Van ons lesers
Shakespeare-geskil Die artikel “Die geheimsinnigheid omtrent William Shakespeare” (8 Augustus 1998) het my beweeg om verder ondersoek in te stel. Die boek The Real Shakespeare: Retrieving the Early Years, deur Eric Sams, het verskeie punte genoem wat van belang kan wees. Baie vrae kan byvoorbeeld verduidelik word as ’n mens in ag neem dat Shakespeare moontlik ’n Katoliek in Protestantse Engeland was. Die moontlikheid dat hy weens godsdiensvervolging moes vlug, kan dus sy so genoemde verlore jare verduidelik. Die werke wat aan Shakespeare toegeskryf word, bevat baie elemente wat met sy vroeë lewe ooreenstem. Die name van verskeie karakters is name wat ooreenkom met dié van sy familie en vriende, onder andere die naam Hamlet—die naam van sy seun. Sy toneelstukke bevat talle besonderhede wat dalk spruit uit sy persoonlike ondervinding met dinge soos slagtery.
J. A., Verenigde State
Die geskil om die digter sal waarskynlik nie gou opgelos word nie. Ons waardeer nietemin hierdie kommentaar.—RED.
Voëlliefhebbers Dankie vir julle mooi beskrywing van ’n pragtige skeppingswerk van Jehovah in die artikel “Die kliploerie—’n juweel van die Amasonewoud” (22 September 1998). Julle artikel het my vir ’n oomblik laat voel asof ek in die Amasonewoud is.
E. L. V., Brasilië
Hierdie artikel het om die een of ander rede my aandag op ’n nuwe manier geprikkel. Dit is op so ’n positiewe manier gestel, en dit het beklemtoon dat Jehovah al hierdie diere vir ons genot gemaak het!
L. H., Barbados
Ek het die artikel “Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?” (8 Julie 1998) baie geniet. Die kolibrie, waarna julle as ’n voël van “Noord-/Sentraal-Amerika” verwys, kan egter ook in Suid-Amerika gesien word.
J. P., Argentinië
Ons byskrif was onvolledig, en ons waardeer die regstelling.—RED.
Konsentrasie Ek het vroeër gesukkel om te konsentreer terwyl die onderwyser gepraat het. Maar julle artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek konsentreer?” (22 September 1998) het my gehelp om my gewoontes in die klaskamer te verander. Vandat ek julle artikel gelees het, het ek hierdie probleem oorkom, en ek is nou meer gedissiplineerd.
M. A. M., Brasilië
Ek sukkel om te konsentreer. Ek het nie besef dat dit net ’n bietjie motivering en selfdissipline verg om te konsentreer nie. Dit gaan inspanning vereis, maar ek dink ek kan dit doen!
D. R. A., Verenigde State
Die Ontwaak! bevat heelwat inligting wat baie interessant vir jongmense soos ek is. Ek het by hierdie artikel baat gevind omdat ek ’n probleem het om te konsentreer. Baie, baie dankie.
M. N., Italië
Treine Ek het die artikel “Is spoorweë hier om te bly?” (8 Oktober 1998) terdeë geniet. Vandat ek ’n klein seuntjie was, het ek in treine belanggestel. Julle inligting oor die geskiedenis van spoorwegtegnologie van die vroeë negentiende eeu af tot nou was baie akkuraat. Dankie vir hierdie genotvolle artikel.
L. M., Verenigde State
Ek werk in een van die modernste treinfabrieke in die wêreld, en ek wil julle gelukwens met die uitstekende artikel wat julle geskryf het. Julle inligting was feitelik en goed gedokumenteer. Ek wil net noem dat party ultrasneltreine materiale soos aluminium pleks van vlekvrye staal gebruik. Soos ’n onlangse treinongeluk in Duitsland toegelig het, word veiligheid dalk ingeboet sodat topsnelhede bereik kan word.
I. D. C., Portugal