Reënwoude—Kan dit gered word?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BOLIVIA
RAMIRO besit ’n vallei wat toe is onder ’n tropiese wolkwoud.a Dit is in die voetheuwels van Suid-Amerika se Andesgebergte geleë en is een van die min valleie in die gebied waar ou bome nog staan. Al die ander heuwels in die omgewing is kaalgestroop. Wetenskaplikes kom van heinde en verre om die natuurlewe in Ramiro se wolkwoud te bestudeer, en hulle het verskeie spesies ontdek wat nog nooit tevore beskryf is nie. Ramiro stel baie in natuurbewaring belang. Hy sê: “Niemand sal in my woud bome afkap nie.”
Daarteenoor bestuur Roberto 5 600 vierkante kilometer tropiese reënwoud op die laaglande van die Amasonebekken. Hy is ’n beroepsbosbouer wat tropiese bome afkap en die hout op die wêreldmark verkoop. Maar Roberto stel ook baie daarin belang om tropiese reënwoude en die dierelewe daarin te bewaar. “Tropiese hout kan geoes word sonder om permanente skade aan die diversiteit van lewe te doen”, sê hy met oortuiging.
Hoewel Ramiro en Roberto van mekaar verskil, is hulle albei diep besorg oor die toekoms van tropiese reënwoude. En hulle is beslis nie die enigstes nie. In onlangse dekades het die roekelose vernietiging van tropiese reënwoude teen ’n skrikwekkende tempo toegeneem.
Word die erns van die situasie oordryf? Mense het per slot van rekening in vorige eeue baie van die woude in gematigde streke uitgekap, hoofsaaklik vir landboudoeleindes. Waarom moet ons dus bekommerd wees as mense in tropiese gebiede nou dieselfde doen? Daar is belangrike verskille. Tropiese reënwoude groei byvoorbeeld dikwels op onvrugbare grond, wat nie juis geskik is vir landbou nie. Daar is ook ’n baie groter verskeidenheid lewensvorme in tropiese reënwoude; die vernietiging daarvan raak die hele mensdom.
Die prys van ontbossing
Meer as die helfte van die wêreld se spesies van lewende dinge word in tropiese reënwoude aangetref. Van slingerape en tiers tot seldsame mossoorte en orgideë, van slange en paddas tot skaars vlinders en papegaaie—daar is eenvoudig te veel spesies om te dokumenteer.
Verskillende lewensvorme floreer in baie soorte tropiese reënwoude. Daar is stadig groeiende wolkwoude in die berge, donker reënwoude met digte blaredakke, tropiese droë woude en oop bosland. Maar die meeste mense was nog nooit in ’n tropiese woud nie. Miskien is jy een van hulle. Waarom moet jy dan oor sulke plekke besorg wees?
Die bewaring van tropiese reënwoude is iets wat jou lewe raak omdat soveel van die kommersiële plante waarop jy staatmaak in sekere opsigte van wilde plante afhanklik is wat nog in hierdie woude floreer. Hierdie wilde variëteite word soms gebruik om nuwe variëteite te kweek wat meer bestand is teen siektes en insekplae. Die genetiese diversiteit wat in wilde plantsoorte gevind word, is dus noodsaaklik.
Navorsers ontwikkel ook voortdurend nuttige produkte uit plante in tropiese woude. Baie medisyne wat byvoorbeeld vandag gebruik word, kom van tropiese plante. Die verskeidenheid lewe in tropiese reënwoude word dikwels met ’n lewende biblioteek vergelyk, maar dit is een waarvan die meeste van die “boeke” nog oopgemaak moet word.
’n Delikate web van lewe
Die klam tropiese woudomgewing is delikaat en uiters kompleks. Die tallose lewensvorme is van mekaar afhanklik. Die meeste plante maak byvoorbeeld staat op sekere voëls, insekte of diere vir bestuiwing en saadverspreiding. In ’n komplekse kringloop van lewe hersirkuleer die woud al die lewende materiaal daarin, insluitende die plante, diere, insekte en mikro-organismes. Wat merkwaardig is, is dat die grond wat hierdie hele komplekse ekosisteem onderhou, gewoonlik onvrugbaar is. Wanneer dit eers vernietig is, sal dit dalk moeilik of onmoontlik vir so ’n woud wees om te herstel.
Tropiese woude is vir baie mense hulle brood en botter. Behalwe dat dit wetenskaplikes ’n navorsingsveld gee en toerisme daarby baat vind, is tropiese woude kommersieel belangrik omdat dit produkte lewer soos hout, neute, heuning, palmharte, rubber en hars. Maar tropiese reënwoude verdwyn teen ’n kommerwekkende tempo. Die syfers word betwis, maar een ding is seker: Die woude krimp vinnig.
Hierdie omgewingsverlies is veral betreurenswaardig omdat die vernietiging van tropiese reënwoude dikwels min permanente voordele inhou. Baie van hierdie boslande is in weivelde vir beeste omskep. Maar ná ’n kort tydjie lewer die grond dikwels nie meer weiding nie en word dit braak agtergelaat. In die Brasiliaanse Amasone het dit volgens berig al met 165 000 vierkante kilometer land gebeur.
Watter hoop is daar vir die reënwoude en die verskeidenheid dierelewe daarin? Ramiro, Roberto en baie ander soos hulle doen alles in hulle vermoë om tropiese reënwoude te beskerm teen internasionale handel, oorbevolking, strikspanners vir die troeteldierhandel en onwettige jagters en houtkappers. Maar wat is die werklike, onderliggende oorsake van ontbossing? Is daar ’n manier waarop die ontsaglike hulpbronne van die reënwoude benut kan word sonder om dit te vernietig?
[Voetnoot]
a ’n Wolkwoud, of bergreënwoud, is ’n reënwoud wat op ’n hoogte van meer as 1 000 meter voorkom.
[Lokteks op bladsy 3]
Die meeste van die wêreld se diersoorte sowel as ’n ontsaglike verskeidenheid plante kom in tropiese reënwoude voor
[Prente op bladsy 4, 5]
Houtkappers en die paaie wat hulle bou, kan die reënwoud vernietig