Hulp vir seer voete
“MY VOETE moor my!” Dit is natuurlik ’n oordrywing. In die Verenigde State is die probleem met seer voete nietemin ernstig genoeg om duisende voetspesialiste van werk te voorsien.
Nadat dr. Michael Coughlin, ’n ortopedis, meer as 2000 voetoperasies hersien het wat hy oor 14 jaar uitgevoer het, het hy ’n verbasende ontdekking gedoen. “Dis ongelooflik”, sê hy, “dat byna al hierdie operasies op vroue gedoen is.” Waarom ontwikkel veral vroue voetprobleme?
Snit, mode en voete
’n Opname onder 356 vroue het gevind dat bykans 9 uit 10 skoene gedra het wat gemiddeld meer as een grootte te smal vir hulle voete was! Die probleem lê deels in die manier waarop vroueskoene gemaak word. “Skoenmakers gebruik nie meer kombinasielese wat ’n smal hak en ’n wyer voorvoet kan maak nie”, verduidelik die ortopedis Francesca Thompson.a
Wanneer vroue dus skoene aanpas, vind baie van hulle dat die hak te los sit wanneer die voorste deel gemaklik pas; maar wanneer die hak net reg is, is die voorste deel te styf. Ander kies ’n gemaklike hak met ’n stywe voorste deel, aangesien die alternatief kan beteken dat hulle hakskeen met elke tree uitglip.
Dit is erg genoeg dat ’n mens jou voet in ’n smal skoen moet indruk. Maar dan lig ontwerpers die skoen se hak ook nog ’n paar sentimeter. Hoewel ’n hoëhakskoen as modieus beskou word, plaas dit al die druk op die bal van die voet, en dit forseer die voet vorentoe in ’n skoenpunt wat moontlik reeds te smal is. “Daar bestaan nie so iets soos ’n gesonde hoëhakskoen nie”, sê dr. David Garrett, ’n voetheelkundige. Sommige sê dat hoëhakskoene die draer se voete, enkels, kuite, knieë en rug uiteindelik skade kan aandoen. Hulle kan ook beenspiere en -senings korter maak, wat daartoe kan lei dat veral hardlopers ernstige beserings opdoen.
’n Vrou se voet pas nie goed aan by die slegte behandeling wat dit verduur nie. Trouens, oor die jare is die voorste deel van die voet net geneig om breër te word—selfs nadat ’n mens volwassenheid bereik het. Maar dit is nie wat met die hak gebeur nie. “Die hak het net een been”, sê dr. Thompson, “en dit bly net so smal op 84-jarige ouderdom as op die ouderdom van 14.” Dit maak dit selfs moeiliker vir ’n vrou om ’n skoen te vind wat van hak tot toon gemaklik pas.
Wenke om skoene te koop
Hoe kan vroue seer voete voorkom, aangesien die snit en mode van hulle skoene teen hulle tel? Die antwoord begin in die skoenwinkel. Sommige deskundiges beveel die volgende aan:
● Doen jou skoeninkopies teen die einde van die dag, wanneer jou voete effens groter is.
● Pas al twee skoene aan—nie net een nie.
● Maak seker dat die hak nie te los sit nie en dat die lengte, breedte en hoogte van die skoenpunt voldoende is.
● Hou in gedagte dat die winkel moontlik ’n dik tapyt het wat selfs skoene wat nie reg pas nie op daardie oomblik gemaklik kan laat voel.
● Vermy skoene wat van blinkleer of kunsmateriaal gemaak is. Anders as sagte leer of suede gee sulke materiaal nie mee terwyl jy loop nie.
● As jy hoëhakskoene koop, kan jy leerbinnesole probeer om as kussinkies te dien. Oorweeg dit om nie die heeltyd hoëhakskoene te dra nie, maar om soms gedurende die dag skoene met ’n platter hak aan te trek.
Benewens wat hierbo gesê is, moet jy altyd onthou dat skoene gemaklik moet voel wanneer jy dit koop. In teenstelling met wat algemeen geglo word, is daar geen inlooptyd nie. “Moet nóóit toelaat dat die verkoopsman jou daarvan oortuig dat daardie skoen wat so druk beter sal voel nadat jy hom ingeloop het nie”, waarsku dr. Coughlin. “Jy gaan net jou voete seermaak.”
Maar sê nou jou enigste keuses is ’n stywe voorste deel met ’n gemaklike hak of ’n gemaklike voorste deel met ’n los hak? Dr. Annu Goel, ’n voetheelkundige, sê jy moet besluit wat die maklikste is om reg te stel. “Daar is twee maniere om dit te doen”, sê sy. “Eerstens kan jy skoene koop waarvan die voorste deel breed genoeg is en kussinkies insit om die hak gemakliker te laat pas. . . . Die tweede manier is om ’n skoen te koop met ’n gemaklike hak en die voorste deel van die skoen te laat rek. Maar dit werk gewoonlik net met leerskoene.”
Aangesien baie vroue gemiddeld 15 kilometer per dag stap, sal dit goed wees as hulle hulle skoene ondersoek. Soos die tydskrif American Health sê: “As jy jou voete met groter respek behandel—veral deur skoene te dra wat pas—kan jy voorkom dat die meeste voetprobleme ooit ontstaan.”
[Voetnoot]
a ’n “Lees” is ’n vorm, soos die menslike voet, waarop ’n skoen gevorm word.
[Venster op bladsy 26]
Vier algemene voetprobleme
Toonknobbels. ’n Toonknobbel is ’n knop aan die basis van die groottoon. Wanneer dit nie oorgeërf is nie, kan toonknobbels deur stywe of hoëhakskoene veroorsaak word. Die aanwending van hitte of ys kan pyn tydelik verlig, maar chirurgie is nodig om ’n toonknobbel permanent te verwyder.
Hamertone. Tone wat ondertoe gebuig word, kan deur skoene veroorsaak word wat te veel druk op die voorste deel van die voet plaas. Chirurgie is dalk nodig om die misvorming reg te stel.
Liddorings. Keëlvormige knobbels op die tone, wat veroorsaak word deur wrywing en druk en soms ontstaan as gevolg van skoene wat te smal is. Boererate kan tydelike verligting bied, maar chirurgie is gewoonlik nodig om die misvormde tone wat die wrywing veroorsaak reg te stel.
Eelte. Lae dik, dooie vel beskerm die voet teen herhaalde wrywing. Hulle kan sagter gemaak word deur hulle in warm water en Engelse sout te week. Maar moet hulle nie sny nie, want dit kan infeksie veroorsaak.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck