Wen die stryd!
Wanneer jy met Lee kennis maak, ’n jong vrou wat wel ter tale, spontaan en effens oorgewig is, is dit moeilik om te glo dat sy vyf jaar gelede byna aan anoreksie gesterf het. Maar wanneer jy met haar begin praat, is jy diep beïndruk deur die geestesveranderinge—sommige baie moeilik—wat sy moes aanbring om hierdie dodelike eetversteuring te oorwin. “Dit was nie net ’n stryd met kos nie”, verduidelik sy.
Aangesien eetversteurings die gevolg van grondliggende emosionele probleme is, word die stryd om dit te oorkom in die verstand gevoer. Die poging om ’n ander stel waardes aan te kweek, is een van die eerste stappe na herstel. Ons het almal sekere gevestigde waardes, dinge wat ons as belangrik beskou. Dit vorm die beskouing wat ons oor onsself het en bepaal hoe ons op spanningsvolle probleme sal reageer. Diegene met eetversteurings moet hulle waardes verander, wat beteken dat hulle ’n ander denkwyse moet aankweek.
“Laat . . . julle verander deur julle denke te vernuwe”, maan die Bybel. “Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Romeine 12:2, NAV). Ja, ’n mens se gesindheid moet gevorm word deur God se beskouing van wat reg is. Ons Skepper ken ons baie goed. Hy weet vir seker wat ons blywende geluk sal verskaf. Presies wat beskou hy as belangrik?
Lê jou toe op ware skoonheid
Dit is ons innerlike wat voor God waardevol is. “Die verborge mens van die hart”, versier met ’n sagmoedige en stille gees, ‘is baie kosbaar voor God’ (1 Petrus 3:4). Maar ons lewe in ’n wêreld waar vroue oor die algemeen volgens hulle voorkoms beoordeel word. Hoe onverstandig is dit dan tog om hierdie selfde standaard te volg, want die hedendaagse “maer is in die mode”-gesindheid kan verander. In die Verenigde State was dit honderd jaar gelede modieus om mollig te wees. In 1890 het ’n advertensie so gelui: “Sê beleef vir die dames om mollig te word met . . . ‘Fat-Ten-U’-kos wat GEWAARBORG is om die maer mense mollig en aantreklik te maak.”
“Ek het ander altyd aan hulle fisiese voorkoms gemeet”, het Lee erken, wat toe veranderinge in haar gesindheid aangebring het. “Maar ek het nou geleer om Christelike eienskappe in myself en in ander op prys te stel. Ek probeer nou om aangename eienskappe aan te kweek. Ek besef hoe oppervlakkig dit is om myself en ander na fisiese voorkoms te beoordeel.”
Dit is nie maklik om die regte gesindheid oor ’n mens se uiterlike te behou nie. Ons sal dit moet vermy om gereeld met diegene om te gaan wat ’n obsessie het oor hulle gewig of wat gedurig oor hulle fisiese voorkoms praat. “Dit is ’n voortdurende stryd om die druk van die gemeenskap te beveg en die regte gesindheid te behou”, sê Lynn, wat bulimie met welslae te bowe gekom het. “Ek het nie sommer vanself die regte gesindheid gehad nie, maar ek moes myself dwing om reg te dink.” Hierdie verandering in denkwyse bepaal ook op watter dinge ons ons selfrespek bou.
Verwerp “ydele eer”
Baie mense met eetversteurings bou hulle gevoel van eiewaarde op deur na volmaaktheid te strewe of deur hulle honger geheel en al te oorheers. Die egosentriese lof wat hulle vir hulleself verkry, is in werklikheid nutteloos of ydel. God se Woord sê dat ons niks ‘uit egotisme moet doen nie, maar dat ons ander met ootmoedigheid van gees hoër moet ag as onsself’ (Filippense 2:3, NW). Die oorspronklike Griekse woord vir “egotisme” beteken letterlik “ydele eer”, of lof wat vals is. Diegene wat dinge uit egotisme doen, probeer dus om die aandag op hulleself te vestig om redes wat geen ware of blywende waarde het nie. Hulle beroem hulle op ydele dinge.
Lee het byvoorbeeld gesê: “Ek het spesiaal gevoel omdat niemand my kon dwing om te eet nie.” En tog het sy erken: “Ek het geglo dat ek beter oor myself sou voel as ek net maerder was. Maar wanneer ek nog gewig verloor het, het ek steeds ongelukkig oor myself gevoel.”
Lee het toe gesê wat ’n keerpunt was wat na haar herstel gelei het. “Ek het besef”, het sy gesê, “dat ek vir God net ’n druppeltjie in ’n emmer is, waarom moes ek nou juis die beste wees? ’n Mens hoef nie die beste te wees nie. Dit maak nie saak as ander beter vaar in sekere dinge as jy nie.”
Ja, Lee het geleer om ‘ander hoër as haarself te ag’. Ander mense het sekere vermoëns en bates wat beter as ons s’n is, net soos ons in sekere dinge kan uitblink. Maar dit beteken nie dat ander inherent prysenswaardiger is as ons of dat ons prysenswaardiger is as hulle nie.
Aangesien diegene met eetversteurings ’n vurige begeerte het om goed te voel omtrent hulleself, moet hulle hulle toelê op dít wat ware selfrespek gee. “Pleks van op my uiterlike staat te maak vir lof”, het Melissa, wat van bulimie herstel het, gesê, “het ek gevind dat die feit dat ek God se waardes aanvaar en sy beskouing eerbiedig my ’n beter gevoel van eiewaarde gegee het.” Ja, net soos die Bybel sê: “Bekoorlikheid kan bedrieglik wees en skoonheid ydel; maar die vrou wat Jehovah vrees, verwerf vir haarself [ware, nie ydele] lof [nie].”—Spreuke 31:30, NW.
Vriendskap met God
Die regte ‘vrees vir Jehovah’ is nie ’n morbiede vrees vir goddelike straf nie, maar is ’n vrees om God te mishaag omdat hy ons Vriend geword het. “Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees, wat ’n groot welbehae in sy gebooie het”, sê Psalm 112:1. As ’n mens ’n vriend van God is, sal dit vir jou aangenaam wees om Sy gebooie te gehoorsaam. Dit dien as kragtige aansporing. Maar hoe beskou God eetversteurings?
God se Woord sê dat ons ons liggaam, wat ’n kosbare gawe van God is, moet respekteer (Romeine 12:1). Die apostel Paulus het gesê dat ‘allerhande onreinheid en hebsug’ God mishaag, en hy het gesê dat ‘ongelowiges in die geheim dinge doen wat te skandelik is om te noem’. Een van hierdie dinge is moontlik die gebruik wat sommige Romeinse feesvierders gehad het om tydens ’n fees deur vomering hulle maag leeg te maak en dan weer gulsig te eet (Efesiërs 5:3, 5, 12). Die apostel het geskryf: “Ek sal my nie deur iets laat oorheers nie” (1 Korinthiërs 6:12). As ons dus God se guns wil geniet, kan ons nie toelaat dat kos en diëte ons lewe oorheers nie.
Aangesien daar verskeie soorte eetversteurings en verskillende grade daarvan is, verskil die erns van ’n mens se optrede voor God. Die begeerte om ’n vriend van God te wees, sal ’n mens nogtans beweeg om eetversteurings te bowe te kom. “Wat my die meeste gehelp het om te herstel”, het Ann gesê, “was die besef dat ek nie met hierdie gewoonte kon volhou en God behaag nie.” Maar wat as daar terugslae is in ’n mens se stryd?
“Die skuldgevoelens wat met bulimie gepaard gegaan het, is onbeskryflik”, het Melissa gesê. “Ek het dag en nag, wanneer ek alleen was, gehuil en gehuil en God om hulp en vergifnis gesmeek.” Hoe vertroostend is dit tog om te weet God “vergeef menigvuldiglik” en dat hy ‘Hom ontferm oor die wat Hom vrees’ (Jesaja 55:7; Psalm 103:13). Selfs al veroordeel ons hart ons, “God is meer as ons hart, en Hy weet alles” (1 Johannes 3:20). Hy sien meer as ons swakhede. Hy weet hoe hard ons probeer om die siekte te bowe te kom en watter vordering ons maak.
Moet nooit moeg word om jou in erns tot God te wend en sy vergifnis te vra nie, ongeag hoe dikwels jy hom oor dieselfde swakheid in gebed moet nader. As jy opreg is, sal hy jou weens sy onverdiende goedheid ’n skoon gewete gee (Romeine 7:21-25). “Deur dit alles”, het Melissa gesê, “was God ’n ware en betroubare Vriend wat my gebede verhoor het.” As ’n mens die stryd wil wen, moet jy nie moed opgee nie!
Verwerk pynlike emosies
Om die stryd te wen, moet ’n mens leer om negatiewe gevoelens te verwerk pleks van jou tot kos as ’n kalmeermiddel te wend. Dit beteken dikwels dat ’n mens iemand anders van sulke gevoelens moet vertel as jy verligting wil hê. Mary se pa se tergery oor haar gewig het byvoorbeeld daartoe gelei dat sy bulimie gekry het. “Dit was in werklikheid my skuld omdat ek niemand vertel het hoe sleg ek daaroor voel dat hy my terg nie”, het Mary verduidelik. “Ek het net na my kamer gegaan en gehuil.”
Maar dit is nie maklik vir iemand wat ’n obsessie het om ander te behaag om sulke gevoelens te verwoord nie. En tog sê die boek Bulimia: A Systems Approach to Treatment: “As ’n mens van bulimie wil herstel, is dit baie belangrik dat jy gevoelens van woede moet herken en moet leer om op ’n veilige en gepaste wyse daaraan uiting te gee.” Hoe gepas is die Bybel se raad tog: “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie” (Efesiërs 4:26). Wanneer jy kwaad is of daar druk op jou uitgeoefen word om ja te sê terwyl jy in werklikheid graag nee wil sê, moet jy jou afvra: ‘Hoe kan ek eerlik en openhartig wees sonder om bitsig te wees?’
Jy moet ook onthou dat die Bybel nie sê dat ’n vrou se rol net dié van mensebehaer is nie. Vrouens wat aan God getrou was, het, hoewel hulle onderdanig was aan hulle mans, soms op gepaste wyse uiting aan hulle gevoelens gegee. Hulle het inisiatief aan die dag gelê en dinge onderneem wat nie altyd maklik was nie (Spreuke 31:16-18, 29). Daar is natuurlik die gevaar van mislukking wanneer iets onbekends aangepak word. Diegene met eetversteurings is dikwels baie bang om foute te maak en belaglik voor te kom. Maar almal maak foute! “Sewe maal val die regverdige en staan weer op”, sê Spreuke 24:16. Dit is noodsaaklik dat ’n mens uit jou foute en tekortkominge moet leer as jy wil herstel en wil voorkom dat jy terugval.
Pynlike emosies hou soms verband met iets wat in die verlede gebeur het. Hoewel die herinneringe aan daardie ondervindinge jou dalk nog seer maak, moet jy daarna strewe om ‘jou opmerksaam te betoon ten opsigte van Jehovah se dade van liefderyke goedheid’ (Psalm 107:43, NW). Daar was tog sekerlik al goeie tye toe jy bewys van God se goedheid en liefde kon sien. Probeer aan hierdie dinge dink. Selfs al is jy ’n groot onreg aangedoen, beteken dit nie dat jy sulke mishandeling verdien het nie, en dit bepaal nie jou waarde as persoon nie.
Soek hulp!
’n Persoon wat probeer om ’n eetversteuring te bowe te kom, moet met iemand praat wat hy of sy kan vertrou. Moenie probeer om dit alleen te doen nie. Lynn verduidelik wat ’n keerpunt was wat na haar herstel gelei het: “Een aand het ek my ma na my kamer gebring. Na ek tien minute lank gehuil het, het ek eindelik daarmee uitgekom dat ek aan bulimie ly.” Sy sê voorts: “My ouers was so simpatiek. Mams het my gehelp om geduldig te wees en nie te verwag dat ek oornag gesond moet word nie. Paps het my praktiese wenke gegee en saam met my gebid. As ek nie openhartig met hulle gepraat het nie, sou ek al hierdie hulp verbeur het.”a
Dit is dikwels noodsaaklik om die steun van ander te hê as ’n mens volkome wil herstel. Moet jou nie afsonder nie, veral nie wanneer jy kwetsbaar voel nie (Spreuke 18:1). Lynn kruip nie meer in haar dop wanneer sy ontsteld raak nie. Sy sê van haar herstel: “Mams en ek het ’n ent gaan stap en oor die probleem gesels wat my ontstel. Pleks van my af te sonder en my te ooreet en dan my vinger in my keel te druk, het ek iets gedoen, soos om ’n vriend te bel.”
In die gemeentes van Jehovah se Getuies is daar mense wat van dié gehelp het wat probeer het om ’n eetversteuring te bowe te kom. “Ek kon myself nie langer help nie”, het Ann erken, wat haar laagste punt in haar stryd teen bulimie bereik het. “Ek het dus my hart uitgepraat en ander vertel van my probleem wat ek tien jaar lank geheim gehou het.” Christenvriende het my baie onderskraag. “My trots het gekeer dat ek hulp vra, en dit het my byna my lewe gekos. Die verligting was onbeskryflik. Met die hulp van my vriende het ek ten volle herstel.”
In sommige gevalle het ’n mens professionele hulp nodig van mense wat in die behandeling van eetversteurings spesialiseer. ’n Mediese evaluasie is gewoonlik die eerste stap. Die beskikbare hulp kan verskeie vorme van gesprekterapie, voedingsonderrig en miskien die gebruik van medisyne insluit. In uiterste gevalle is hospitalisasie dalk nodig. ’n Dokter of hospitaal sal waarskynlik weet van sulke spesialiste in jou gemeenskap.
Redelikheid en hoop
“Die dokter het my die versekering gegee dat as ek net gebalanseerde maaltye eet my metabolisme na normaal sal terugkeer en dat ek nie vet sal word nie”, het Lynn verduidelik. “En dit is presies wat gebeur het.” Hoe wys is die Bybel se raad dus: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.”—Filippense 4:5, NW.
’n Mens sal oortollige gewig met welslae verloor as jy minder vette en verfynde kos, soos suiker en witmeelblom, en meer vrugte, groente en volgraanprodukte eet. Matige oefening is ook belangrik.b Maar weens oorerflikheid, ouderdom en ander faktore is sommige mense swaarder as wat die mode moontlik voorskryf.
Lisa, wat ’n lang stryd teen diëte en bulimie gewen het, het tot ’n verstandige slotsom gekom: “Ek glo nie dat die oorwinning in gewigsverlies lê nie. Ek dink dat die oorwinning daarin lê dat ’n mens leer om matig in alle dinge te wees, selfs as jy meer weeg as wat hierdie wêreld as modieus voorskryf.” Maar wanneer iemand ’n redelike beskouing van fisiese voorkoms kry, sal hy of sy dalk gewig wil verloor, nie net ter wille van die voorkoms nie, maar om gesondheidsgevare te vermy wat met vetsug verband hou.
’n Mens kan vleiende klere dra wat ook gemaklik pas pleks van gedurig te probeer om in kleiner groottes te pas. Probeer om jou met opbouende aktiwiteite besig te hou eerder as om jou daagliks te weeg en te meet. As jy probeer om bulimie te bowe te kom, moet jy seker maak dat jy alle ekstra kos verwyder wat jy dalk iewers wegsteek, en neem iemand saam wanneer jy gaan kos koop. Probeer om jou maaltye saam met ander te nuttig. Sorg dat jy ’n redelike rooster volg, en neem die nodige tyd om te ontspan.
Bowenal moet jy ’n doel in die lewe kry. Hou die Bybel se hoop op ’n toekomstige nuwe wêreld van geregtigheid gedurig voor oë. God sal binnekort die aarde van die talle frustrasies bevry wat tot eetversteurings lei en vir ewig ’n einde aan hierdie 20ste-eeuse plaag maak.—2 Petrus 3:13.
Maar hoe kan ’n ouer of huweliksmaat iemand in die gesin help wat aan ’n eetversteuring lei? ’n Toekomstige nommer van die Ontwaak! sal dit bespreek.
[Voetnoot]
a In sommige gevalle van eetversteurings kan ’n ouer die hoofoorsaak van die probleem wees. Daarom sal ouers moontlik ook hulp moet soek. As sulke raad privaat gegee word, is dit makliker vir die kind om respek vir sy ouers te behou. Die ouer kan dus deurgaans hulp verleen sodat die kind kan herstel.
b Sien die artikel “Is gewig verloor ’n verlore stryd?” in ons nommer van 22 Mei 1989.
[Prente op bladsy 10]
Leer om die wêreld se propaganda dat jou waarde van jou voorkoms afhang, te verwerp