’n Stokkie wat tande skoonmaak
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ZAMBIË
AFRIKA—’n vasteland waar mense met pragtige tande spog, maar waar daar min kommersieel vervaardigde tandeborsels is. Hoe kan dit wees? Vir baie lê die geheim van ’n stralende glimlag in ’n eenvoudige stukkie hout—die koustokkie!
Koustokkies is vroeër deur die Babiloniërs en later deur die Egiptenare, Grieke en Romeine gebruik. Hierdie “tandeborseltjies” van hout was ook algemeen in pre-Islamitiese Arabië. Hoewel die koustokkie omtrent 300 jaar gelede onder Europeërs in onbruik geraak het, is dit vandag nog gewild in party dele van Afrika, Asië en die Midde-Ooste.
In die Midde-Ooste word die koustokkie meestal van die soutbos verkry, wat ook as die “tandeborselboom” bekend staan. In Wes-Afrika word die lemmentjie- en lemoenboom gebruik, terwyl koustokkies op die Indiese subkontinent hoofsaaklik van die Indiese seringboom verkry word. In Oos-Afrika word byna 300 verskillende soorte bome en struike gebruik om koustokkies te maak. Hoe maak die stokkie tande skoon?
Wanneer die stokkie gekou word, gaan die vesels aan die punt los en vorm dit ’n growwe “borsel”. As jy dit aanhou kou, laat dit deeltjies tussen die tande loskom en bevorder dit die bloedsomloop in die tandvleis. Meer speeksel word ook afgeskei wanneer jy kou, en dit dien as ’n natuurlike mondspoelmiddel wat bakterieë wegspoel en ’n omgewing skep waarin dit nie kan floreer nie.a
Maar die koustokkie is meer as net ’n borsel. Die takkies en wortels van sommige plantsoorte bevat chemiese verbindings wat plaakvorming vertraag. Daar is al gevind dat die sap van sommige stokkies antibakteriese en fungusbestrydende eienskappe het. Die takkies van die “tandeborselboom”, wat vroeër genoem is, kan selfs help om te voorkom dat maagsere ontwikkel. In Namibië word die groei van patogene wat tandbederf, tandvleissiekte en keelseer veroorsaak, onderdruk deur stokkies wat van die sogenaamde muthalaplant verkry word. Hierdie natuurlike “tandeborsel” kan gaatjies voorkom en kan ook die wortels en die tandvleis versterk. Sommige maatskappye vervaardig nou tandepasta wat vesels en hars van sulke plante bevat.
Party verkies natuurlik om die tradisionele tandeborsel te gebruik. Of jy nou besluit om dít te doen of om soos die mense in die ou tyd ’n stokkie te gebruik, een ding is seker: Tandhigiëne is ’n belangrike deel van persoonlike gesondheidsorg.
[Voetnoot]
a Dieet is natuurlik ook belangrik. Plattelandse bevolkings in Afrika eet dikwels meer volgraankos en groente as mense in stedelike gebiede. Oor die algemeen eet en drink hulle ook minder suiker, verfynde kosse en koeldranke—wat daarvoor bekend is dat dit tandbederf veroorsaak.
[Prent op bladsy 11]
Koustokkies word onder andere van die Indiese seringboom gekry
[Erkenning]
William M. Ciesla, Forest Health Management International, www.forestryimages.org