’n “Groot taak afgehandel”
VYFTIG jaar gelede het ’n simpatieke, bejaarde vrou gepraat, en die wêreld het geluister. Dit het op 10 Desember 1948 in Parys gebeur. Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het in die onlangs geboude Palais Chaillot vergader toe die voorsitster van die VN se Kommissie vir Menseregte opgestaan het om ’n toespraak te hou. In ’n besliste stem het Eleanor Roosevelt, die weduwee van die voormalige Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt, vir die teenwoordiges gesê: “Ons staan vandag op die drumpel van ’n groot gebeurtenis in die lewe van die Verenigde Nasies sowel as in die lewe van die mensdom, naamlik die goedkeuring van die Universele Verklaring van Menseregte deur die Algemene Vergadering.”
Nadat sy die roerende frases van die Verklaring se inleiding en sy 30 artikels gelees het, het die Algemene Vergadering die dokument aangeneem.a Toe, ter ere van mev. Roosevelt se uitsonderlike leierskap het die lede van die VN “die First Lady van die wêreld”, soos sy met geneentheid genoem is, staande toegejuig. Aan die einde van daardie dag het sy die volgende aantekening gemaak: “Groot taak afgehandel.”
Van baie menings tot een Verklaring
Twee jaar tevore, in Januarie 1947, kort nadat die VN se kommissie met sy werk begin het, het dit duidelik geword dat dit ’n ontsaglike taak sou wees om ’n dokument oor menseregte op te stel wat al die VN-lede tevrede sal stel. Van die begin af het ernstige meningsverskille die kommissie met 18 lede in eindelose twisgesprekke laat vasval. Die Chinese afgevaardigde het gemeen dat die dokument die filosofie van Confucius moet insluit, ’n Katolieke kommissielid het die leerstellings van Thomas van Aquino voorgestaan, die Verenigde State was kampvegters vir die Amerikaanse Verklaring van Regte en die Russe wou die idees van Karl Marx insluit—en dit is maar net ’n paar van die besliste menings wat uitgespreek is!
Die kommissielede se aanhoudende gekibbel het mev. Roosevelt se geduld beproef. In 1948, tydens ’n lesing in Parys by die Sorbonne, het sy gesê dat sy altyd gedink het haar geduld is tot die uiterste beproef terwyl sy haar groot gesin grootgemaak het. Maar “om voorsitster te wees van die Kommissie vir Menseregte het selfs groter geduld vereis”, het sy na bewering tot groot vermaak van haar gehoor gesê.
Nietemin was haar ondervinding as ’n moeder klaarblyklik nuttig. Destyds het een verslaggewer geskryf dat die manier waarop mev. Roosevelt die kommissielede hanteer hom aan ’n moeder laat dink het “wat orde moet handhaaf in ’n groot gesin van seuns wat dikwels raserig, soms onhebbelik, maar tog goeie kinders is, wat af en toe ferm op hulle plek gesit moet word” (Eleanor Roosevelt—A Personal and Public Life). Maar deur haar fermheid met menslikheid te temper, kon sy haar opponente tot haar sienswyse oorhaal sonder om hulle haar vyande te maak.
Gevolglik het die kommissie, ná twee jaar van vergaderinge, honderde wysigings, duisende verklarings en nadat daar 1400 keer gestem is oor feitlik elke woord en elke sinsdeel, ’n dokument voltooi wat die menseregte opnoem waarop hulle gemeen het alle mans en vroue, oral in die wêreld, geregtig is. Dit is die Universele Verklaring van Menseregte genoem. Sodoende is ’n oënskynlik onbegonne taak voltooi.
Hoë verwagtings
Daar is natuurlik nie verwag dat die mure van verdrukking sommer so met hierdie eerste poging sou inmekaarstort nie. Maar die feit dat die Universele Verklaring aangeneem is, het wel hoë verwagtings geskep. Die destydse voorsitter van die VN se Algemene Vergadering, dr. Herbert V. Evatt van Australië, het voorspel dat “miljoene mans, vroue en kinders regoor die wêreld, baie myle van Parys en New York af, hulle tot hierdie dokument sal wend vir hulp, leiding en inspirasie”.
Vyftig jaar het verbygegaan sedert dr. Evatt dit gesê het. Gedurende daardie tyd het baie hulle inderdaad tot die Verklaring gewend as ’n gids en dit as ’n maatstaf gebruik om die mate van respek vir menseregte regoor die wêreld te bepaal. Wat het hulle gevind toe hulle dit gedoen het? Voldoen die lidlande van die VN aan hierdie vereistes? Wat is vandag die situasie met betrekking tot menseregte in die wêreld?
[Voetnoot]
a Agt-en-veertig lande het ten gunste daarvan gestem, nie een daarteen nie. Maar vandag het al 185 lidlande van die VN, met inbegrip van dié wat in 1948 buite stemming gebly het, die Verklaring aangeneem.
[Venster op bladsy 4]
Wat is Menseregte?
Die Verenigde Nasies definieer menseregte as “daardie regte wat inherent is aan ons wese en waarsonder ons nie as mense kan lewe nie”. Menseregte is ook al heel gepas as die “algemene taal van die mensdom” beskryf. Net soos die vermoë om ’n taal aan te leer ’n ingebore eienskap van mense is, is daar ander ingebore behoeftes en eienskappe wat ons van ander skepsele op die aarde onderskei. Mense het byvoorbeeld ’n behoefte aan kennis, om uiting te gee aan hulle kunsgevoel en aan geestelikheid. ’n Mens wat nie hierdie basiese behoeftes kan bevredig nie, voer uiteraard ’n dierlike bestaan. Om te verhoed dat mense hierdie regte ontsê word, verduidelik ’n regsgeleerde in menseregte, “gebruik ons die term ‘menseregte’ in plaas van ‘menslike behoeftes’ omdat die woord ‘behoefte’ volgens die wet nie so ’n sterk woord is as die woord ‘reg’ nie. Deur dit ’n ‘reg’ te noem, verhef ons die bevrediging van menslike behoeftes tot iets waarop elke mens sedelik en wetlik geregtig is.”
[Venster/Prent op bladsy 5]
Die Universele Verklaring van Menseregte
Die skrywer en Nobelpryswenner Aleksandr Solzjenitsin het die Universele Verklaring die “beste dokument” genoem wat nog deur die VN opgestel is. ’n Oorsig oor die inhoud daarvan toon waarom baie met hom saamstem.
Die Verklaring se basiese filosofie word in Artikel 1 uiteengesit: “Alle mense word vry gebore en het gelyke waardigheid en regte. Hulle het die gawe van verstand en ’n gewete en behoort in ’n gees van broederskap teenoor mekaar op te tree.”
Op grond hiervan het die opstellers van die Verklaring twee groepe menseregte geïdentifiseer. Die eerste groep word in Artikel 3 beskryf: “Elkeen het die reg op lewe, vryheid en veiligheid van persoon.” Hierdie artikel vorm die grondslag vir die mens se burgerlike en politieke regte wat in Artikels 4 tot 21 genoem word. Die tweede groep is op Artikel 22 gebaseer, wat gedeeltelik sê dat elkeen geregtig is op die verwesenliking van die regte “wat noodsaaklik is vir sy waardigheid en die vrye ontwikkeling van sy persoonlikheid”. Dit ondersteun Artikels 23 tot 27, wat die mens se ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte uitspel. Die Universele Verklaring was die eerste internasionale dokument wat hierdie tweede groep regte as deel van basiese menseregte erken het. Dit was ook die eerste internasionale dokument wat enigsins die term “menseregte” gebruik het.
Die Brasiliaanse sosioloog Ruth Rocha verduidelik in eenvoudige taal wat die Universele Verklaring vir ons sê: “Dit maak nie saak van watter ras jy is nie. Dit maak nie saak of jy ’n man of ’n vrou is nie. Dit maak nie saak watter taal jy praat, wat jou godsdiensoortuiging is, wat jou politieke mening is, van watter land jy kom of wie jou familie is nie. Dit maak nie saak of jy ryk of arm is nie. Dit maak nie saak uit watter deel van die wêreld jy kom nie; of jou land ’n koninkryk of ’n republiek is nie. Elkeen behoort hierdie regte en vryhede te geniet.”
Sedert die Universele Verklaring aangeneem is, is dit in meer as 200 tale vertaal en het dit ’n deel van baie lande se grondwet geword. Vandag meen sommige leiers egter dat die Verklaring herskryf moet word. Maar die VN se sekretaris-generaal, Kofi Annan, stem nie saam nie. ’n Amptenaar van die VN haal hom soos volg aan: “Net soos dit nie nodig is om die Bybel of die Koran te herskryf nie, so is dit ook nie nodig om die Verklaring te wysig nie. Dit is nie die teks van die Universele Verklaring wat gewysig moet word nie, maar die gedrag van dié wat dit volg.”
Die sekretaris-generaal van die VN, Kofi Annan
[Erkenning]
UN/DPI photo by Evan Schneider (Feb97)
[Prent op bladsy 3]
Mev. Roosevelt wat die Universele Verklaring van Menseregte vashou
[Erkenning]
Mev. Roosevelt en simbool op bladsye 3, 5 en 7: UN photo