Van ons lesers
Singapoer Die artikel “Singapoer—Asië se ontsierde juweel” (8 Junie 1997) het getoon op watter skokkende manier hierdie hedendaagse regering vredeliewende Christene behandel het. Ek ken baie van die Christenmans en -vrouens daar, en hulle is almal aangename, liefdevolle mense. Dit is vir my ’n aansporing dat hulle Jehovah ten spyte van vervolging dien.
I. O., Maleisië
Woede In die artikel “Waarom moet jy jou woede beheers?” (8 Junie 1997) sê julle dat Simeon en Levi deur hulle vader vervloek is. Ek is seker ek het êrens gelees dat dit hulle woede was wat Jakob vervloek het.
S. L., Verenigde State
Ons leser is reg hieroor. “Die Wagtoring” van 1 September 1962 het verduidelik: “Op sy sterfbed het Jakob nie vir Simeon en Levi self vervloek nie. Hy het hulle toorn vervloek, ‘want dit is wreed’. Hy het hulle grimmigheid vervloek, ‘want dit is hard’.”—RED.
Dieet Die artikel “Jou dieet—Kan dit jou dood veroorsaak?” (22 Junie 1997) het my lewe gered. Nadat ek dit gelees het, het ek my vrou gevra om onmiddellik die dokter te bel, aangesien die artikel my omstandighede haarfyn beskryf het. Nadat my dokter my ondersoek het, het hy reëlings getref om my die volgende oggend te opereer. Hy het my onmiddellik in die hospitaal laat opneem, aangesien hy bang was dat ek nie deur die nag sou leef nie. Ek is nou tuis waar ek ná ’n driedubbele omleidingsoperasie aansterk.
F. S., Verenigde State
Ek en my man vind dit soms moeilik om ons tydens maaltye te beheers. Ek het al ander artikels oor dieet gelees, maar hierdie een het dinge op ’n eenvoudige en praktiese manier bespreek. Ek is seker dat ons voortaan goeie gesondheid sal geniet as ons julle raad toepas.
V. A., Brasilië
Dankie vir die reeks “Jou dieet—Waarom jy besorg moet wees”. Dit het my help besef watter risiko’s met oorgewig gepaardgaan. Ek het al die raad daarin begin toepas, en ek weet dat ek met Jehovah se hulp my eetgewoontes kan beheers.
V. Y. D., Liberië
Naaldekokers Baie dankie vir die voortreflike artikel “Juwele van die rivieroewer” (22 Junie 1997). Dit het gehandel oor een van my geliefkoosde lugakrobate, die naaldekoker. Wanneer ek in my tuin werk, is daar amper altyd ’n naaldekoker wat in die nabyheid rondvlieg of rus. Ek het ’n man wat tuine uitlê, gevra waarom dit so is. Hy het gesê dat ’n naaldekoker se dieet muskiete insluit en dat muskiete na mense aangetrek word. Ek beskou hierdie kleurryke skepseltjie dus nou as ’n soort persoonlike lyfwag!
J. F., Verenigde State
Soeke na geregtigheid Ek het die artikel “Ons soeke na geregtigheid” (22 Junie 1997) geniet. God se regverdige eienskappe trek beslis diegene aan wat weens ongeregtighede sug en huil. Ek is veral gevoelig vir ongeregtigheid, en ek moet hard stry om my beskouings en optrede in ooreenstemming met God se standaarde te bring.
D. L., Taiwan
Ek stem nie saam met die inleiding nie. Waar julle van die Texaanse verdedigers van Die Alamo praat, sê julle nie dat hulle rowers was wat ’n gebied probeer afneem het wat aan Mexiko behoort het nie.
A. C., Mexiko
Ons het nie die ingewikkelde geskilpunte bespreek wat by die geveg by Die Alamo betrokke was nie, aangesien dit blykbaar nie tersaaklik was by Antonio Villa se lewensverhaal nie. Die “Awake!” van 22 Mei 1971 het egter wel gesê: “Die meeste Amerikaners vergeet of het dalk nooit geweet dat San Antonio ’n deel van Mexiko was nie. Mexiko het die veldslag as die beëindiging van ’n opstand in sy gebied beskou. Amerika het dit gebruik . . . om sy inmenging in Mexikaanse aangeleenthede te regverdig.”—RED.