Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 9 bl. 128-163
  • Wie gaan oor die wêreld heers?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie gaan oor die wêreld heers?
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VIER DIERE KOM UIT DIE SEE
  • SO WREED SOOS ’N LEEU, SO VINNIG SOOS ’N AREND
  • SO GULSIG SOOS ’N BEER
  • SO VINNIG SOOS ’N GEVLEUELDE LUIPERD!
  • ’N SKRIKWEKKENDE DIER WAT ANDERS IS
  • ’N HORINKIE KRY DIE OORHAND
  • DIE HORINKIE STAAN GOD EN SY HEILIGES TEË
  • DIE OUE VAN DAE LEWER REGSPRAAK
  • BLYWENDE HEERSKAPPY OP HANDE!
  • Deel 5—Griekeland—die vyfde groot wêreldmoondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wie kan teen die Vors van die vorste staande bly?
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Gee ag op God se profetiese woord vir ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Die opkoms en ondergang van ’n ontsaglike beeld
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 9 bl. 128-163

Hoofstuk nege

Wie gaan oor die wêreld heers?

1-3. Beskryf die droomgesig en visioene wat Daniël gedurende die eerste jaar van Belsasar se heerskappy gehad het.

DANIËL se aangrypende profesie neem ons nou terug na die eerste jaar van die Babiloniese koning Belsasar. Daniël is al lank ’n banneling in Babilon, maar hy het nog nooit gewankel in sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah nie. Die getroue profeet is nou in sy sewentigerjare en sien “’n droomgesig . . . en gesigte van sy hoof op sy bed”. En hoe bang maak hierdie visioene hom tog!—Daniël 7:1, 15.

2 “Kyk”, roep Daniël uit. “Die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander.” Hoe uitsonderlik is hierdie diere tog! Die eerste een is ’n gevleuelde leeu, en die tweede lyk soos ’n beer. Dan kom ’n luiperd met vier vlerke en vier koppe! Die buitengewone sterk vierde dier het groot ystertande en tien horings. Tussen sy tien horings het ’n “horinkie” opgekom wat “oë soos mens-oë” het en “’n mond wat groot dinge spreek”.—Daniël 7:2-8.

3 Daniël sien vervolgens visioene wat in die hemel plaasvind. Die Oue van dae sit op ’n glorieryke troon as Regter in die hemelse Hof. ‘Daar is duisend maal duisende wat hom dien, en tienduisend maal tienduisende wat voor hom staan.’ Hy veroordeel die diere, neem die heerskappy van hulle af weg en vernietig die vierde dier. Ewigdurende heerskappy oor “al die volke en nasies en tale” word aan iemand “soos die Seun van ’n mens” gegee.—Daniël 7:9-14.

4. (a) By wie het Daniël betroubare inligting gesoek? (b) Waarom is wat Daniël daardie nag gesien en gehoor het vir ons van belang?

4 “Die gees van my,” sê Daniël, “is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.” Daarom het hy ’n engel “sekerheid gevra oor dit alles”. Die engel gee dan ook vir hom “die uitlegging van die dinge” (Daniël 7:15-28). Wat Daniël daardie nag gesien en gehoor het, is vir ons van groot belang, want dit het ’n oorsig gegee van toekomstige wêreldgebeure wat tot in ons dag sou plaasvind, wanneer die heerskappy oor al die “volke en nasies en tale” aan “Een . . . soos die Seun van ’n mens” gegee word. Met behulp van God se Woord en gees kan ons ook die betekenis van hierdie profetiese visioene verstaan.a

VIER DIERE KOM UIT DIE SEE

5. Wat stel die onstuimige see voor?

5 “Vier groot diere het uit die see opgeklim”, het Daniël gesê (Daniël 7:3). Wat is deur die onstuimige see voorgestel? Jare later het die apostel Johannes ’n wilde dier met sewe koppe uit die “see” sien kom. Daardie see het “volke en skares en nasies en tale” afgebeeld—die groot deel van die mensdom wat vervreemd is van God. Die see is dus ’n gepaste simbool van die mensemassa wat van God vervreemd is.—Openbaring 13:1, 2; 17:15; Jesaja 57:20.

6. Wat beeld die vier diere af?

6 “Hierdie groot diere wat vier is”, het God se engel gesê, “vier konings sal uit die aarde opstaan” (Daniël 7:17). Die engel het die vier diere wat Daniël gesien het duidelik as “vier konings” geïdentifiseer. Gevolglik beeld hierdie diere wêreldmoondhede af. Maar watter wêreldmoondhede?

7. (a) Wat sê party Bybelverklaarders oor Daniël se droomgesig van die vier diere en koning Nebukadnesar se droom van ’n ontsaglike beeld? (b) Wat beeld elkeen van die vier metaaldele van die beeld af?

7 Bybelverklaarders koppel dikwels Daniël se droomgesig van die vier diere met Nebukadnesar se droom van ’n ontsaglike beeld. The Expositor’s Bible Commentary sê byvoorbeeld: “Hoofstuk 7 [van Daniël] is ’n parallel van hoofstuk 2.” The Wycliffe Bible Commentary sê: “Daar word algemeen aanvaar dat die opeenvolging van vier Heidense ryke . . . hier [in Daniël hoofstuk 7] dieselfde is as dié wat in [Daniël] hoofstuk 2 bespreek word.” Die vier wêreldmoondhede wat deur die vier metale van Nebukadnesar se droom afgebeeld word, was die Babiloniese Ryk (goue kop), Medo-Persië (silwer bors en arms), Griekeland (koper buik en lendene) en die Romeinse Ryk (yster bene) (Daniël 2:32, 33).b Kom ons kyk hoe hierdie koninkryke ooreenstem met die vier groot diere wat Daniël gesien het.

SO WREED SOOS ’N LEEU, SO VINNIG SOOS ’N AREND

8. (a) Hoe het Daniël die eerste dier beskryf? (b) Watter ryk het die eerste dier afgebeeld, en hoe het dit soos ’n leeu opgetree?

8 Hoe uitsonderlik was die diere wat Daniël gesien het tog! Hy het een soos volg beskryf: “Die eerste was soos ’n leeu, en hy het vlerke van ’n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos ’n mens op twee voete neergesit is en daaraan ’n mensehart gegee is” (Daniël 7:4). Hierdie dier het dieselfde heerskappy afgebeeld as wat deur die ontsaglike beeld se kop van goud voorgestel is, die Babiloniese Wêreldmoondheid (607-539 v.G.J.). Soos ’n roofsugtige “leeu” het Babilon nasies gulsig verslind, onder andere God se volk (Jeremia 4:5-7; 50:17). Asof met die vlerke van ’n arend het hierdie “leeu” in ’n aggressiewe veroweringstog voortgesnel.—Klaagliedere 4:19; Habakuk 1:6-8.

9. Watter veranderinge het die leeuagtige dier ondergaan, en watter uitwerking het dit op hom gehad?

9 Naderhand is die unieke, gevleuelde leeu se vlerke “uitgeruk”. Teen die einde van koning Belsasar se heerskappy het Babilon die spoed van sy verowering en sy leeuagtige oorheersing van die nasies verloor. Dit was niks vinniger as ’n mens op twee voete nie. Dit het “’n mensehart” gekry en swak geword. Sonder “’n hart . . . soos ’n leeu se hart”, kon Babilon hom nie meer soos ’n koning “onder die diere van die woud” gedra nie. (Vergelyk 2 Samuel 17:10; Miga 5:7.) ’n Ander groot dier het hom oorweldig.

SO GULSIG SOOS ’N BEER

10. Watter lyn van heersers het die “beer” voorgestel?

10 “Kyk”, het Daniël gesê, “’n ander dier, ’n tweede, het gelyk soos ’n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis” (Daniël 7:5). Die koning wat deur die “beer” voorgestel is, is dieselfde as die een wat deur die silwer bors en arms van die groot beeld afgebeeld is—die lyn van Medo-Persiese heersers (539-331 v.G.J.) wat met Darius die Meder en Kores die Grote begin het en met Darius III geëindig het.

11. Wat het dit beteken dat die simboliese beer aan die een kant opgerig is en dat hy drie ribbes in sy mond het?

11 Die simboliese beer was “aan die een kant opgerig”, moontlik om hom gereed te maak om nasies aan te val en te onderwerp en sodoende wêreldmag te behou. Of dalk moes hierdie liggaamshouding toon dat die Persiese lyn van heersers die oorhand sou kry oor die enkele Mediese koning, Darius. Die drie ribbes tussen die beer se tande het moontlik die drie rigtings aangedui waarin hy sy verowerings behaal het. Die Medo-Persiese “beer” het na die noorde gegaan en Babilon in 539 v.G.J. ingeneem. Daarna het hy in ’n westelike rigting deur Klein-Asië tot in Trasië gegaan. Laastens het die “beer” na die suide gegaan en Egipte verower. Aangesien die getal drie ook soms intensiteit voorstel, kan die drie ribbes ook die simboliese beer se drang na verowering beklemtoon.

12. Wat was die resultaat toe die simboliese beer gehoor gegee het aan die opdrag: “Staan op, eet baie vleis”?

12 Die “beer” het nasies aangeval omdat daar vir hom gesê is: “Staan op, eet baie vleis.” Deur Babilon volgens God se wil te verslind, was Medo-Persië in ’n posisie om ’n waardevolle diens ten behoewe van Jehovah se volk te verrig. En hulle het ook! (Sien “’n Verdraagsame heerser”, op bladsy 149.) Deur middel van Kores die Grote, Darius I (Darius die Grote) en Artasasta het Medo-Persië Babilon se Joodse ballinge vrygelaat en hul-le gehelp om Jehovah se tempel te herbou en Jerusalem se mure te herstel. Mettertyd het Medo-Persië oor 127 provinsies geheers, en ko-ningin Ester se man, Ahasveros (Xerxes I), ‘het van Indië af tot by Kus regeer’ (Ester 1:1). Maar die opkoms van ’n ander dier was voor die deur.

SO VINNIG SOOS ’N GEVLEUELDE LUIPERD!

13. (a) Wat het die derde dier voorgestel? (b) Wat kan gesê word van die spoed van die derde dier en die gebied wat hy beset het?

13 Die derde dier was “soos ’n luiperd, en dit het vier vlerke van ’n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee” (Daniël 7:6). Soos sy ekwivalent—die koper buik en lendene van Nebukadnesar se beeld in die droom—het hierdie luiperd met vier vlerke en vier koppe die Masedoniese, of Griekse, lyn van heersers voorgestel wat met Aleksander die Grote begin het. Aleksander het met die ratsheid en spoed van ’n luiperd deur Klein-Asië getrek, suid na Egipte en tot by die westelike grens van Indië gegaan. (VergelykHabakuk 1:8.) Sy gebied was groter as dié van die “beer”, want dit het Masedonië, Griekeland en die Persiese Ryk ingesluit.—Sien “’n Jong koning verower die wêreld”, op bladsy 153.

14. Hoe het die “luiperd” vier koppe gekry?

14 Die “luiperd” het vier koppe gekry nadat Aleksander in 323 v.G.J. gesterf het. Vier van sy generaals het hom uiteindelik in verskillende dele van sy ryk opgevolg. Seleukos het gesag gevoer oor Mesopotamië en Sirië. Ptolemeus het Egipte en Palestina beheer. Lusimagos het oor Klein-Asië en Trasië geheers en Kassander het Masedonië en Griekeland gekry. (Sien “’n Uitgestrekte koninkryk word verdeel”, op bladsy 162.) Toe het ’n nuwe bedreiging ontstaan.

’N SKRIKWEKKENDE DIER WAT ANDERS IS

15. (a) Beskryf die vierde dier. (b) Wat het die vierde dier voorgestel, en hoe het dit alles in sy pad vermorsel en verslind?

15 Daniël het die vierde dier as “vreeslik en skrikwekkend en baie sterk” beskryf. Hy het verder gesê: “En dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad” (Daniël 7:7). Hierdie skrikwekkende dier het sy ontstaan gehad in die politieke en militêre moondheid Rome. Dit het geleidelik die vier Hellenistiese dele van die Griekse Ryk oorgeneem, en teen die jaar 30 v.G.J. het Rome as die volgende wêreldmoondheid van Bybelprofesie op die voorgrond getree. Die Romeinse Ryk het alles in sy pad deur militêre mag onderwerp en het uiteindelik gegroei totdat dit ’n gebied gedek het wat gestrek het van die Britse Eilande af oor die grootste deel van Europa, en oor die hele gebied om die Middellandse See en verby Babilon tot by die Persiese Golf.

16. Watter inligting het die engel oor die vierde dier gegee?

16 Daniël wou sekerheid verkry oor hierdie ‘buitengewoon vreeslike’ dier en het aandagtig geluister terwyl die engel verduidelik het: “En [sy] tien horings—uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ’n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp” (Daniël 7:19, 20, 24). Wat was hierdie “tien horings”, of “tien konings”?

17. Wat beeld die “tien horings” van die vierde dier af?

17 Namate Rome welvarender en al hoe meer verdorwe geword het weens die losbandige lewenswyse van sy heersersklas, het sy invloed as ’n militêre moondheid afneem. Mettertyd het die agteruitgang van Rome se militêre mag duidelik sigbaar geword. Die magtige ryk het uiteindelik in talle koninkryke opgebreek. Aangesien die Bybel dikwels die getal tien gebruik om volledigheid aan te dui, beeld die “tien horings” van die vierde dier al die koninkryke af wat as gevolg van Rome se ondergang ontstaan het.—Vergelyk Deuteronomium 4:13; Lukas 15:8; 19:13, 16, 17.

18. Hoe het Rome aangehou om eeue nadat sy laaste keiser onttroon is nog oor Europa gesag te voer?

18 Die Romeinse Wêreldmoondheid het egter nie tot ’n einde gekom toe sy laaste keiser in 476 G.J. in Rome onttroon is nie. Pouslike Rome het baie eeue lank steeds op politieke en veral godsdienstige gebied oor Europa gesag gevoer. Dit is gedoen deur middel van die feodale stelsel, waarin die meeste bewoners van Europa eerstens aan ’n landheer onderworpe was, en dan aan ’n koning. En alle konings het die gesag van die pous erken. Gevolglik het die Heilige Romeinse Ryk met pouslike Rome as die setel van sy gesag wêreldaangeleenthede oorheers gedurende daardie lang tydperk in die geskiedenis wat as die Donker Eeue bekend staan.

19. Hoe het Rome volgens een geskiedskrywer met die vorige ryke vergelyk?

19 Wie kan ontken dat die vierde dier “verskil van al die [ander] koninkryke”? (Daniël 7:7, 19, 23). In hierdie verband het die geskiedskrywer H. G. Wells geskryf: “Hierdie nuwe Romeinse moondheid . . . was in verskeie opsigte anders as enige van die groot ryke wat tot op daardie stadium in die beskaafde wêreld geheers het. . . . [Dit] het byna al die Griekse mense in die wêreld ingesluit, en die bevolking daarvan was in mindere mate Hamities en Semities as dié van enige ander vorige ryk . . . Dit was ’n nuwe patroon in die geskiedenis tot op daardie tydstip . . . Die Romeinse Ryk was ’n groeisel, ’n onbeplande nuwe groeisel; die Romeinse volk het byna onbewustelik by ’n groot administratiewe eksperiment betrokke geraak.” Maar die vierde dier sou nog verder groei.

’N HORINKIE KRY DIE OORHAND

20. Wat het die engel gesê van ’n horinkie wat op die kop van die vierde dier uitgegroei het?

20 “Terwyl ek op die horings ag gee”, het Daniël gesê, “kom daar ’n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel” (Daniël 7:8). Oor hierdie uitgroeisel het die engel vir Daniël gesê: “’n Ander een sal ná hulle [die tien konings] opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp” (Daniël 7:24). Wie is hierdie koning, wanneer het hy opgestaan, en watter drie konings het hy neergewerp?

21. Hoe het Brittanje die simboliese horinkie van die vierde dier geword?

21 Let op die volgende verwikkelinge. In 55 v.G.J. het die Romeinse generaal Julius Caesar Britannia ingeval, maar hy kon nie ’n permanente nedersetting daar vestig nie. In 43 G.J. het keiser Claudius met ’n permanenter verowering van suidelike Brittanje begin. Toe, in 122 G.J., het keiser Hadrianus ’n muur van die Tynerivier tot by die Solway-riviermond begin bou, wat aangedui het waar die noordelike grens van die Romeinse Ryk was. Vroeg in die vyfde eeu het die Romeinse legioene die eiland verlaat. “In die sestiende eeu”, verduidelik een geskiedskrywer, “was Engeland ’n tweederangse moondheid. Sy rykdom was maar klein in vergelyking met dié van Nederland. Sy bevolking was baie kleiner as dié van Frankryk. Sy strydkragte (met inbegrip van sy vloot) was ondergeskik aan dié van Spanje.” Brittanje was destyds blykbaar ’n onbeduidende koninkrykie, wat deur die simboliese horinkie van die vierde dier voorgestel is. Maar dit sou alles verander.

22. (a) Watter ander drie horings van die vierde dier is deur die “horinkie” oorwin? (b) Wat het Brittanje toe geword?

22 In 1588 het Filips II van Spanje die Spaanse Armada teen Brittanje gestuur. Hierdie vloot van 130 skepe, met meer as 24 000 man aan boord, het met die Engelse Kanaal opgeseil en is deur die Britse vloot verslaan en deur teenwinde en kwaai Atlantiese storms geteister. Volgens een geskiedskrywer het hierdie gebeurtenis “beslis getoon dat die sterkste seemag nou Engeland was en nie meer Spanje nie”. In die 17de eeu het die Nederlanders die wêreld se grootste handelsvloot opgebou. Met sy groeiende oorsese kolonies het Brittanje egter die oorhand oor daardie koninkryk gekry. Gedurende die 18de eeu het die Britte en die Franse in Noord-Amerika en Indië teen mekaar geveg, wat in 1763 tot die Verdrag van Parys gelei het. Hierdie verdrag, sê die skrywer William B. Willcox, “het Brittanje se nuwe posisie as die oorheersende Europese moondheid in die wêreld buite Europa erken”. Brittanje se oppermag is in 1815 G.J. bevestig deur die klinkende oorwinning oor Napoleon van Frankryk. Die “drie konings” wat Brittanje dus ‘neergewerp’ het, was Spanje, Nederland en Frankryk (Daniël 7:24). As gevolg daarvan het Brittanje die wêreld se grootste handels- en koloniale moondheid geword. Ja, die “horinkie” het gegroei en ’n wêreldmoondheid geword!

23. Hoe het die simboliese horinkie ‘die hele aarde verslind’?

23 Die engel het vir Daniël gesê dat die vierde dier, of die vierde koninkryk, “die hele aarde sal verslind” (Daniël 7:23). Dit het waar geword in die geval van die Romeinse provinsie wat vroeër as Britannia bekend gestaan het. Dit het uiteindelik die Britse Ryk geword en het ‘die hele aarde verslind’. Op een stadium het hierdie ryk ’n kwart van die aarde se landoppervlak beslaan en oor ’n kwart van die aarde se bevolking geheers.

24. Wat het ’n geskiedskrywer gesê oor die feit dat die Britse Ryk anders was?

24 Net soos die Romeinse Ryk anders as vorige wêreldmoondhede was, sou die koning wat deur die “horinkie” afgebeeld is ook “verskillend wees van die voriges” (Daniël 7:24). Die geskiedskrywer H. G. Wells het aangaande die Britse Ryk gesê: “Niks van dié aard het ooit tevore bestaan nie. Die sentrale punt waarom die hele stelsel gedraai het, was die ‘gekroonde republiek’ van die Verenigde Britse Koninkryke . . . Geen enkele staatsdepartement en geen mens kon ’n begrip vorm van die omvang van die Britse Ryk in sy geheel nie. Dit was ’n mengsel van groeisels en samesmeltings wat heeltemal anders was as enigiets anders wat ooit tevore ’n ryk genoem is.”

25. (a) Wat is die simboliese horinkie in die jongste verwikkelinge? (b) In watter sin het die “horinkie” “oë soos mens-oë” en “’n mond wat groot dinge spreek”?

25 Die “horinkie” was nie net die Britse Ryk nie. In 1783 het Brittanje die onafhanklikheid van sy 13 Amerikaanse kolonies erken. Die Verenigde State van Amerika het eindelik Brittanje se bondgenoot geword en het ná die Tweede Wêreldoorlog as die oorheersende nasie van die wêreld te voorskyn gekom. Dit het steeds sterk bande met Brittanje. Die gevolglike Anglo-Amerikaanse tweeledige wêreldmoondheid is die ‘horing wat oë het’. Ja, hierdie wêreldmoondheid is oplettend, skerpsinnig! Dit ‘spreek groot dinge’, en skryf die beleid voor vir groot dele van die wêreld en tree op as sy spreekbuis, of “valse profeet”.—Daniël 7:8, 11, 20; Openbaring 16:13; 19:20.

DIE HORINKIE STAAN GOD EN SY HEILIGES TEË

26. Wat het die engel oor die simboliese horing se woorde en optrede teenoor Jehovah en sy knegte voorspel?

26 Daniël het sy visioen verder beskryf en gesê: “Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin” (Daniël 7:21). Van hierdie “horing”, of koning, het God se engel voorspel: “Hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd” (Daniël 7:25). Hoe en wanneer is hierdie deel van die profesie vervul?

27. (a) Wie is “die heiliges” wat deur die “horinkie” vervolg is? (b) Hoe het die simboliese horinkie probeer “om tye en wet te verander”?

27 “Die heiliges” wat deur die “horinkie”—die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid—vervolg is, is Jesus se geesgesalfde volgelinge op aarde (Romeine 1:7; 1 Petrus 2:9). Die oorblyfsel van daardie gesalfdes het voor die Eerste Wêreldoorlog jare lank in die openbaar gewaarsku dat “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 sou eindig (Lukas 21:24). Toe oorlog in daardie jaar uitbreek, was dit duidelik dat die “horinkie” daardie waarskuwing geïgnoreer het, want hy het aangehou om die gesalfde “heiliges” te vervolg. Die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid het selfs hulle pogings teëgestaan om Jehovah se vereiste (of “wet”) na te kom dat sy getuies die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd moet verkondig (Matteus 24:14). So het die “horinkie” dan probeer “om tye en wet te verander”.

28. Hoe lank is die “tyd en tye en die helfte van ’n tyd”?

28 Jehovah se engel het na ’n profetiese tydperk van “’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd” verwys. Hoe lank is dit? Bybelverklaarders stem oor die algemeen saam dat hierdie uitdrukking drie en ’n halwe tye aandui—die som van een tyd, twee tye en ’n halwe tyd. Aangesien Nebukadnesar se “sewe tye” van kranksinnigheid sewe jaar lank was, is die drie en ’n halwe tye drie en ’n half jaar lank (Daniël 4:16, 25).c An American Translation sê: “Hulle sal vir ’n jaar, twee jaar en ’n halwe jaar aan hom oorgelewer word.” James Moffatt se vertaling sê: “Drie jaar en ’n halwe jaar lank.” Dieselfde tydperk word in Openbaring 11:2-7 genoem, waar dit sê dat God se getuies 42 maande, of 1 260 dae, in saklinne sal preek en dat hulle dan doodgemaak sal word. Wanneer het hierdie tydperk begin en geëindig?

29. Wanneer en hoe het die profetiese drie en ’n halwe jaar begin?

29 Vir die gesalfde Christene was die Eerste Wêreldoorlog ’n tyd van toetsing. Teen die einde van 1914 het hulle vervolging verwag. Trouens, die jaarteks wat vir 1915 gekies is, was Jesus se vraag aan sy dissipels: “Kan julle my beker drink?” Dit was gebaseer op Matteus 20:22. Van Desember 1914 af het daardie klein groepie getuies dus “in saklinne” gepreek.

30. Hoe is gesalfde Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog deur die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid vervolg?

30 Namate die oorlogskoors al hoe erger geword het, het die gesalfde Christene toenemende teenstand ondervind. Party van hulle is in die tronk gestop. Individue, soos Frank Platt in Engeland en Robert Clegg in Kanada, is deur sadistiese owerhede gemartel. Op 12 Februarie 1918 het die Britse Dominium Kanada ’n verbod geplaas op die sewende deel van Studies in the Scriptures met die titel The Finished Mystery, wat pas tevore verskyn het, sowel as die traktate met die titel The Bible Students Monthly. Die volgende maand het die Amerikaanse Departement van Justisie dit onwettig verklaar om die sewende deel te versprei. Wat was die gevolg? Huise is deursoek, lektuur is gekonfiskeer en aanbidders van Jehovah is in hegtenis geneem!

31. Wanneer en hoe het die “tyd en tye en die helfte van ’n tyd” geëindig?

31 Die vervolging van God se gesalfdes het op 21 Junie 1918 ’n klimaks bereik toe die president, J. F. Rutherford, en vooraanstaande lede van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap op valse aanklagte lang tronkstrawwe opgelê is. Die “horinkie” se pogings “om tye en wet te verander” het die georganiseerde predikingswerk feitlik stopgesit (Openbaring 11:7). Die voorspelde tydperk van “’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd” het dus in Junie 1918 geëindig.

32. Waarom sou jy sê dat “die heiliges” nie deur die “horinkie” uitgewis is nie?

32 Maar die vervolging deur die “horinkie” het “die heiliges” nie uitgewis nie. Soos die boek Openbaring voorspel het, het die gesalfde Christene, ná ’n kort tydjie van onbedrywigheid, weer lewend en bedrywig geword (Openbaring 11:11-13). Op 26 Maart 1919 is die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap en sy metgeselle uit die tronk vrygelaat, en hulle is later van die valse aanklagte teen hulle vrygespreek. Onmiddellik daarna het die gesalfde oorblyfsel hulle begin herorganiseer vir verdere werk. Maar wat het vir die “horinkie” voorgelê?

DIE OUE VAN DAE LEWER REGSPRAAK

33. (a) Wie is die Oue van dae? (b) Wat is “die boeke” wat in die hemelse Hof “geopen” is?

33 Nadat Daniël die vier diere beskryf het, verskuif hy sy blik van die vierde dier na ’n toneel in die hemel. Hy sien hoe die Oue van dae as Regter op sy luisterryke troon gaan sit. Die Oue van dae is niemand anders as Jehovah God nie (Psalm 90:2). Wanneer die hemelse Hof gaan sit, sien Daniël hoe ‘boeke geopen word’ (Daniël 7:9, 10). Aangesien Jehovah al sedert die eindelose verlede bestaan, ken hy die hele mensegeskiedenis asof dit in ’n boek opgeteken is. Hy het al vier die simboliese diere gesien en kan volgens eerstehandse kennis ’n oordeel oor hulle vel.

34, 35. Wat sal van die “horinkie” en die ander dieragtige moondhede word?

34 Daniël gaan voort: “Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur [“vir ’n tyd en ’n tydperk”, NW]” (Daniël 7:11, 12). Die engel sê vir Daniël: “Die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.”—Daniël 7:26.

35 Volgens die opdrag van die Groot Regter, Jehovah God, sal die horing wat God gelaster en sy “heiliges” geteister het dieselfde ondervinding hê as die Romeinse Ryk, wat die vroeë Christene vervolg het. Sy heerskappy sal nie voortduur nie. Die heerskappy van ondergeskikte horingagtige “konings” wat uit die Romeinse Ryk gekom het, sal ook nie voortduur nie. Maar wat van die regerings wat uit die vorige dieragtige moondhede ontstaan het? Soos voorspel is, is hulle lewe “vir ’n tyd en ’n tydperk” verleng. Hulle grondgebied word nog tot in ons dag bewoon. Irak is byvoorbeeld in die gebied van antieke Babilon. Persië (Iran) en Griekeland bestaan nog steeds. Oorblyfsels van hierdie wêreldmoondhede vorm deel van die Verenigde Nasies. Hierdie koninkryke sal ook vergaan wanneer die laaste wêreldmoondheid vernietig word. Alle menseregerings sal by “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” uitgewis word (Openbaring 16:14, 16). Maar wie sal dan oor die wêreld heers?

BLYWENDE HEERSKAPPY OP HANDE!

36, 37. (a) Wie word beskryf as ‘Een soos die Seun van ’n mens’, en wanneer en waarom het hy in die hemelse Hof verskyn? (b) Wat is in 1914 G.J. opgerig?

36 “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk”, het Daniël uitgeroep. “Met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom” (Daniël 7:13). Toe Jesus Christus op aarde was, het hy homself “die Seun van die mens” genoem, wat sy verwantskap met die mensdom getoon het (Matteus 16:13; 25:31). Jesus het vir die Sanhedrin, die Joodse hooggeregshof, gesê: “Julle [sal] die Seun van die mens aan die regterhand van krag sien sit en op die wolke van die hemel sien kom” (Matteus 26:64). In Daniël se visioen is die een wat, onsigbaar vir menseoë, tot by Jehovah God gekom het dus die verrese, verheerlikte Jesus Christus. Wanneer het dit plaasgevind?

37 God het ’n verbond vir ’n Koninkryk met Jesus Christus gesluit, net soos hy met koning Dawid gedoen het (2 Samuel 7:11-16; Lukas 22:28-30). Toe “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 G.J. geëindig het, kon Jesus Christus, as Dawid se koninklike erfgenaam, regmatig Koninkryksheerskappy ontvang. Daniël se profetiese verslag sê: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Daniël 7:14). Die Messiaanse Koninkryk is dus in 1914 in die hemel opgerig. Maar die heerskappy word ook aan ander gegee.

38, 39. Wie sal die ewige heerskappy oor die wêreld ontvang?

38 “Die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang”, het die engel gesê (Daniël 7:18, 22, 27). Jesus Christus is die vernaamste heilige (Handelinge 3:14; 4:27, 30). Die ander “heiliges” wat ’n aandeel aan die heerskappy het, is die 144 000 getroue geesgesalfde Christene, wat saam met Christus Koninkrykserfgename is (Romeine 1:7; 8:17; 2 Tessalonisense 1:5; 1 Petrus 2:9). Hulle word as onsterflike geesskepsele uit die dood opgewek om saam met Christus op die hemelse berg Sion te heers (Openbaring 2:10; 14:1; 20:6). Christus Jesus en die verrese gesalfde Christene sal dus oor die mensdom heers.

39 Van die heerskappy van die Seun van die mens en die ander verrese “heiliges”, het God se engel gesê: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27). Watter seëninge sal gehoorsame mense tog onder daardie Koninkryk ondervind!

40. Hoe kan ons daarby baat vind as ons op Daniël se droom en visioene ag gee?

40 Daniël het nie geweet van die wonderbaarlike wyse waarop sy godgegewe visioene vervul sou word nie. Hy het gesê: “Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar” (Daniël 7:28). Ons lewe egter in die tyd wanneer ons die vervulling van wat Daniël gesien het, kan verstaan. As ons op hierdie profesie ag gee, sal dit ons geloof en oortuiging versterk dat Jehovah se Messiaanse Koning oor die wêreld gaan heers.

[Voetnote]

a Ter wille van duidelikheid en om herhaling te vermy, sal ons verklarende verse in Daniël 7:15-28 kombineer met ’n vers-vir-vers-bespreking van die visioene wat in Daniël 7:1-14 opgeteken is.

b Sien Hoofstuk 4 van hierdie boek.

c Sien Hoofstuk 6 van hierdie boek.

WAT HET JY GELEER?

• Wat word voorgestel deur elk van die ‘vier groot diere wat uit die see opklim’?

• Wat is die “horinkie”?

• Hoe is “die heiliges” gedurende die Eerste Wêreldoorlog deur die simboliese horinkie vervolg?

• Wat sal met die simboliese horinkie en die ander dieragtige moondhede gebeur?

• Hoe het jy daarby baat gevind omdat jy ag gegee het op Daniël se droom en visioene van die “vier groot diere”?

[Venster/Prente op bladsy 149-152]

’N VERDRAAGSAME HEERSER

’N GRIEKSE skrywer van die vyfde eeu v.G.J. het hom as ’n verdraagsame en baie goeie heerser onthou. In die Bybel word hy God se “gesalfde” genoem en “’n roofvoël” wat “uit die Ooste” kom (Jesaja 45:1; 46:11). Die heerser wat so genoem word, is Kores die Grote van Persië.

Kores het omstreeks 560/559 v.G.J. begin opgang maak, toe hy die troon van Ansjan, ’n stad of streek in antieke Persië, by sy vader Kambuses I geërf het. Ansjan was destyds onder die opperheerskappy van die Mediese koning Astuages. Kores het teen die Mediese heerskappy in opstand gekom en gou die oorwinning behaal omdat die leër van Astuages gedros het. Die Meders het toe aan Kores lojaal geword. Daarna het die Meders en die Perse saam onder sy leierskap geveg. So het die Medo-Persiese heerskappy ontstaan wat mettertyd sy gebied van die Egeïese See tot by die Indusrivier uitgebrei het.—Sien kaart.

Met die gekombineerde magte van die Meders en die Perse het Kores eers opgetree om beheer te verkry oor ’n probleemgebied—die westelike gedeelte van Medië waar die Lidiese koning Kroisos sy ryk tot in Medië se gebied uitgebrei het. Kores het tot by die oostelike grens van die Lidiese Ryk in Klein-Asië getrek, Kroisos verslaan en sy hoofstad, Sardis, verower. Daarna het Kores die Ioniese stede onderwerp en die hele Klein-Asië by die gebied van die Medo-Persiese Ryk ingelyf. Sodoende het hy die vernaamste mededinger van Babilon en sy koning, Nabonidus, geword.

Kores het hom daarna gereedgemaak vir ’n konfrontasie met die magtige Babilon. En van hier af het hy ’n rol in die vervulling van Bybelprofesieë gespeel. Deur die profeet Jesaja het Jehovah byna twee eeue vroeër Kores by sy naam geïdentifiseer as die heerser wat Babilon sou omverwerp en die Jode uit gevangenskap sou bevry. Omdat Kores vooraf hiervoor benoem is, verwys die Skrif na hom as Jehovah se “gesalfde”.—Jesaja 44:26-28.

Toe Kores in 539 v.G.J. teen Babilon opgetrek het, het hy voor ’n ontsaglike taak te staan gekom. Die stad het onverowerbaar gelyk met sy yslike mure en die diep, breë grag wat deur die Eufraatrivier daarom gevorm is. Waar die Eufraat deur Babilon gevloei het, was daar toringhoë mure met enorme koper poorte langs die rivieroewers. Hoe sou Kores Babilon ooit kon inneem?

Meer as ’n eeu vroeër het Jehovah “droogte oor sy waters” voorspel en gesê dat ‘hulle sal uitdroog’ (Jeremia 50:38). Net soos die profesie gesê het, het Kores die water van die Eufraatrivier ’n paar kilometer noord van Babilon verlê. Toe het sy leër deur die modderige rivierbedding gegaan, teen die wal na die muur opgeklim en die stad maklik binnegegaan, omdat die koper poorte oopgelaat is. Soos “’n roofvoël” wat skielik op sy prooi neerskiet, het hierdie heerser “uit die Ooste” Babilon in een nag verower!

Kores se oorwinning het vir die Jode in Babilon beteken dat die tyd vir hulle langverwagte bevryding aangebreek het, asook die einde van die 70 jaar waartydens hulle vaderland woes sou lê. Hoe verheug was hulle tog toe Kores ’n bevel uitvaardig wat hulle toegelaat het om na Jerusalem terug te keer en die tempel te herbou! Kores het ook die kosbare tempelvoorwerpe wat Nebukadnesar na Babilon weggevoer het, vir hulle teruggegee, koninklike toestemming gegee dat hout uit die Libanon ingevoer kon word en toegelaat dat geld uit die koning se huis bygedra word om die boukoste te dek.—Esra 1:1-11; 6:3-5.

Kores het oor die algemeen ’n menslike en verdraagsame beleid gevolg in sy optrede teenoor die volke wat hy oorwin het. Een rede hiervoor was moontlik sy godsdiens. Kores het waarskynlik die leringe van die Persiese profeet Zoroaster gevolg en Ahoeramazda aanbid—’n god wat na bewering die skepper was van alles wat goed is. Farhang Mehr skryf in sy boek The Zoroastrian Tradition: “Zoroaster het God as sedelike volmaaktheid uitgebeeld. Hy het vir mense gesê dat Ahoeramazda nie wraaksugtig is nie, maar regverdig, en dat mense hom gevolglik nie moet vrees nie maar moet liefhê.” Geloof in ’n god wat sedes gehandhaaf het en regverdig was, het moontlik ’n invloed op Kores se beginsels gehad en hom aangespoor om grootmoedig en redelik te wees.

Die koning was egter minder verdraagsaam wat Babilon se klimaat betref. Die versengende somers was meer as wat hy bereid was om te verduur. Hoewel Babilon dus ’n koninklike stad sowel as ’n godsdiens- en kultuursentrum in die ryk gebly het, was dit selde meer as sy winterhoofstad. Trouens, kort ná die verowering van Babilon het Kores teruggekeer na sy somerhoofstad, Ekbatana, wat sowat 1 900 meter bo seespieël aan die voet van die berg Alwand geleë was. Die koue winters en heerlike somers daar was meer na sy smaak. Kores het ook ’n swierige paleis in sy vorige hoofstad, Pasargadae (naby Persepolis), sowat 650 kilometer suidoos van Ekbatana, gebou. Die woning daar was vir hom ’n plek waar hy hom kon afsonder.

Kores het dus sy merk gelaat as ’n dapper veroweraar en ’n verdraagsame heerser. Sy heerskappy van 30 jaar het ten einde geloop toe hy in 530 v.G.J. gesterf het terwyl hy op ’n krygstog was. Sy seun Kambuses II het die Persiese troon van hom geërf.

WAT HET JY GELEER?

• In watter opsig was Kores die Pers Jehovah se “gesalfde”?

• Watter waardevolle diens het Kores teenoor Jehovah se volk verrig?

• Hoe het Kores opgetree teenoor die volke wat hy verower het?

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MEDO-PERSIESE RYK

MASEDONIË

Memfis

EGIPTE

ETIOPIË

Jerusalem

Babilon

Ekbatana

Susa

Persepolis

INDIË

[Prent]

Graf van Kores, by Pasargadae

[Prent]

Vlakreliëf by Pasargadae met afbeelding van Kores

[Venster/Prente op bladsy 153-161]

’N JONG KONING VEROWER DIE WÊRELD

SOWAT 2 300 jaar gelede het ’n blonde generaal in sy twintigerjare op die strand van die Middellandse See gestaan. Hy het stip gekyk na ’n eilandstad wat amper ’n kilometer daarvandaan gelê het. Die stad het hom toegang geweier en nou was die woedende generaal vasbeslote om dit te verower. Sy aanvalsplan? Hy wou ’n verhoogde pad na die eiland bou en die stad so aanval. Die bouwerk aan die pad het reeds begin.

Maar ’n boodskap van die groot koning van die Persiese Ryk het die jong generaal se planne onderbreek. Die Persiese heerser was gretig om vrede te maak en het ’n buitengewone aanbod gemaak: 10 000 talente goud (meer as twaalfmiljard rand teen vandag se waarde), die hand van een van die koning se dogters en gesag oor die hele westelike gedeelte van die Persiese Ryk. Dit alles is aangebied in ruil vir die koning se familie, wat deur die generaal gevange geneem is.

Die bevelvoerder wat voor die keuse gestaan het om die aanbod te aanvaar of te verwerp, was Aleksander III van Masedonië. Moet hy die aanbod aanvaar? “Dit was ’n kritieke oomblik vir die antieke wêreld”, sê die geskiedskrywer Ulrich Wilcken. “Die nadraai van sy besluit strek trouens deur die Middeleeue heen tot in ons dag, in die Ooste sowel as in die Weste.” Kom ons kyk na die gebeure wat tot hierdie kritieke oomblik gelei het voordat ons sien wat Aleksander se antwoord was.

’N OORWINNAAR WORD GEBORE

Aleksander is in 356 v.G.J. in Pella, Masedonië, gebore. Sy vader was koning Filippus II, en sy moeder, Olimpias. Sy het Aleksander geleer dat die Masedoniese konings van Herkules, ’n seun van die Griekse god Zeus, afstam. Volgens Olimpias was Aleksander se voorvader Agilles, die held van Homerus se gedig die Ilias. Aangesien die jong Aleksander op hierdie manier deur sy ouers gekondisioneer is om verowering en koninklike heerlikheid te verwag, het hy min belanggestel in ander dinge. Toe hy gevra is of hy aan ’n wedloop by die Olimpiese Spele wou deelneem, het Aleksander gesê dat hy dit sou doen as hy saam met konings kon hardloop. Sy ideaal was om groter werke as sy vader te doen en weens sy prestasies roem te verwerf.

Toe Aleksander 13 jaar oud was, is hy deur die Griekse filosoof Aristoteles onderrig, wat ’n belangstelling in die filosofie, die geneeskunde en die wetenskap by hom gewek het. Dit is onseker tot watter mate Aristoteles se filosofiese onderrigting Aleksander se denkpatroon gevorm het. “Daar kan met redelike sekerheid gesê word dat daar nie baie dinge was waaroor hulle saamgestem het nie”, het Bertrand Russell, ’n 20ste-eeuse filosoof, gesê. “Aristoteles se politieke sienswyse was op die Griekse stadstaat gebaseer, ’n stelsel wat al feitlik uitgedien was.” Die konsep van ’n klein stadstaat-regering sou nie aantreklik wees vir ’n ambisieuse prins wat ’n groot sentrale ryk wou bou nie. Aleksander was ook seker skepties oor die Aristoteliese voorskrif dat nie-Grieke soos slawe behandel moet word, want hy het ’n ryk beoog waarin daar ’n nuttige vennootskap sou bestaan tussen die oorwinnaars en die oorwonne volke.

Daar bestaan egter min twyfel dat Aristoteles Aleksander se belangstelling in lees en sy leergierigheid gewek het. Aleksander was sy hele lewe lank baie lief vir lees, en hy het veral ’n groot voorliefde vir Homerus se werke gehad. Daar word beweer dat hy die Ilias—al 15 693 reëls poësie—uit sy kop geken het.

Sy onderrigting deur Aristoteles het skielik in 340 v.G.J. tot ’n einde gekom toe die 16-jarige prins na Pella teruggekeer het om in die afwesigheid van sy vader oor Masedonië te heers. En die kroonprins het geen tyd verspeel om hom deur sy militêre prestasies te onderskei nie. Tot Filippus se groot vreugde het hy gou die opstandige Trasiese stam, die Maedi, onderwerp, hulle hoofstad ingeneem en die plek Aleksandropolis genoem, na sy eie naam.

HY GAAN VOORT MET SY VEROWERING

Die sluipmoord op Filippus in 336 v.G.J. het daartoe gelei dat die 20-jarige Aleksander die troon van Masedonië geërf het. Aleksander het Asië in die lente van 334 v.G.J. by die Hellespont (nou die Dardanelle) ingeval en het ’n veroweringsveldtog met ’n klein maar doeltreffende leër van 30 000 voetsoldate en 5 000 berede soldate onderneem. Ingenieurs, landmeters, argitekte, wetenskaplikes en geskiedskrywers het saam met sy leër getrek.

By die Granikosrivier in die noordwestelike deel van Klein-Asië (nou Turkye) het Aleksander sy eerste veldslag teen die Perse gewen. Daardie winter het hy westelike Klein-Asië verower. Die volgende herfs het die tweede beslissende veldslag teen die Perse by Issos, in die suidoostelike deel van Klein-Asië, plaasgevind. Met ’n leër van ongeveer ’n halfmiljoen man, het die groot Persiese koning Darius III daarheen opgeruk om teen Aleksander te veg. Die selfversekerde Darius het ook sy moeder, sy vrou en ander lede van sy familie saamgebring sodat hulle sy verwagte skouspelagtige oorwinning kon aanskou. Maar die Perse was nie voorbereid op die spoed en intensiteit van die Masedoniese aanval nie. Aleksander se magte het die Persiese leër heeltemal verslaan, en Darius het gevlug, wat sy familie in Aleksander se hande laat val het.

Aleksander het nie die vlugtende Perse agternagesit nie, maar het suid getrek langs die kus van die Middellandse See en het die basisse ingeneem wat deur die magtige Persiese vloot gebruik is. Maar die eilandstad Tirus het hom teen die inval verset. Vasbeslote om dit in te neem, het Aleksander met ’n beleg begin wat sewe maande geduur het. Gedurende die beleg het Darius die vredesaanbod gemaak waarna vroeër verwys is. Hierdie aanbod was so aantreklik dat Aleksander se vertroude raadgewer Parmenion glo gesê het: ‘As ek Aleksander was, sou ek dit aanvaar.’ Maar die jong generaal het geantwoord: ‘Ek sou ook, as ek Parmenion was.’ Aleksander het geweier om te onderhandel, met die beleg voortgegaan en daardie trotse stad in Julie 332 v.G.J. vernietig.

Aangesien Jerusalem aan Aleksander oorgegee het, het hy dit gespaar en suidwaarts getrek, waar hy Gasa verower het. Egipte was moeg vir Persiese oorheersing en het hom as ’n verlosser verwelkom. In Memfis het hy voor die Apisbul offerandes gebring en daardeur die Egiptiese priesters tevrede gestel. Hy het ook die stad Aleksandrië gestig, wat steeds sy naam dra en later met Atene gewedywer het as die middelpunt van geleerdheid.

Daarna het Aleksander noordoos gedraai en deur Palestina na die Tigrisrivier getrek. In die jaar 331 v.G.J. het hy by Gaugamela, naby die verbrokkelende ruïnes van Nineve, die derde groot slag teen die Perse gelewer. Hier het Aleksander se 47 000 man ’n hergroepeerde Persiese leër van ten minste 250 000 verslaan! Darius het gevlug en is later deur sy eie mense vermoor.

Aangevuur deur die oorwinning het Aleksander suid gedraai en die Persiese winterhoofstad Babilon verower. Hy het ook die hoofstede by Susa en Persepolis ingeneem, die ontsaglike Persiese skatte gebuit en die groot paleis van Xerxes verbrand. Uiteindelik het die hoofstad by Ekbatana ook voor hom geval. Hierdie vinnig bewegende veroweraar het daarna die res van die Persiese gebied onderwerp en het na die ooste tot by die Indusrivier, vandag in Pakistan, gegaan.

Toe Aleksander die Indus oorsteek, in die streek wat aan die Persiese provinsie Taksila gegrens het, het Aleksander ’n gedugte teenstander, die Indiese heerser Porus, teëgekom. Aleksander het in Junie 326 v.G.J. sy vierde en laaste groot slag teen hom gelewer. Porus se leër het 35 000 soldate en 200 olifante ingesluit, wat die Masedoniërs se perde verskrik het. Dit was ’n verbete en bloedige stryd, maar Aleksander se magte het die oorhand gekry. Porus het oorgegee en ’n bondgenoot geword.

Dit was meer as agt jaar sedert die Masedoniese leër in Asië ingegaan het, en die soldate was moeg en het huis toe verlang. Hulle was ontsenu deur die verwoede stryd teen Porus en wou huis toe gaan. Hoewel Aleksander aanvanklik teësinnig was, het hy gehoor gegee aan hulle wense. Griekeland het inderdaad die wêreldmoondheid geword. Die Griekse taal en kultuur het dwarsdeur die ryk versprei, aangesien Griekse kolonies in die verowerde lande gestig is.

DIE MAN AGTER DIE SKILD

Die faktor wat die Masedoniese leër deur die jare van verowering saamgebind het, was Aleksander se persoonlikheid. Ná veldslae was dit Aleksander se gewoonte om die gewondes te besoek, hulle beserings te ondersoek, soldate te prys vir hulle dapper dade en hulle te beloon met ’n geskenk na gelang van hulle prestasies. Vir die gesneuweldes het Aleksander ’n eervolle begrafnis gereël. Die ouers en kinders van die gesneuweldes is van alle belasting en diensbaarheid vrygestel. Vir vermaak het Aleksander ná veldslae spele en wedstryde gereël. By een geleentheid het hy selfs gereël dat pas getroude mans verlof kry sodat hulle die winter in Masedonië saam met hulle vrouens kon deurbring. Hierdeur het hy die liefde en bewondering van sy manskappe gewen.

Van Aleksander se huwelik met die Baktriese prinses Roksana skryf die Griekse biograaf Plutargus: “Dit was inderdaad ’n liefdesverhouding, en tog het dit terselfdertyd gelyk asof dit bevorderlik was vir die doel wat hy voor oë gehad het. Want dit het die verowerde volk behaag toe hulle sien dat hy ’n vrou uit hulle midde kies, en hulle het die grootste geneentheid vir hom gekoester omdat hy, die besadigste van alle mense, hom beheers het in die enigste hartstog wat hom oorval het, totdat hy haar wettig en eerbaar kon verkry.”

Aleksander het ook die huwelike van ander gerespekteer. Hoewel die vrou van koning Darius sy gevangene was, het hy toegesien dat sy eerbaar behandel is. Ook het hy, toe hy daarvan te hore gekom het dat twee Masedoniese soldate die vrouens van ’n paar vreemdelinge verkrag het, beveel dat hulle tereggestel moet word as hulle skuldig bevind is.

Soos sy moeder, Olimpias, was Aleksander baie godsdienstig. Hy het voor en ná veldslae offers gebring en het sy waarsêers geraadpleeg oor die betekenis van sekere voortekens. Hy het ook die orakel van Ammon, in Libië, geraadpleeg. En in Babilon het hy die instruksies van die Galdeërs uitgevoer wat offerandes betref, veral aan die Babiloniese god Bel (Mardoek).

Hoewel Aleksander matig in sy eetgewoontes was, het hy uiteindelik geweldig baie begin drink. Hy het lank oor elke beker wyn gepraat en oor sy prestasies gespog. Een van die donkerste dade van Aleksander was die moord op sy vriend Klitus tydens ’n woedevlaag terwyl hy dronk was. Maar Aleksander het homself so daaroor verwyt dat hy drie dae lank in sy bed gelê het en nie geëet of gedrink het nie. Uiteindelik het sy vriende hom oorreed om te eet.

Met verloop van tyd het Aleksander se sug na heerlikheid ander ongewenste eienskappe na vore laat kom. Hy het valse beskuldigings maklik geglo en het mense baie wreed begin straf. Toe hy onder die indruk gebring is dat Filotas by ’n aanslag op sy lewe betrokke was, het Aleksander hom en sy vader, Parmenion, die raadgewer wat hy vroeër vertrou het, laat teregstel.

ALEKSANDER SE NEDERLAAG

Kort nadat hy na Babilon teruggekeer het, het Aleksander malaria opgedoen, en hy het nooit daarvan herstel nie. Op 13 Junie 323 v.G.J., ná ’n lewe van net 32 jaar en 8 maande, het Aleksander voor die grootste vyand, die dood, geswig.

Dit was net soos sekere Indiese wyse manne gesê het: “O koning Aleksander, elke mens besit net soveel van die aarde as die deel waarop hy staan; en u, ’n mens net soos die ander, buiten dat u bedrywig en meedoënloos is, deurkruis die hele aarde ver van u huis af, u is self verontrus en u verontrus ander. Maar binnekort sal u sterf, en dan sal u net soveel van die aarde besit as wat nodig is vir u graf.”

WAT HET JY GELEER?

• Wat was Aleksander die Grote se agtergrond?

• Watter veldtog het Aleksander aangepak kort nadat hy die troon van Masedonië geërf het?

• Beskryf van Aleksander se verowerings.

• Wat kan van Aleksander se persoonlikheid gesê word?

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

VEROWERINGS VAN ALEKSANDER

MASEDONIË

EGIPTE

Babilon

Indusrivier

[Prent]

Aleksander

[Prent]

Aristoteles en sy leerling Aleksander

[Volbladillustrasie]

[Prent]

Medalje waarop Aleksander die Grote na bewering uitgebeeld word

[Venster/Prente op bladsy 162, 163]

’N UITGESTREKTE KONINKRYK WORD VERDEEL

DIE Bybel het voorspel dat die koninkryk van Aleksander die Grote sou verbrokkel en dat dit verdeel sou word, maar dat ‘dit nie aan sy nakomelinge sal behoort nie’ (Daniël 11:3, 4). Aleksander se wettige seun Aleksander IV en sy buite-egtelike seun Herakles is dienooreenkomstig binne 14 jaar na sy skielike dood vermoor.

Teen die jaar 301 v.G.J. het vier van Aleksander se generaals begin regeer oor die uitgestrekte ryk wat hulle bevelvoerder opgebou het. Generaal Kassander het Masedonië en Griekeland oorgeneem. Generaal Lusimagos het Klein-Asië en Trasië gekry. Seleukos I Nikator het besit geneem van Mesopotamië en Sirië. En Ptolemeus Lagus, of Ptolemeus I, het oor Egipte en Palestina geheers. Uit Aleksander se enkele groot koninkryk het daar dus vier Hellenistiese, of Griekse, koninkryke ontstaan.

Van die vier Hellenistiese koninkryke was Kassander se heerskappy die kortste. ’n Paar jaar nadat Kassander aan die bewind gekom het, het sy manlike lyn uitgesterf en in 285 v.G.J. het Lusimagos die Europese deel van die Griekse Ryk in besit geneem. Vier jaar later is Lusimagos deur Seleukos I Nikator verslaan, wat hom die beheer oor die grootste gedeelte van die Asiatiese gebiede gegee het. Seleukos het die eerste van die lyn Seleukiede konings van Sirië geword. Hy het Antiogië in Sirië gestig en dit sy nuwe hoofstad gemaak. Seleukos is in 281 v.G.J. vermoor, maar die vorstehuis wat hy gestig het, het aan bewind gebly tot 64 v.G.J., toe die Romeinse generaal Pompejus Sirië ’n provinsie van Rome gemaak het.

Van die vier dele van Aleksander se ryk het die Ptolemeïese koninkryk die langste geduur. Ptolemeus I het in 305 v.G.J. die titel koning aangeneem en het die eerste van die Masedoniese konings, of Farao’s, van Egipte geword. Hy het Aleksandrië die hoofstad gemaak en het onmiddellik met ’n program van stedelike ontwikkeling begin. Een van sy grootste bouprojekte was die beroemde Aleksandrynse Biblioteek. Ptolemeus het ’n vooraanstaande Ateense geleerde, Demetrius Falereus, uit Griekeland gebring om toesig te hou oor hierdie grootse projek. Na bewering was daar teen die eerste eeu G.J. ’n miljoen boekrolle in die biblioteek. Die Ptolemeïese dinastie het in Egipte regeer totdat dit in 30 v.G.J. voor Rome geswig het. Toe het Rome Griekeland as die oorheersende wêreldmoondheid vervang.

WAT HET JY GELEER?

• Hoe is Aleksander se uitgebreide ryk verdeel?

• Tot wanneer het die lyn van Seleukiede konings in Sirië regeer?

• Wanneer het die Ptolemeïese koninkryk van Egipte tot ’n einde gekom?

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DIE VERBROKKELING VAN ALEKSANDER SE RYK

Kassander

Lusimagos

Ptolemeus I

Seleukos I

[Prente]

Ptolemeus I

Seleukos I

[Diagram/Prent op bladsy 139]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

WÊRELDMOONDHEDE VAN DANIËL SE PROFESIE

Die ontsaglike beeld (Daniël 2:31-45)

Vier diere uit die see (Daniël 7:3-8, 17, 25)

BABILONIË vanaf 607 v.G.J.

MEDO-PERSIË vanaf 539 v.G.J.

GRIEKELAND vanaf 331 v.G.J.

ROME vanaf 30 v.G.J.

ANGLO-AMERIKAANSE WÊRELD-MOONDHEID vanaf 1763 G.J.

POLITIES VERDEELDE WÊRELD in die tyd van die einde

[Volbladillustrasie op bladsy 128]

[Volbladillustrasie op bladsy 147]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel