Sal ons reënwoude bly voortbestaan?
AAN die begin van hierdie eeu het die Noord-Amerikaanse trekduif uitgesterf. Dit was moontlik die talrykste voël wat nog bestaan het. Voëlkundiges bereken dat daar twee eeue gelede tussen vyf- en tienmiljard van hulle was!
Maar binne honderd jaar het ’n skynbaar onuitputlike voorraad goedkoop voëlvleis verdwyn in wat beskryf word as “die dramatiesste afname [van ’n spesie] nog”. Die monument vir die trekduif in Wyalusingstaatspark, Wisconsin, VSA, het hierdie woorde op: “Hierdie spesie het uitgesterf as gevolg van die mens se hebsug en onbesonnenheid.”
Die lot van die trekduif herinner ons daaraan dat selfs die oorvloedigste van die aarde se diere kwesbaar is vir die mens se aanslag. Hebsug en onbesonnenheid vier steeds hoogty. En vandag is dit nie net een spesie nie, maar ’n hele ekosisteem wat in gevaar verkeer. As die reënwoude verdwyn, sal al die bewoners daarvan—byna die helfte van die planeet se spesies—saam met hulle verdwyn. Volgens wetenskaplikes sal so ’n katastrofe “die grootste biologiese ramp wees wat die mens tot nog toe” veroorsaak het.
Ons het weliswaar meer kennis van die omgewing as wat ons ’n eeu gelede gehad het. Maar hierdie insig was nie voldoende om die genadelose vernietiging te stuit nie. “Ons is besig om iets van onskatbare waarde te vernietig”, sê die plantkundige Manuel Fidalgo, “en ons het nie veel tyd oor nie. Ek is bevrees dat die woude wat op berghange geleë en vir die houtkappers ontoeganklik is die enigste woude is wat oor ’n paar jaar nog ongeskonde sal wees.”
Natuurkenners is verontrus omdat dit so moeilik is om die reënwoude te herstel. Die boek The Emerald Realm: Earth’s Precious Rain Forests beskryf herbebossing onomwonde as “stadig en duur, . . . ’n laaste uitweg om die vernietiging van die reënwoud te probeer keer”. Herplanting sal waarskynlik net ’n paar soorte tropiese bome insluit, en daar sal voortdurend aandag aan die jong bome geskenk moet word om te keer dat onkruid hulle verstik.
Of ’n woud ooit weer sy vroeëre prag kan herwin, sal daarvan afhang hoe naby die herbeplante gebied aan ’n ongerepte reënwoud is. Net as hulle baie naby aan mekaar is, sal die tienduisende spesies waaruit ’n ware reënwoud bestaan uiteindelik weer in die herbeboste gebied kan wortelskiet. Selfs dan sal die proses eeue duur. Sommige gebiede wat duisend jaar gelede verlaat is toe die Maja-beskawing in duie gestort het, het nog steeds nie ten volle herstel nie.
“’n Nuwe internasionalisme”?
’n Wetenskaplike by die Smithsonian-instituut in Washington, DC, het voorgestel dat 10 persent van die bestaande reënwoude vir die nageslag bewaar word ten einde soveel spesies moontlik te beskerm. Op die oomblik word ongeveer 8 persent beskerm, maar baie van hierdie reservate of nasionale parke is net in naam parke, aangesien daar nóg die fondse nóg die personeel is om dit te beskerm. Daar moet beslis meer gedoen word.
Peter Raven, ’n woordvoerder vir reënwoudbewaring, verduidelik: “Pogings om die reënwoude te red, verg ’n nuwe internasionalisme, ’n bewuswording van die feit dat alle mense by die lot van die aarde betrokke is. Maniere moet gevind word om armoede en honger regdeur die wêreld te verlig. Nuwe ooreenkomste sal tussen lande gesluit moet word.”
Baie mense dink dat sy aanbeveling sinvol is. ’n Wêreldwye oplossing is nodig om die reënwoude te red—net soos baie ander situasies waarvoor die mens te staan kom. Die probleem is om “ooreenkomste tussen lande” te bewerkstellig voordat ’n wêreldwye ramp plaasvind en voordat die skade wat aangerig is onherstelbaar sal wees. Soos Peter Raven te kenne gee, hou die vernietiging van die reënwoud baie nou verband met ander langdurige probleme van die ontwikkelende wêreld, soos honger en armoede.
Tot dusver het internasionale pogings om sulke probleme aan te pak in beperkte mate sukses behaal. Sommige mense vra: Sal lande eendag hulle eng en teenstrydige nasionale belange oorkom ter wille van die algemene welsyn van almal, of is die soeke na “’n nuwe internasionalisme” net ’n droom?
Dit lyk nie asof die geskiedenis ’n grondslag vir optimisme voorsien nie. Een faktor word nietemin dikwels geïgnoreer—die beskouing van die reënwoud se Skepper. “Ons moet onthou dat ons ’n deel van die Skepping vernietig”, sê professor Edward O. Wilson van Harvard, “en daardeur ontneem ons alle toekomstige geslagte dit wat aan óns nagelaat is.”
Sal die Skepper van die aarde toelaat dat die mens Sy skepping heeltemal vernietig? Dit is ondenkbaar.a Die Bybel voorspel eerder dat God “die verderwers van die aarde [sal] verderf” (Openbaring 11:18). Hoe gaan God sy oplossing in werking stel? Hy belowe om ’n Koninkryk tot stand te bring—’n supranasionale hemelse regering—wat al die probleme op aarde gaan oplos en wat “in ewigheid nie vernietig sal word nie”.—Daniël 2:44.
God se Koninkryk gaan nie net die mens se misbruik van die planeet stopsit nie, maar dit gaan ook toesig hou oor die herstelling van die aarde se natuurlike prag. Die hele aarde sal uiteindelik ’n wêreldwye park word, net soos ons Skepper dit oorspronklik wou gehad het (Genesis 1:28; 2:15; Lukas 23:42, 43). Oral sal mense “deur Jehovah geleer” word, en hulle sal leer om sy hele skepping lief te hê en te waardeer, met inbegrip van die reënwoud.—Jesaja 54:13, NW.
Waar die psalmis daardie geseënde tyd beskryf, het hy geskryf: “Dan sal al die bome van die bos jubel voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.”—Psalm 96:12, 13.
Gelukkig hang die toekoms van die reënwoud nie van die mens se sorg—of hebsug—af nie. Die Bybel gee ons rede om vol vertroue te wees dat die Skepper self sal ingryp om ons tropiese woude te red. In God se nuwe wêreld sal toekomstige geslagte die heerlikheid van die reënwoud kan sien.—Openbaring 21:1-4.
[Voetnoot]
a Dit is interessant dat bewaringsgesindes wat hulle dit ten doel stel om soveel bedreigde spesies moontlik te red hulle etiek as die “Noagbeginsel” beskryf, aangesien Noag beveel is om “van al wat lewe, van alle vlees” in die ark toe te laat (Genesis 6:19). “Die feit dat [spesies] al lank in die natuur bestaan, gee dit die onaantasbare reg om aan te hou bestaan”, redeneer die bioloog David Ehrenfeld.