Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 2/22 bl. 24-25
  • Smaragde—baie kosbaar onder die edelstene

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Smaragde—baie kosbaar onder die edelstene
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van antieke tye af gemyn
  • Streng veiligheidsmaatreëls ondoeltreffend
  • Kopers wees op julle hoede!
  • Skattejag met ’n verskil
    Ontwaak!—1993
  • Daardie pragtige kristalle van Kofoe
    Ontwaak!—1990
  • Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Colombia
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Lapis lazuli—die blou edelsteen van die Andes
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 2/22 bl. 24-25

Smaragde—baie kosbaar onder die edelstene

HULLE is gesog weens hulle skitterende groen kleur, en smaragde het die kroonjuwele en die trone van party van die oudste vorstehuise in die geskiedenis versier. Vandag, soos in die verlede, is hulle ’n simbool van rykdom en mag.

Wêreldwyd word smaragde gewoonlik kosbaarder as diamante beskou. Oor die algemeen word net robyne waardevoller geag. Maar die geologiese tegnikus Terri Ottaway sê dat “topgehalte smaragde karaat vir karaat die duurste edelstene in die wêreld is”. Na gelang van die gehalte daarvan, kan ’n smarag wat in jou handpalm pas en drie gram weeg tot sesmiljoen rand werd wees!

Smaragde is deels so waardevol omdat hulle so skaars is. Dit is ’n soort berilkristal. Smaragde word gevorm uit ’n kombinasie van die gewone elemente aluminium en silikon met die seldsame element berillium. Klein hoeveelhede spoorelemente, van óf chroom óf vanadium, gee smaragde hulle pragtige groen kleur.

Van antieke tye af gemyn

Duisende jare lank het byna die hele wêreld se voorraad smaragde van Egipte af gekom. Die beroemde Kleopatra-myne, wat ongeveer 700 kilometer suidoos van Kaïro geleë is, is eers ywerig deur die Egiptenare gemyn en later deur die Romeine en die Turke. Wat ’n veeleisende onderneming moes dit tog gewees het! Die versengende woestynson en die droë stof en vuilheid binne-in die ondergrondse myne moes dit baie onaangenaam vir die werkers gemaak het. Daarbenewens moes alle voorrade per karavaan van die Nyl af gebring word, minstens ’n week se reis. Ondanks hierdie geweldige struikelblokke het die myne van ongeveer 330 v.G.J. af tot 1237 G.J. byna onafgebroke gewerk.

In antieke tye het mense smaragde begeer vir sowel hulle skoonheid as hulle veronderstelde magiese, genesende kragte. Smaragde is aanbeveel as ’n kuur vir baie soorte siektes. Daar is ook geglo dat dit vrugbaarheid en begeerte in vroue kon beïnvloed. Dit is te verstane dat daar lewendige en winsgewende handelsverhoudinge tussen Egipte en ander nasies ontstaan het so ver as Indië.

Hierdie monopolie het geheers totdat die Spaanse veroweraars in die vroeë deel van die 16de eeu in Suid-Amerika aangekom het. Kort daarna het Jiménez de Quesada die land verower wat nou as Colombia bekend staan. ’n Paar jaar later, in 1558, het die Spanjaarde ’n myn by Muzo gevind. Die smaragde wat daar gevind is, was asemrowend wat gehalte sowel as grootte betref het.

Die Spanjaarde het onmiddellik beheer van die myne oorgeneem en die plaaslike bevolking as slawe gebruik om die uitputtende, gevaarlike werk te doen om die edelstene uit te grawe. Binne ’n paar jaar het daar as ’t ware ’n vloed van groot, amper foutvrye smaragde Europa bereik, waarvan baie in die hande van die Ottomaanse Turke, die Persiese Sjahs en selfs die vorstehuis van Indië gekom het. Hierdie stene is geslyp en gegraveer, en dit was die begin van talle kosbare juweelversamelings.

Streng veiligheidsmaatreëls ondoeltreffend

Vandag haal die wêreld se armste mense hierdie edelstene met groot moeite uit ’n harde aarde, wat die joernalis Fred Ward beweeg het om te sê: “Dit is een van die smaraghandel se pynlikste ironieë dat die meeste mense wat die stene vind nie eers daaraan kan dink dat hulle genoeg geld kan bymekaarmaak om een te dra nie.” Omdat die versoeking vir werkers om ’n steen weg te steek en uit te smokkel amper onweerstaanbaar is, het die meeste myne interne veiligheidspolisie. Wagte met masjiengewere hou die werkers stip dop terwyl hulle moeisaam grawe en krap.

Maar ondanks hierdie maatreëls beweer kenners dat ’n groot deel van die wêreldwye smaraghandel steeds onwettig is. “Die meeste smaragde word sonder dokumentasie verhandel, onbelas, ongesiens, en dit verdwyn in ’n wêreldmark wat die handel swart noem. Amper elke topgehalte smarag word op die een of ander tydstip in sy geskiedenis gesmokkel”, sê die tydskrif National Geographic.

Kopers wees op julle hoede!

As gevolg van die manier waarop smaragkristalle groei, het hulle baie natuurlike, interne gebreke wat insluitsels genoem word. Wanneer hierdie gebreke die buitekant van ’n steen bereik, lyk dit soos krakies, wat die steen se afwerking skend en die waarde daarvan baie laat afneem. Eeue lank al verberg handelaars hierdie oppervlakgebreke deur die skoongemaakte en geslypte stene in warm olie, soos sederhout- of palmolie, te week. Die verhitting dwing lug uit die krakies in die stene en laat die olie insypel, wat die gebreke doeltreffend verberg. Die behandelde edelstene word dan as topgehalte stene verkoop. Maar binne ’n jaar of twee verdamp die olie en word die gebreke sigbaar, sodat kopers dronkgeslaan en baie teleurgesteld voel.

Die voornemende koper moet ook daarvan bewus wees dat namaaksels bestaan. Teen die Middeleeue was dit al ’n gevestigde gebruik om groen glas te slyp en te sny om smaragde na te maak. Deur die jare heen is talle niksvermoedende mense bedrieg om te glo dat hulle ’n egte steen het terwyl hulle in werklikheid ’n namaaksel besit het. National Geographic sê: “Professionele mense sowel as die publiek word gekul”. Maar daar is toetse beskikbaar wat ’n gerespekteerde steenkundige in staat stel om ’n smarag se egtheid te waarborg.

Hoewel die mens se hebsug smaragde se beeld ietwat geskend het, is hulle nog steeds pragtig, skaars en waardevol. Hulle bly ’n kosbare wonder van God se skepping.

[Foto-erkennings op bladsy 25]

Alle smaragde: S. R. Perren Gem and Gold Room, Royal Ontario Museum; Ancient Egypt Gallery, Royal Ontario Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel