Ons beskou die wêreld
Boeke word gered
Miljoene der miljoene boeke word deur ouderdom, beskadiging of besoedeling verniel. In Duitsland alleen moes sowat 60 miljoen beskadigde boeke aan gebruik onttrek word, sê die koerant Leipziger Volkszeitung. Om die boeke met die hand te restoureer, is ’n uiters lang proses. “In die tyd wat dit neem om een boek met die hand te restoureer, word vier of vyf ander beskadig”, sê dr. W. Wächter, die tegniese direkteur van die Sentrum vir die Bewaring van Boeke, in Leipzig. Die sentrum lê hulle daarop toe om masjiene te ontwikkel wat boeke op groot skaal kan bewaar. Een daarvan is ’n masjien wat die suurgehalte van die papier verminder en wat 100 000 boeke per jaar in normale werksure kan behandel. Daar is ook ’n papiersplitsingmasjien wat die individuele bladsye sterker maak deur die voorkant van die agterkant te skei en dan ’n baie dun, ekstra sterk vel papier tussenin te sit. Dit kan 2 000 velle papier per dag versterk in vergelyking met die 100 tot 200 velle per dag as dit met die hand gedoen word—en dít teen ’n besparing van 94 persent per bladsy. Dit is nie net biblioteke en argiewe wat hulle boeke na die sentrum toe bring nie, maar ook privaat persone.
Tunieke vir pelgrims
Toeriste wat Katolieke heilige plekke in Italië besoek, word dikwels weggewys omdat hulle, veral gedurende die warm somermaande, met T-hemde en kortbroeke daar aankom. Nou kan hulle by party plekke ingaan wanneer hulle die “pelgrimstuniek” dra, ’n beige, knielengte jurk. Die unisekstuniek, wat in een grootte beskikbaar is, is alreeds in Venesië en Rome te koop. In Rome het dit die bykomende kenmerk van die pouslike wapenskild en die frase “Herdenkingsjaar 2000” daarop. Maar kan hierdie tunieke in alle Katolieke kerke gebruik word? Hoewel dit in die Venesiaanse Kurie aanvaar word, is sommige manlike toeriste toegang tot die St. Pieterskerk geweier selfs al het hulle die tuniek gekoop en gedra. “Die personeel van die Heilige Stoel is van oordeel dat die kledingstuk net vir vroue gepas is”, verduidelik die Italiaanse koerant Corriere della Sera. “Mans is weggewys—kaal bene is as ‘onbetaamlik’ beskou.”
Verhoudings met aangenome kinders
Ouers wat beplan om ’n kind aan te neem, idealiseer soms die verhouding met die kind—hulle dink dat hy altyd ’n liewe kind sal wees en dat dit maklik sal wees om probleme op te los en te verstaan. Maar dit is gewoonlik nie die geval nie, berig die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. Die sielkundige Heloísa Marton sê: “Ouers is oor die algemeen nie daarop voorbereid om konfliksituasies te hanteer nie.” Daar wag ook ’n verrassing op “egpare wat verwag dat die kind hulle ewig dankbaar sal wees”, sê professor Miriam Debieux Rosa, van die Universiteit van Sao Paulo. Sy wys daarop dat niemand deurentyd gelukkig is nie, en sê voorts: “Ouers skryf probleme dikwels toe aan die feit dat daar geen bloedverwantskap tussen hulle bestaan nie, wat nie waar is nie.” Sy sê die volgende oor hoe belangrik dit vir die ouers is om toegeneentheid en liefde aan die kind te betoon: “’n Vriendelike of professionele verhouding is nie genoeg nie.” ’n Emosionele verhouding met die kind is ook nodig.
Maklik bekombare skaapwol
Hoe kan skaapwol verkry word sonder die stres en snywonde wat met gewone skaapskeerdery gepaardgaan? In Australië word dit gedoen deur die skaap met ’n proteïen in te spuit wat normaalweg in die dier se bloedstroom voorkom. Die vlak van hierdie proteïen bly 24 uur lank verhoog en verswak die verbinding tussen die wolvesels en die vel. Die vlieswol val dan in een stuk af, en die wol begin weer groei. ’n Net word om elke dier gesit waarin die vlieswol binne ’n week sal afval. Hierdie proses verbeter die gehalte van die wol, en skape hoef nie ’n tweede keer geskeer te word nie. Dit help ook om luise en dermatitis te beperk sonder dat chemiese middels gebruik word, en dit is minder stresvol vir die skape. In Australië is daar ’n baie groot aanvraag na hierdie nuwe metode om wol te verwyder, berig The Sunday Times van Londen, maar dit sal dalk nie so goed werk in lande soos Brittanje nie, waar hulle die weer in ag moet neem wanneer daar geskeer word. ’n Skielike daling in temperatuur ná die proteïeninspuiting sal ’n trop skape half verkluim laat wanneer die wol afval, het ’n nywerheidswoordvoerder gesê.
Smeltende gletsers lewer nog verrassings op
Gletsers in die Alpe lewer voortdurend verrassings op namate hulle krimp weens temperature wat styg. In 1991 is die verysde oorblyfsels van ’n prehistoriese jagter op die grens tussen Oostenryk en Italië ontdek toe eeue oue ys daar gesmelt het. Gedurende Augustus 1998 moes die owerheid in noordelike Italië sekere dele van die berge tot verbode terrein verklaar sodat hulle ander vondste kon verwyder—oorblyfsels van soldate en lewendige handgranate en artilleriegranate. Dit alles dateer uit die Eerste Wêreldoorlog, toe hewige gevegte tussen Italiaanse en Oostenrykse troepe in die gebied plaasgevind het. Gedurende opruimingsoperasies “is alle inwoners, en veral toeriste en stappers, gewaarsku om uiters versigtig te wees” en om by die owerheid uit te vind of roetes veilig is, het die Italiaanse koerant Corriere della Sera gesê, omdat “die risiko van ontploffings altyd” bestaan. Baie van die materiaal is uiters gevaarlik en lei nog steeds daartoe dat mense wat daarop afkom, sterf of ernstige beserings opdoen.
Verdigte grond
Die gehalte van dertigmiljoen hektaar grond in Europa het “weens grondverdigting heeltemal verswak”, berig die tydskrif New Scientist. Navorsing wat deur die Kiel-universiteit in Duitsland gedoen is, toon dat swaar trekkers wat ses keer oor ’n stuk land gery het en ’n krag van vyf ton by elke wiel uitoefen, die aantal klein ongewerwelde diertjies soos spinagtiges en wurms op ’n diepte van ongeveer een meter met tot 80 persent verminder het. Hierdie klein diertjies help om die grond vrugbaar te hou; wanneer hulle dus vernietig word, word oeste ook kleiner. Plante se wortels kan nie deur verdigte ondergrondlae dring nie, en die plante groei dus moeilik in droë weer. Reën kan nie insypel nie; dit spoel eerder oor die oppervlak weg en verweer die bogrond. Die probleem word eintlik vererger wanneer die grond gereeld geploeg word, wat die verdigting al hoe dieper laat plaasvind. Die Duitse wetenskaplikes voer aan dat die skade aan die grond met een derde verminder kan word deur die bogrond net tot op ’n diepte van agt sentimeter om te ploeg.
Te veel boodskappe
“Die tegnologies gevorderde kommunikasiemiddele van vandag is besig om ’n nuwe gesondheidsrisiko by die werk te skep: stres weens boodskappe”, sê Computing Canada, ’n koerant oor die bestuur van inligtingstegnologie. In ’n onlangse opname oor kommunikasie by die werk, wat deur Pitney Bowes Inc. van Stamford, Connecticut, gedoen is, is daar gevind dat die gemiddelde kantoorwerker “’n geraamde 190 boodskappe per dag in ’n verskeidenheid vorme” stuur of ontvang, soos per stempos, telefoon, faks, roepradio, blieper en E-pos. “Wat dit beteken”, sê die koerant, “is dat ’n mens se werk nou in sekere mate beïnvloed word deur die feit dat jy boodskappe moet beantwoord, wat daartoe lei dat jy al hoe meer gespanne en oorweldig voel.” Die meeste werkers wil graag meer direkte kontak hê, hetsy van aangesig tot aangesig of oor die telefoon, het die studie bevind. Navorsers het aanbeveel dat “alle werknemers van ’n gids oor die aanvaarbare gebruik van hulle kommunikasiemiddele voorsien moet word—asook hoe om dit reg te gebruik” en sodoende die aantal boodskappe te beperk.
Meer inligting oor die dwaasheid van die rookgewoonte
’n Onlangse studie in Nederland sê dat “die risiko om demensie en Alzheimer se siekte te kry meer as verdubbel as ’n mens rook”, berig die International Herald Tribune. Die studie wat onder 6 870 mense ouer as 55 jaar gedoen is, het getoon dat die risiko om Alzheimer se siekte te kry vir rokers 2,3 keer groter is as vir dié wat nog nooit gerook het nie. Die risiko vir diegene wat opgehou rook het, was net effens groter as vir mense wat nog nooit gerook het nie. Alzheimer se siekte, wat die geleidelike vernietiging van breinselle behels, is “die algemeenste vorm van demensie”.
Dit kan nie ontsyfer word nie
“’n Nobelprys wag moontlik op die persoon wat kan ontsyfer wat die Indus-mense geskryf het”, sê die tydskrif India Today. “Saam met die Etruskiese skrif van Italië is dit die laaste skrif van die Bronstydperk wat nog ontsyfer moet word.” Een rede hiervoor is dat daar nog geen tweetalige artefak ontdek is wat kan help om die kode te ontsyfer nie. Egiptiese hiërogliewe is ontsyfer nadat Napoleon se manne die Rosetta-steen gevind het, met ’n inskripsie wat in hiërogliewe, Egiptiese volkskrif en Grieks geskryf is. Die Sumeriese spykerskrif is ontsyfer toe Henry Rawlinson die Behistun-inskripsie ontdek het, wat die leidrade bevat het wat hy nodig gehad het om dit te ontsyfer. Tot dusver is daar maar min oor die skrif van die Indus-mense vasgestel behalwe dat hulle van regs na links geskryf het—wat deur die helling van die skrif aangedui word—en dat die skrif op lettergrepe gebaseer kan wees. Die skrif, wat hoofsaaklik uit gliewe bestaan, het ongeveer 419 simbole.