Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 5/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beter as menslike inmenging
  • Werk, spanning en hartaanvalle
  • ‘Die wêreld se doeltreffendste vervoermiddel’
  • Bullebakke is oral
  • Keisersnee of normale geboorte?
  • Godsdienstoegewydheid in Griekeland neem af
  • Voer jou gemorspos vir die tamaties
  • Hulp vir diegene met velsiektes
  • Ouergeselsies—Meer as strelende klanke?
  • Afknouery—’n Paar oorsake en gevolge
    Ontwaak!—2003
  • Afknouery—’n Wêreldwye probleem
    Ontwaak!—2003
  • Hoe om afknouery die hoof te bied
    Ontwaak!—2003
  • Afknouery—Watter kwaad kan dit doen?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 5/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Beter as menslike inmenging

Tien jaar nadat ’n storm in 1987 vyftienmiljoen bome in Engeland omgewaai het, is daar bevind dat die plantegroei die vinnigste herstel het in bosgebiede waar mense nie ingemeng het nie, berig The Daily Telegraph. Waar bome omgewaai is, het meer lig die grond bereik. Dit het jong boompies en struike tot ses meter hoog laat groei, en insekte, voëls en plante het ook vermeerder. Baie van die omgewaaide eike- en taksusbome het nie verrot soos verwag is nie, en hulle hout, wat nou beleë is, het drievoudig in waarde toegeneem. Bewaringsgesinde Peter Raine sê: “Goed bedoelde opruiming [deur mense] het groter skade aangerig as die storm self. Baie van die bome wat daardie herfs geplant is, is haastig en swak geplant, en hulle het doodgegaan.”

Werk, spanning en hartaanvalle

Geestespanning by die werk is die tweede belangrikste risikofaktor vir hart- en bloedsomloopprobleme, met rook dié belangrikste faktor, sê die Frankfurter Rundschau. In ’n opsomming oor ’n opname wat gedoen is deur die Federale Instituut vir Beroepsveiligheid en -gesondheid, in Berlyn, Duitsland, sê die verslag: “Diegene wat die grootste gevaar loop, is werknemers wie se vryheid om besluite te neem baie beperk is en wie se werk min afwisseling bied. As hulle boonop tydens hulle vrye tyd onder druk verkeer, omdat hulle byvoorbeeld hulle eie huis bou of ’n siek familielid verpleeg, kan die risiko van ’n hartaanval byna nege maal groter word.” ’n Deskundige beklemtoon dat werknemers groter vryheid moet hê om besluite te neem. “Net een bespreking per maand onder alle werkers in ’n departement kan sake verbeter.”

‘Die wêreld se doeltreffendste vervoermiddel’

Wanneer jy minder as agt kilometer in ’n stadsgebied reis, is ’n fiets dalk vinniger as ’n motor, berig The Island van Colombo, Sri Lanka. Die internasionale omgewingsbewuste groep Friends of the Earth noem die fiets “die doeltreffendste vervoermiddel op Aarde”. Hulle wys daarop dat ’n fiets tot 2400 kilometer sonder besoedeling kan aflê op die voedselenergie wat gelykstaande is aan net 4,5 liter brandstof, sê die verslag. Dit voeg by dat fietsry ook gesondheidsvoordele inhou.

Bullebakke is oral

’n Opname wat deur die La Sapienza-universiteit in Rome gekoördineer is, toon dat baie studente op verskillende maniere deur bullebakke getreiter word, wat beledigings, mishandeling, geringe diefstal, liggaamlike aanranding en dreigemente insluit. Die oortredings is veral in Rome opgemerk, waar meer as 50 persent van die seuns sowel as die meisies binne ’n tydperk van drie maande onder ’n bullebak deurgeloop het. “Tydens dieper gesprekke”, het die navorser Anna Costanza Baldry verduidelik, “het baie meisies voorvalle van selfs ernstige molestering genoem wat hulle nie aangemeld het nie omdat hulle bang was en . . . omdat hulle sekere soorte gedrag as normaal beskou”, het die Italiaanse koerant La Repubblica gesê.

Kinders is nie bullebakke se enigste teiken nie. The Irish Times berig dat baie volwassenes by hulle werksplek met ’n bullebak te doen kry, meestal hulle meerderes. “Mondelinge aggressie, kritiek op mense se werk en die verspreiding van gerugte oor hulle is die gunstelingmetodes van bullebakke by die werk”, het dit gesê. “Vernedering en die stel van onrealistiese werksdoelwitte was ook algemeen.” Treitering word verbind met sielkundige gevolge wat “angs, prikkelbaarheid, depressie, paranoia, spanning, verlies aan vertroue, verlies aan eiewaarde en onttrekking” insluit, sê die Times. In uiterste gevalle kan hierdie soort treitering tot “ineenstorting of selfs selfmoord” lei.

Keisersnee of normale geboorte?

Brasiliaanse dokters en moeders verkies dikwels ’n keisersnee bo normale geboorte. Die dokter vind dat “hy meer geboortes kan behartig, meer geld op kantoor kan verdien en nie sy naweke hoef op te offer nie”, sê die tydskrif Veja. Moeders “verkies om nie die normale geboorteprosedure deur te maak nie sodat hulle die pyn kan vermy (maar daar is baie meer pyn daarby betrokke om van ’n keisersnee te herstel), en hulle glo dat die prosedure in estetiese sin beter vir die liggaam sal wees (wat nie waar is nie)”. In openbare hospitale is ’n derde van alle geboortes keisersneë, en in sommige privaat hospitale is die syfer tot 80 persent. “Kindergeboorte het ’n handelsartikel geword”, sê dr. João Luiz Carvalho Pinto e Silva, Hoof van Verloskunde aan die Universiteit van Campinas. “Mense vergeet dikwels dat ’n keisersnee, in teenstelling met normale geboorte, chirurgie is. Daar is groter bloedverlies, verdowingstyd is langer en die moontlikheid van infeksie is groter.” Volgens die dokter “moet keisersneë net in drie gevalle gedoen word: wanneer die lewe van die pasiënt of van die baba in gevaar is, wanneer daar geen tekens van kraam is nie of wanneer daar skielike komplikasies is”, sê Veja.

Godsdienstoegewydheid in Griekeland neem af

Die Ateense koerant Ta Nea het onlangs ’n meningsopname gepubliseer oor godsdiens in Griekeland wat soortgelyk is aan ’n opname wat in 1963 gedoen is. Die resultate dui op ’n afname in godsdienstoegewydheid in daardie land. ’n Geslag gelede het 66 persent gesê dat hulle ten minste twee of drie keer per maand kerk toe gaan, in vergelyking met minder as 30 persent in die onlangse meningsopname. Meer as twee derdes van die 965 volwassenes wat in Atene en omstreke ondervra is, het gesê dat die kerk die gemeenskap “’n klein” of “geen” diens bewys nie, berig die nuusdiens Reuters. Die gesiene Griekse meningspeiler Elias Nikolakopoulos het in Ta Nea geskryf van “’n geleidelike verwêreldliking van die Griekse gemeenskap” en gesê dat mense nou “versigtig vir en gegrief” oor die kerk in Griekeland is.

Voer jou gemorspos vir die tamaties

Wat kan ’n poskantoor doen met 500 ton onafgelewerde gemorspos per maand, waaronder katalogusse en ander advertensies? Die Dallas-Fort Worth-poskantoor, Texas, het begin om die meeste te stuur sodat kompos daarvan gemaak kan word. Die kompos word gebruik om tamaties en afrikaners te kweek, berig The New York Times, en die resultate is belowend. Die bakterieë wat die gesnipperde gemorspos in kompos omskep, word gevoed met verslane bier en koeldranke, die afvalprodukte van bier- en koeldrankvervaardigers. Die bier en koeldrank bevat suiker, waarop die bakterieë floreer. Joel Simpson, die adjunkpresident van die komposmaatskappy wat die eksperiment uitvoer, sê: “Dieselfde dinge wat ons vet maak, maak daardie bakterieë vet en gelukkig.”

Hulp vir diegene met velsiektes

“Baie mense wat aan velsiektes ly, soek nie behandeling daarvoor nie omdat hulle skaam is, en hulle kan jare lank ‘in stilte ly’”, sê The Irish Times. Dr. Gillian Murphy vestig die aandag op hulle benarde situasie en sê: “Ek het pasiënte met psoriase wie se vel letterlik afval wanneer hulle hulle klere uittrek, en hulle voel so vuil en skaam dat hulle nie in ’n hotel wil bly of na die haarsalon wil gaan nie.” Bill Cunliffe, professor in dermatologie aan Leeds-universiteit, sê verder: “Aknee het ’n liggaamlike en verstandelike uitwerking op mense. Daar is die opvatting dat dit vuil en aansteeklik is. As twee mense met dieselfde vermoëns vir ’n onderhoud teenwoordig [is], sal die een sonder aknee die werk kry.” Cunliffe sê dat hy al ’n paar pasiënte gehad het wat so radeloos was omdat hulle aknee het dat hulle selfmoord probeer pleeg het. Dokters by ’n onlangse Kongres van die Europese Akademie vir Dermatologie en Venereologie in Dublin, Ierland, het beklemtoon hoe belangrik dit is om vroeë behandeling te kry. “Dit is ’n verskriklike probleem vir sommige mense”, het ’n dokter gesê, “maar dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar baie goeie behandelingsmetodes is.”

Ouergeselsies—Meer as strelende klanke?

Ouers wat spelenderwys met hulle babas gesels, gee hulle dalk baie meer as tere liefde, sê sommige wetenskaplikes. Patricia Kuhl, van die Universiteit van Washington, en haar medewerkers het babagerigte spraak in drie verskillende tale ondersoek—Russies, Sweeds en Engels. Dit lyk asof ouers se hoogs oordrewe spraakpatrone nie net hulle baba se aandag trek nie, maar dat dit ook as grondslag dien vir die baba om daardie taal te leer. “Teen die ouderdom van 6 maande”, sê die tydskrif Science, “leer babas om vokaalklanke te klassifiseer en aandag te skenk aan verskille wat betekenisvol in hulle moedertaal is, soos die verskil tussen ‘ee’ en ‘ah’, terwyl hulle betekenislose verskille ignoreer.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel