Van ons lesers
Wreedheid teenoor diere Ek skryf om vir julle te sê hoe goed julle julle van julle taak gekwyt het in die artikel “Die Bybelse beskouing: Wreedheid teenoor diere—Is dit verkeerd?” (8 November 1998). Ek dink dit is prysenswaardig dat julle getoon het dat God nie wreedheid teenoor diere goedkeur nie, veral nie deur diegene wat sê dat hulle Christene is nie.
J. L. C., Verenigde State
Jongmense sonder ouers Ek is opreg dankbaar vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek sonder my ouers leef?” (22 November 1998). Ek is nou 39 jaar oud. Maar toe ek 11 was, is my ma oorlede en het my pa die huis verlaat. Tot nou toe kon ek nog nooit mense kry om te verstaan watter ellendige lewe ek en my broers gehad het nie. Maar nou voel ek dat ander ons verstaan. Dankie.
K. Y., Japan
My pa is oorlede toe ek net nege maande oud was en my ma voor ek 12 jaar oud was. Julle artikel was baie vertroostend en het getoon hoe weeskinders werklik voel. Hoe goed is dit tog om te weet dat Jehovah ons afgestorwe dierbares weer sal opwek!
M. S. S., Brasilië
Ek is 40 jaar oud en het die artikel twee keer gelees. Ek het van die begin tot die einde trane in my oë gehad, aangesien ek ’n weeskind geword het toe ek twee jaar oud was. Tot nou toe kon ek nie na ’n foto van my ma en pa kyk sonder om te huil nie. Dankie dat julle sulke artikels skryf!
J. C. V., Frankryk
My ouers lewe, maar ek is manies-depressief (bipolêr) en stel belang in enige artikel wat bespreek hoe ’n mens deur moeilike tye kan kom. Ek wil net vir julle sê dat ek baie van die werklike ondervindinge en Bybelse raad in die “Jongmense vra . . . ”-artikels hou.
S. H., Kanada
Houtwerk Ek lees hierdie tydskrif al dekades lank, en dit lyk of die inhoud, skryfstyl en onderwerpkeuse voortdurend verbeter. Ek wil egter graag kommentaar lewer oor die artikel “’n Kykie na die eeue oue prag van hout” (8 November 1998). Waarsku asseblief lesers wat dalk wil probeer om houtwerk te doen dat die dissel ’n uiters gevaarlike stuk gereedskap is. Toe ek in die twintigerjare grootgeword het, is dit nog gebruik en het dit algemeen as ’n voetdissel bekend gestaan. Soos julle prent wys, word die hout tussen die voete vasgehou en is die gereedskapstuk vlymskerp. Maar dit is ook ’n voetduiwel genoem omdat mense hulle voete so dikwels daarmee beseer het. Ek dink dit is te gevaarlik vir iemand wat nie opgelei is om dit te gebruik nie.
W. G., Verenigde State
Ons waardeer hierdie woordjie van waarskuwing.—RED.
Taktvolle koningin Julle fassinerende artikel oor Catherine Parr (“’n Taktvolle koningin wat ’n slinkse biskop uitoorlê het”, 8 November 1998) het my aan die Bybelverslag van koningin Ester herinner. Hoe verstandig het hierdie vroue tog opgetree! Hoewel ek nie een van Jehovah se Getuies is nie, lees ek al die nommers van die Ontwaak! Ek wonder dikwels waarom ander nie julle lektuur waardeer soos ek nie.
M. D. S. F., Brasilië
Ek het die geskiedkundige verslag oor Hendrik VIII en sy vrou Catherine Parr baie interessant gevind. Ek wil julle graag daarmee gelukwens. Die artikel was goed nagevors, bondig en duidelik.
C. G., Italië
Die manier waarop die artikel geskryf is, het ons laat voel asof ons elke oomblik saam met koningin Catherine deurgemaak het. Dankie dat julle sulke artikels publiseer sodat dié van ons wat aan hierdie kant van die wêreld woon verafgeleë kulture kan leer ken.
L. G. en L. G., Venezuela