Ons beskou die wêreld
Bobaasnabootsers
Na bewering kan spreeus die roep van meer as 40 verskillende voëls naboots. Maar dit is nie al nie. Daar is al gehoor hoe die Europese spreeu busse, sirenes, kettingsae, motoralarms, skape en selfs die gerunnik van perde naboots. Maar nou het hulle ’n nuwe klank by hulle versameling gevoeg—die gelui van selfone. “As jy [dus] ’n selfoon buite hoor lui, sal jy dalk verbaas wees om te sien dat die ‘foon’ vere het”, berig die tydskrif National Geographic. “Namate selfone algemener word, sal spotvoëls, Indiese spreeus en ander nabootsers dit waarskynlik ook begin doen”, sê die tydskrif.
‘Leuens is harde werk vir die brein’
Navorsers by die Universiteit van Pennsilvanië het gevind dat die brein baie harder moet werk om ’n leuen te vertel as om die waarheid te praat. Dr. Daniel Langleben bestudeer hierdie verskynsel met behulp van ’n funksionele magnetiese resonansiebeeldingmasjien (fMRB) om vas te stel watter dele van die brein werk wanneer iemand ’n leuen vertel. Wanneer ons ’n vraag gevra word, moet ons brein dit eers verwerk. Dan “sal ’n leuenaar amper instinktief eers aan die waarheid dink voordat hy [’n] valse antwoord uitdink of gee”, berig The News van Mexikostad. “In die brein kry jy nooit iets vir niks nie”, sê Langleben. “Die proses om ’n leuen te vertel, is ingewikkelder as om die waarheid te vertel en vereis meer neuronaktiwiteit.” Op ’n fMRB gloei die deel van die brein waar hierdie verhoogde neuronaktiwiteit plaasvind. “Selfs vir iemand met die gladste tong, is leuens harde werk vir die brein”, sê die koerant.
Wêreldwye wapenvoorraad neem toe
In 2001 het die polisie, die weermag, rebellemagte en individue regoor die wêreld ongeveer 639 miljoen kleingewere besit, berig Small Arms Survey 2002, ’n VN-geborgde studie. “Dit is ten minste 16 persent meer as vorige skattings”, sê die Survey. Daarbenewens neem die wêreldwye voorraad van kleingewere jaarliks met sowat 1 persent toe weens die vervaardiging van nuwe vuurwapens. Tans word pistole, gewere, mortiere en vuurpyllanseerders wat van die skouer afgevuur word, wêreldwyd in meer as 98 lande deur ten minste 1 000 maatskappye vervaardig. Volgens die verslag “was die [totale] waarde van die kleingewere wat wêreldwyd in 2000 vervaardig is, insluitende ammunisie, . . . geskat op ten minste 7 miljard Amerikaanse dollar”. Tussen 80 en 90 persent van die wêreldwye handel in kleingewere is wettig, en die meeste vuurwapens (59 persent) behoort aan burgerlikes.
Dodelike rookmis
“Tot ’n vyfde van alle sterftes weens longkanker in stede word veroorsaak deur klein besoedelingsdeeltjies, waarvan die meeste uit motoruitlaatstelsels kom”, berig die tydskrif New Scientist. Navorsers in die Verenigde State en Kanada het sowat ’n halfmiljoen Amerikaners 16 jaar lank waargeneem en risikofaktore soos ouderdom, geslag, ras, rookgeskiedenis, dieet, alkoholinname en blootstelling aan besoedelstowwe by die werk in ag geneem. “Die navorsing het gekonsentreer op deeltjies wat kleiner as 2,5 mikrometer in deursnee is”, sê New Scientist, aangesien “hierdie fyn deeltjies vermoedelik dodelik is omdat hulle diep in die longe vassit”. Die studie het gevind dat die gevaar wat blootstelling aan rookmis in party stede inhou, “vergelyk kan word met die risiko’s vir langtermyn- passiewe rokers”, sê die tydskrif.
Ongeregistreerde geboortes
“Elke jaar word die geboorte van meer as 50 miljoen kinders—meer as 40 persent van die wêreldwye geboortesyfer—nie geregistreer nie”, berig die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF). Dit voeg by: “In 39 lande is ten minste 30 persent van alle kinders nie by geboorte geregistreer nie en in 19 lande was die syfer ten minste 60 persent.” Wat beteken dit? Sonder geboortesertifikate bestaan hierdie kinders nie in die oë van die owerheid nie, en dit kan hulle toegang tot basiese menslike dienste beperk. “Geboorteregistrasie is ’n basiese mensereg, wat ander regte tot hulle beskikking stel, soos opvoeding, gesondheidsorg . . . en beskerming teen diskriminasie, mishandeling en uitbuiting”, sê UNICEF. En die probleme as gevolg van ongeregistreerde geboortes is nie tot kinders beperk nie. “Later in sy lewe sal die ongeregistreerde volwassene moontlik nie . . . ’n huwelikslisensie kan kry nie”, sê die verslag.
Dreigende “ekologiese bankrotskap”
Wetenskaplikes skat dat as die verbruik van die aarde se natuurlike hulpbronne teen die huidige tempo voortgaan “ons op ekologiese bankrotskap afstuur”, berig die Kanadese koerant Globe and Mail. Volgens ’n studie wat die eerste keer in die tydskrif Proceedings of the National Academy of Sciences verskyn het, is daar bereken dat “mense [in 1961] 70 persent van die planeet se jaarlikse potensiaal vir biologiese produktiwiteit verbruik het. Teen 1999 was dit 120 persent. Vandag is dit ongeveer 125 persent.” Dit beteken dat dit die aarde 15 maande sal neem “om die natuurlike hulpbronne aan te vul wat die mens [jaarliks] verbruik” deur visvangs, boerdery, mynbou en die verbranding van fossielbrandstowwe. “Die rede waarom die situasie so vinnig vererger, is deels omdat die biologiese vermoë van die planeet afneem namate grond op party plekke so erg beskadig word dat dit nie meer oeste kan lewer nie. Nog erger, groter eise word aan hierdie biologiese vermoë gestel namate die wêreldbevolking toeneem”, sê die koerant.
Omskepte kerke
“Toe Mark Twain Montreal in 1881 besoek het, het hy gesê dat ‘jy nie ’n klip kan gooi sonder om ’n kerkvenster te breek nie’. Deesdae sal jy dalk die venster van ’n wooneenheid in ’n kerk breek”, sê koerant The Gazette van Montreal. Hoewel die stad nog steeds ongeveer 600 plekke van aanbidding het, sê die koerant dat tot 100 daarvan, waarvan baie Katoliek is, moontlik in die volgende dekade te koop sal wees. “Volgens die Aartsbisdom van Montreal het tot 25 Katolieke gemeentes sedert 1960 gesluit.” Kanada se Katolieke bevolking het van ongeveer 1,5 miljoen in 1871 toegeneem tot byna 10 miljoen in 1971; en tog het “kerkbywoning skerp gedaal, veral in Quebec”, sê The Gazette. Bernard Fortin, wat in beheer is van pastorale beplanning vir die Aartsbisdom van Montreal, het vir die koerant gesê dat kerkbywoning in daardie gebied van 75 persent in 1970 gedaal het tot ongeveer 8 persent vandag.
Televisie en eetversteurings
Volgens ’n berig in The Independent van Londen “is daar ’n betekenisvolle verband tussen televisie en simptome van eetversteurings by jong meisies”. Dr. Anne Becker, van die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit in die Verenigde State, het onderhoude gevoer met tienermeisies in Fidji kort nadat hulle in 1995 televisie in die land gekry het. Sy het gevind dat televisie “blykbaar ’n baie negatiewe uitwerking gehad het op die beeld wat hulle van hulle liggaam gevorm het sowel as op gedrag wat met eetversteurings verband hou”. Hoe? Die kultuur in Fidji moedig tradisioneel ’n goeie eetlus en ’n voller figuur aan. Maar nadat die skoolmeisies die skraal televisiepersoonlikhede gesien het, wou baie soos hulle lyk. Byvoorbeeld, voordat daar televisie in Fidji was, het nie eers een van die meisies in die studie haarself laat opbring om haar gewig te beheer nie. Maar drie jaar later het 11,3 persent gesê dat hulle dit wel doen. Navorsers het ook gevind dat 69 persent van die skoolmeisies gesê het dat hulle al op ’n dieet was om gewig te verloor, en byna driekwart van hulle het gesê dat hulle “te groot of vet” voel.