Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 12/22 bl. 16-19
  • Oorgebruiks-beserings—Wat jy moet weet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Oorgebruiks-beserings—Wat jy moet weet
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe siekte?
  • Die afname en skielike toename in RSI
  • Die oorsake, en die beroepe waarin dit voorkom
  • Nie net bewegings nie
  • Die siekte word geïdentifiseer
  • Werk RSI teë
  • Voorkoming tuis en by die werk
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1999
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2004
  • Spiere—meesterstukke van ontwerp
    Ontwaak!—1999
  • Wat werksplekke gevaarlik maak
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 12/22 bl. 16-19

Oorgebruiks-beserings—Wat jy moet weet

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

MARCELO, ’n 24-jarige huisverwer wat in Brasilië woon, het dit byna elke oggend gedoen sonder om eers te dink. Hy het sy horlosie om sy pols gesit en die leerbandjie probeer vasmaak. Maar hierdie keer het hy gesukkel om die bandjie vas te maak. Toe hy na sy pols kyk, het hy gesien wat die probleem was. Dit was so geswel dat die horlosie se bandjie nie meer gepas het nie.

Later het sy hand selfs gepyn wanneer hy ’n kam of ’n tandeborsel vasgehou het. Marcelo het dus ’n dokter gaan spreek. Nadat hy Marcelo ondersoek het en uitgevind het dat hy al twee jaar mure skraap, pleister en verf, het die dokter vir hom gesê: “Jou werk veroorsaak die pyn wat jy ondervind. Jy het oorgebruiksbesering [RSI].”

’n Nuwe siekte?

Talle kantoor- en fabriekswerkers hoor dieselfde diagnose as Marcelo. RSI versprei so vinnig dat die koerant Folha de S. Paulo dit “die vernaamste werkverwante siekte van die einde van hierdie eeu” genoem het. Geen wonder baie mense het tot die slotsom gekom dat RSI nog een van daardie moderne siektes is nie! Is dit?

Om die waarheid te sê, as Marcelo vroeg in die 18de eeu in Europa gewoon het, sou ’n dokter moontlik sy simptome herken het. Die kwaal het destyds natuurlik nie dieselfde naam gehad nie. Die Italiaanse dokter Bernardino Ramazzini het die kwaal beskryf as tenosinovitis van die pols (sening- en skedeontsteking) en het dit die siekte “van kopiïste en notarisse” genoem. Die herhaling van dieselfde bewegings wat in hierdie beroepe vereis word, het klerke die 18de-eeuse weergawe van RSI gegee. Maar teen die einde van daardie selfde eeu het die aantal werkers wat aan RSI gely het, afgeneem. Waarom?

Die afname en skielike toename in RSI

Kantoorklerke in die dae van Ramazzini het in die so genoemde preïndustriële tydperk gelewe. In daardie dae het mense lang ure en sonder die hulp van masjiene gewerk. Hulle werk het vereis dat hulle dieselfde bewegings oor en oor doen en heeltyd konsentreer. Dit het tot RSI-tipe aandoenings gelei.

Teen die einde van die 18de eeu het Europa egter die industriële tydperk ingegaan en is mannekrag deur masjienkrag vervang. Die mens het nou die masjien die eentonige werk laat doen. Daardie verandering het, volgens ’n dokter wat die geskiedenis van RSI bestudeer het, moontlik die voorkoms van RSI onder arbeiders laat afneem.

Gedurende die industriële tydperk het die aantal werkverwante ongelukke en beroepsiektes onder fabriekswerkers weliswaar toegeneem. Nietemin maak mediese literatuur wat oor daardie tydperk handel slegs melding van RSI-gevalle onder spesifieke groepe. Negentiende-eeuse klavier- en vioolspelers het byvoorbeeld aan tendinitis in die bo-arms gely, en tennisspelers het tenniselmboog, of seningontsteking in die elmboog, gekry.

In ons eeu het werkverwante RSI egter teruggekeer. Waarom? Vir eers omdat masjiene wat al hoe doeltreffender werk dikwels vir die mens sê wat hy moet doen en hoe vinnig hy dit moet doen. Hierdie ommekeer het werkers ontevrede laat voel en tot gesondheidsprobleme gelei. Mense werk dikwels lang ure en verrig take waar hulle dieselfde bewegings oor en oor moet doen en heeltyd moet konsentreer. Wat is die gevolg? RSI het ’n gesondheidsprobleem geword wat nou verantwoordelik is vir meer as 50 persent van alle werkverwante siektes onder werkers in die Verenigde State en in Brasilië—om maar net twee lande te noem.

Die oorsake, en die beroepe waarin dit voorkom

Die hoofoorsaak van RSI is die vinnige, herhaalde bewegings wat deur baie werkstoewysings vereis word. Ongelukkig kan werkers dikwels nie anders as om vas te hou aan ’n werk wat hulle gesondheid kan benadeel nie. Baie werkers kan simpatiseer met die Brasiliaanse vrou wat in ’n motorfabriek gewerk het en ’n radio in minder as ’n minuut moes inmekaarsit. ’n Ander werker, berig die koerant Folha de S. Paulo, moes toetse doen waar sy 63 toestelle per uur met ’n rubberhamer moes slaan. Albei vroue het pyne in hulle bo-arms begin kry en is later afbetaal omdat hulle ongeskik verklaar is weens RSI.

Die ooreising van spiere en gewrigte (soos deur swaar sakke te dra) en statiese spiersametrekkings (wanneer jou spiere saamtrek om liggaamsdele in ’n spesifieke posisie te hou) is ook oorsake van RSI. Sulke handelinge kan veral beserings veroorsaak wanneer ’n mens in ’n ongemaklike posisie werk.

Mense wat volgens navorsers veral tot RSI geneig is, is metallurge, bankklerke, sleutelbordgebruikers, skakelbordoperateurs, supermarkkassiere, kelners, huisverwers, speelgoedmonteurs, naaldwerksters, haarkappers, breisters, suikerrietsnyers en ander handearbeiders.

Nie net bewegings nie

Hoewel die meeste mense dink dat RSI slegs veroorsaak word deur werk wat dieselfde bewegings oor en oor vereis, het deskundiges wat die Eerste Nasionale Seminaar oor RSI in Brasília, die hoofstad van Brasilië, bygewoon het, beklemtoon dat dit nie net die herhaling van bewegings behels nie.

Dr. Wanderley Codo, ’n geestesgesondheid- en werkadviseur aan die Universiteit van Brasília, het verduidelik: “Die manier waarop werk georganiseer word—die take, die verhouding tussen bestuurder en werknemer, die atmosfeer wat in die onderneming heers, die mate van werkersamewerking en die werkroetine—is een van die faktore wat ten nouste met die siekte saamhang.”

Ander mediese deskundiges by die RSI-seminaar het ook die verband tussen die siekte en die organisering van die werksplek beklemtoon. Een negatiewe faktor van nuwe tegnologie, het hulle gesê, is dat dit tot vorme van werksorganisasie gelei het waar die werker alle beheer oor sy werk verloor—’n faktor wat tot RSI bydra.

Aangesien daar ’n noue verband is tussen RSI en die manier waarop werk georganiseer en gedoen word, kon sekere werkers in vorige dekades dieselfde bewegings oor en oor doen sonder om RSI te kry. Dít is die gevolgtrekking van party deskundiges.

Die siekte word geïdentifiseer

Hou in gedagte dat RSI nie net na een siekte verwys nie, maar na ’n groep siektes. Al die kwale in hierdie groep tas die spiere, senings, gewrigte en ligamente aan, veral dié van die boonste ledemate. Aangesien RSI na ’n groep siektes verwys, sal dit vanselfsprekend verskillende tekens en simptome hê. Die simptome kan onduidelik wees, en die verband tussen die oorsake en die simptome sal moontlik nie onmiddellik herken kan word nie. Hier is van die vernaamste tekens.

Een teken is dat die aangetaste liggaamsdeel (die skouer en/of die arm byvoorbeeld) swaar en ongemaklik voel en later gedurig pyn en ’n prikkelende sensasie ondervind. Knoppies sal ook moontlik onder die vel verskyn. In die meer gevorderde stadiums van RSI kan die swelling en pyn so erg word dat die persoon nie meer eenvoudige takies kan verrig soos om sy hare te kam of sy tande te borsel nie. As RSI nie behandel word nie, kan dit selfs tot misvorming en gebreke lei.

Werk RSI teë

As jy in jou huidige werk dieselfde bewegings oor en oor moet doen en jy reeds tekens van RSI opmerk, sal jy moontlik die maatskappy se mediese diens om hulp wil nader. As dit nie moontlik is nie, kan jy dalk na ’n gesondheidsdiens gaan waar ’n ortopedis kan bepaal wat die probleem is en die nodige stappe kan doen om jou te help. Die kanse op herstel sal veel groter wees as jy in die vroeë stadiums van RSI daaraan aandag gee.

Nog ’n belangrike manier waarop ’n mens RSI kan teëwerk, is deur ergonomie in oënskou te neem. Wat is ergonomie? Die term word gedefinieer as “’n toegepaste wetenskap wat daarop let om die dinge wat mense gebruik só te ontwerp en te rangskik dat die wisselwerking tussen mense en dinge op die doeltreffendste en veiligste wyse kan geskied”.

Ergonomie het dus te doen met die aanpassing van die werksplek by die mens sowel as die mens by die werksplek. Maar dit behels meer as om net die vorm van ’n sleutelbord of ’n hamer te verander. Dit sluit ook in dat die werker se verstandelike en emosionele behoeftes in aanmerking geneem word. Ten einde dit te bereik, sê ergonoom dr. Ingeborg Sell, maak ergonomie gebruik van “gegewens, inligting en kennis van alle deelnemende studievelde [en] probeer dit ’n nuwe en breë begrip van die mens en sy werk verkry”.

Die verandering van die ergonomie van die werksplek is weliswaar iets waaraan die meeste werkers nie veel kan doen nie. Maar mediese deskundiges by die RSI-seminaar in Brasília het verduidelik dat dit nie die geval met “deelnemende ergonomie” is nie. Wat word bedoel met deelnemende ergonomie?

’n Werkgewer wat deelnemende ergonomie in die werksplek aanmoedig, neem die werker se sienswyse in ag. Hy nooi die werker om te help besluit hoe sy werkarea verbeter kan word. So ’n werkgewer sal ook ten gunste wees van ’n RSI-komitee in die maatskappy wat uit werkers en die bestuur bestaan. Hierdie groep sal seker maak dat die werksomgewing in die werksplek veilig en gerieflik gehou word. Hulle doen iets omtrent die oorsake van RSI, bevorder voorkoming en bepaal wat die werkgewer en werknemer se verantwoordelikhede is om gevalle van RSI in die maatskappy te beheer of selfs stop te sit.

Voorkoming tuis en by die werk

Die voorkoming van RSI begin tuis. Wat kan jy doen? Wanneer jy wakker word, is dit goed om jou hond of kat na te boots. Let op hoe jou troeteldier sy spiere strek voor hy ’n nuwe dag begin. Doen dieselfde. En terwyl jy nou aan die gang is, kan jy sommer daardie strekoefeninge ’n paar keer gedurende die dag herhaal. Dit is noodsaaklik as ’n mens jou bene en spiere gesond wil hou. Doen ’n paar oefeninge om jou spiere op te warm. Dit sal jou bloedsomloop versnel en meer suurstof beskikbaar stel vir jou spiere om hulle werk te doen. Oefeninge is natuurlik selfs belangriker wanneer dit koud is en ook voordat jy aan sport deelneem. Doen ’n paar oefeninge wat die spesifieke spiere wat jy die meeste gebruik sterker sal maak. Sterker spiere sal jou help om die noodsaaklike take by die werk te verrig.

Benewens hierdie voorkomingsmaatreëls wat jy by die huis volg, is ’n voorkomingsprogram by die werk ook nodig. Die werkgewer kan RSI-probleme onder werkers voorkom deur ’n werkrooster op te stel wat vir pouses of veranderinge voorsiening maak en wat die werkers se take afwissel.

Nog ’n aspek van RSI-voorkoming is om die regte soort toerusting aan die werker te voorsien. Dit kan onder meer dinge insluit soos lessenaars en stoele wat die regte hoogte is, kussinkies om elmboë op te rus, bore en tange wat nie die hand te hard laat werk nie, gebruikersvriendelike rekenaarsleutelborde of swaar toerusting met skokbrekers om oormatige vibrasie te vermy.

Marcelo, wat in die inleiding genoem word, het baie van hierdie wenke toegepas. Dit, tesame met die mediese behandeling wat hy ontvang het, het ’n einde gemaak aan die RSI-simptome wat hy ondervind het. Hy sal heeltemal gesond kan word. Dit vereis ongetwyfeld persoonlike inspanning en organisatoriese veranderinge om RSI teë te werk, maar aangesien die aantal RSI-pasiënte in die werksplek aan die toeneem is, is die voordele van hierdie veranderinge dalk op die ou end baie meer as die koste.

[Venster op bladsy 17]

RSI in musikante

Oorgebruiksbeserings (RSI) is algemeen onder beroepsmusikante. Volgens ’n studie wat in 1986 gepubliseer is, het die helfte van alle musikante in agt simfonieorkeste in Europa aan RSI gely. In die 19de eeu is die siekte musikantepyn genoem. Een van die eerste opgetekende gevalle was dié van Robert Schumann. RSI het veroorsaak dat hy nie meer klavier kon speel nie, en hy het hom toe daarop toegelê om musiek te komponeer.

[Venster op bladsy 17]

Faktore wat tot RSI bydra

1. Verkeerde liggaamshouding

2. Lang werksure

3. Spanning by die werk

4. Vorige beserings van spiere en senings

5. Ontevredenheid met jou werk

6. Blootstelling aan koue

[Venster op bladsy 18]

Voorkoming van RSI

DINGE OM TE VERMY

1. Moenie swaar voorwerpe baie lank vashou nie

2. Moenie ’n te groot las op die gewrigte plaas nie

3. Moenie jou arms vir lang rukke hoër as die hart hou nie

4. Moenie in ongemaklike posisies werk nie

DINGE OM TE DOEN

1. Wissel arms af terwyl jy ’n taak verrig—selfs ligte takies

2. Doen verskillende soorte take deur die dag

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Bladsye 16 en 17: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel