Ek het van die moordvelde weggevlug en die lewe gevind
Soos vertel deur Sam Tan
Ons gesin het saam met sowat 2 000 ander Kambodjane uit ons vaderland gevlug en het uiteindelik die rivier bereik wat aan Thailand grens. Ons het daarin geslaag om plek te kry op een van die stampvol bootjies wat mense na veiligheid geneem het. Net toe die laaste bootjie wegtrek, het Khmer Rouge-soldate verskyn en op ons begin skiet.
TOT ons groot verligting het ons almal veilig in Thailand aangekom. Almal was vreugdevol; net ons was nie, want my pa en my oom was nie by ons nie, aangesien hulle ’n paar maande vroeër van ons af weggeneem is. My ma het net daar gaan sit en huil. Maar voordat ek my verhaal voortsit, wil ek eers iets oor my agtergrond vertel.
My vroeë lewe as ’n Boeddhis
Ek is in 1960 in Kambodja gebore en was een van drie kinders. Toe ek nege jaar oud was, het ek en my ouers besluit dat ek in ’n Boeddhistetempel moet gaan dien, wat niks ongewoons was vir seuns nie. ’n Monnik begin sy dag soggens omstreeks sesuur, wanneer hy die tempel verlaat om van huis tot huis te gaan om kos te vra. Dit was vir my moeilik om party huisbewoners vir kos te vra omdat dit duidelik was dat hulle baie arm is. Daarna het ons as jong monnike die etes voorberei en die ouer monnike bedien. Ons het agterna geëet.
Die ouer monnike het saans sesuur bymekaargekom vir gebed, waartydens hulle ’n taal gebruik het wat min persone, indien enige, verstaan het. Ná twee jaar het ek ’n klein monnik geword, soos ons dit genoem het, en het ek ’n paar van die voorregte van die ouer monnike geniet. Ek is ook toegelaat om saam met hulle gebede op te sê. Ek het heeltyd gedink dat Boeddhisme die enigste godsdiens in die wêreld is.
Ons vlug uit Kambodja
Ek het die tempellewe nie geniet nie en het op 14-jarige ouderdom teruggegaan huis toe. Kort hierna het ’n politieke leier met die naam Pol Pot aan bewind gekom. Sy Khmer Rouge-beweging, wat van 1975 tot 1979 regeer het, het almal uit die stede verdryf om op die platteland te gaan woon, as deel van ’n poging om Kambodja ’n Kommunistiese staat te maak. Ons gesin is ook hervestig. Later het Pol Pot se manne my pa en my oom weggeneem. Ons het hulle nooit weer gesien nie. Trouens, byna 1,7 miljoen Kambodjane is tydens die bewind van die Khmer Rouge op die sogenaamde moordvelde tereggestel of het weens oorwerktheid, siekte of verhongering gesterf.
Hierdie toestande het die 2 000 van ons wat aan die begin van die artikel gemeld is, laat besluit om ’n gevaarlike driedaagse tog oor bergagtige terrein na die Thaise grens aan te pak. Ons het almal veilig daar aangekom, insluitende ’n babaseuntjie wat op pad soontoe gebore is. Die meeste van ons het geld saamgeneem, maar moes dit uiteindelik weggooi omdat Kambodjaanse geld destyds feitlik waardeloos was in Thailand.
Die lewe in Thailand
Ons gesin het by familielede in Thailand gaan woon, en ek het werk gekry as ’n kommersiële visserman. Ons boot het dit dikwels in Kambodjaanse waters gewaag, waar daar meer vis was—maar ook Khmer Rouge-patrolliebote. As hulle ons gevang het, sou ons ons boot en ons lewe verloor het. Trouens, ons het twee noue ontkomings gehad. Ander het egter nie so goed gevaar nie, onder andere my buurman, wat gevang en onthoof is. Hoewel sy dood my ontstel het, het ek voortgegaan om langs die kus van Kambodja vis te vang—anders sou ons gesin van honger omgekom het.
Uit besorgdheid oor myself en my gesinslede het ek besluit om na ’n vlugtelingkamp in Thailand te gaan, aansoek te doen om na ’n ander land te immigreer en van daar af geld aan die gesin te stuur. Toe ek dit vir my familielede vertel, het hulle sterk beswaar gemaak daarteen. Maar ek was vasbeslote.
Engelssprekende besoekers wat ek in die vlugtelingkamp ontmoet het, het gesê dat hulle Christene is. Dit het my opvatting dat Boeddhisme die enigste godsdiens is, verpletter. Ek en my nuwe vriend, Teng Hann, het met die “Christene” begin assosieer, wat vir ons die Bybel gewys en vir ons kos gegee het. Ek het ’n jaar lank in die kamp gebly en aansoek gedoen om na Nieu-Seeland te immigreer.
’n Nuwe lewe in Nieu-Seeland
My aansoek is in Mei 1979 goedgekeur, en kort daarna het ek my in ’n vlugtelingkamp in Auckland bevind. ’n Goedhartige borg het gereël dat ek na die stad Wellington gaan om in ’n fabriek te werk. Daar het ek hard gewerk en geld huis toe gestuur soos ek belowe het.
Ek wou meer omtrent die Christelike godsdiens leer en het derhalwe twee Protestantse kerke begin bywoon. Daar is egter min oor die Bybel gesê. Omdat ek op die regte manier wou bid, het ’n vriend my die gebed geleer wat oor die algemeen die Modelgebed, of die Onse Vader, genoem word (Matteus 6:9-13). Maar niemand het verduidelik wat die gebed nou eintlik beteken nie. Ek het dus, net soos ek met Boeddhistiese gebede gedoen het, die woorde oor en oor gesê sonder om te verstaan wat ek sê.
’n Ongelukkige huwelik
Ek is in 1981 getroud. Omtrent ’n jaar later is ek en my vrou albei gedoop deur ’n predikant wat water op ons koppe gesprinkel het. Teen dié tyd het ek twee sekulêre werke, ’n mooi huis en ’n gemaklike lewenstyl gehad—dinge wat ek nooit in Kambodja gehad het nie. Tog was ek ongelukkig. Ons het huweliksprobleme ondervind, en dit het nie gelyk of dit help om kerk toe te gaan nie. My gedrag het ook nie gehelp nie, want ek het gedobbel, gerook, te veel gedrink en met ander vroue deurmekaar geraak. Maar my gewete het my gepla, en ek het dit sterk betwyfel of ek sou kwalifiseer om hemel toe te gaan, waarheen ek gehoor het alle goeie mense gaan wanneer hulle sterf.
In 1987 het ek gereël dat my ma en my suster Nieu-Seeland toe kom, en hulle het ’n ruk lank by ons gebly. Toe hulle trek, het ek saam met hulle gegaan, en ons drie het in Auckland gaan woon.
Ek leer uiteindelik die Bybel ken
Toe ek eenkeer ’n vriend se huis verlaat, het ek twee mans teëgekom wat van huis tot huis gaan. Een van hulle, Bill, het vir my gevra: “Waarheen hoop jy om te gaan wanneer jy sterf?” “Hemel toe”, het ek geantwoord. Hy het toe vir my uit die Bybel gewys dat net 144 000 hemel toe gaan, waar hulle as konings oor die aarde sal regeer. Hy het ook vir my vertel dat die aarde deur miljoene godvresende mense bewoon sal word en dat dit in ’n paradys omskep sal word (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 4; 21:3, 4). Hierdie lering het my aanvanklik kwaad gemaak, want dit het weerspreek wat ek vroeër geleer is. Maar diep in my binneste was ek beïndruk deur hoe goed die mans die Bybel geken het en hoe kalm hulle gebly het. Trouens, ek was spyt dat ek hulle nie gevra het aan watter godsdiens hulle behoort nie.
’n Paar weke later het ek ’n vriend besoek wie se kinders die Bybel saam met ’n egpaar, Dick en Stephanie, gestudeer het. Hulle studiehulp was ’n brosjure met die titel Jy kan vir ewig op die aarde lewe! Ek het dit begin lees en gevind dat dit werklik sin maak. Ek het ook uitgevind dat die egpaar Jehovah se Getuies is. Toe het ek besef dat die twee mans wat ek kort tevore ontmoet het, ongetwyfeld ook Getuies was, want wat hulle gesê het, het met die brosjure ooreengestem.
Ek was gretig om meer te leer en het Dick en Stephanie na my huis genooi, waar ek hulle met Bybelvrae bestook het. Later het Stephanie vir my gevra of ek weet wat God se naam is. Sy het vir my Psalm 83:18 gewys, wat sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” Hierdie teks het my hart geraak, en ek het ingestem tot ’n gereelde Bybelstudie. La, die Laotiese meisie saam met wie ek toe gebly het, het by die studie aangesluit. Intussen het ek gereël dat ook my broer en sy vrou Nieu-Seeland toe kom. Ná hulle aankoms het hulle ook die Bybel saam met die Getuies begin studeer.
Kort hierna moes ek en La ons studie stopsit omdat ons na Australië verhuis het om daar te werk. Hoewel ons ons daarop toegespits het om geld te maak, het ons ons Bybelstudie begin mis. Ons het Jehovah dus een aand gesmeek om ons na sy volk te lei.
Ons gebed word verhoor
’n Paar dae later het ek van die winkels af tuisgekom en twee Getuies by my deur aangetref. Ek het in my hart vir Jehovah dankie gesê, en ek en La het ons studie hervat. Ons het ook Christelike vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal begin bywoon. Ek het egter gou besef dat ek ’n aantal veranderinge in my lewe moet maak as ek God wil behaag. Gevolglik het ek my slegte gewoontes opgegee en my lang hare gesny. My ou kennisse het my geterg, maar ek het dit reggekry om my humeur te beteuel. Ek moes ook my huweliksituasie regstel, want ek en La was nie getroud nie, en ek en my vrou was nie wettig geskei nie. In 1990 het ek en La dus na Nieu-Seeland teruggekeer.
Ons het dadelik vir Dick en Stephanie gebel. “Sam, ek het gedink dat ons julle verloor het!” het Stephanie uitgeroep. Ons het ons Bybelstudie saam met hulle hervat, en nadat my egskeiding gefinaliseer is, het ek en La, met ’n skoon gewete voor God, getrou. Ons het in Nieu-Seeland gebly, waar ons ons toewyding aan God deur doop gesimboliseer het. Ek was gretig om ander te vertel van wat ek geleer het, en ek het die voorreg gehad om die Bybel te studeer met ’n aantal Kambodjaanse en Thaise mense wat in Auckland en daar naby gewoon het.
Terug Australië toe
In Mei 1996 het ek en La na Australië teruggekeer en in Cairns, Noord-Queensland, gaan woon. Hier het ek die voorreg om die predikingswerk onder Kambodjaanse, Laotiese en Thaise mense in die omgewing te koördineer.
Ek kan Jehovah nooit genoeg dank vir sy seëninge nie, wat my wonderlike vrou en ons drie seuns—Daniel, Michael en Benjamin—insluit. Ek is ook innig dankbaar dat my ma, my suster, my broer, my skoonma en Teng Hann, my vriend in die Thaise kamp, ook Bybelwaarheid aangeneem het. Ons familie is nog steeds hartseer oor my pa en my oom, maar ons is nie oormatig bedroef nie. Ons weet dat God die onregte van die verlede heeltemal ongedaan sal maak in die opstanding, sodat hierdie dinge “nie onthou [sal] word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie”.—Jesaja 65:17; Handelinge 24:15.
’n Paar jaar gelede het ek ’n bekende gesig by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies gesien. Dit was Bill, wat baie jare tevore met my gepraat het. “Onthou jy my?” het ek gevra.
“Ja!” het hy geantwoord. “Ek het jou jare gelede in Nieu-Seeland ontmoet en vir jou vertel dat net 144 000 hemel toe gaan.” Bill het my ná al die jare onthou. Ons het mekaar omhels en nou, as broers, oor daardie tyd gepraat.
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Agtergrond: AFP/Getty Images