Eetversteurings—Wat kan help?
AS JOU dogter aan ’n eetversteuring ly, moet sy gehelp word. Moenie die saak uitstel omdat jy dink dat die probleem vanself sal verdwyn nie. ’n Eetversteuring is ’n komplekse siekte, met fisieke en emosionele komponente.
Deskundiges het natuurlik al ’n groot aantal uiteenlopende behandelings vir eetversteurings aan die hand gedoen. Sommige beveel medikasie aan. Ander staan sielkundige behandeling voor. Baie sê dat ’n kombinasie van albei die doeltreffendste is. Dan is daar gesinsberading, wat volgens party veral noodsaaklik is as die lyer nog steeds in die huis woon.a
Alhoewel deskundiges van mekaar verskil wat hulle benadering betref, stem die meeste oor ten minste een punt saam: Eetversteurings het nie net met kos te doen nie. Laat ons ’n paar van die dieper kwessies ondersoek wat gewoonlik aandag verg wanneer iemand gehelp word om van anoreksie of bulimie te herstel.
’n Gebalanseerde beskouing van hulle liggaamsbeeld
“Toe ek omtrent 24 jaar oud was, het ek heeltemal opgehou om modetydskrifte te koop”, sê ’n vrou. “Dit het ’n baie groot en negatiewe uitwerking op my gehad wanneer ek myself met modelle vergelyk het.” Soos ons alreeds gesê het, kan die media ’n meisie se begrip van skoonheid verdraai. Trouens, die moeder van ’n meisie met ’n eetversteuring praat van “die nimmereindigende publisiteit in ons koerante en tydskrifte en televisie-advertensies om maer, maer, maer te wees”. Sy sê: “Ek en my dogter hou albei daarvan om skraal te wees, maar dit voel vir ons asof die voortdurende publisiteit dit die belangrikste ding in die lewe maak, belangriker as enigiets anders.” Dit is duidelik dat ’n mens heel moontlik ’n nuwe beskouing sal moet kry van wat ware skoonheid is as jy van ’n eetversteuring wil herstel.
Die Bybel kan hiermee help. Die Christenapostel Petrus het geskryf: “Laat julle versiering nie dié wees van uiterlike haarvlegtery en van die omhang van goue sierade of die dra van boklere nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees wees, wat in die oë van God van groot waarde is.”—1 Petrus 3:3, 4.
Petrus sê dat ons meer besorg moet wees oor innerlike eienskappe as die uiterlike voorkoms. Trouens, die Bybel verseker ons: “Nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Dit is bemoedigend, want ons kan altyd ’n beter soort mens word, al is daar sekere aspekte van ons liggaamsbou wat ons nie kan verander nie.—Efesiërs 4:22-24.
Aangesien ’n swak selfbeeld eetversteurings kan bevorder, sal jy moontlik jouself as persoon moet herevalueer. Die Bybel sê weliswaar vir ons om nie meer van onsself te dink as wat nodig is nie (Romeine 12:3). Maar dit sê ook vir ons dat selfs ’n enkele mossie waardevol in God se oë is, en dit voeg by: “Julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:6, 7). Die Bybel kan jou dus help om gesonde selfrespek te ontwikkel. Waardeer jou liggaam, en jy sal daarvoor sorg.—Vergelyk Efesiërs 5:29.
Maar sê nou jy moet werklik gewig verloor? ’n Gesonde dieet en ’n oefenprogram sal moontlik help. Die Bybel sê wel dat ‘liggaamlike oefening voordele het’, selfs al is dit in ’n beperkte mate (1 Timoteus 4:8). Maar jy moet nooit ’n obsessie oor jou gewig ontwikkel nie. “Die wysste weg om te volg, is moontlik om genoeg oefening te kry—en jouself eerder te aanvaar soos jy is as om aan ’n eng en arbitrêre ideaal te probeer voldoen”, was die gevolgtrekking van ’n opname oor liggaamsbeeld. ’n Drie-en-dertigjarige vrou in die Verenigde State het hierdie benadering nuttig gevind. “Ek het een eenvoudige reël gehad”, sê sy. “Werk daaraan om dié dinge te verbeter wat jy realisties gesproke kan verander, en moenie tyd mors deur jou oor die res te bekommer nie.”
As jy ’n positiewe lewensbeskouing het en dit met ’n gesonde dieet en ’n redelike oefenprogram aanvul, sal enige kilogramme wat jy moet verloor waarskynlik verdwyn.
Vind “’n ware metgesel”
Nadat professor James Pennebaker ’n aantal bulimielyers bestudeer het, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie vroue se siklus van eet en laksering hulle in ’n groot mate gedwing het om geheime lewens te lei. Hy sê: “Feitlik elkeen het sommer vanself gesê hoeveel tyd en moeite dit geverg het om haar eetgewoontes vir haar goeie vriende en gesin weg te steek. Hulle het almal ’n leuen geleef en dit gehaat.”
’n Belangrike stap tot herstel is derhalwe om die stilte te verbreek. Anoreksielyers sowel as bulimielyers moet oor die probleem praat. Maar met wie? ’n Bybelspreuk sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17, NW). Daardie “ware metgesel” kan ’n ouer of ’n ander volwassene wees. Sommige het dit ook nodig gevind om iemand in hulle vertroue te neem wat ervare is in die behandeling van eetversteurings.
Jehovah se Getuies het ’n bykomende bron van hulp—gemeentelike ouer manne. Hierdie manne kan wees “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:2). Ouer manne is natuurlik nie dokters nie, en daarom sal jy dalk buiten hulle nuttige raad nog steeds mediese behandeling nodig hê. Hierdie geestelik bekwame manne kan nietemin wonderlike onderskraging bied terwyl jy herstel.b—Jakobus 5:14, 15.
Maar jou Skepper kan jou grootste vertroueling wees. Die psalmis het geskryf: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Ja, Jehovah God stel belang in sy aardse kinders. Moet dus nooit nalaat om tot hom te bid oor die dinge wat jou die meeste kwel nie. Petrus vermaan ons: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy is besorg oor julle.’—1 Petrus 5:7.
Wanneer dit nodig is om hospitaal toe te gaan
As jy in ’n hospitaal opgeneem word, is dit op sigself nie ’n geneesmiddel nie. Maar as ’n meisie weens ernstige anoreksie ondervoed geraak het, is dit dalk nodig dat sy gespesialiseerde behandeling moet ontvang. Daar moet erken word dat dit nie vir ’n ouer maklik is om hierdie stap te neem nie. Beskou die geval van Emily, wie se dogter in die hospitaal opgeneem moes word nadat die lewe, soos Emily dit stel, “vir haar en vir ons ondraaglik” geword het. Sy sê voorts: “Toe ek haar al huilende in die hospitaal laat opneem het, was dit die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen, die ergste dag van my lewe.” Die situasie was soortgelyk met Elaine, wat ook ’n dogter in die hospitaal moes laat opneem. “Ek dink die ergste oomblik wat ek kan onthou”, sê sy, “is toe sy in die hospitaal was en geweier het om te eet en hulle haar buisvoeding moes gee. Ek het gevoel dat hulle haar wil gebreek het.”
Die gedagte daaraan om hospitaal toe te gaan, is dalk nie aangenaam nie, maar in sommige gevalle is dit nodig. Vir party met eetversteurings baan dit die weg tot herstel. Emily sê die volgende van haar dogter: “Sy moes wel hospitaal toe gaan. Dit was die feit dat sy hospitaal toe is wat haar gehelp het om beter te begin word.”
Die lewe sonder eetversteurings
As deel van die herstelproses moet die anoreksie- of bulimielyer leer om sonder ’n eetversteuring te leef. Dit kan moeilik wees. Kim skat byvoorbeeld dat sy in haar anorektiese stadium 18 kilogram in tien maande verloor het. Maar dit het haar nege jaar geneem om weer 16 van daardie kilogramme aan te sit! “Met groot moeite”, sê Kim, “het ek stadigaan geleer om weer normaal te eet, sonder om elke kalorie [kilojoule] te tel, my kos te weeg, net ‘veilige’ kossoorte te eet, paniekerig te raak as ek nie geweet het wat die bestanddele van ’n gereg of nagereg was nie of net by restaurante met slaaitoonbanke te eet.”
Maar vir Kim het die herstelproses meer behels. “Ek het geleer om my gevoelens te erken en eerder in woorde uit te druk as deur my optrede of kosverwante gedrag”, sê sy. “Deurdat ek bewus geraak het van nuwe maniere waarop ek konflikte met ander kan oplos of uit die weg kan ruim, het dit my die geleentheid gegee om hegter verhoudings met vriende en gesinslede te geniet.”
Om van ’n eetversteuring te herstel, is ongetwyfeld ’n uitdaging, maar dit is uiteindelik die moeite werd. Dit is wat Jean, wat in die eerste artikel in hierdie reeks aangehaal is, glo. “Om terug te keer na sieklike eetpatrone”, sê sy, “sal wees soos om terug te gaan na ’n gestig nadat jy net ’n kort rukkie vry was.”
[Voetnote]
a Ontwaak! staan nie enige spesifieke behandeling voor nie. Christene moet hulle eie besluit neem en seker maak dat enige behandeling wat hulle volg nie in stryd is met Bybelbeginsels nie. Ander moet nie sulke besluite kritiseer of veroordeel nie.
b Sien die artikel “Hoe om diegene met eetversteurings te help” in die Ontwaak! van 22 Februarie 1992, en die reeks “Eetversteurings—Wat kan gedoen word?” in die nommer van 22 Desember 1990 vir verdere inligting.
[Venster op bladsy 11]
Lê die grondslag vir herstel
WAT moet jy doen as jy vermoed dat jou dogter aan ’n eetversteuring ly? Dit spreek vanself dat jy nie die situasie kan ignoreer nie. Maar hoe roer ’n mens die onderwerp aan? “Dit werk soms om haar direk te vra, maar net so dikwels loop dit uit op die gevoel dat jy met ’n klipmuur praat”, sê die skrywer Michael Riera.
Daarom sal ’n simpatieker benadering dalk doeltreffender wees. “Wanneer jy met jou dogter praat”, beveel Riera aan, “moet sy begryp en voel dat jy haar nie van enige verkeerde daad beskuldig nie. As jy hierdie atmosfeer kan skep, sal baie adolessente redelik eerlik met jou wees, selfs ietwat verlig. Sommige ouers het ook welslae behaal deur briewe vir hulle tiener te skryf waarin hulle sê dat hulle oor haar bekommerd is en haar ondersteun. Dan, wanneer hulle met mekaar praat, is die grondslag alreeds gelê.”
[Venster op bladsy 12]
’n Uitdaging vir ouers
OM ’N kind te hê wat aan ’n eetversteuring ly, bied etlike uitdagings vir ouers. “Jy moet van yster of klip gemaak wees”, sê ’n vader. “Jy sien hoe jou eie kind voor jou oë vernietig word.”
As jy ’n kind met ’n eetversteuring het, is dit heeltemal normaal dat jy soms gefrustreerd sal voel oor haar hardkoppige gedrag. Maar wees geduldig. Moet nooit ophou om jou liefde te wys nie. Emily, wie se dogter aan anoreksie gely het, erken dat dit nie altyd maklik was nie. Sy sê nietemin: “Ek het altyd probeer om liggaamskontak te behou; ek het haar ’n drukkie probeer gee; ek het haar probeer soen. . . . Ek het gedink dat ons nooit weer by mekaar sou kon uitkom as ek ophou om simpatiek teenoor haar te wees en my liefde vir haar te bewys nie.”
Een van die beste maniere om jou kind te help om van ’n eetversteuring te herstel, is om met haar te kommunikeer. Wanneer jy dit doen, sal jy dalk meer moet luister as praat. En weerstaan die drang om haar in die rede te val met stellings soos: “Dis nie waar nie”, of: “Jy moet nie so voel nie.” Trouens, moenie ‘jou oor toestop vir die klaaggeroep van die geringe’ nie (Spreuke 21:13, NW). Wanneer daar openhartige kommunikasie is, sal ’n jongmens iemand hê tot wie sy haar kan wend in tye van nood, en sy sal moontlik minder daartoe geneig wees om haar toevlug tot ongesonde eetgewoontes te neem.
[Prente op bladsy 10]
Dit kos geduld, begrip en baie liefde om diegene met eetversteurings te help