My lang reis om die lewe en dood in Kambodja te ontvlug
SOOS VERTEL DEUR WATHANA MEAS
DIT was 1974, en ek het teen die Khmer Rouge in Kambodja geveg. Ek was ’n offisier in die Kambodjaanse leër. In een geveg het ons ’n Khmer Rouge-soldaat gevange geneem. Wat hy my van Pol Pot se toekomsplanne vertel het, het my lewe verander en my met ’n lang reis laat begin, in ’n letterlike sowel as ’n geestelike sin.a
Maar kom ek vertel van die begin van my swerftog af. Ek is in 1945 in Phnom Penh gebore in wat in die Khmer-taal as Kampuchea (Kambodja) bekend staan. My ma het uiteindelik ’n belangrike pos in die geheime polisie beklee. Sy was ’n spesiale agent vir prins Norodom Sihanouk, die heerser van die land. Aangesien sy toesig oor my gehad het en haar rooster besig was, het sy verplig gevoel om my by ’n Boeddhistetempel te laat om onderrig te word.
My Boeddhistiese agtergrond
Ek was agt jaar oud toe ek by die vernaamste Boeddhistiese monnik gaan woon het. Van daardie jaar af tot 1969 het ek my tyd tussen die tempel en die huis verdeel. Die monnik wat ek gedien het, was Chuon Nat, wat destyds die hoogste Boeddhistiese gesag in Kambodja was. Ek het ’n tyd lank as sy sekretaris gewerk en hom gehelp om die Boeddhistiese heilige boek “Die Drie Korwe” (Tipitaka, of Sanskrit Tripitaka) uit ’n ou Indiese taal in Kambodjaans te vertaal.
Ek is in 1964 as ’n monnik bevestig en het tot 1969 in hierdie hoedanigheid gedien. Gedurende hierdie tyd was daar baie vrae wat my gepla het, soos: Waarom is daar soveel lyding in die wêreld, en hoe het dit begin? Ek het gesien hoe mense hulle gode op baie maniere probeer behaag, maar hulle het nie geweet hoe hulle gode hulle probleme kon oplos nie. Ek kon nie ’n bevredigende antwoord in die Boeddhistiese geskrifte kry nie, en die ander monnike kon ook nie. Ek was so ontnugter dat ek besluit het om die tempel te verlaat, en ek het die monnikskap opgegee.
Ek het uiteindelik in 1971 by die Kambodjaanse leër aangesluit. Ek is omstreeks 1971 na Viëtnam toe gestuur, en weens my geleerdheid is ek tot die rang van tweede luitenant bevorder en ’n aanwysing in die spesiale magte gegee. Ons het teen die Kommunistiese Khmer Rouge- en Viëtkong-magte geveg.
Oorlog en veranderinge in Kambodja
Ek het ’n veteraan geword wat deur oorlog verhard is. Ek het daaraan gewoond geraak om die dood byna daagliks te sien. Ek het self aan 157 gevegte deelgeneem. Eenkeer is ons diep in die oerwoud meer as ’n maand lank deur die Khmer Rouge omsingel. Meer as 700 manne het gesterf. Net ongeveer 15 het dit oorleef—ek was een van hulle, en ek was gewond. Maar ek het lewendig daaruit gekom.
By ’n ander geleentheid, in 1974, het ons ’n Khmer Rouge-soldaat gevange geneem. Terwyl ek hom ondervra het, het hy my vertel dat Pol Pot beplan om alle voormalige regeringsamptenare uit te wis, waaronder diegene in die leër. Hy het my aangeraai om alles te laat staan en te vlug. Hy het gesê: “Verander voortdurend jou naam. Moenie dat enigiemand weet wie jy is nie. Tree onkundig en ongeletterd op. Moenie vir enigiemand van jou vorige lewe vertel nie.” Nadat ek hom na sy huis toe laat teruggaan het, het daardie waarskuwing my bygebly.
Daar is vir ons as soldate gesê dat ons vir ons land veg, en tog het ons Kambodjane doodgemaak. Die Khmer Rouge, ’n Kommunistiese faksie wat mag wou hê, was van ons eie mense. Trouens, die meeste van die negemiljoen inwoners van Kambodja is Khmer, hoewel die meeste van hulle nie tot die Khmer Rouge behoort nie. Dit het glad nie vir my sin gemaak nie. Ons het onskuldige boere doodgemaak wat geen vuurwapens gehad het nie en nie in die oorlog belanggestel het nie.
Dit was altyd ’n hartverskeurende ondervinding om van ’n geveg af terug te keer. Vrouens en kinders het angstig gewag om te sien of hulle man of pa teruggekeer het. Ek moes vir baie van hulle sê dat hulle gesinslid doodgemaak is. Deur dit alles heen het my begrip van Boeddhisme my geen vertroosting gebied nie.
Ek dink nou terug aan hoe dinge in Kambodja verander het. Voor 1970 was daar betreklike vrede en veiligheid. Die meeste mense het nie ’n vuurwapen besit nie; dit was onwettig tensy jy ’n lisensie gehad het. Daar was baie min roof of diefstal. Maar nadat die burgeroorlog met die opstand van Pol Pot en sy magte begin het, het alles verander. Daar was oral vuurwapens. Selfs kinders van 12 en 13 is vir militêre diens opgelei en het geleer hoe om te skiet en dood te maak. Pol Pot se mense het party kinders oorreed om hulle eie ouers dood te maak. Die soldate het vir die kinders gesê: “As jy jou land liefhet, moet jy jou vyande haat. As jou ouers vir die regering werk, is hulle ons vyande en moet jy hulle doodmaak—of self doodgemaak word.”
Pol Pot en die suiwering
In 1975 het Pol Pot die oorlog gewen, en Kambodja het ’n Kommunistiese land geword. Pol Pot het begin om van alle studente, onderwysers, regeringsamptenare en enigiemand anders met ’n geleerdheid ontslae te raak. As jy ’n bril gedra het, kon jy doodgemaak word omdat daar aangeneem is dat jy geleerd is! Die Pol Pot-bewind het die meeste mense gedwing om die stede en dorpe te verlaat en het hulle na die platteland laat trek om as boere te werk. Almal moes dieselfde soort klere dra. Ons moes 15 uur per dag werk, met te min kos, geen medisyne, geen klere en net 2 of 3 uur slaap. Ek het besluit om my geboorteland te verlaat voordat dit te laat is.
Ek het die raad van daardie Khmer Rouge-soldaat onthou. Ek het alle foto’s en papiere weggegooi, asook enigiets wat my onder verdenking kon bring. Ek het ’n gat gegrawe en van my dokumente begrawe. Toe het ek weswaarts na Thailand toe gereis. Dit was gevaarlik. Ek moes padversperrings vermy en veral versigtig wees gedurende aandklokure, aangesien net Khmer Rouge-soldate met amptelike toestemming kon reis.
Ek het na een gebied toe gegaan en ’n tyd lank by ’n vriend gebly. Toe het die Khmer Rouge almal van daardie plek af na ’n nuwe gebied toe verskuif. Hulle het die onderwysers en die dokters begin doodmaak. Ek het saam met drie vriende ontsnap. Ons het in die oerwoud weggekruip en die vrugte geëet wat ons aan die bome kon vind. Eindelik het ek in ’n klein dorpie in die provinsie Battambang aangekom, waar ’n vriend van my gewoon het. Tot my verbasing het ek ook die voormalige soldaat daar gevind wat vir my gesê het hoe ek moet ontsnap! Aangesien ek hom vrygelaat het, het hy my drie maande lank in ’n put versteek. Hy het ’n kind aangesê om vir my kos in te gooi, maar om nie in die put in te kyk nie.
Mettertyd kon ek ontsnap, en ek het my ma, my tante en my suster gevind, terwyl hulle ook na die Thaise grens gevlug het. Dit was vir my ’n hartseer tyd. My ma was siek, en sy het uiteindelik weens siekte en ’n gebrek aan kos in ’n vlugtelingkamp gesterf. Maar daar het ’n straaltjie lig en hoop in my lewe gekom. Ek het Sopheap Um ontmoet, die vrou met wie ek getrou het. Ons het saam met my tante en my suster oor die Thaise grens ontsnap na ’n vlugtelingkamp van die Verenigde Nasies. Ons familie het baie gely in Kambodja se burgeroorlog. Ons het 18 familielede verloor, met inbegrip van my broer en my skoonsuster.
’n Nuwe lewe in die Verenigde State
Ons agtergrond is by die vlugtelingkamp nagegaan, en die VN het vir ons ’n borg probeer kry sodat ons na die Verenigde State toe kon gaan. Uiteindelik is welslae behaal! Ons het in 1980 in St. Paul, Minnesota, aangekom. Ek het geweet dat ek so gou moontlik Engels moes leer as ek in my nuwe land vooruitgang wou maak. My borg het my net ’n paar maande kollege toe gestuur, hoewel ek eintlik langer moes studeer. Hy het eerder vir my werk gekry as ’n skoonmaker in ’n hotel. Maar met my beperkte Engels het dit tot talle komiese flaters gelei. Toe die eienaar my vra om ’n leer te gaan haal, het ek die vullis teruggebring!
’n Angswekkende besoek
In 1984 het ek nagskof gewerk en bedags geslaap. Ons het in ’n gebied gewoon waar daar baie spanning tussen Asiërs en swart mense was. Misdaad en dwelms was iets algemeens. Een oggend het my vrou my om tienuur wakker gemaak om vir my te sê dat daar ’n swart man by die deur is. Sy was angstig omdat sy gedink het dat hy ons kom beroof. Ek het deur ’n gaatjie in die deur geloer en ’n welgeklede swart man met ’n aktetas gesien, en daar was ’n wit man by hom. Dit het nie vir my gelyk of daar iets verkeerd is nie.
Ek het hom gevra wat hy verkoop. Hy het my eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! gewys. Ek het niks verstaan nie. Ek het dit van die hand probeer wys omdat ’n Protestantse verkoopsman my ’n paar maande tevore deur ’n skelmstuk $165 (R330) vir ’n stel van vyf boeke laat betaal het. Maar die swart man het my die prente in die tydskrifte gewys. Die prente was so treffend en pragtig! En die man het ’n breë, vriendelike glimlag gehad. Ek het dus $1 (R2) bygedra en dit geneem.
Hy het ongeveer twee weke later teruggekom en my gevra of ek ’n Kambodjaanse Bybel het. Ek het toevallig een gehad wat ek by ’n Nasareense kerk gekry het, hoewel ek dit nie verstaan het nie. Maar ek was beïndruk dat twee mans van verskillende rasse na my deur toe gekom het. Toe het hy my gevra: “Wil jy Engels leer?” Natuurlik wou ek, maar ek het verduidelik dat ek nie geld het om vir lesse te betaal nie. Hy het vir my gesê dat hy my verniet sou leer, met behulp van ’n Bybelpublikasie. Al het ek nie geweet watter godsdiens hy verteenwoordig nie, het ek by myself gedink: ‘Ek hoef ten minste nie te betaal nie, en ek sal Engels leer lees en skryf.’
Ek leer Engels en bestudeer die Bybel
Dit was ’n stadige proses. Hy het my die eerste boek van die Bybel, Genesis, gewys en ek het dit dan in Kambodjaans gesê: “Lo ca bat.” Hy het gesê: “Bybel”, en ek het gesê: “Compee.” Ek het begin vorder, en ek was gemotiveer. Ek het gewoonlik my Engels-Kambodjaanse woordeboek, ’n Wagtoring, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel en my Kambodjaanse Bybel werk toe gevat. Gedurende my etenstyd het ek gestudeer en Engels woord vir woord geleer deur die publikasies te vergelyk. Hierdie stadige proses, tesame met weeklikse lesse, het meer as drie jaar geduur. Maar uiteindelik kon ek Engels lees!
My vrou het nog na die Boeddhistetempel gegaan, en sy het kos vir die voorouers neergesit. Die enigstes wat daarby baat gevind het, was natuurlik die vlieë! Ek het talle diepgewortelde slegte gewoontes gehad uit my dae in die leër en in Boeddhisme. Toe ek ’n monnik was, het mense offerandes gebring, wat sigarette ingesluit het. As die monnik die sigarette gerook het, was dit vir hulle asof hulle voorouers dit gerook het. Ek het dus ’n slagoffer van nikotienverslawing geword. Dan was ek ook ’n baie strawwe drinker in die leër en het ek opium gerook om my moed te gee vir die gevegte. Toe ek die Bybel begin bestudeer het, moes ek derhalwe baie veranderinge aanbring. Dít is toe ek ontdek het dat gebed baie help. Binne ’n paar maande het ek my slegte gewoontes oorkom. Die res van die familie was tog te bly!
Ek is in 1989 in Minnesota as ’n Getuie gedoop. Ongeveer daardie tyd het ek gehoor dat daar in Long Beach, Kalifornië, ’n Kambodjaanse groep Getuies was, asook ’n groot Kambodjaanse bevolking. Nadat ek en my vrou dit bespreek het, het ons besluit om na Long Beach toe te trek. Dit was ’n baie verreikende verandering! My suster is eerste gedoop, toe my tante (wat nou 85 jaar oud is) en my vrou. My drie kinders was volgende. Uiteindelik is my suster met ’n Getuie getroud, wat nou as ’n ouer man in die gemeente dien.
Hier in die Verenigde State het ons baie beproewinge verduur. Ons het ernstige finansiële probleme en etlike gesondheidsprobleme ondervind, maar deur Bybelbeginsels toe te pas, het ons ons vertroue op Jehovah behou. Hy het my pogings op geestelike gebied geseën. In 1992 is ek aangestel om as ’n bedieningskneg in die gemeente te dien, en in 1995 het ek hier in Long Beach ’n ouer man geword.
Voorlopig het die lang reis wat begin het toe ek ’n Boeddhistiese monnik en toe ’n offisier op die slagvelde van oorloggeteisterde Kambodja was met vrede en geluk in ons nuwe tuiste en land geëindig. En ons het ons nuutgevonde geloof in Jehovah God en Christus Jesus. Die wete dat mense mekaar nog in Kambodja doodmaak, maak my hartseer. Dit is des te meer rede vir my en my gesin om die beloofde nuwe wêreld te verwag en te verkondig, waar alle oorloë sal ophou en alle mense waarlik hulle naaste soos hulleself sal liefhê!—Jesaja 2:2-4; Matteus 22:37-39; Openbaring 21:1-4.
[Voetnoot]
a Pol Pot was destyds die Kommunistiese leier van die Khmer Rouge-leër, wat die oorlog gewen en Kambodja verower het.
[Kaart/Prent op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VIËTNAM
LAOS
THAILAND
KAMBODJA
Battambang
Phnom Penh
Gedurende my jare as ’n Boeddhistiese monnik
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 18]
Saam met my familie, by die Koninkryksaal