Ons beskou die wêreld
Armoede en die omgewing
Ten spyte van ekonomiese groei lewe meer as 1,3 miljard mense regoor die wêreld nog steeds van minder as tien rand per dag. Armoede, sê ’n VN-verslag, duur nie net voort nie maar word erger. Meer as ’n miljard mense verdien vandag minder as 20, 30 of selfs 40 jaar gelede. Dit dra weer by tot die vernietiging van die omgewing, aangesien “armoede die onmiddellike benutting van natuurlike hulpbronne noodsaak, wat enige langtermynbewaringspoging dwarsboom”, sê die tydskrif UNESCO Sources. “Teen die huidige tempo sal woude in die Karibiese eilande binne minder as 50 jaar geheel en al verdwyn . . . Op ’n nasionale vlak is die situasie selfs erger: Die Filippyne sal nog 30 jaar lank woude hê, Afganistan 16 jaar en Libanon 15 jaar.”
Die gevaar van wanhoop
“Wetenskaplikes . . . sê dat wanhoop net so sleg vir die hart kan wees as om 20 sigarette per dag te rook”, berig The Times van Londen. “’n Vier jaar lange studie van bykans 1000 middeljarige Finse mans het bevind dat wanhoop tot ’n baie groter risiko van aterosklerose, oftewel verharding van die slagare, gelei het.” Die studie het getoon dat ’n mens se gemoedstoestand ’n wesenlike uitwerking op jou gesondheid kan hê. “Ons vind voortdurend dat sielkundige en emosionele gesteldheid ’n rol in gesondheid speel”, sê dr. Susan Everson, wat die navorsing gelei het. “Dokters moet besef dat wanhoop ’n negatiewe uitwerking het en tot die las van die siekte bydra. Mense moet besef dat hulle hulp moet probeer soek wanneer hulle hierdie gevoel van wanhoop ondervind.”
Jare in die verkeer
Inwoners van die vernaamste Italiaanse stede bestee baie tyd daaraan om na hulle werk of skool en weer terug huis toe te reis. Hoeveel tyd? Volgens Legambiente, ’n Italiaanse omgewingsorganisasie, bring inwoners van Napels 140 minute per dag in die verkeer deur. As ons aanneem dat die gemiddelde lewensduur 74 jaar is, sal ’n Napolitaan dus 7,2 jaar van sy lewe in die verkeer verloor. ’n Inwoner van Rome, wat 135 minute per dag reis, sal 6,9 jaar verloor. Die situasie in ander stede is amper net so sleg. Mense in Bologna sal 5,9 jaar verloor, en diegene in Milaan 5,3 jaar, berig die koerant La Repubblica.
Tyd in die Midde-Ooste
In die Midde-Ooste kan tydveranderinge nogal ingewikkeld raak. ’n Goeie voorbeeld is Iran, wat jare lank al “eerder sy tyd drie en ’n half uur later as die middelbare Greenwichtyd stel as om dit op die uur te doen soos die meeste lande”, sê The New York Times. “As jy byvoorbeeld na ’n nuusberig van die BBC se Wêrelddiens om 5 vm. wil luister, moet jy om 8:30 inskakel en hard probeer om daardie klokslae van die Big Ben te ignoreer wat van jou horlosie ’n leuenaar probeer maak.” En hoewel dit in Israel se omgewing die gewoonte is om die laaste naweek in September van dagligbesparingstyd af oor te skakel, het hulle verlede jaar op 13 September oorgeskakel. Dit is ook moeilik om vas te stel wanneer dit naweek is. Die meeste lande in die Persiese Golf-gebied werk nie Donderdag en Vrydag nie. Maar in Egipte en die meeste van sy buurlande bestaan die naweek uit Vrydag en Saterdag, terwyl dit in Libanon Saterdag en Sondag is. “’n Reisiger wat byvoorbeeld beplan om Woensdagmiddag om twaalfuur in Abu Dhabi aan te kom en dan Vrydagaand na Beiroet vlieg, kan verseker wees van ’n naweek met vier dae. Die werkslaaf hoef net min of meer die teenoorgestelde te beplan”, sê die Times.
Minder Franssprekendes
Verteenwoordigers van die Franssprekende wêreld het onlangs ’n driedaagse konferensie bygewoon wat in Hanoi, Viëtnam, gehou is om “die algemeenheid van Frans” te vier, het die Paryse dagblad Le Figaro berig. Daar is meer as 100 miljoen mense wat gereeld Frans praat. Op sy hoogtepunt in die 17de eeu was Frans die internasionale diplomatieke taal. “In ’n verdeelde Europa is oorloë en skermutselinge beëindig met vredesverdrae wat in Frans geskryf is”, sê die koerant. Maar deesdae is die Franse taal “op soek na sy plek in die wêreld”. Die afname in die gebruik van Frans kan toegeskryf word aan die groter gewildheid van Engels, veral as ’n handelstaal. In ’n poging om hierdie gaping te oorbrug, het die Franse president die bevordering van Frans op die inligtingsnelweg aangemoedig. Maar ’n politikus wat oor die toekoms van Frans bekommerd is, het gesê: “Die gebruik van Frans oor die hele wêreld wek nie die belangstelling van die openbare mening, die media of politici nie. Hierdie gebrek aan belangstelling is waarskynlik selfs opvallender in Frankryk as in ander lande.”
’n Oplossing vir omkopery
In China is dit huiloe; in Kenia, kitu kidogo. Mexiko gebruik die term una mordida; Rusland, fsjatka, en die Midde-Ooste, baksjeesj. In baie lande is omkopery ’n lewenswyse, en soms is dit die enigste manier om sake te doen, sekere artikels te verkry of selfs om geregtigheid te kry. Maar 34 lande het onlangs ’n verdrag onderteken wat daarop gemik is om omkopery in internasionale saketransaksies uit te skakel. Hulle sluit die 29 lede van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling in, asook Argentinië, Brasilië, Bulgarye, Chili en Slowakye. Die wêreld se vernaamste finansiële organisasies—die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds—tree ook op teen amptelike korrupsie. Hierdie stappe is gedoen nadat ’n opname deur die Wêreldbank getoon het dat 40 persent van sakeondernemings in 69 lande omkoopgeld betaal het. Die twee organisasies laat nou toe dat geldelike hulp beëindig word aan lande wat korrupsie ignoreer.
Wurmgier
Mopaniewurms is al lank ’n deel van arm mense se dieet op die Suid-Afrikaanse platteland, waar dit ’n belangrike bron van proteïene is. Dit is larwes van die pouoogmot, en hulle kry hulle naam van die mopanieboom waarop hulle leef. In April en Desember maak vroue die wurms bymekaar, en nadat die binnegoed uitgehaal is, kook hulle dit en droog dit dan in die son. Die proteïen-, vet-, vitamien- en kilojoule-inhoud daarvan vergelyk goed met dié van vleis en vis. Maar nou is die mopaniewurm besig om ’n gewilde kosgier in Suid-Afrikaanse restaurante te word. Hierdie gier het ook na Europa en die Verenigde State versprei, en dít het die plattelandse mense van Afrika verontrus. Waarom? “Namate die aanvraag groter word, is daar besorgdheid oor die voortbestaan van die spesie”, sê The Times van Londen. “Mopaniewurms het [alreeds] uit groot dele van die aangrensende Botswana en Zimbabwe verdwyn.”
Is rookskade onherstelbaar?
Skade aan slagare weens rokery is moontlik permanent, sê ’n onlangse studie. In The Journal of the American Medical Association het navorsers berig dat die rook van sigarette sowel as blootstelling aan tweedehandse rook die slagare onherstelbaar kan beskadig. Die studie is van 10 914 mans en vrouens tussen 45 en 65 jaar gedoen. Die groep het rokers ingesluit, persone wat vantevore gerook het, nierokers wat gereeld aan tweedehandse rook blootgestel is en nierokers wat nie gereeld daaraan blootgestel is nie. Navorsers het die dikte van die nekslagaar met behulp van ultraklank gemeet. Dit is drie jaar later weer gemeet.
Soos verwag is, het rokers se slagare opvallend harder geword—50 persent in die geval van proefpersone wat 33 jaar lank gemiddeld een pakkie sigarette per dag gerook het. Die slagare van persone wat vantevore gerook het, het ook vernou, 25 persent vinniger as dié van nierokers—sommige selfs 20 jaar nadat hulle opgehou rook het. Nierokers, wat blootgestel is aan tweedehandse rook, se slagare het 20 persent nouer geword as diegene wat nie daaraan blootgestel is nie. Volgens die studie kan ongeveer 30 000 tot 60 000 sterfgevalle jaarliks in die Verenigde State alleen aan die blootstelling aan tweedehandse rook toegeskryf word.
Dieselfde ou gesig
Ná sewe jaar van restourasiewerk is die Sfinks in Egipte uiteindelik ontslae van die steierwerk wat dit omring het. “Eenhonderdduisend klippe is tussen 1990 en 1997 gebruik om die Sfinks te restoureer”, het Ahmad al-Haggar, Direkteur van Oudhede vir die gebied, gesê. Maar hy het bygevoeg dat die noukeurige restourasiewerk nie die beskadigde gesig van “die half-leeu, half-mens kalksteenreus” ingesluit het nie.