Die geheimsinnigheid omtrent William Shakespeare
Deur Ontwaak!-medewerker In Brittanje
WILLIAM SHAKESPEARE word algemeen as die vernaamste toneelskrywer in die geskiedenis vereer. The New Encyclopædia Britannica sê dat hy “deur baie beskou [word] as die beste dramaturg van alle tye. Sy toneelstukke . . . word vandag meer dikwels en in meer lande opgevoer as dié van enige ander toneelskrywer.” Hulle is in meer as 70 tale vertaal.
The World Book Encyclopedia sê die volgende oor die outeurskap van die groot versameling werke wat aan hom toegeskryf word: “Geen belangrike Shakespeare-kenner betwyfel die feit dat Shakespeare die toneelstukke en gedigte geskryf het nie.” Maar ander betwis dit. Waarom?
Shakespeare is in 1564 in Stratford-upon-Avon gebore en is 52 jaar later, in 1616, daar oorlede. Tallose boeke is oor hom geskryf—baie daarvan ná jare van geduldige navorsing—in ’n poging om ’n antwoord te vind op die een basiese, tergende vraag: Het William Shakespeare die letterkundige werke geskryf wat sy naam dra?
Basiese probleme
Shakespeare se toneelstukke dui op ’n oorvloed van sekulêre ondervinding. Hy het byvoorbeeld die wet verstaan en op indrukwekkende wyse van regsterme en -presedente gebruik gemaak. In 1860 het sir John Bucknill, in Medical Knowledge of Shakespeare, getoon dat Shakespeare ’n baie goeie kennis van die geneeskunde gehad het. Dieselfde kan gesê word van sy begrip van jag, valkejag en ander sportsoorte sowel as van gedragsreëls aan die koninklike hof. Hy was, volgens die Shakespeare-geskiedkundige John Michell, “die skrywer wat alles geweet het”.
Vyf keer in Shakespeariaanse toneelstukke word daar na skepe verwys wat strand, en die manier waarop skeepvaartterme gebruik is, dui daarop dat die skrywer ’n ervare seeman was. Het Shakespeare oorsee gereis? Is hy gedwing om by die vloot aan te sluit? Het hy deelgeneem aan die oorwinning oor die Spaanse Armada in 1588? Enige van hierdie redes sou geloofwaardigheid aan Shakespeare se outeurskap verleen het, maar geen bewyse ter ondersteuning daarvan kan gevind word nie. Dieselfde geld ook wanneer hy op vaardige wyse na militêre sake en die taal van voetsoldate verwys.
Aanhalings uit die Bybel is opvallend van sy werk. Hy kon dit by sy moeder geleer het, maar daar is geen bewyse dat sy geletterd was nie. Sy kennis van die Bybel lei tot die vraag: Waar het Shakespeare sy opleiding ontvang?
’n Geleerde man?
William se vader, John, was ’n handskoenmaker, het wolartikels verkoop en was moontlik ’n slagter. Hy was ’n gesiene inwoner, al was hy ongeletterd. Daar is geen lyste van leerlinge aan die Stratford-laerskool nie, maar die meeste gesaghebbendes meen vandag dat die jong William daar skoolgegaan het. Jare later het William se vriend, die toneelskrywer Ben Jonson, gesê dat hy “beperkte Latyn en nog minder Grieks” magtig was, wat dalk ’n aanduiding is dat William maar net ’n basiese opleiding gehad het.
En tog het die skrywer van die toneelstukke ’n goeie begrip van die klassieke werke van Griekeland en Rome gehad, sowel as van die literatuur—en moontlik die tale—van Frankryk, Italië en Spanje. Hy het ook ’n uitgebreide woordeskat gehad. Iemand met ’n goeie geleerdheid gebruik vandag selde meer as 4000 woorde in gesprekke. John Milton, die 17de-eeuse Engelse digter, het sowat 8000 in sy werke gebruik. Maar ’n gesaghebbende sê dat Shakespeare ’n woordeskat van ten minste 21000 woorde gehad het!
Boeke en manuskripte
Al Shakespeare se besittings is sorgvuldig in sy testament van drie bladsye neergeskryf, sonder dat daar enige melding van boeke of manuskripte gemaak word. Is dit aan Susanna, sy oudste dogter, nagelaat? Indien wel, sou dit tog sekerlik onder haar nasate verdeel gewees het. ’n Agtiende-eeuse geestelike wat deur hierdie raaisel gefassineer is, het al die privaat biblioteke binne ’n radius van 80 kilometer van Stratford-upon-Avon af deursoek sonder om ’n enkele boek op te spoor wat aan Shakespeare behoort het.
Die manuskripte van die toneelstukke lewer selfs ’n groter probleem op—niemand weet van enige oorspronklikes wat nog bestaan nie. Ses-en-dertig toneelstukke is in 1623 in die First Folio-uitgawe gepubliseer, sewe jaar ná Shakespeare se dood. Gedurende sy leeftyd het baie roofdrukke verskyn, en tog het Shakespeare, ’n slim sakeman, geen regstappe gedoen om die publikasie daarvan te verhoed nie.
Na Londen—en roem
Reisende akteurgroepe was ’n bekende gesig in Elisabethaanse tye, en ’n paar het Stratford-upon-Avon in 1587 besoek. As Shakespeare by hulle aangesluit het, sou hy teen die herfs van daardie jaar in Londen gewees het. Ons weet dat hy ’n lid geword het van Londen se voorste toneelgeselskap, die Lord Chamberlain’s Men, wat later as die King’s Men bekend gestaan het. Vandat hy in die hoofstad aangekom het, het sy lot verander. Deur die jare heen het hy eiendomme in Londen en Stratford-upon-Avon gekoop. Maar daar is geen duidelike verslag van sy doen en late van 1583 tot 1592 nie—die noodsaaklike “verlore jare”.
Die Globe-teater is in 1599 in Southwark gebou. Voor daardie tyd al was toneelstukke wat Shakespeare se naam gedra het in Londen bekend, en tog het hy nooit as die skrywer daarvan gewildheid verwerf nie. Toe hy gesterf het, is daar nie ’n groot begrafnis vir hom gehou nie, al is dit vir ander toneelskrywers gedoen, soos Ben Jonson en Francis Beaumont, wat albei met groot plegtigheid in Londen se Westminster Abdy begrawe is.
Kandidate
Is die naam Shakespeare gebruik om die naam van die regte skrywer, of selfs skrywers, te verberg? Mense het met meer as 60 moontlikhede vorendag gekom. Dit sluit die toneelskrywer Christopher Marlowea in, asook onverwagse name soos kardinaal Wolsey, sir Walter Raleigh en selfs koningin Elisabet I. Wie is volgens teoretici die waarskynlikste keuse?
Die eerste kandidaat is Francis Bacon, wat aan die Universiteit van Cambridge gestudeer het. Hy was drie jaar ouer as Shakespeare, en hy het ’n vername regsgeleerde en amptenaar aan die koninklike hof geword en baie letterkundige werke geskryf. In 1769 is daar vir die eerste keer aan die hand gedoen dat Bacon die werke geskryf het wat aan Shakespeare toegeskryf word, maar hierdie teorie is byna 80 jaar lank geïgnoreer. In 1885 is die Bacon-vereniging gestig om die saak te bevorder, en baie feite is gelewer om die bewering te staaf. Bacon het byvoorbeeld sowat 30 kilometer noord van Londen gewoon, naby St. Albans, ’n dorp wat 15 keer in Shakespeare se werke genoem word—tog word Shakespeare se tuisdorp, Stratford-upon-Avon, nooit genoem nie.
Roger Manners, vyfde graaf van Rutland, en William Stanley, sesde graaf van Derby, het albei hulle ondersteuners. Hulle het goeie geleerdheid gehad en het baie ondervinding van lewe aan die hof gehad. Maar waarom sou enigeen van hulle hulle eie werk wegsteek? Professor P. S. Porohofsjikof, wat in 1939 ten gunste van Rutland se aanspraak betoog het, het gesê: “Sy eerste geskrifte is anoniem gedruk, en die ander onder ’n skuilnaam bloot omdat dit nie vir ’n edelman aanvaarbaar was om vir die gewone teaters te skryf nie.”
Party sê dat Shakespeare se toneelstukke die produk was van ’n konsortium van skrywers, wat elkeen sy vaardigheid bygedra het. Maar het Shakespeare, as ’n bekwame akteur, die toneelstukke van ander vir die verhoog geredigeer en voorberei? Daar is van hom gesê dat hy nooit in sy manuskripte ‘’n reël uitgevee het nie’. Dit sou die geval wees as hy tydens redigering net geringe veranderinge aangebring het aan manuskripte van ander toneelskrywers wat hy ontvang het.
Wat is die belangrikste rede waarom sommige twyfel of Shakespeare die skrywer was? The World Book Encyclopedia sê dat mense “geweier het om te glo dat ’n akteur van Stratford-upon-Avon dit kon geskryf het. Shakespeare se gewone landelike agtergrond het nie by hulle beeld gepas van die genie wat die toneelstukke geskryf het nie.” Dit voeg by dat byna al die ander wat as moontlike skrywers genoem is “van die edellui of hoër klas was”. Baie wat twyfel of Shakespeare die skrywer was, meen derhalwe dat “net ’n geleerde, gesofistikeerde man van ’n hoë afkoms die toneelstukke kon geskryf het”. Maar soos vroeër in hierdie artikel gesê is, meen baie Shakespeariaanse gesaghebbendes dat Shakespeare die skryfwerk gedoen het.
Sal hierdie geskil binnekort opgelos word? Waarskynlik nie. Tensy nuwe bewyse gevind word in die vorm van oorspronklike manuskripte of feite om sy verlore jare te verklaar, sal William Shakespeare, “hierdie grootste literêre genie”, ’n fassinerende geheimsinnigheid bly.
[Voetnoot]
a Christopher Marlowe se invloed is duidelik in Shakespeare se vroeë toneelstukke, maar hy het in 1593 op 29-jarige ouderdom in Londen gesterf. Sommige het beweer dat die gerug van sy moord in ’n kroeggeveg ’n dekmantel was en dat hy na Italië gegaan het, waar hy sy skryfwerk voortgesit het. Daar is geen verslag van sy begrafnis nie.
[Venster op bladsy 24]
Geletterdheid en die naam
William Shakespeare het moontlik sy handtekening ses keer geteken op vier dokumente wat nog bestaan. Sy naam is net gedeeltelik leesbaar, en die spelling daarvan is inkonsekwent. Sommige gesaghebbendes gee te kenne dat prokureurs dalk Shakespeare se testament namens hom onderteken het, wat, vir party, die netelige vraag laat ontstaan: Was William Shakespeare geletterd? Geen manuskripte bestaan wat deur hom geskryf is nie. Sy dogter Susanna kon haar naam teken, maar daar is geen bewyse dat sy meer as dit kon doen nie. Shakespeare se ander dogter, Judith, wat na aan haar vader was, het met ’n kruisie geteken. Sy was ongeletterd. Niemand weet waarom Shakespeare nie daarvoor gesorg het dat sy kinders die kosbare voordele van die letterkunde kon geniet nie.
[Prente op bladsy 23]
Vroeë portrette van Shakespeare, hoewel dit nie seker is hoe hy gelyk het nie
[Erkenning]
Encyclopædia Britannica/11th Edition (1911)
Culver Pictures