Ons beskou die wêreld
“Die jaar toe die wêreld aan die brand geslaan het”
Jean-Paul Jeanrenaud, hoof van die Wêreldnatuurfonds se woudprogram, sê dat “1997 onthou sal word as die jaar toe die wêreld aan die brand geslaan het”. Daar was groot brande op elke vasteland, behalwe Antarktika. Waardevolle woude in Indonesië en Brasilië, met ’n oppervlakte gelyk aan dié van Switserland, is byvoorbeeld afgebrand. Oorsake wissel van doelbewuste ontbossing vir landboudoeleindes tot droogte, wat vermoedelik te wyte is aan uiterste weerstoestande wat deur El Niño veroorsaak word. Die gevolglike hoë vlakke van koolstofdioksied weens die verbranding van fossielbrandstowwe dra tot lugbesoedeling by en vergroot die gevaar van aardverwarming, berig die Londense koerant The Independent. Mnr. Jeanrenaud waarsku: “Ons is besig om ’n bose kringloop van vernietiging te veroorsaak, waar die toename in brande ’n gevolg is van weersveranderinge sowel as ’n bydraende faktor by hierdie veranderinge.”
Meer kalsium nodig
“Weens hulle beengroei het jongmense meer kalsium nodig”, waarsku die Duitse nuusbrief Gesundheit in Wort und Bild (Gesondheid in woord en beeld). Die aanbevole daaglikse inname is 1200 milligram, maar net 56 persent van die jong vroue en 75 persent van die jong mans in Duitsland tussen 15 en 19 neem soveel in. “Jong meisies regoor Europa neem te min kalsium in”, sê Mary Fraser, van die Europese Stigting vir Osteoporose. Hoewel so ’n gebrek aan kalsium lank onopgemerk kan bly, kan dit daartoe bydra dat ’n mens osteoporose kry wanneer jy ouer word. “Voedselsoorte wat baie kalsium bevat, is kaas, melk, jogurt, sesamsaad, amarantsaad, sojaboontjies, groen groentes, neute en vis”, sê die artikel.
Die oorheersende dollar
“Min Amerikaners besef dit dalk, maar meer Amerikaanse geld is buite die Verenigde State in omloop as daarbinne”, sê U. S. News & World Report. “Van die $450 miljard in note en munte wat nou in mense se beursies, in kasregisters, bankkluise en onder matrasse is, is ongeveer twee derdes—$300 miljard—in die buiteland.” En daardie bedrag neem met $15 miljard tot $20 miljard per jaar toe. Hoewel kontant in die Verenigde State hoofsaaklik in $20-note in omloop is, is die meeste van die kontant in die buiteland in die vorm van $100-note, wat daarop dui dat die geld nie vir klein daaglikse aankope gebruik word nie, maar om te spaar en vir handelstransaksies. Dit is veral die geval in lande waar inflasie erg is en mense die banke nie vertrou nie. Ongeveer 60 persent van die nuwe $100-note wat verlede jaar gedruk is, is direk na die buiteland gestuur. Die groot bedrag geld wat in die buiteland in omloop is, kan uit die Amerikaanse oogpunt vergelyk word met ’n rentelose lening aan die Amerikaanse regering waarvoor hulle nie goedere of dienste hoef te lewer nie, en wat die regering miljarde dollars bespaar.
Toestemming om te plunder?
“Brasilië se Rooms-Katolieke leiers het hulle stem vir die armes en die verhongerdes laat hoor en het diegene verdedig wat kos gesteel het om aan die lewe te kan bly”, berig die ENI Bulletin. Weens ’n ernstige droogte in die noordoostelike deel van Brasilië is die plundering van supermarkte en pakhuise goedgekeur. Volgens die Aartsbiskop van Belo Horizonte, kardinaal Serafim Fernandes de Araujo, “veroordeel die kerk niemand wat kos neem, waar hulle dit ook al vind, om ’n hongerdood te voorkom nie”. En kardinaal Paulo Evaristo Arns word as volg aangehaal: “Ons gaan veg teen hierdie neoliberalisme wat rykdom in die hande van ’n paar bevoorregtes konsentreer terwyl die armes al hoe armer word.” Hy het bygevoeg: “Dit is tyd dat die mense in die stede en op die platteland wakker word.”
Skuldlas
“Die gemiddelde [Kanadees] gee gedurende die vakansietyd $1236 [R5154] aan geskenke, vermaak en reiskoste uit”, berig die koerant The Vancouver Sun, en “’n groot deel van daardie bedrag sal met ’n kredietkaart betaal word”. Finansiële raadgewers sê dat daar geweldige emosionele druk op mense is om gedurende die Kerstyd geld uit te gee, en wanneer sakgeld opraak, is dit maklik om aan te hou uitgee deur kredietkaarte te gebruik. Een raadgewer meen dat werksekuriteit verbruikers blykbaar “vertroue [gee] om selfs meer skuld te maak pleks van dit af te betaal”. Teen die einde van 1997 het Kanadese ’n rekordbedrag van R85,15 miljard in onbetaalde kredietkaartsaldo’s gehad—dubbel soveel as in 1991. Deskundiges skat dat dit die gemiddelde winkelbesoeker ses maande neem om vakansierekeninge af te betaal en dat baie nog ’n deel van dieselfde skuld sal oorhê wanneer hulle die volgende Kerstyd met nog ’n “koopjol” begin.
Die dood ligtelik opgeneem
“Die heldhaftigheid wat deur rolprente en die TV bevorder word, moet deur ouers en onderwysers teëgewerk word sodat die dood nie ligtelik opgeneem word nie”, verduidelik die Jornal do Brasil. ’n Studie wat in Rio de Janeiro gedoen is, toon dat kinders jonger as 13 jaar 10 persent van die misdade pleeg. “Hierdie kinders dra vuurwapens, val skoolmaats aan, vermink hulle of maak hulle dood en is skuldig aan seksuele molestering van dié wat jonger is”, sê die artikel. Die psigiater Alfredo Castro Neto sê: “’n Kultuur soos ons nou het, wat kompetisie aanmoedig en in rolprente uitbeeld dat ’n mens iemand kan doodmaak om te kry wat jy wil hê, kan net die begripsverwarring van hierdie kinders vererger.” Die opvoedkundige Josefa Pech, wat opvoedkundige speelgoed eerder as vuurwapens aanbeveel, sê dat dit noodsaaklik is om die kind te laat verstaan dat hierdie “beeld van ’n held wat almal doodmaak dwaas en onwerklik is en dat wapens nie status- of magsimbole is nie, maar eerder voorwerpe wat mense doodmaak”.
Dodelike rekord
“Rook lei elke jaar tot die dood van meer Amerikaners as wat altesaam in gevegte in die Tweede Wêreldoorlog en die Viëtnamese oorlog gesneuwel het”, sê die University of California Berkeley Wellness Letter. “Elke dag sterf daar meer as 1200 Amerikaners aan rookverwante oorsake, die ekwivalent van drie of vier stampvol makrostralers wat sonder enige oorlewendes verongeluk.”
Mite oor lemmings weerlê
Pleeg lemmings—klein knaagdiere wat in die koue noordelike streke woon—selfmoord deur massaverdrinking? Baie mense glo dit nog steeds. Maar wetenskaplikes is al lank skepties hieroor, en ’n span van die Britse Uitsaaikorporasie se “Wildlife on One” wat ses maande lank in die westelike deel van die Kanadese noordpoolgebied opnames gemaak het, het nou die mite weerlê. Solank hulle voedselvoorraad hou, floreer die lemmings ondanks oorbevolking. Hoe het die storie van hulle massaselfmoord dan ontstaan? Daar is al gesien dat Noorweegse lemmings per ongeluk in die water val wanneer hulle teen berge af trek na weivelde waar daar meer weiding is, berig die koerant The Guardian van Londen.
Pasiënte word beroof
Duitsland se hospitale word deur diewe geteister. “Driehonderd diefstalle per jaar word deur die opleidingshospitale in Keulen aangemeld”, berig die koerant Emsdettener Tageblatt. “’n Bos blomme in die hand, ’n innemende glimlag om die mond—en die hospitaaldief is van sy buit verseker.” Hulle doen hulle as besoekers voor en hulle gebied strek van bedkassies tot klerekaste. Ouer pasiënte maak dit veral maklik vir die diewe. ’n Bejaarde man het byvoorbeeld ’n hele paar duisend Duitse mark onder die kussing van sy hospitaalbed weggesteek. Die diewe geniet groot vryheid weens onbeperkte besoektye, en byna enigeen kan ’n hospitaal binnegaan sonder om voorgekeer te word. Daarom word pasiënte gewaarsku om geld en waardevolle artikels in ’n hospitaalkluis of elders weg te sluit of om dit vir iemand te gee om te bewaar.
Oorafdrukke
Toe ’n inbreker onlangs in Londen skuldig bevind is, was dit sy oor wat hom verraai het. Hoe so? Hoewel hy baie versigtig was om nooit ’n vingerafdruk op die misdaadtoneel te los nie, het hy die gewoonte gehad om met sy oor teen ’n venster of ’n sleutelgat te luister of daar enigiemand tuis is voordat hy inbreek, en sodoende het hy oorafdrukke agtergelaat. “Oorafdrukke is net so uniek soos vingerafdrukke”, sê professor Peter Vanesis, forensiese patoloog by die Universiteit van Glasgow in Skotland. Maar anders as by vingerafdrukke hou ’n mens se ore, net soos jou hare en naels, deur jou hele volwasse lewe heen aan groei, berig The Daily Telegraph van Londen. Die polisie weet egter dat ons ore, soos hierdie inbreker s’n, uniek is, hoe groot hulle ook al is. Hy was die eerste inbreker in Brittanje wat op grond van ’n oorafdruk skuldig bevind is, en hy het op vyf aanklagte van inbraak skuld erken.