Regte sonder verantwoordelikhede?
“ERKENNING van die inherente waardigheid en van die gelyke en onvervreembare regte van alle lede van die mensdom is die grondslag van vryheid, geregtigheid en vrede in die wêreld.” Hierdie woorde verskyn in die inleiding van die Universele Verklaring van Menseregte, wat 50 jaar oud was in Desember 1998. Maar 24 voormalige presidente en eerste ministers, wat alle vastelande verteenwoordig, het onlangs voorgestel dat die Verenigde Nasies buiten daardie verklaring ook ’n universele verklaring van menseverantwoordelikhede moet aanneem. Waarom meen baie dat so ’n projek nodig is?
“Regte en verantwoordelikhede is soos ’n Siamese tweeling. Ongelukkig is hierdie feit ná ’n halfeeu vergete of het dit onvanpas geword. Baie mense dring aan op hulle regte sonder dat hulle dit nodig ag om verwante verantwoordelikhede na te kom”, verduidelik professor Jean-Claude Soyer, ’n lid van die Europese Kommissie vir Menseregte. Hierdie pligsversuim het ’n invloed op baie mense. “Daar is ’n tasbare begeerte, veral onder die jeug, na die een of ander soort verenigende toekomsplan, ’n stel erkende ideale waardeur die uitwerking van hebsug, van selfsug, van ’n verlies aan samehorigheid, wat lyk asof dit die hele wêreld wil oorheers, aangespreek en onder beheer gebring kan word. . . . Hierdie toenemende debat oor die behoefte aan ’n wêreldwye etiek is ’n erkenning dat iets ontbreek”, sê die Paryse dagblad International Herald Tribune. Gevolglik het politici, teoloë en filosowe samesprekings begin voer oor ’n “universele etiekprojek”, soos die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur dit noem, om die leemte te vul en om te bepaal wat menseverantwoordelikhede is. Maar hulle het ’n paar probleme ondervind.
Terwyl dit betreklik maklik is om te bepaal watter menseregte beskerm moet word, is dit nie altyd maklik om te definieer watter menseverantwoordelikhede universeel aanvaar moet word nie. Maar sommige waardes in die voorgestelde Verklaring van Verantwoordelikhede is deur die tydlose en universele Gulde Reël geïnspireer wat Jesus sowat tweeduisend jaar gelede gegee het: “Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 7:12.
Hoewel die Bybel al dikwels die inspirasie was vir wette wat menseregte beskerm, beklemtoon dit die idee van persoonlike verantwoordelikheid. “As iemand dan weet hoe om te doen wat reg is en dit tog nie doen nie, is dit vir hom ’n sonde”, het die dissipel Jakobus gesê (Jakobus 4:17). Net soos Jesus na maniere gesoek het om aan ander goed te doen, probeer ware Christene ook aan hulle medemens goeddoen. Hulle is nie daarmee tevrede om net hulle regte uit te oefen nie, maar hulle besef dat regte verantwoordelikhede meebring en dat elkeen van ons voor God vir ons dade verantwoordelik is.