Jou brein—’n ingewikkelde wonder
“Die mensebrein laat ons met die uiters moeilike raaisel: hoe kan ’n weefselmassa wat halfvloeibaar soos ’n rou eier is, verantwoordelik wees vir jou ‘verstand’, jou gedagtes, jou persoonlikheid, jou herinneringe en gevoelens en selfs jou bewustheid?”—Professor Susan A. Greenfield, The Human Mind Explained.
JOU brein reguleer die werking van jou liggaam. Dit help jou om nuwe begrippe te leer, selfs nuwe tale, en dit bewaar en herroep die herinneringe van jou lewe. Tog erken die neurobioloog James Bower: “Ons weet nie werklik watter soort masjien die brein is nie.” Die neurowetenskaplike Richard F. Thompson stem saam: “Daar is nog baie meer om te leer as wat ons nou weet.” Die belangstelling in die ontrafeling van die brein se geheime is so groot dat die Amerikaanse Kongres die negentigerjare die Dekade van die Brein verklaar het.
’n Kykie in jou kop
Die geplooide lobbe van die serebrale korteks, of die brein se buitenste laag, is die opvallendste kenmerk van die brein. (Sien die diagram op bladsy 4 en die venster op bladsy 8.) Hierdie laag pienkgrys stof, wat ’n paar sentimeter dik en vol windings is, bevat ongeveer 75 persent van die brein se 10 miljard tot 100 miljard neurone (senuselle). Maar party wetenskaplikes sê dat selfs hierdie groot hoeveelheid nie verklaar waarom die brein so ingewikkeld is nie.
Baie neurone het ’n lang wortelagtige struktuur wat ’n akson genoem word. Die ander vesels wat van die neuron uitsprei, is baie klein dendriete, wat soos die takke en lote lyk van ’n boom wat uitloop. Dit gee ’n tipiese neuron duisende verbindings met ander neurone. Die neurone raak in werklikheid nooit aan mekaar nie. In die gaping tussen hulle, wat die sinaps genoem word, vloei baie klein hoeveelhede chemiese stowwe, wat verder tot die ingewikkeldheid van die hele struktuur bydra.
“Die aantal moontlike kombinasies van sinapsverbindings” in jou brein is “groter as al die atoomdeeltjies waaruit die bekende heelal bestaan”, skat een deskundige.
Die korteks wat vol neurone is, is miskien die bekendste deel van die brein, maar wat dan van die streke onder die korteks? Jou corpus callosum voorsien byvoorbeeld die noodsaaklike verbinding tussen die linker- en regterbreinhemisfere. Naby hieraan is jou talamus (van die Grieks vir binnekamer), waardeur die meeste inligting beweeg wat jou brein ontvang; die verwante hipotalamus (Grieks vir onder die binnekamer), wat help om jou bloeddruk en liggaamstemperatuur te reguleer en ’n klein verlenging wat die pituïtêre klier genoem word. Hierdie hoofklier beheer jou endokriene stelsel deur chemiese stowwe af te skei wat hormone genoem word en beïnvloed wat deur al die ander kliere van die liggaam afgeskei word. Dan is daar die pons, wat inligting verwerk aangaande die bewegings wat jy maak, asook die medulla, wat jou asemhaling, bloedsomloop, hartklop en spysvertering beheer. Hulle doen al hierdie dinge sonder dat jy eers weet dat hulle daar is!
Hoe werk die brein as dit soveel verskillende dele het? En hoe kan jy jou brein ten beste benut? Die volgende twee artikels gee ’n paar moontlike antwoorde.
[Venster op bladsy 4]
Waarom ons nie ’n groter kop nodig het nie
“As die mensebrein se serebrale korteks glad was en nie vol rimpels nie, sou die brein omtrent dieselfde grootte as ’n basketbal moes wees en nie ongeveer die grootte van twee gebalde vuiste wat langs mekaar gehou word nie.”—Professor Susan A. Greenfield
[Diagram op bladsy 4, 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PARTY DELE VAN DIE BREIN
Werklike grootte geïllustreer
Serebrale korteks
Die betreklik dun buitenste laag van elke breinhemisfeer
Serebrum
Die groot geronde deel van die brein. Dit beslaan die grootste deel van die skedel
Visuele korteks
Serebellum
Letterlik “klein brein”. ’n Deel wat agter by die basis van die brein gevind word
Pons
Medulla
DIE SENTRALE KERN
Corpus callosum
’n Bondel senuvesels wat die breinhemisfere verbind
Talamus
Hipotalamus
Beheer sekere onwillekeurige liggaamsfunksies
Pituïtêre klier
[Erkenning]
Gebaseer op The Human Mind Explained, deur professor Susan A. Greenfield, 1996