, ens., en om die skubbe op die lyf van die forel te sit, dit te kleur en goed genoeg af te werk om ’n prys op ’n skou te wen, neem my ongeveer 100 uur”, skryf ’n ervare kierieversierder.
Kierieversiering is ongetwyfeld ’n werk wat baie inspanning verg. Maar die eindproduk kan ’n ware kunswerk wees, en party word selfs vir kompetisies ingeskryf. Hoe dit ook al sy, die kierieversierder beskou sy kuns as ’n herinnering aan ’n rustiger era, as ’n teenmiddel teen die spanning en druk van die hedendaagse lewe.