Ons beskou die wêreld
Die jaar 2000 en Christus
“Opname toon dat minder as een uit ses Britte die jaar 2000 met Christus verbind”, sê die ENI Bulletin. ’n Gallup-opname “het groot onkunde omtrent die Millennium aan die lig gebring, met 37 persent van respondente wat gesê het dat hulle nie weet wat herdenk word nie . . . , 18 persent wat gesê het dat die vierings die nuwe eeu inlui en 17 persent dat dit die jaar 2000 inlui.” Slegs 15 persent sien ’n verband tussen 2000 en die geboorte van Christus. Volgens professor Anthony King van die Universiteit van Essex beteken die millennium vir die meeste mense “niks meer as net ’n geleentheid om te dans, sjampanje te drink, tot laat saam met vriende op te bly of om oorsee te reis nie”. Die Anglikaanse biskop Gavin Reid het gesê: “Ons lewe in ’n gemeenskap wat sy kulturele en geestelike geheue verloor het.”
“Superkieme” wek kommer
“Die feit dat ‘superkieme’ weerstand bied teen die sterkste antibiotika behoort ’n gevaarsein vir die mediese beroep sowel as vir verbruikers te wees”, sê die Suid-Afrikaanse koerant The Star. Die patoloog Mike Dove waarsku dat “siektes wat voorheen onder beheer of feitlik uitgeroei was nou gemuteer het en besig is om terug te keer”. Die oormatige gebruik van antibiotika het gelei tot nuwe vorme van tering (TB), malaria, ingewandskoors, gonorree, ruggraatkoors en longontsteking wat al hoe moeiliker is om te behandel en wat teen moderne geneesmiddels bestand is. Meer as driemiljoen mense sterf jaarliks net aan TB. Pasiënte kan help deur die volgende te onthou: Probeer eers jouself behandel deur baie vloeistof te drink, die nodige rus te kry en warm soutwater te gorrel as jou keel seer is. Moenie druk op jou dokter uitoefen om vir jou antibiotika te gee nie—laat hy besluit of dit werklik nodig is. As dit voorgeskryf word, moet jy altyd die hele kursus voltooi, selfs al is daar beterskap. Onthou dat antibiotika nie verkoues en griep genees, wat deur virusse veroorsaak word en nie deur bakterieë nie. “Almal”, het Dove gesê, “moet saamwerk om hierdie uiters kommerwekkende wêreldprobleem teë te werk wat tot ’n gesondheidsramp kan lei.”
Die hoë koste van depressie
“Depressie—baie meer as enige fisiese siekte—is die grootste oorsaak in die wêreld dat mense van die werk wegbly en lae produksie lewer”, sê die Brasiliaanse koerant O Globo. ’n Verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie toon dat geestesiektes in 1997 vir 200 000 sterftes verantwoordelik was. Daarbenewens het geringe geestesafwykings, soos luimwisselings, ’n negatiewe uitwerking op die professionele bedrywighede van meer as 146 miljoen mense regoor die wêreld gehad—’n syfer wat hoër is as die 123 miljoen werkers wat deur gehoorprobleme gestrem is of die 25 miljoen wat ongelukke by die werk gehad het. Volgens ’n studie deur professor Guy Goodwyn van die Universiteit van Oxford sal die probleem van depressie in die komende jare toeneem en ’n geweldige las vir die gemeenskap word weens ’n verlies aan produktiwiteit en die stygende koste van behandeling. In die Verenigde State alleen kom die jaarlikse verliese weens depressie op $53 miljard (R337 miljard) te staan.
Beter op papier
“Geen monitor maak lees so maklik soos ’n gedrukte bladsy nie”, berig die Duitse persburo dpa-Basisdienst. As ’n mens iets op papier lees in plaas van op ’n monitor, maak jy aansienlik minder foute en lees jy vinniger. Toetse toon dat dit gemiddeld 10 persent langer neem om iets op rekenaar te lees as op papier. Hoewel die resultate beter was wanneer hoëgehalte-monitors met verhoogde kontras en resolusie asook minder flikkering gebruik is, het dit nog steeds nie dieselfde resultate gelewer as leeswerk wat op papier gedoen is nie. “Wie ook al voor ’n monitor werk, kyk die hele tyd direk in ’n ligbron wat skerp lig uitstraal, flikker en weerkaats”, het die psigoloog Martina Ziefle, van Aken, Duitsland, gesê. “Die buitelyne van die karakters is nie so skerp nie, en die kontraste is swakker.” Die dpa se slotsom is: “Wanneer jy ’n rekenaar koop, moet jy dus meer aandag gee aan die gehalte van die monitor.”
Teken van die tye
“Nog ’n ongewone stukkie Kanadese kultuur sal binne ’n paar weke iets van die verlede wees wanneer polisiemanne [in Newfoundland] vir die heel eerste keer pistole begin dra”, berig The Toronto Star. Die Royal Newfoundland Constabulary, wat in 1729 op die been gebring is, is “die laaste polisiemag in Noord-Amerika wat die strate gepatrolleer het sonder om ’n vuurwapen byderhand te hê”. Nuwe wetgewing het die vorige beleid nietig verklaar. Die vorige beleid het vereis dat polisiebeamptes ’n offisier se toestemming vra om hulle te kan bewapen. Indien toestemming gegee is, het die beampte sy wapen in ’n kissie agter in sy polisiemotor toegesluit. Wanneer hy dit dan tydens ’n noodoproep nodig gehad het, moes hy die motor parkeer, agter oopsluit, die kissie oopsluit en die wapen laai. “Dit is anders en uniek, maar dit is nie werklik prakties om te sê dat ’n professionele, opgeleide polisiemag in 1998 nie toegang tot hulle wapens kan hê nie”, het die eerste minister Brian Tobin gesê. The Rock, soos mense Newfoundland noem, het nog steeds die laagste misdaadsyfer in die land, en geen polisiebeampte is al geskiet terwyl hy aan diens was nie.
Hulle spesialiseer in wraakneming
’n Maatskappy in Tokio wat beloof om “streng vertroulikheid” te handhaaf en oral in Japan diens lewer, sê in hulle advertensie: “Ons sal namens jou met iemand afreken.” Hulle taak is basies om “die persoon wat die kliënt in die eerste plek laat ly het op dieselfde manier te laat ly”, sê die eienaar van die maatskappy. Soos in die Asahi Evening News berig is, sal die maatskappy “wetlike vergeldingsdade doen”, soos om seker te maak dat “iemand sy werk en sy gesin verloor”, om verhoudings te laat verbrokkel en “om te verseker dat ’n kollega afgedank word of ’n werkgewer wat skuldig is aan seksuele teistering verneder word”. Van die nagenoeg 50 mense wat die maatskappy daagliks skakel, doen 20 navraag oor kontrakte vir moord; maar die algemene reël van die maatskappy is om nie geweld te gebruik of die wet te oortree nie, “hoewel dit soms daaraan grens”. Die diens voorsien werk aan tientalle mense, waarvan die meeste ’n ander voltydse werk het. Party is mense wat self gely het en ander wil help om wraak te neem. “’n Mens weet nooit of iets wat jy in die verlede gedoen het, veroorsaak het dat ander mense ’n wrok teen jou koester nie. Wees versigtig”, het die eienaar gewaarsku.
Landkrappe en die ekologie
Miere, termiete en wurms breek blare en oorblyfsels op woudvloere af, maar wat gebeur in tropiese reënwoude waar daar van tyd tot tyd oorstromings is? Landkrappe doen die werk. ’n Ekoloog van die Universiteit van Michigan, VSA, was verbaas om ’n groot gebied van die woud aan die Stille Oseaan-kus van Costa Rica te vind wat geen blare op die grond gehad het nie, maar eerder ’n hele aantal groot gate. Gedurende die nag het hy gesien hoe landkrappe—ongeveer 60-000 per hektaar—uitkom om na dooie blare, vrugte en jong plantjies te soek, wat hulle tot onder in hulle meter diep gate gedra het. Hierdie krappe wat 20 sentimeter groot is, spesiaal aangepaste kieue het om asem te haal en net van tyd tot tyd see toe gaan om eiers te lê, help om diepgewortelde bome van kos te voorsien. Die hele ekologie van die woud word bepaal deur wat hierdie diertjies doen, berig The Times van Londen.
Ver in die buitenste ruimte
“Voyager 1 staan nou in die geskiedenisboeke opgeteken as die mensgemaakte voorwerp wat die verste van ons af is”, sê die tydskrif Astronomy. “Die vorige rekordhouer was Pioneer 10, wat in die teenoorgestelde rigting en stadiger beweeg.” Hoe ver is Voyager 1 van ons af? Op 17 Februarie 1998 was dit 10,4 miljard kilometer hiervandaan. Die ruimtetuig is op 5 September 1977 gelanseer; het op 5 Maart 1979 verby Jupiter gegaan en op 12 November 1980 verby Saturnus beweeg. Dit stuur steeds inligting terug oor die sonwind en magneetveld. “Sy instrumente sal dalk uiteindelik die eerste van enige ruimtetuig wees om die heliopouse—die grens tussen die einde van die Son se magnetiese invloed en die begin van die interstellêre ruimte—waar te neem”, sê die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie.
Kinders wat nie geregistreer is nie
“Sowat ’n derde van alle babas se geboorte word nie geregistreer nie, en dit laat hulle in ’n amptelike limbo wat kan beteken dat hulle moontlik nie opvoedkundige geleenthede en gesondheidsorg sal kry nie”, berig The New York Times. Die registrasie van geboortes is die laagste in Afrika suid van die Sahara en in party Asiatiese lande, soos Kambodja, Indië, Myanma en Viëtnam. “As ’n mens nie ’n geboortesertifikaat het nie, is dit amper asof jy nooit gebore is nie”, sê Carol Bellamy, die uitvoerende direktrise van die Verenigde Nasies-kinderfonds, die instansie wat die wêreldwye opname gedoen het. Baie lande vereis registrasie van geboorte voordat ’n kind behandeling by ’n gesondheidsorgsentrum kan ontvang of by ’n skool kan inskryf, en kinders sonder ’n geboortesertifikaat sal waarskynlik kinderarbeiders word of as sekswerkers uitgebuit word. Die artikel voeg by: “Die verslag het bevind dat armoede alleen nie die aantal registrasies bepaal nie, want dit verwys na hoë registrasiesyfers in die grootste deel van Latyns-Amerika, Sentraal-Asië en Noord-Afrika.”