Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/22 bl. 20-23
  • ’n Lig wat lewens red

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Lig wat lewens red
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die eerste bakens
  • Van vlamme na xenonflitsligte
  • Drywende vuurtorings
  • Wanneer mis en storms ligte verberg
  • Die einde van ’n era
  • Vuurtoringwagters—’n verdwynende beroep
    Ontwaak!—1998
  • Beweeg na die lig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
  • Nóg ’n ekologiese tragedie
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/22 bl. 20-23

’n Lig wat lewens red

DIT was ’n moeilike vaart van vyf lange weke oor die Atlantiese Oseaan laat in die 19de eeu. Die passasiers het verwag dat hulle enige tyd land sou sien. Toe het ’n lig verskyn, een enkele ster op die horison. Maar dit was nie ’n ster nie; dit was ’n vuurtoring. “Toe ons die lig sien, het ons op ons knieë geval en God gedank”, het ’n passasier later gesê. Die lig het hulle veilig na hulle bestemming gelei. Maar nie al daardie vroeë skeepsreise het so goed afgeloop nie.

Die 22ste Desember 1839 was ’n mooi, sonnige dag aan die kus van Nieu-Engeland in Noord-Amerika. Die vuurtoringwagter op Plum-eiland, Massachusetts, het gedink dat hy met ’n geruste hart die eiland in sy roeibootjie kon verlaat, sy vrou kon neem om inkopies te doen en weer voor donker terug kon wees. Maar terwyl hulle weg was, het ’n wind opgesteek. ’n Storm was aan die kom, en vinnig ook. Kort voor lank het die lug en die see een grys, dreigende massa reën, skuim en sproeireën geword. Die vuurtoringwagter het baie hard probeer om na die eiland terug te keer, maar tevergeefs. Daardie nag het die vuurtoring donker gebly.

Om en by middernag het die skip Pocahontas gesukkel om die riviermonding en hawe-ingang te vind wat normaalweg deur die vuurtoring aangedui word, maar hulle het tevergeefs gesoek. Die skip het op ’n sandbank vasgeloop. Die agterkant het gebreek, en dit het met die hele bemanning aan boord gesink. Net voor dagbreek het die Richmond Packer, wat na dieselfde hawe op pad was, ook gestrand, maar net een persoon het omgekom, die kaptein se vrou.

Daar is talle voorbeelde in die skeepsvaartgeskiedenis waar rampe deur ligbakens verhoed kon geword het. “In die ou tyd het menige skip, nadat hy veilig oor die oseaan gestuur is, gestrand terwyl hy ’n hawe probeer binnevaar het”, sê die boek America’s Maritime Heritage. “Die gevaarlikste deel van ’n seereis was die laaste paar myle, wanneer ’n skip die land genader het en dit uiteindelik kon sien.”

Volgens die vuurtoringgeskiedkundige D. Alan Stevenson het die gemiddelde aantal skepe wat tussen 1793 en 1833 jaarliks aan die Britse kus gestrand het van 550 tot 800 toegeneem. Meer vuurtorings was nodig, asook beter ligte.

In party lande, waaronder Engeland en die Verenigde State, was seevaart selfs gevaarliker weens die berugte moon cussers (vervloekers van die maan), seerowers wat misleidende ligte opgestel het om skepe op die rotse te laat loop, waar hulle dit dan geplunder het. Oorlewendes is dikwels doodgemaak; die rowers wou geen ooggetuies hê nie. Maar wanneer die maan helder was, het hulle skelm set nie gewerk nie. Vandaar die naam moon cussers. Mettertyd het meer en beter vuurtorings egter gehelp om ’n einde aan hierdie rowers en moordenaars se bedrywighede te maak.

Die eerste bakens

Die vroegste vermelding van bakens is in die Iliad. “Met die ondergang van die son, begin die reeks bakenvure brand”, sê dit. Die boek Keepers of the Lights sê dat “die oorspronklike bakens bloot groot houtvure was, wat soms op klipstapels en later in groot ysterhokke gemaak is en wat met gereelde tussenposes uitgebrand het, met tragiese gevolge”.

Toe, omstreeks 300 v.G.J., is die Pharos van Aleksandrië, die wêreld se eerste ware vuurtoring op die Pharos-eiland, by die ingang tot die hawe van Aleksandrië, Egipte, opgerig. Dit was ’n indrukwekkende klipgebou wat tussen 100 en 120 meter hoog was (omtrent 40 verdiepings), en dus die hoogste vuurtoring wat ooit gebou is. Dit was een van die Sewe Wonders van die Wêreld en het ongeveer 1 600 jaar gestaan voordat dit, moontlik weens ’n aardbewing, omgeval het.

Die Romeine het ten minste 30 vuurtorings opgerig, van die Swart See af tot by die Atlantiese Oseaan. Maar toe die ryk tot ’n val gekom het, het handel afgeneem en vuurtorings is nie meer gebruik en in stand gehou nie. Daar is weer omstreeks 1100 met die oprigting van vuurtorings begin. ’n Beroemde vuurtoring van die nuwe era was die Lanterna van Genua, waarvan die vuurtoringwagter in 1449 Antonio Colombo was, die oom van die ontdekkingsreisiger Christophorus Columbus.

Die eerste vuurtoring wat in die oop see opgerig is, was ’n houtstruktuur wat in 1699 deur Henry Winstanley op die gevaarlike Eddystone Rocks naby Plymouth, Engeland, gebou is. Hy was trots op sy werk. Terwyl hy van sy vuurtoring af visgevang het, het Winstanley, volgens die dokumentêre video Guardians of the Night, gesê: “Styg, o see. Kom en stel my werk op die proef.” Eendag, in 1703, het die see gehoor gegee. Winstanley en sy vuurtoring het spoorloos verdwyn.

Die 92 meter hoë Vryheidstandbeeld wat in die New York-hawe ter herdenking van die vriendskap tussen die mense van die Verenigde State en Frankryk opgerig is, het ’n tyd lank ook as ’n navigasiehulp gedien. Drie vuurtoringwagters het 16 jaar lank om die beurt die vlamme in haar fakkel helder laat brand. “Uit haar bakenhand straal ’n verwelkoming aan die hele wêreld”, sê ’n sonnet op haar voetstuk.

Van vlamme na xenonflitsligte

Steenkool, kerse—selfs kandelare—en olie het uiteindelik hout vervang as die verskaffer van lig in vuurtorings. Pogings is aangewend om weerkaatsers te gebruik om die lig te fokus, maar die rook en roet van die vuur het dit laat swart word. In 1782 het die Switserse wetenskaplike Aimé Argand egter ’n olielamp ontwerp wat die lug deur die middel van ’n silindriese lamppit opgestuur het en deur ’n lampglas uit. Aangesien die weerkaatsers nou skoon sou bly, het paraboolvormige weerkaatsers (wat soos die spieëls in ’n motor se kopligte gevorm is) gewild geword vir gebruik in vuurtorings. ’n Goeie weerkaatser het die lig ongeveer 350 keer versterk.

In 1815 is verdere vooruitgang gemaak toe die Franse fisikus Augustin-Jean Fresnel die effektiefste lens ontwerp het wat nog in vuurtorings gebruik is. Voor Fresnel se uitvindsel het die beste spieëlstelsels—wat Argand-lampe gebruik het en meer as 100 jaar lank gewild was—omtrent 20 000 kerskrag voortgebring.a Fresnel-lense het dit tot 80 000 versterk—omtrent dieselfde krag as ’n moderne motor se kopligte—en dit met net ’n brandende pit! In 1901 is hoogdrukolielampe uitgevind, en kort voor lank het Fresnel-eenhede tot eenmiljoen kerskrag uitgestraal. Omtrent dieselfde tyd is asetileengas in gebruik geneem wat ’n groot uitwerking op die vuurtoringtegnologie asook die outomatisering van vuurtorings gehad het, danksy die werk van Nils Gustaf Dalén van Swede. Dalén se outomatiese sonklep—’n skakelaar wat die vloei van asetileengas reguleer deur op sonlig te reageer—het hom die Nobelpryswenner vir Fisika in 1912 gemaak. Elektriese gloeilampe het in die twintigerjare gewild geword en is tot vandag toe nog die vernaamste verskaffer van lig. As ’n gloeilamp van net 250 watt met ’n Fresnel-lens verbind word, kan dit ’n paar honderdduisend kerskrag uitstraal. Deesdae kan die kragtigste vuurtoring ter wêreld, ’n vuurtoring in Frankryk, die naghemel met ’n verblindende ligstraal van 500 miljoen kerskrag verlig.

’n Onlangse uitvinding is die xenonflitslig. Dit straal ’n helder lig uit wat net miljoenstes van ’n sekonde duur. Aangesien die ligpuls so kort en intensief is, is dit opvallend teen ’n agtergrond van ander ligte.

Drywende vuurtorings

Drywende vuurtorings, oftewel ligskepe, is gebruik waar dit onprakties was om ’n toring te bou. Net soos torings het ligskepe ook ’n lang geskiedenis. Die eerste was ’n Romeinse galei wat in Julius Caesar se tyd in gebruik geneem is. Hoog teen die mas op het ’n ystervuurpan met gloeiende kole die naghemel verlig—en warm as laat val op die swetende liggame van die roeiers, slawe wat met kettings op hulle pos vasgemaak is.

Die eerste moderner ligskip is in 1732 in die monding van die Teems, naby Londen, in gebruik geneem. Daarna het die aantal ligskepe toegeneem. Die ligskip Ambrose het skepe jare lank gehelp om New York-hawe in of uit te vaar. Maar in die laaste jare is ligskepe deur outomatiese ligbakens en vuurtorings vervang—metaalstrukture wat soos drywende boortorings lyk.

Wanneer mis en storms ligte verberg

Selfs die kragtigste lig word moeilik gesien wanneer daar digte mis en swaar reën is—tye wanneer bakens die nodigste is! ’n Oplossing, hoewel feilbaar, is klank—’n baie harde en konstante klank. Om dié rede is baie vuurtorings met kragtige akoestiese toestelle toegerus, soos klokke, mishorings, sirenes en, ’n tyd lank, selfs kanonne! Trouens, party vuurtorings het tot in die sewentigerjare nog kanonne gebruik.

Klankgolwe word egter beïnvloed deur onbestendighede in die atmosfeer. Verskille in temperatuur en vogtigheid in die luglae bo die water kan ’n uitwerking op die klankgolwe hê, dit soms boontoe buig, soms ondertoe. Wat meer is, net soos ’n mens ’n klip op ’n dam kan laat spring, so kan ’n sterk klankgolf bo-oor ’n skip spring sonder om gehoor te word! Maar hoewel akoestiese seine hulle probleme het, kan hulle gewoonlik kilometers ver gehoor word.

Die einde van ’n era

Namate outomatisering ingetree het, het vuurtoringwagters oorbodig geraak. Navigasie met behulp van radar, radio, sonar en satelliete het nou selfs die vuurtoring vervang, en baie word nie meer gebruik nie. Maar ons kan net nie van hulle vergeet nie. Vir baie mense is vuurtorings ’n simbool van lig en hoop in ’n donker wêreld, en hulle besiel nog steeds fotograaf, kunstenaar en digter. In ’n poging om hierdie statige ou geboue te bewaar, is vuurtoringverenigings regoor die wêreld gestig.

Party vuurtorings bied nou unieke huisvesting aan besoekers wat gretig is om te ervaar hoe ’n vuurtoringwagter gelewe het, al is dit aansienlik makliker gemaak. Ander besoekers wil eenvoudig die afsondering geniet—om niks anders te hoor as die eensame geroep van die seemeeu en die gedreun van die branders nie. In sekere dele van die wêreld bied vuurtorings ook ’n uitstekende uitkykpunt om walvisse, voëls en robbe dop te hou. Die vuurtoringwagters in Aleksandrië en Christophorus Columbus se oom in Genua het heel moontlik ook hulle vrye tyd so deurgebring.

[Voetnoot]

a Dit is vervang deur die kandela. In die verlede was die internasionale kers, wat in kerskrag gemeet is, die sterkte van ’n ligstraal in ’n gegewe rigting in vergelyking met dié van ’n standaardkers.

[Venster op bladsy 21]

Twee moedige vroue

Die verhaal van vuurtorings sluit verslae van merkwaardige moed en toegewydheid in, wat dikwels deur vroue getoon is. Grace Darling (1815-42) het haar lewe gewaag om nege oorlewendes te red van ’n skip wat naby haar vader se vuurtoring by die Farne-eilande, langs die noordoostelike kus van Engeland, gestrand het. Op haar aandrang het sy en haar vader deur ’n onstuimige see na die wrak geroei, die oorlewendes in die roeibootjie gehelp, terug na die vuurtoring geroei en hulle versorg totdat hulp opgedaag het. ’n Gedenkteken is ter herinnering aan haar opgerig.

Abigail Burgess was die 17-jarige dogter van die vuurtoringwagter van die Matinicus Rock-vuurtoring, langs die kus van Maine in Noord-Amerika. Eendag in Januarie 1857 het haar vader die vuurtoring verlaat, maar ongure weer het hom vier weke lank verhinder om terug te keer. Abbie, soos sy genoem is, het die beheer oorgeneem. Sy het ook haar siek moeder versorg en na haar drie boeties en sussies gekyk, wat te jonk was om met vuurtoringpligte te help. Abbie skryf: “Hoewel ek soms verskriklik uitgeput was ná al my harde werk [dit was moeilik om lig te verskaf voor die koms van elektrisiteit], het die lig nie een keer opgehou brand nie. Met God se hulp kon ek al my gewone pligte sowel as my vader s’n nakom.” Die daaropvolgende winter moes Abbie weer beheer oorneem. Dié keer het sy en haar familie net een eier en een koppie mieliemeel per dag gehad om te eet. Maar die lig het nooit opgehou brand nie.

[Venster/Prent op bladsy 23]

Die Fresnel-lens

Die Fresnel-lens is eintlik ’n saamgestelde lens, of lenspaneel, met ’n lens in die middel wat deur gekromde glasprismas omring is. Fresnel-lenspanele kan saamgevoeg word om ’n glassilinder te vorm wat die ligbron heeltemal omring. Elke paneel konsentreer lig in ’n horisontale stralebundel. Meer panele beteken meer ligstrale, soos die speke van ’n wiel. Terwyl die silinder om die ligbron roteer, skiet die ligstrale oor die horison. Die aantal strale, die tussenposes tussen die strale en selfs die kleur daarvan is net ’n paar van die faktore wat elke vuurtoring ’n unieke, kenmerkende lig gee. Skepe het ’n lys van ligkodes sodat seevaarders elke vuurtoring op die roete kan identifiseer.

[Erkenning]

South Street Seaport Museum

[Prent op bladsy 23]

Peggy’s Cove, Nieu-Skotland, Kanada

[Prent op bladsy 23]

Vryheid-standbeeld, New York

[Prent op bladsy 23]

Weser-rivier, Duitsland

[Prent op bladsy 23]

Washington-staat, VSA

[Foto-erkenning op bladsy 20]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel