Hoofstuk 13
Instink—aangebore wysheid
1. Wat was Darwin se kommentaar oor instink?
“TALLE instinkte is so wonderlik dat die ontwikkeling daarvan waarskynlik vir die leser na ’n probleem sal lyk wat groot genoeg is om my hele teorie omver te werp”, het Darwin geskryf. Hy het klaarblyklik gemeen dat instink ’n onoplosbare probleem is, want sy volgende sin was: “Ek kan hier van die veronderstelling uitgaan dat ek niks met die oorsprong van die verstandelike vermoëns te doen het nie, net so min as wat ek iets met die oorsprong van lewe self te doen het.”1
2. Hoe beskou sommige wetenskaplikes instink vandag?
2 Wetenskaplikes is vandag net so min daartoe in staat om instink te verklaar as wat Darwin was. Een evolusionis het gesê: “Die duidelike feit is dat die genetiese raderwerk nie die geringste teken toon dat dit in staat is om spesifieke gedragspatrone oor te dra nie. . . . Wanneer ons onsself afvra hoe enige instinktiewe gedragspatroon in eerste instansie ontstaan het en ’n vaste erflike eienskap geword het, kry ons geen antwoord nie.”2
3, 4. Wat sê een boek oor hoe die instink om te migreer ontstaan het, en hoe skiet hierdie verduideliking te kort?
3 Anders as Darwin en ander evolusioniste vind een alom verspreide boek oor voëls dit glad nie moeilik om een van die raaiselagtigste instinkte—dié in verband met migrasie—te verklaar nie. Dit sê: “Dit ly geen twyfel dat dit ’n evolusionêre proses was nie. Voëls wat in warm klimate ontstaan het, het waarskynlik verder gevlieg op soek na kos.”3
4 Kan so ’n simplistiese antwoord die verbasende prestasies van talle trekvoëls verklaar? Wetenskaplikes weet dat sulke eksperimentele vlugte en aangeleerde gedragspatrone nie ’n deel van die genetiese kode word en dus nie deur die afstammelinge geërf word nie. Daar word erken dat migrasie instinktief en “onafhanklik van vorige ondervinding” is.4 Beskou ’n paar voorbeelde.
Die ontsagwekkende prestasies van trekvoëls
5. Watter migrasies maak seeswawels die langafstandkampioene, en watter vraag word deur een wetenskaplike gestel?
5 Die seeswawels is die langafstandkampioene. Aan die einde van die somer vlieg hierdie voëls, wat noord van die Noordpoolsirkel nes maak, suidwaarts om die Antarktiese somer op die pakys naby die Suidpool deur te bring. Hulle vlieg soms om die hele vasteland van Antarktika voordat hulle noordwaarts draai om na die Noordpool terug te keer. Hulle voer dus ’n jaarlikse migrasie van ongeveer 35 000 kilometer uit. Ryk kosvoorrade is by albei poolgebiede beskikbaar, en daarom het een wetenskaplike die vraag gestel: “Hoe het hulle ooit ontdek dat sulke voorrade so ver uitmekaar bestaan?”5 Evolusie het geen antwoord nie.
6, 7. Wat lyk vreemd omtrent die Nieu-Engelandse sangvoël se migrasie, en watter vrae laat ons besef hoe groot sy prestasie is?
6 Die migrasie van die Nieu-Engelandse sangvoël is vir evolusie ewe onverklaarbaar. Hy weeg slegs 20 gram. Maar in die noordelike herfs vlieg hy van Alaska na die ooskus van Kanada of Nieu-Engeland, waar hy gulsig vreet, vet opgaar en dan vir ’n koue front wag. Wanneer dit kom, vlieg die voël verder. Sy bestemming is Suid-Amerika, maar hy vlieg in die rigting van Afrika. Bokant die Atlantiese Oseaan, waar hy op ’n hoogte van sowat 6 000 meter vlieg, kom hy ’n heersende wind teë wat hom na Suid-Amerika voer.
7 Hoe weet die sangvoël dat hy op die koue front moet wag, en dat dit goeie weer en ’n meewind sal beteken? Hoe weet hy dat hy hoër en hoër moet klim tot waar die lug dun en koud is en 50 persent minder suurstof bevat? Hoe weet hy dat die dwarswind wat hom na Suid-Amerika sal voer net op daardie hoogte waai? Hoe weet hy dat hy in die rigting van Afrika moet vlieg om voorsiening te maak vir die suidwestelike drif van hierdie wind? Die Nieu-Engelandse sangvoël is nie bewus van een van hierdie dinge nie. Op sy reis van sowat 3 800 kilometer oor ongebaande seë, waartydens hy drie of vier dae en nagte aaneen vlieg, word hy slegs deur instink gelei.
8. Watter bykomende migrasieprestasies word hier gemeld?
8 Witsprinkaanvoëls bring die somer in Europa deur, maar vlieg 13 000 kilometer om in Suid-Afrika te oorwinter. Die goue strandloper reis van die Noordpooltoendra na die pampas in Argentinië. Sommige strandlopers migreer 1 600 kilometer verder as die pampas na die puntjie van Suid-Amerika. Een soort wulp vlieg van Alaska na Tahiti en ander eilande, ’n afstand van tot 9 600 kilometer oor die oop oseaan. Die vlug van die robynkeelkolibrie, wat drie gram weeg, is veel korter, maar net so merkwaardig as ’n mens sy grootte in ag neem. In sy migrasie van byna 1 000 kilometer oor die Golf van Mexiko klap hy sy klein vlerkies 25 uur lank tot 75 keer per sekonde. Meer as sesmiljoen vlerkslae sonder om te rus!
9. (a) Wat toon dat die vermoë om te migreer nie aangeleer word nie, maar aangebore moet wees? (b) Watter eksperimente met ’n Manse pylstormvoël en met posduiwe toon dat hierdie voëls veelsydige navigators is?
9 Jong voëls vertrek dikwels sonder volwassenes op hulle eerste trekvlug. Jong langstertkoekoeke van Nieu-Seeland vlieg 6 400 kilometer na eilande in die Stille Oseaan om by hulle ouers aan te sluit wat vroeër soontoe gevlieg het. Manse pylstormvoëls migreer van Wallis na Brasilië en laat hulle kuikens agter, wat hulle volg sodra hulle kan vlieg. Een het die reis in 16 dae afgelê deur gemiddeld 740 kilometer per dag te vlieg. ’n Manse pylstormvoël is van Wallis na Boston, ver van sy gewone trekroete, geneem. Hy het in 12 1⁄2 dae na sy nes in Wallis, 5 100 kilometer daarvandaan, teruggekeer. Posduiwe wat 1 000 kilometer in enige rigting geneem is, het in een dag na hulle neste teruggekeer.
10. Watter eksperiment het die Adéliepikkewyn se navigasievermoë getoon?
10 ’n Laaste voorbeeld: voëls wat nie vlieg nie, maar loop en swem. Beskou Adéliepikkewyne. Wanneer hulle 2 000 kilometer van hulle broeiplekke af geneem en vrygelaat is, het hulle hulle gou geörienteer en reguit weggeswem, nie na die broeiplek waarvandaan hulle geneem is nie, maar na die oop see en kos. Van die see het hulle mettertyd na die broeiplek teruggekeer. Hulle bring die feitlik pikdonker winters in die see deur. Maar hoe oriënteer die pikkewyne hulself gedurende die donker winter? Niemand weet nie.
11. Wat het voëls nodig om sulke verbasende navigasieprestasies te behaal?
11 Hoe behaal voëls hierdie navigasieprestasies? Eksperimente dui daarop dat hulle moontlik die son en die sterre gebruik. Hulle het skynbaar ’n inwendige tydmeganisme om vir die beweging van hierdie hemelliggame te vergoed. En as dit bewolk is? Ten minste sommige voëls het ingeboude magnetiese kompasse vir gebruik onder sulke omstandighede. Maar meer as ’n kompasrigting is nodig. Hulle het ’n “kaart” in hulle kop, met die beginpunt en die bestemming daarop, nodig. En op die kaart moet die roete aangedui word, aangesien dit selde reguit is. Maar nie een van hierdie dinge help tensy hulle weet waar hulle op die kaart is nie! Die Manse pylstormvoël moes geweet het waar hy was toe hy in Boston vrygelaat is sodat hy die rigting na Wallis kon bepaal. Die posduif moes geweet het waarheen hy geneem is sodat hy die rigting na sy hok kon bepaal.
12. (a) Wat het Jeremia oor migrasie gesê, wanneer het hy dit gesê, en waarom is dit merkwaardig? (b) Waarom sal ons dalk nooit al die besonderhede oor migrasie ken nie?
12 Tot in die Middeleeue nog is die feit dat voëls oor groot afstande trek deur baie mense betwis, maar die Bybel het al in die sesde eeu v.G.J. daarvan gepraat: “’n Groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ’n tortelduif en ’n swaweltjie en ’n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag.” Die mens het nou al baie geleer, maar baie dinge bly steeds ’n raaisel. Die Bybel het onteenseglik gelyk wanneer dit sê: “Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.”—Jeremia 8:7; Prediker 3:11, NAV.
Ander navigators
13. Watter ander diere, benewens voëls, migreer ook?
13 In die winter trek kariboes in Alaska 1 300 kilometer suidwaarts. Baie walvisse swem meer as 10 000 kilometer van die Noordelike Yssee af en terug. Seeleeus migreer tussen die Pribilof-eilande en suidelike Kalifornië oor ’n afstand van byna 5 000 kilometer. Groen seeskilpaaie swem van die kus van Brasilië na kleine Ascension-eiland, 2 200 kilometer daarvandaan in die Atlantiese Oseaan, en swem dan weer terug. Sommige krappe migreer tot 240 kilometer ver oor die seebodem. Salms verlaat die strome waar hulle uitgebroei het en bring ’n paar jaar in die oop see deur, waarna hulle dan oor honderde kilometers na die strome van hulle geboorte terugkeer. Jong palings wat in die Sargasso-see in die Atlantiese Oseaan uitbroei, bring die grootste deel van hulle lewe in varswaterstrome in die Verenigde State en in Europa deur, maar keer na die Sargasso-see terug om eiers te lê.
14. Wat is verbasend omtrent die migrasie van koningvlinders, en watter raaisel is onopgelos?
14 Koningvlinders verlaat Kanada in die noordelike herfs, en baie oorwinter in Kalifornië of Mexiko. Sommige vlieg verder as 3 200 kilometer; een vlinder het in een dag 130 kilometer afgelê. Jaar na jaar gaan sit hulle op beskutte bome—dieselfde boomgroepe, selfs dieselfde bome. Maar nie dieselfde vlinders nie! Met die terugvlug in die lente lê hulle eiers op melkbossies. Die nuwe vlinders wat daaruit ontwikkel, sit die reis noordwaarts voort, en die volgende herfs onderneem hulle dieselfde reis van 3 200 kilometer suidwaarts wat hulle ouers onderneem het en oordek hulle dieselfde boomgroepe. Die boek The Story of Pollination sê: “Die vlinders wat in die herfs suidwaarts vlieg, is jong individue wat nog nooit tevore die hibernasieplekke gesien het nie. Wat hulle in staat stel om hierdie plekke te vind, is steeds een van daardie groot raaisels van die Natuur.”6
15. Watter enkele woord beantwoord verskeie vrae oor die wysheid van diere?
15 Instinktiewe wysheid is nie net tot migrasie beperk nie. ’n Paar voorbeelde sal hierdie punt staaf.
Hoe kan miljoene blinde termiete saamwerk om hulle ingewikkelde neste te bou en van lugversorging te voorsien? Instink.
Hoe ken die pronuba-mot die verskillende stappe wat nodig is om die blom van die Adamsnaald te bestuif sodat nuwe Adamsnaaldplante sowel as nuwe motte gevorm kan word? Instink.
Hoe kan die spinnekop wat in sy “duikerklok” onder die water leef, weet dat hy ’n gat in sy onderwaterklok moet maak wanneer die suurstof op is, die dooie lug moet laat ontsnap, die gat moet toemaak en ’n nuwe voorraad vars lug moet afbring? Instink.
Hoe weet die mimosakewer dat hy sy eiers onder die bas van ’n mimosaboomtak moet lê, 30 sentimeter of wat nader aan die stam moet beweeg en die bas rondom die tak moet afsny sodat die tak doodgaan, aangesien die eiers nie in lewende hout sal uitbroei nie? Instink.
Hoe weet die pasgebore kangaroe, wat so groot soos ’n boontjie, blind en onontwikkeld is, dat hy sonder hulp deur sy moeder se pels na haar onderlyf moet sukkel, in haar sak moet kruip en hom aan een van haar tepels moet vasheg? Instink.
Hoe vertel een dansende heuningby vir ander bye waar die nektar is, hoeveel daar is, hoe ver dit is, in watter rigting dit is en in watter soort blom dit is? Instink.
16. Wat vereis al die wysheid wat agter dieregedrag sit?
16 Sulke vrae het geen einde nie en kan ’n boek vul, en tog het al die vrae dieselfde antwoord: “Hulle is instinktief wys” (Spreuke 30:24, NW). “Hoe was dit moontlik”, het een navorser gewonder, “dat sulke ingewikkelde instinktiewe kennis kon ontwikkel en aan opeenvolgende geslagte oorgedra kon word?”7 Mense kan dit nie verduidelik nie. Evolusie kan dit nie verklaar nie. Maar sulke intelligensie verg nietemin ’n intelligente bron. Sulke wysheid verg steeds ’n wyse bron. Dit verg ’n intelligente, wyse Skepper.
17. Watter redenasie van talle evolusioniste moet ons vermy?
17 Baie wat aan evolusie glo, verwerp outomaties al sulke bewyse van die skepping as irrelevant, en sê dat dit nie ’n saak vir wetenskaplike oorweging is nie. Moet egter nie toelaat dat hierdie eng benadering jou verhinder om die getuienis te oorweeg nie. Die volgende hoofstuk bevat nog meer getuienis.
[Lokteks op bladsy 160]
Darwin: ‘Ek het niks met die oorsprong van die verstandelike vermoëns te doen nie’
[Lokteks op bladsy 160]
‘Ons kry geen antwoord’ op die vraag oor hoe instink ontstaan en oorerflik geword het nie
[Lokteks op bladsy 167]
“Hulle is instinktief wys”
[Venster/Prente op bladsy 164, 165]
Nesbouery en instink
Wetenskapskrywer G. R. Taylor het aangaande die genetiese kode gesê: “Daar is nie die geringste aanduiding dat dit ’n bepaalde gedragsprogram, soos die reeks handelinge wat by nesbouery betrokke is, kan oordra nie.”a Die instinktiewe wysheid om neste te bou word nietemin oorgedra, nie geleer nie. Beskou ’n paar voorbeelde.
Neushoringvoëls van Afrika en Asië. Die wyfie bring klei en maak die opening van ’n gat in ’n hol boomstam toe totdat sy net-net kan inkruip. Die mannetjie bring vir haar nog modder en sy maak die gat toe totdat daar net ’n spleet oop is. Daardeur voer die mannetjie haar en die kleintjies wat mettertyd uitbroei. Wanneer die mannetjie nie meer genoeg kos kan bring nie, breek die wyfie uit. Nou word die opening deur die kleintjies herstel, en albei ouers bring vir hulle kos. ’n Paar weke later breek die kleintjies die muur af en verlaat hulle die nes. Terloops, is dit nie bewys van doelgerigte ontwerp dat die wyfie heeltemal verveer en ’n nuwe veredos kry terwyl sy ingehok is en nie vlieg nie?
Windswawels. Een spesie bou sy nes uit speeksel. Voordat die broeiseisoen begin, swel die speekselkliere op en gee hulle ’n klewerige, slymerige stof af. Daarmee saam kom die instinktiewe wysheid om te weet wat om daarmee te doen. Hulle smeer dit op ’n rotswand; wanneer dit hard word, word meer lae bygevoeg, en eindelik word ’n koppievormige nes voltooi. Palmwindswawels maak neste so klein soos ’n teelepel, gom hulle aan palmblare vas en gom dan die eiers in die nes vas.
Keiserpikkewyne dra ingeboude neste. In die Suidpoolwinter lê die wyfie ’n eier en dan gaan vang sy twee of drie maande lank vis. Die mannetjie sit die eier op sy voete, wat baie bloedvate bevat, en vou ’n broeibuidel wat aan sy onderlyf hang, daaroor. Die moeder vergeet nie die vader en die kleintjie nie. Kort nadat die eier uitgebroei het, keer die moeder terug met ’n maag vol voedsel wat sy vir hulle opbring. Dan gaan vang die mannetjie vis terwyl die moeder die kleintjie op haar voete sit en haar broeibuidel oor hom sprei.
Die wewervoëls van Afrika gebruik gras en ander vesels om hulle hangende neste te maak. Hulle gebruik instinktief ’n verskeidenheid weefpatrone en verskeie knope. Familievoëls bou iets wat met woonstelgeboue vergelyk kan word: hulle maak ’n grasdak van sowat 4,5 meter in deursnee in sterk boomtakke. Talle pare bou dan hulle neste onder hierdie dak. Nuwe neste word bygevoeg totdat daar eindelik meer as honderd neste onder een dak kan wees.
Die snyervoël van suidelike Asië maak gare van katoen of basvesels en spinnerakke, en las kort stukkies aanmekaar om langer stukke te maak. Met sy snawel maak hy gaatjies al langs die twee rande van ’n groot blaar. Deur sy snawel dan as ’n naald te gebruik, trek hy die twee rande van die blaar met die gare na mekaar toe net soos ons ons skoene vasmaak. Wanneer die gare opraak, maak hy ’n knoop wat dit sal vashou, of las hy ’n nuwe stuk aan en gaan hy voort om naaldwerk te doen. So verander die snyervoël die groot blaar in ’n koppie waarin hy sy nes maak.
Die kapokvoëltjie se hangende nes word amper soos vilt omdat hy stukkies donsige plantmateriaal sowel as gras gebruik. Die basiese struktuur van die nes word gemaak deur lang grasvesels heen en weer te weef. Die voël stoot die punte van die vesels met sy snawel deur die netwerk. Dan neem hy die korter stukkies donsige materiaal en stoot dit in die geweefde materiaal in. Die proses kom ietwat ooreen met die tegniek van Oosterse tapytwewers. Hierdie neste is so sterk en sag dat hulle al as beursies of selfs as pantoffels vir kinders gebruik is.
Die gehoringde koet bou gewoonlik sy nes op ’n klein, plat eiland. Maar hierdie soort eiland is baie seldsaam in die gebied waar hy voorkom. Die gehoringde koet maak dus sy eie eiland! Hy kies ’n geskikte plek op die water en dra dan klippe in sy snawel soontoe. Die klippe word in water wat ongeveer 60 tot 90 sentimeter diep is, opgestapel tot ’n eiland gevorm word. Die basis kan tot vier meter in deursnee wees, en die hoop klippe kan meer as ’n ton weeg. Daarna bring die gehoringde koet plante na hierdie klipeiland om sy groot nes te bou.
[Prente op bladsy 161]
Die seeswawel trek elke jaar 35 000 kilometer
Hoe weet hierdie sangvoël met ’n brein so groot soos ’n ertjie soveel van die weer en navigasie af?
[Prente op bladsy 162]
Wanneer hy trek, klap hierdie kolibrie sy vlerke 25 uur lank tot 75 keer per sekonde
Trekvoëls, wat met ’n “kaart” in hulle koppe gebore word, weet waar hulle is en waarheen hulle gaan
[Prent op bladsy 163]
Pikkewyne kan maande lank in feitlik algehele duisternis in die see deurbring en dan feilloos na hulle broeiplek terugkeer
[Prent op bladsy 166]
Na hulle reis van 3 200 kilometer suidwaarts rus koningvlinders in hulle wintertuiste