Costa Rica se raaiselagtige klipsfere
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN COSTA RICA
REEDS 16 eeue gelede het die inboorlinge van suidwestelike Costa Rica al ’n verskeidenheid soliede klipsfere gemaak, waarvan party net tien sentimeter in deursnee was en ander tot 2,4 meter. Hulle is so volmaak gevorm dat ’n mens nie anders kan nie as om te wonder: ‘Hoe is hulle gemaak? Waarvoor is hulle gebruik?’
Rotssfere is al in ’n hele paar ander lande gevind, met inbegrip van Chili, Mexiko en die Verenigde State. Maar Costa Rica se granietsfere is uniek. Hulle is van uitstekende gehalte en sommige is volmaakte sfere met gladde oppervlakke. Hulle is al in groepe van 20 of meer gevind. Wat veral interessant is, is die feit dat baie van dié wat gevind is in geometriese patrone gerangskik was, soos driehoeke, reghoeke en reguit lyne. Hierdie patrone wys dikwels in die rigting van die aarde se magnetiese noorde.
’n Hele paar sfere is in die Diquisrivier-delta gevind. Ander is naby die suidelike stede Palmar Sur, Buenos Aires en Golfito gevind, asook in die provinsie Guanacaste in die noorde en in die sentrale vallei. Etlike artefakte is saam met die sfere gevind wat waardevolle leidrade verskaf het om vas te stel hoe oud hulle is. Argeoloë skat dat sommige van hierdie raaiselagtige klippe uit 400 G.J. dateer. Die meeste is tussen 800 en 1200 G.J. gemaak. Sommige is gevind naby plekke wat huise kon gewees het of naby grafte. Deur die jare heen is van die sfere vernietig deur mense wat gehoop het om skatte te vind wat daarin weggesteek is. Die Nasionale Museum van Costa Rica het nietemin ’n katalogus van sowat 130 bestaande klipsfere. Maar daar is nog baie wat nie in hierdie katalogus verskyn nie. Dit was moeilik om hierdie antieke sfere te tel omdat baie van hulle oorspronklike plekke af verwyder is en as ornamente na privaat plekke, soos tuine en kerke, geneem is. Baie is ongetwyfeld nog nie eens gevind nie—sommiges is moontlik ondergronds, ander in digte oerwoude.
Hoe is hulle gemaak? Dit is ’n raaisel. Dit lyk asof die een of ander meganiese prosedure nodig was om sulke presiesheid te kon bereik. Te oordeel na al die standbeelde van daardie tydperk weet ons dat die sfeermakers bedrewe beeldhouers was. Daarbenewens lewer goue artefakte wat uit 800 G.J. dateer bewys van hulle ondervinding om met hoë temperature te werk. Een teorie is dat die sfere gevorm is deur dit moontlik baie warm te maak en daarna af te koel om die buitenste rotslae te verwyder. Die werk is moontlik afgerond deur die sfere met sand of leer te poets.
Een wetenskaplike het verduidelik dat die groter sfere “die produk van die beste vakmanne was en dat [die sfere] so na aan volmaaktheid is dat geen foute gekry is toe hulle deursnee met ’n maatband en skietlood gemeet is nie”. Hierdie presiesheid dui op wiskundige vaardigheid, gevorderde kennis van steensnywerk en die gebruik van gereedskap deur die inboorlinge. Maar aangesien hierdie mense blykbaar nie ’n geskrewe taal gehad het nie, is daar geen verslae van presies hoe hulle die sfere gemaak het nie.
Die meeste van hierdie sfere is van granietagtige rots gemaak. Die naaste bekende granietgroef was bo in die berge ongeveer 40 tot 50 kilometer van die Diquisrivier-delta af. Hoe het die beeldhouers sulke swaar rotse verskuif? As die sfere by die steengroef gemaak is, sou die beeldhouers dit baie versigtig na onder moes neem. Kan jy jou voorstel watter uitdaging dit moes wees om iets wat so swaar is so ver sonder moderne toerusting te verskuif? Presies hoe swaar is die sfere? Party weeg meer as 16 ton!
As die graniet uitgebreek en verskuif is voordat dit gevorm is, sou die 2,7 meter hoë blok wat nodig was om ’n bal van 2,4 meter in deursnee te maak meer as 24 ton weeg! Die inboorlinge sou waarskynlik ’n breë, gelyk pad deur digte oerwoud moes kap om vervoer moontlik te maak. Dit wil gedoen wees! Ander sfere is van skulpkalksteen gemaak, ’n stof soortgelyk aan kalksteen, wat op die strande naby die mond van die Diquisrivier voorkom. Dit is dalk ’n aanduiding dat die klip ongeveer 50 kilometer met ’n vlot stroomop vervoer is. ’n Paar sfere is op Caño-eiland gevind, ongeveer 20 kilometer van die Pasifiese kus af.
Niemand kan met sekerheid sê wat die oorspronklike doel van hierdie sfere was nie. Dit kon ’n teken van rang of vernaamheid vir ’n stamhoof of ’n dorp gewees het. Dit is ook moontlik dat dit godsdienstige of seremoniële simbole was. Toekomstige argeologiese studies sal dalk eendag die raaisel van Costa Rica se klipsfere oplos.
[Kaart op bladsy 22, 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Costa Rica
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 23]
Lokomotief agter sfeer ’n aanduiding van grootte
[Erkenning]
Met vergunning van: National Museum of Costa Rica
[Prente op bladsy 24]
Sfere op perseel van Nasionale Museum van Costa Rica
Grootste sfeer wat nog gevind is, met ’n deursnee van 2,6 meter
[Erkenning]
Met vergunning van die Nasionale Museum van Costa Rica