Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 10/8 bl. 12-15
  • Die werklikheid het my verwagtinge oortref

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die werklikheid het my verwagtinge oortref
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My soeke word beloon
  • Ons bediening in Nederland
  • Die bediening in ons nuwe tuiste
  • Lesse wat ek geleer het
  • Wat het ons gehelp om aan te hou
  • “Ek wou vir Jehovah werk”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2000
  • ’n Lonende lewe ondanks afsondering
    Ontwaak!—1993
  • Hulle het ‘hulle gewillig aangebied’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 10/8 bl. 12-15

Die werklikheid het my verwagtinge oortref

SOOS VERTEL DEUR WILLEM VAN SEIJL

Dit was 1942, en ons land was in die Tweede Wêreldoorlog gewikkel. Ek was een van vyf jong mans wat in Groningen, Nederland, vir die Nazi’s weggekruip het. Ons het in ’n klein kamertjie gesit en begin praat oor ons kanse om die oorlog te oorleef.

DIT was duidelik dat ons kanse om die oorlog te oorleef skraal was. Drie van ons groep het uiteindelik ’n gewelddadige dood gesterf. Trouens, ek is die enigste een wat bejaard geword het. Dit is maar net een geval van die werklikheid wat my verwagtinge oortref het.

Ek was net 19 toe die insident hierbo plaasgevind het, en my kennis van die Bybel of godsdiens was baie beperk. My pa was in werklikheid teen alle godsdiens gekant. My ma se soeke na ’n godsdiens het daartoe gelei dat sy spiritisme begin beoefen het. Wat my betref, ek het geen hoop gehad nie. Ek het gevoel dat God geen rede sou hê om my te onthou as ek in ’n bomaanval of op ’n ander manier moes sterf nie. Ek het nie eers probeer om van hom te leer nie.

My soeke word beloon

Kort ná daardie gesprek met die vier jeugdiges is ek deur die Nazi’s gevang en na ’n arbeidskamp in Duitsland, naby Emmerich, geneem. Ons moes onder meer puin verwyder en herstelwerk doen ná bomaanvalle deur die Geallieerdes. Teen die einde van 1943 het ek ontsnap, en hoewel die oorlog nog gewoed het, het ek na Nederland teruggekeer.

Op een of ander manier het ek ’n klein boekie met vrae en Bybeltekste gekry. Dit is vir studies in die boek Redding gebruik, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Deur die vrae te lees en die tekste na te slaan, het ek baie in die vervulling van Bybelprofesieë begin belangstel.

Ek het met my verloofde, Gré, gepraat oor wat ek gelees het, maar sy het aanvanklik min belangstelling getoon. My ma het daarenteen in die boekie verdiep geraak. “Dit is die waarheid waarna ek nog my hele lewe lank soek!” het sy uitgeroep. Ek het ook met vriende gepraat, en party wou meer weet. Trouens, een het ’n Getuie geword, en tot sy dood in 1996 het ons gereeld met mekaar in aanraking gebly deur vir mekaar te skryf en mekaar te besoek.

Gré het in die tussentyd die Bybel begin bestudeer, en in Februarie 1945 is ons albei gedoop. Die oorlog het ’n paar maande later geëindig. Nadat ons getroud is, wou ons pioniers word, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Maar ons het voor struikelblokke te staan gekom—siekte en finansiële probleme. Ons is ook geleenthede gebied om baie meer geld te verdien. Sou ons eers vir ’n mate van finansiële sekuriteit werk en dan die pionierdiens betree, of sou ons onmiddellik begin?

Ons bediening in Nederland

Ons het besluit om onmiddellik met die pionierdiens te begin, wat ons op 1 September 1945 gedoen het. Toe ek laat daardie selfde dag op pad huis toe was, het ek by ’n restaurant ingegaan om iets te drink. Ek het die kelner betaal met wat ek gedink het ’n eenguldenoot is en vir hom gesê: “Hou die kleingeld.” Toe ek by die huis kom, het ek ontdek dat ek hom ’n 100-guldenoot gegee het! Ons het toe presies een gulde oorgehad om die pionierdiens mee te begin!

Toe ek in 1946 openbare Bybeltoesprake begin hou het, het ek net ’n leerbaadjie gehad. ’n Vriend, wat omtrent my grootte was, was die voorsitter. Hy het my toespraak ingelei en onmiddellik agter die verhoog gegaan en my sy baadjie gegee. Dan het ek die toespraak gehou. Aan die einde van die toespraak het ek dan net weer vir hom agter die verhoog sy baadjie teruggegee!

In Maart 1949 het ek en Gré ’n uitnodiging ontvang om aan die kringwerk deel te neem, wat beteken het dat ons gemeentes van Jehovah se Getuies moes besoek om hulle geestelik te versterk. Fritz Hartstang, wat voor en gedurende die oorlog ’n getroue bedienaar was, het my vir die kringwerk opgelei. Hy het my goeie raad gegee: “Wim, volg die instruksies wat jy van Jehovah se organisasie ontvang, selfs al dink jy dat dit nie die beste manier is nie. Jy sal nooit spyt wees nie.” Hy was reg.

In 1951 het Nathan H. Knorr, destyds die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Nederland besoek. Ek en Gré het toe aansoek gedoen vir sendingopleiding in die Verenigde State. Kort daarna het ons ’n uitnodiging ontvang om die 21ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Toe ons in 1945 as pioniers begin dien het, was daar ongeveer 2 000 Getuies in Nederland, maar teen 1953 was daar meer as 7 000, ’n werklikheid wat ons verwagtinge ver oortref het!

Die bediening in ons nuwe tuiste

Ons is na Nederlands-Nieu-Guinee, nou ’n provinsie van Indonesië, gestuur, maar toe ons nie toegang tot hierdie land verleen is nie, is ons toewysing verander na Suriname, ’n tropiese land in Suid-Amerika. Ons het in Desember 1955 daar aangekom. Suriname het toe net ongeveer honderd Getuies gehad, maar hulle was besonder hulpvaardig. Ons het gou tuis gevoel.

Ons moes wel aan talle nuwe dinge gewoond raak, en soms was dit moeilik. Gré was byvoorbeeld bang vir alles wat pote en vlerke gehad het. As sy in Nederland ’n spinnekoppie in ons slaapkamer gekry het, sou sy nie gaan slaap voordat ek eers daarvan ontslae geraak het nie. Maar Suriname het spinnekoppe wat tien keer groter is, en party is giftig! Ons sendinghuis het ook kakkerlakke, rotte, miere, muskiete en sprinkane gehad. Selfs slange het ons besoek. Gré het so gewoond geraak aan hierdie gediertetjies dat die stryd om van hulle ontslae te raak nou net ’n alledaagse deel van haar lewe is.

Ná meer as 43 jaar ken ons die land beter as baie wat hier gebore is. Ons het lief geword vir die land se riviere, reënwoude en moerasse na aan die kus. Ons is ook vertroud met die oorvloedige dierelewe—ystervarke, luidiere, jaguars en selfs die verskillende soorte slange, waarvan baie pragtige kleure het. Maar ons het veral die groot mengelmoes van mense hier leer liefkry. Sommige se voorouers was van Afrika, asook Indië, Indonesië, China en ander lande. En party is Indiane, afstammelinge van die oorspronklike inwoners.

In ons Christelike bediening kom ons mense van al hierdie agtergronde teë wanneer ons hulle in hulle huise besoek. Ons geniet dit ook om by ons Koninkryksale dieselfde wonderlike verskeidenheid Christenbroers en -susters te hê. Ons het die groei gesien van ’n enkele vervalle Koninkryksaal in 1953 tot meer as 30 aantreklike Koninkryksale, ’n pragtige Byeenkomssaal en ’n baie mooi takkantoor, wat in Februarie 1995 toegewy is.

Lesse wat ek geleer het

Diep in die binneland van Suriname is daar etlike gemeentes van sogenaamde Bosnegers, afstammelinge van Afrika-slawe wat van die plantasies ontsnap het en so ver as wat hulle kon teen die rivier op gevlug het. Hulle het my herhaaldelik verbaas met wat hulle doen—hoe hulle byvoorbeeld die rivier vir vervoer gebruik en die reënwoud hulle tuiste maak. Hulle kap bome af, bou bote en stuur dit deur watervalle en stroomversnellings. Hulle jag en vang vis vir kos, kook sonder enige moderne fasiliteite en doen talle ander dinge wat vir ons baie moeilik sou wees.

Deur die jare het ons ook die ander bevolkingsgroepe leer ken wat hier in Suriname woon, asook hulle gebruike, hulle denkwyse en hulle lewenswyse. Ek onthou toe ek in die vyftigerjare ’n Indiaanse dorpie besoek het. In die middel van die nag het ek by ’n verlate kamp in die reënwoud aangekom, waarvandaan ek en my Indiaanse gids met ’n boot verder sou gaan. Hy het die vuur gemaak, die kos gekook, die hangmatte vasgemaak. Dit was normaal vir hom om alles vir my te doen, want hy het geweet dat ek nie weet hoe om dit te doen nie.

Toe ek in die middel van die nag uit my hangmat geval het, het hy nie gelag nie. Hy het eerder my klere afgevee en die hangmat weer vasgemaak. Toe ons op ’n smal rivier gereis het, was dit so donker dat ek nie eers my hande voor my kon sien nie, maar my gids het die boot om die talle kronkels en hindernisse gestuur. Toe ek hom vra hoe hy dit doen, het hy gesê: “Jy kyk op die verkeerde plek. Kyk op en kyk na die kontras tussen die boomtoppe en die lug. Dit sal vir jou wys waar die rivier kronkel. Kyk af en kyk uit vir rimpels op die water. Dit sal vir jou wys of daar rotse of ander hindernisse voor is. En luister. Klanke sê ook vir jou wat jy te wagte kan wees.”

Dit kan gevaarlik en uitputtend wees om in uitgeholde boomstamme te reis, deur stroomversnellings te kom en om watervalle te gaan. Maar aan die einde van die tog, wanneer ons by ons Christenbroers en -susters aankom wat wag om ons met hulle hartlike gasvryheid te verwelkom, voel ons verkwik. Daar is altyd kos vir gaste, miskien ’n bord sop. Die lewe as ’n sendeling was dikwels ’n uitdaging en moeilik, maar nooit ’n teleurstelling nie.

Wat het ons gehelp om aan te hou

Ons is nie altyd so gesond nie. Ons het ook nie baie aanmoediging van familielede gekry nie, want my ma is die enigste een in ons familie wat ’n Getuie is. Maar die hulp en aanmoediging van ons dierbare vriende het nog altyd in ons behoeftes voorsien, wat ons help om in ons toewysing te bly. My ma was veral aanmoedigend.

Ná ons ongeveer ses jaar in ons toewysing was, het my ma baie siek geword. Van ons vriende wou hê dat ons moes terugkom om haar vir die laaste keer te sien, maar my ma het geskryf: “Bly asseblief in julle toewysing. Onthou my soos ek was voor ek siek geword het. Ek hoop om julle in die opstanding te sien.” Sy was ’n vrou met sterk geloof.

Ons kon eers in 1966 teruggaan Nederland toe vir ’n vakansie. Ons het dit baie geniet om ons ou vriende te sien, maar ons het gevoel dat Suriname nou ons tuiste is. Ons sien dus die wysheid van die organisasie se raad dat sendelinge nie na hulle geboorteland teruggaan vir vakansie totdat hulle ten minste drie jaar in hulle toewysing gedien het nie.

Nog iets wat ons gehelp het om ons toewysing te geniet, is om ’n goeie sin vir humor te behou—om vir dinge, en ook vir onsself, te kan lag. Jehovah het selfs humor in sommige van sy skeppingswerke geplaas. Wanneer ’n mens kyk na die kapperjolle van sjimpansees en otters, en veral die kleintjies van baie diere, kan ’n mens nie anders as om te glimlag nie. Dit is ook belangrik om die positiewe sy van dinge te sien en onsself nie te ernstig op te neem nie—iets wat ons deur die jare geleer het.

Ons lonende werk in die bediening het ons veral gehelp om in ons toewysing te bly. Gré het ’n Bybelstudie met nege mans in ’n ouetehuis in Paramaribo begin. Hulle was almal al oor die 80. Hulle was almal voorheen of balata-bloeiers (rubberboomtappers) of gouddelwers. Elkeen van hulle het wat hulle geleer het, liefgekry, is gedoop en was tot hulle dood getrou in die predikingswerk.

’n Ou predikant genaamd Rivers, van die Nuwe Kerk van Swedenborg, het die studie bygewoon en sarkastiese opmerkings gemaak. Maar elke week het hy ’n bietjie nader gesit en het hy al hoe minder gespot. Uiteindelik het hy saam met die ander gesit en deelgeneem. Hy was 92 jaar oud en kon skaars sien of hoor, maar hy kon tekste aanhaal asof hy dit lees. Uiteindelik het hy saam met ons aan die bediening begin deelneem en vir almal getuig wat wou luister. Net voor hy dood is, het hy ons laat roep. Toe ons daar kom, was hy reeds dood, maar onder sy kussing het ons sy velddiensrapport vir daardie maand gekry.

In 1970, ná meer as 25 jaar in die voltydse predikingswerk, is ek as opsiener van die takkantoor in Suriname aangestel. Dit was vir my moeilik om agter ’n lessenaar te sit en ek het gewens ek kon saam met Gré gaan, wat nog steeds elke dag in die veldbediening uitgegaan het. Nou werk Gré ook in die tak, en ons albei het betekenisvolle werk om hier te doen namate ons ouer word.

Wanneer ek die minder as 160 000 bedrywige Koninkryksverkondigers in die wêreld in 1945 met die sowat 6 000 000 vandag vergelyk, sien ek inderdaad dat die werklikheid my verwagtinge ver oortref het. En in Suriname is daar nou 19 keer meer verkondigers as in 1955, toe ons hier aangekom het—van ongeveer 100 verkondigers destyds tot meer as 1 900 vandag!

Ek is vol vertroue dat ons baie groter vooruitgang in die vervulling van Jehovah se voorneme in die toekoms sal sien as ons net getrou aan ons God bly. En dit is wat ons van voorneme is om te doen.

[Prent op bladsy 13]

In 1955, toe ons na Suriname gekom het

[Prent op bladsy 15]

Ons gebruik kano’s in ons bediening

[Prent op bladsy 15]

Saam met my vrou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel