Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 10/8 bl. 16-17
  • Die windswael—Vlieg soos die wind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die windswael—Vlieg soos die wind
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ontwerp om te vlieg
  • Neste van gom
  • Instink—aangebore wysheid
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Die grootmaak van kleintjies in die natuur
    Ontwaak!—2001
  • “Die pragtigste woudbewoner”
    Ontwaak!—2000
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 10/8 bl. 16-17

Die windswael—Vlieg soos die wind

DEUR “ONTWAAK!”-MEDEWERKER IN KENIA

EEN VAN DIE VINNIGSTE LEWENDE WESENS OP AARDE skiet deur die lug met sy sekelvormige vlerke. Hy is ’n klein voëltjie wat maar net ’n paar gram weeg, maar hy kan blitsvinnig deur die lug vlieg. “Windswaels wat vinniger as 100 myl (160 km) per uur vlieg, is al waargeneem”, sê The Encyclopedia Americana. Dit is geen wonder dat hierdie voëltjies, wat soos die wind vlieg, windswaels genoem word nie!

Wanneer windswaels hoog bokant die aarde sweef en met dolle vaart draai en swenk op soek na insekte, lyk dit of dit hoegenaamd geen inspanning van hulle verg nie. Windswaels bring meer tyd in die lug deur as enige ander voëls en hulle vang kos, eet, drink, maak nesboumateriaal bymekaar en paar selfs terwyl hulle vlieg. Hulle bring soveel tyd in die lug deur dat mense in antieke tye geglo het dat windswaels se neste in die hemel is, iewers in die wolke waar dit nie gesien kon word nie. Sommige windswaels kan tot nege maande van die jaar in die lug bly. Hierdie verbasende klein voëltjies slaap blykbaar selfs terwyl hulle in die lug sweef!

Ontwerp om te vlieg

Windswaels is wonderwerke wat aërodinamiese ontwerp betref. Hulle het doeltreffende halfmaanvormige vlerke wat agtertoe buig en baie van die weerstand uitskakel wat die meeste ander voëls se vlug vertraag. Wanneer hulle hoog in die lug is, versnel hulle deur vinnige, kort vlerkslae wat hulle afwissel deur vir kort tydjies te sweef.

Hulle buitengewone beweegbaarheid kan gedeeltelik toegeskryf word aan hulle vermoë om een vlerk vinniger as die ander een te klap terwyl hulle vlieg. Deur hulle vlerke effens uit pas met mekaar te klap, kan windswaels skielik van rigting verander sonder om stadiger te vlieg. Dit stel hulle in staat om ’n hoë snelheid te bereik wanneer hulle swenk om vlieënde insekte so in die verbyvlieg met hulle wye bekkies op te vang. Windswaels moet groot hoeveelhede insekte eet om in die geweldige energiebehoeftes van hulle bedrywige lewe te voorsien. En hierdie vernuftige voëltjies kan honderde kilometers per dag op soek na insekte aflê.

Die windswael se beskeie voorkoms weerspreek sy uitstekende vliegvermoë. Die mannetjie sowel as die wyfie is maar onaansienlik, aangesien die meeste van hulle ’n onopvallende grys of bruin kleur het. Al die verskillende soorte windswaels kom regoor die wêreld voor en kan hoofsaaklik in tropiese en subtropiese lande gesien word. In die winter migreer dié wat in die Noordelike Halfrond woon duisende kilometers na warmer streke.

Neste van gom

Windswaels maak hulle neste van ’n baie vreemde boumateriaal—hulle eie speeksel! Hulle het spesiale speekselkliere waarmee hulle groot hoeveelhede speeksel kan produseer wat as ’n bindmiddel dien om nesboumateriaal aanmekaar te heg.

Windswaels gaan baie min op die grond sit, en hulle kan nie soos ander voëls op takke sit nie. Hulle bene en klein, krom pootjies is so kort dat dit die voëls nie hoog genoeg kan lig sodat hulle vlerke behoorlik kan klap nie. Maar hulle pootjies is uitgeknip om aan vertikale oppervlakke, soos kranse, grotte en geboue se mure, vas te klou. Wanneer dit tyd is om ’n nes te bou, kan die windswael nie soos ander voëls blare, stokkies of modder van die grond af bymekaarmaak nie. Hulle moet ’n ander plan maak.

Die skoorsteenwindswael maak klein takkies bymekaar deur vinnig deur ’n boom se takke te vlieg, ’n takkie vas te gryp en dit dan deur die krag van sy momentum af te breek. Daarna gom hy die takkies aan mekaar vas en heg dit dan met sy klewerige speeksel aan ’n vertikale oppervlak vas. Die Amerikaanse palmwindswael vlieg rats deur die lug en gryp hare, vere, stukkies katoen en ander ligte materiaal wat in die lug rondsweef, wat hy dan saam met sy speeksel gebruik om ’n nes te bou.

’n Ander windswael word gepas die sopnesswaeltjie genoem. Sy nes word so te sê geheel en al van sy eie verharde speeksel gebou. Die speeksel waarvan hierdie neste gebou word, is al eeue lank die hoofbestanddeel van die heerlike voëlnessop wat in die Ooste geniet word. Volgens berig word miljoene neste elke jaar gebruik om hierdie lekkerny te maak.

Een van die interessantste neste word van die gomagtige speeksel van die palmwindswael van Afrika gemaak. Hierdie klein voëltjie gom ’n klein, plat kussinkie van vere teen die onderkant van ’n palmblaar vas. Die nes, wat onderstebo hang, waai dikwels gevaarlik in die wind rond. Hoe bly die klein eiertjie in die nes? David Attenborough verduidelik in sy boek Trials of Life: “Dit lyk byna onmoontlik dat die enkele eiertjie in die klein nessie kan bly. Trouens, dit sou ongetwyfeld uitgeval het as dit nie was dat die voël nie net die nes aan die blaar vasgegom het nie, maar ook die eiertjie aan die nes.” Met die nes sowel as die eiertjie stewig aan die palmblaar vasgeheg, klou die ouers met hulle pote aan die kante van die nes vas en maak hulle beurte om op die eier te broei. Nadat die kuikentjie uitgebroei het, klou hy vas aan sy nes wat so deur die wind rondgewaai word totdat hy slagvere kry en wegvlieg.

Dit is waarlik ’n skouspel om duisende windswaels dop te hou wat blitsvinnig en warrelend rondvlieg terwyl hulle luidkeels kwetter asof hulle opgewonde is. Wanneer ’n mens van onder af na hulle kyk, word jy vervul met ontsag oor hulle vryheid in vlug sowel as waardering vir hulle pragtige, intelligente ontwerp. Trouens, dit is maklik om te sien waarom hierdie akrobate van die lug, met hulle besondere ratsheid en spoed, werklik verdien om windswaels genoem te word!

[Prente op bladsy 17]

Witpenswindswael

Gewone Europese windswael

[Erkenning]

Animals/Jim Harter/Dover Publications, Inc.

[Prent op bladsy 17]

Skoorsteen-windswael

[Erkenning]

© Robert C. Simpson/Visuals Unlimited

[Foto-erkenning op bladsy 16]

© D. & M. Zimmerman/VIREO

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel