Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Probleme om die vrede te bewaar
  • Nuwe credo bring geweld in sport
  • Posduiwe nog steeds nuttig
  • Te min kinders gaan skool
  • Asië—geneig tot rampe
  • Waarom jy jouself nie kan kielie nie
  • Morsekode se opvolger
  • Gesondheidsprobleme aan skoene gekoppel
  • Bybels in China uitgegee
  • Hulp vir seer voete
    Ontwaak!—1997
  • Is jou skoene werklik gemaklik?
    Ontwaak!—2003
  • Kan pogings om vrede te bewaar ’n vreedsame wêreld skep?
    Nog onderwerpe
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Probleme om die vrede te bewaar

“’n Dekade gelede is VN-vredesendings so hoog geag dat hulle gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang het”, sê die koerant The Globe and Mail van Toronto. “Nou word lede van vredesendings—burgerlikes, polisiemanne en soldate—verag sowel as vereer.” Waarom die verandering? “’n Belangrike probleem is die aard van moderne konflikte. Baie van die oorloë van vandag word nie deur goed georganiseerde leërs met duidelike doelwitte en ideologieë gevoer nie, maar deur faksies en krygshere wat met hebsugtige doelwitte in gedagte tienersoldate gebruik. Die oorloë word om beheer oor ’n land gevoer, nie tussen lande nie”, sê die Globe. Die koerant sê voorts dat die vredesmagte van die Verenigde Nasies hulle gevolglik “tussen vegtende faksies met onduidelike doelwitte—en soms selfs onduidelike leierskapstrukture—bevind, wie se begeerte na vrede verdag is, in plaas daarvan dat hulle formele skietstilstande tussen nasies monitor”.

Nuwe credo bring geweld in sport

Volgens die Franse tydskrif L’Express het die Franse sokkerowerheid gedurende die 1997/98 seisoen ’n rekordgetal van 20 825 dissiplinêre sake hanteer, en gewelddadige voorvalle het ook in ander sportsoorte aansienlik toegeneem. Waarom soveel geweld? Volgens die navorser Richard Pfister is een rede “die begeerte om te wen. Wanneer geld bo aansien verkies word, wanneer die uitslag groter klem as die genot van die spel kry, is die implikasie dat alles veroorloof is.” Pfister sê dat die jeug geweld vergoelik en dat hulle aangemoedig word om dit na te boots as sulke gedrag skynbaar ongestraf bly by mense wat dikwels as rolmodelle gesien word.

Posduiwe nog steeds nuttig

Die polisie in die Indiese staat Orissa het ’n gesofistikeerde kommunikasienetwerk, maar hulle gebruik nog steeds hulle “duiwe-afdeling”, ’n swerm van 800 duiwe, berig The Indian Express. Volgens mnr. B. B. Panda, direkteur-generaal van die polisie in Orissa, was die duiwe oor die afgelope 50 jaar ’n lewenslyn tydens oorstromings en siklone en is hulle steeds van praktiese waarde wanneer radiokommunikasie onderbreek word. Toe oorstromings in 1982 byvoorbeeld die dorp Banki verwoes het, was die duiwe die enigste verbinding tussen die dorp en die streekhoofkwartier van Cuttack. Orissa se eerste duiwe-eenheid is in 1946 begin met ’n Belgiese duifsoort wat die posduif genoem word en wat tot 800 kilometer ononderbroke teen 80 tot 90 kilometer per uur kan vlieg. Die voëls, wat 15 tot 20 jaar lank lewe, word tans in drie sentrums onder die sorg van 34 konstabels aangehou. Mnr. Panda het gesê: “Die duiwe lyk dalk verouderd in die selfoonera, maar hulle verleen nog steeds kragtige hulp aan die staat”.

Te min kinders gaan skool

Die Universele Verklaring van Menseregte, wat in 1948 deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering aangeneem is, het verklaar dat die reg op skoolopleiding ’n fundamentele reg is. Hoewel talle prysenswaardige pogings aangewend is, is hierdie doelwit nog lank nie bereik nie. “Vyftig jaar ná die Universele Verklaring van Menseregte aangeneem is, was daar nog steeds meer as 130 miljoen kinders van laerskoolouderdom wat nie skoolgegaan het nie”, berig die Duitse dagblad Allgemeine Zeitung Mainz. “Dit beteken dat 20 persent van al die kinders in die wêreld nie ’n basiese skoolopleiding gekry het nie.” Volgens Reinhard Schlagintweit, die hoof van die Verenigde Nasies-kinderfonds in Duitsland, sal dit ongeveer R43,3 miljard kos om al die kinders regoor die wêreld laerskool toe te stuur. Dit is baie minder as die bedrag wat elke jaar in Europa aan roomys bestee word of die bedrag wat jaarliks in die Verenigde State aan skoonheidsmiddels bestee word, en dit is net ’n breukdeel van die wêreld se wapenbesteding.

Asië—geneig tot rampe

“Ses van die wêreld se 10 grootste rampe verlede jaar het in Asië plaasgevind, wat 27 000 lewens geëis en $38 miljard (VSA) [R235,2 miljard] gekos het”, sê die South China Morning Post. Dit sluit die verwoestende oorstromings in Bangladesj en China in sowel as die Indonesiese bosbrande waarvan die rook tot in buurlande versprei het. “Asië word deur meer natuurrampe getref as enige ander streek in die wêreld”, sê die Verenigde Nasies se Ekonomiese en Maatskaplike Kommissie vir Asië en die Stille Oseaan. “Veral in Asië sal dit een van die grootste uitdagings van die 21ste eeu word om die gevaar te verminder.”

Waarom jy jouself nie kan kielie nie

“Selfs ’n uitgegroeide volwassene kan so hulpeloos soos ’n baba raak as hy op die regte plek gekielie word. Maar die mees hipersensitiewe persoon kan ten minste gerus wees in die wete dat hy homself nie kan kielie nie”, sê The Economist. Waarom nie? Volgens onlangse navorsing lê die antwoord in die serebellum, die deel van die brein wat spierbewegings koördineer. Navorsers meen dat die serebellum nie net ons bewegings koördineer nie, maar dat dit ook betrokke is in die voorspelling van die sensoriese gevolge van die bewegings. Wanneer mense dus probeer om hulleself te kielie, verwag die serebellum die sensasie en onderdruk dit. Wanneer jy deur iemand anders gekielie word, stem die stimulus en die serebellum se berekeninge nie ooreen nie, en die sensasie word nie onderdruk nie. The New York Times het dit soos volg in ’n soortgelyke artikel opgesom: “Die brein kan onderskei watter kielierige sensasies deur ’n mens se eie bewegings veroorsaak word en hy heg ’n lae prioriteit daaraan sodat hy ontvankliker kan wees vir sensasies van buite af wat moontlik dringender is.”

Morsekode se opvolger

Die morsekode, wat in 1832 uitgevind is, “het ’n onberekenbare rol in die ontwikkeling van die handel en selfs die geskiedenis gespeel”, erken Roger Cohn, van die Verenigde Nasies se liggaam wat wêreldskeepvaart beheer. Dit was ’n internasionale standaard wat skepe in nood gebruik het sedert 1912, die jaar toe die Titanic SOS gesein het—drie punte, drie strepe, drie punte, sê The Toronto Star. Maar van 1 Februarie 1999 af sal ’n nuwe satellietstelsel, wat deur die Internasionale Maritieme Organisasie in gebruik geneem is, outomaties ’n inligtingspakket oorsein na “’n wêreldwye netwerk van sentrums wat reddingspogings koördineer” wanneer ’n noodknoppie gedruk word op die skip se terminaal wat met die satelliet verbind is. Benewens die nege syfers van ’n vaartuig se identiteitsnommer, kan ander data wat gestuur word “die tyd insluit, sowel as die skip se posisie en die soort noodsituasie—ongespesifiseer, of een van 12 kategorieë wat wissel van brand tot oorstroming en oorhelling tot seerowery”, sê die Star. Dit voeg nostalgies by: “Morsekode is gebruik om van die beste nuus in die geskiedenis aan die wêreld mee te deel: Dit is gebruik om die einde van albei Wêreldoorloë aan te kondig.”

Gesondheidsprobleme aan skoene gekoppel

“Mediese getuienis dui daarop dat een uit ses mense ernstige voetprobleme het, wat dikwels aan skoene gekoppel kan word”, berig The Toronto Star. Swak knieë, seer heupe, onderrugpyn en hoofpyne kan ook aanduidings wees dat jy moet kyk na die skoene wat jy dra. “Die belangrikste ding om te onthou, is dat skoene nie jou voete se vorm aanneem nie, maar jou voete neem wel jou skoene se vorm aan”, sê die Star. “Moenie skoene koop en verwag dat hulle jou voete se vorm sal aanneem nie. As hulle nie in die winkel gemaklik voel nie, moet jy hulle nie koop nie.” Koop skoene in die middag, aangesien “’n mens se voete gedurende die dag effens swel”, en “pas die skoene volgens die breedte van die bal van jou voet aan, en nie volgens jou hak nie”. Volgens statistiek kom voetprobleme en -gebreke meer dikwels onder vroue voor. Dit is vermoedelik die geval omdat 90 persent van hulle “skoene dra wat te klein en te nou vir hulle voete is” en “hoë hakke dikwels tot baie van die ernstigste voetgebreke lei”. Die koerant sê verder: “Dit is ook belangrik om te onthou dat ’n mens eers pyn voel nadat die skade alreeds gedoen is.”

Bybels in China uitgegee

“China het in die afgelope twee dekades meer as 20 miljoen eksemplare van die Heilige Bybel uitgegee, en sedert die begin van die negentigerjare [het] die Bybel een van die gewildste boeke in die land geword”, sê die Xinhua-nuusagentskap. Volgens professor Feng Jinyuan, van die Instituut van Wêreldgodsdienste onder die Chinese Akademie vir Sosiale Wetenskappe, mag Christene in China twee eksemplare koop. Meer as 20 verskillende uitgawes is al uitgegee, “waaronder Engelse uitgawes met Chinese vertalings, Chinese uitgawes in tradisionele en vereenvoudigde karakters, uitgawes in tale van etniese minderheidsgroepe en in sak- sowel as naslaanformaat”. Daarbenewens is ’n aantal boeke met Bybelverhale uitgegee en hulle sal na verwagting Bybelverkope oortref. “Die Bybel is 32ste op die lys van boeke wat sedert die vroeë negentigerjare die grootste invloed gehad het”, sê die artikel, maar “godsdiens het oor die algemeen ’n kleiner invloed oor die Chinese as oor Westerlinge”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel