Mopaniewurms, enigiemand?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ZAMBIË
SOMMIGE mense sou liewer nie wurms eet nie. Maar baie ander smul aan hierdie beenlose lekkernye. Die ruspe van die pouoogmot, Imbrasia belina, is ’n gunstelingkos in sekere dele van Afrika. Hier staan die insek algemeen bekend as die mopaniewurm, vernoem na die boom waarop dit gewoonlik voorkom, die mopanieboom. Talle plattelandse gemeenskappe sien gretig uit na die insameling van hierdie wriemelende, voedsame smulhappies. “Dit is ’n uiters belangrike bron van proteïene”, sê Keith Leggett, van die Kalahari-bewaringsverening. Die wurms speel ook ’n waardevolle rol in die ekologie van die gewoonlik droë en relatief onvrugbare mopaniebos.
Wanneer die somerreëns vroeg in November oor Suider-Afrika val, kry die aarde nuwe lewe. Miljoene selfonderhoudende papies onder die grond het nou elegante motte geword. Binne ’n paar weke sal hulle nageslag ontwikkel van piepklein eiertjies in larwes en dan in kleurvolle, vet “worsies”.
In gebiede waar mense hoofsaaklik styselagtige stapelvoedsel soos kassawe en mielies eet, is die ruspes ’n welkome aanvulling tot hulle dieet. Hoewel dit vir baie van ons nie ons eerste keuse sal wees nie, maak die feit dat dit ’n proteïeninhoud van meer as 60 persent het, dit ’n waardevolle voedselitem, veral waar proteïene van goeie gehalte duur of skaars is. Een porsie eetbare ruspes vergelyk goed met ’n porsie vleis of vis, en dit voorsien ongeveer driekwart van die proteïene, vitamiene en minerale wat ’n volwassene daagliks nodig het. Ja, hierdie diertjies is werklik voedsaam!
Diegene wat ruspes eet, word seer seker verstom deur die duur chemiese oorlog wat kommersiële boere elders teen sulke voedsame insekte voer. Miljoene van hierdie diertjies verander dikwels oneetbare, en soms giftige, blare in ’n waardevolle voedselbron terwyl hulle vreet. En dit alles sonder duur landbougereedskap en veeartsfooie! Ruspes word met die hand ingesamel en is ’n oes met ’n hoë opbrengs wat met die minste moeite verkry kan word.
Mopaniewurms lewer ’n groot bydrae tot die vrugbaarheid en ekologiese balans van die bosveld. Hoewel die grootte en aansienlike eetlus van die Afrika-olifant indrukwekkend is, is die hoeveelheid kos wat hy eet, niks in vergelyking met hoeveel die nederige mopaniewurm eet nie. In hulle kort, ses week lange bestaan, vreet ’n swetterjoel ruspes ongeveer tien keer soveel plantmateriaal en skei hulle amper vier keer soveel mis uit as olifante wat in dieselfde gebied wei. Geen wonder dat die ruspe uiteindelik 4 000 keer swaarder weeg as toe hy uitgebroei het nie! Dit is dus nie verbasend dat onbeheerde insameling ’n negatiewe uitwerking op die vrugbaarheid van die grond en die ekologiese balans van die veld het nie.
Hoe word hierdie ruspes ingesamel? Elke reënseisoen kom vroue in plattelandse gebiede bymekaar vir die eerste van twee jaarlikse insamelings van mopaniewurms. Etlike weke lank samel hulle die wurms in, en daarna word die ingewande uitgehaal en die wurms gekook en uitgesit om droog te word. Insameling en voorbereiding van sekere ander eetbare ruspes vereis egter spesiale sorg. Beskermende hare of penne op die liggaam van party soorte moet verwyder word. ’n Mens moet ook versigtig wees wanneer jy dit voorberei, want sommige ruspes vreet plante wat vir mense giftig is. Nadat hulle verwerk is, kan gedroogde ruspes geëet word as ’n krakerige versnapering, hoewel dit meer dikwels gerehidreer word en dan in ’n bredie gekook of saam met tamatie en uie gebraai word.
Die gedagte daaraan om ruspes te eet, laat jou dalk enigiets van avontuurlustig tot ongemaklik voel. Jy verkies dalk om nie te proe hoe hierdie eksotiese smulhappies smaak nie. Maar onthou, hulle verteenwoordig ’n belangrike proteïenryke voedsel en voorsien ’n bykomende inkomste vir baie gesinne in Afrika.
[Prente op bladsy 26]
Die mopaniewurm se hoë proteïeninhoud maak dit ’n waardevolle voedselitem
[Prent op bladsy 27]
Aan die einde van sy kort, ses week lange bestaan weeg die mopaniewurm 4 000 keer swaarder as toe hy uitgebroei het