Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 10/22 bl. 25-27
  • Waarom kan ek nie meer uitgaande wees nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom kan ek nie meer uitgaande wees nie?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die probleem van skaamheid
  • Skaamheid—’n algemene probleem
  • ’n Bose kringloop
  • Ander faktore
  • Hoe kan ek meer uitgaande wees?
    Ontwaak!—1999
  • Wat kan ek doen as ek skaam is?
    Jongmense vra
  • Is jy ’n skaam persoon?
    Ons Koninkryksbediening—2000
  • Hoe jongmense hulp kan vind
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 10/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Waarom kan ek nie meer uitgaande wees nie?

“Dit is verlammend om skaam te wees. Dit is ’n knellende vrees wat jou beetpak. Dit is werklik ’n probleem.”—Richard.a

“Terwyl ek grootgeword het, was ek baie skaam. Dit was asof ek in my eie klein wêreldjie was.”—18-jarige Elizabeth.

‘IS IETS fout met my? Waarom kan ek nie meer uitgaande wees nie?’ Kom sulke vrae soms by jou op? Soos Richard, wat hierbo aangehaal word, voel jy dalk senuweeagtig of gespanne wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet. Jy kruip moontlik in jou dop wanneer jy in die geselskap is van mense wat gesag het. Of miskien is jy so bekommerd oor wat ander van jou dink dat jy jou tong verloor wanneer jy ’n geleentheid gegee word om jou gevoelens of menings uit te spreek. “Dit is regtig moeilik vir my om na mense wat ek nie goed ken nie te gaan en met hulle te praat”, erken jong Tracey.

Presies wat skuil agter sulke gevoelens? As jy die probleem verstaan, kan jy daaraan begin werk (Spreuke 1:5). Een vrou het gesê: “Ek het nooit geweet waarom ek ongemaklik in mense se geselskap gevoel het nie. Maar noudat ek my probleem geïdentifiseer het, kan ek daaraan werk.” Kom ons kyk dus na ’n paar redes waarom party jongmense dit moeilik vind om uitgaande te wees.

Die probleem van skaamheid

Skaamheid is waarskynlik die algemeenste rede. Terwyl ’n jongmens wat uitgaande is gewoonlik ’n verskeidenheid vriendskappe geniet, voel ’n skaam, teruggetrokke jeugdige moontlik eensaam en alleen. “Terwyl ek grootgeword het, was ek baie skaam”, sê die 18-jarige Elizabeth. “Dit was asof ek in my eie klein wêreldjie was.” Diane onthou hoe moeilik dit vir haar was gedurende haar eerste jaar op hoërskool. “Ek het nie daarvan gehou om raakgesien te word nie. Ek het ’n onderwyser gehad wat ons laat neerskryf het hoe belangrik ons gedink het dit is om gewild te wees. Ons moes onsself ’n punt tussen nul en vyf toeken, waar nul glad nie belangrik nie beteken het en vyf belangrik beteken het. Al die meisies wat op skool gewild was, het vyf geskryf. Ek het nul geskryf. Vir my was skaamheid amper ’n vrees om gewild te wees. Jy wil nie raakgesien word of die middelpunt van belangstelling wees nie omdat jy bang is dat ander nie van jou sal hou nie.”

Dit is natuurlik nie heeltemal ’n slegte ding om ’n bietjie skaam te wees nie. Daar is ’n noue verband tussen skaamheid en beskeidenheid—’n bewustheid van ons beperkings. Ons word in werklikheid in die Bybel beveel om ‘beskeie te wandel met ons God’ (Miga 6:8, NW). Dit is gewoonlik makliker om in die geselskap te wees van iemand wat beskeie of selfs ’n bietjie skaam is as van iemand wat dominerend, aanvallend of veeleisend is. En hoewel dit waar is dat daar “’n tyd is om te spreek”, is daar ook “’n tyd om te swyg” (Prediker 3:7). Skaam mense vind dit moontlik nie moeilik om te swyg nie. Omdat hulle baie keer ‘gou is om te hoor en stadig is om te praat’, waardeer ander gewoonlik die feit dat hulle goeie luisteraars is.—Jakobus 1:19.

Maar alte dikwels is ’n jong persoon so stil, skaam of skugter dat dit moeilik vir hom of haar is om vriende te maak. En in party uiterste gevalle kan skaamheid lei tot wat een skrywer “’n soort neurotiese selfopsluiting”—sosiale isolasie—noem.—Spreuke 18:1.

Skaamheid—’n algemene probleem

As jy skaam is, moet jy besef dat dit ’n baie algemene probleem is. In een studie van hoërskoolleerlinge en kollegestudente het “82 persent van die studente gesê dat hulle op die een of ander stadium in hulle lewe hulleself as skaam beskou het” (Adolescence, deur Eastwood Atwater). Skaamheid was selfs in Bybeltye vir party ’n probleem. Prominente manne, soos Moses en Timoteus, het moontlik daarmee geworstel.—Exodus 3:11, 13; 4:1, 10, 13; 1 Timoteus 4:12; 2 Timoteus 1:6-8.

Beskou die geval van Saul, die eerste koning van die eertydse nasie Israel. Saul was gewoonlik ’n dapper man. Toe sy vader se trop diere weggeraak het, het Saul moedig agter hulle aangegaan om hulle te gaan soek (1 Samuel 9:3, 4). Maar toe hy as koning van die nasie aangestel is, is hy skielik deur skaamheid oorval. Pleks van voor die juigende skare te gaan staan, het Saul tussen die pakgoed weggekruip!—1 Samuel 10:20-24.

Saul se oënskynlike gebrek aan selfvertroue is dalk vir jou vreemd. Die Bybel beskryf hom immers as ’n opvallende, aantreklike jong man. Hy was “van sy skouers af boontoe . . . hoër as die hele volk”! (1 Samuel 9:2). Daarbenewens het God se profeet Saul daarvan verseker dat Jehovah sy heerskappy as koning sou seën (1 Samuel 9:17, 20). Ten spyte hiervan het Saul nog steeds onseker oor homself gevoel. Toe daar vir hom vertel is dat hy koning sou wees, het hy beskeie geantwoord: “Is ek nie ’n Benjaminiet, uit een van die kleinste van die stamme van Israel, en my geslag die geringste uit al die geslagte van die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my?”—1 Samuel 9:21.

As iemand soos Saul ’n gebrek aan selfvertroue gehad het, is dit geen wonder dat jy ook soms selfvertroue kan kortkom nie. As ’n jongmens is jy in ’n stadium van jou lewe wanneer jou liggaam vinnig verander. Jy begin nou maar eers leer hoe om jou plek in die grootmenswêreld in te neem. Dit is dus net natuurlik dat jy soms ’n bietjie selfbewus en onseker sal voel. Dr. David Elkind het in die tydskrif Parents geskryf: “Die meeste jongmense is skaam gedurende hulle vroeë adolessensie, wanneer hulle ontwikkel wat ek ’n denkbeeldige gehoor noem—die gevoel dat ander hulle dophou en die heeltyd kyk hoe hulle lyk en wat hulle doen.”

Aangesien jongmense dikwels op grond van hulle voorkoms deur hulle portuurs beoordeel word, is baie behep met hulle voorkoms. (Vergelyk 2 Korintiërs 10:7.) Maar dit is ongesond om té besorg oor jou voorkoms te wees. ’n Jong vrou in Frankryk genaamd Lilia onthou haar eie ondervinding in hierdie verband: “Ek het ’n probleem gehad wat baie jongmense het. Ek het aknee, oftewel puisies, gehad! Jy waag dit nie om ander te nader nie omdat jy bekommerd is oor hoe jy lyk.”

’n Bose kringloop

Omdat skaam mense dikwels misverstaan word, kan hulle maklik in ’n kringloop van afsondering vasgevang word. Die boek Adolescence sê: “Dit is moeiliker vir skaam adolessente om vriende te maak omdat ander dikwels verkeerde, negatiewe indrukke van hulle kry. Mense is geneig om skaam mense as afsydig, verveeld, ongeërg, hoogmoedig, koud en vyandig te beskou. Wanneer hulle dienooreenkomstig behandel word, voel hulle dalk selfs meer afgesonderd, eensaam en terneergedruk.” Dit veroorsaak dan dat hulle selfs skamer word, wat natuurlik net die verkeerde indruk versterk dat hulle snobs is of ’n te hoë dink van hulleself het.

Aangesien jy as ’n Christen ‘’n teaterskouspel vir die wêreld’ is, moet jy natuurlik besorg wees oor die indruk wat jy by ander wek (1 Korintiërs 4:9). Vermy jy oogkontak wanneer jy met hulle praat? Stuur jou liggaamshouding en lyftaal die boodskap uit dat jy alleen gelaat wil word? Dan moet jy besef dat ander jou moontlik verkeerd sal verstaan en geneig sal wees om jou te vermy. Dit kan dit nog moeiliker maak om vriendskappe aan te knoop.

Ander faktore

Maar nog ’n algemene probleem is die vrees vir mislukking. Dit is weliswaar heeltemal normaal om ’n bietjie onseker of huiwerig te wees wanneer jy iets wat buite jou sfeer van ondervinding is vir die eerste keer doen. Maar party jongmense laat toe dat hulle deur hierdie gevoelens oorheers word. As ’n jeugdige was Gail, soos sy dit stel, ’n sosiale-fobielyer. Sy sê: “Ek het nie in die klas geantwoord nie. En my ouers het altyd kommentare gehoor soos: ‘Sy steek nie haar hand op nie. Sy praat nie.’ Dit was vir my baie ongemaklik en spanningsvol om dit te doen. Dit is selfs nou nog vir my moeilik.” Vrees vir mislukking kan verlammend wees. “Ek is bang dat ek foute sal maak”, sê ’n jeugdige genaamd Peter. “Ek het nie regtig vertroue in wat ek doen nie.” Geniepsige spottery en kritiek deur portuurs kan persoonlike vrese vererger en ’n jongmens se selfvertroue permanent knou.

’n Gebrek aan sosiale vaardighede is nog ’n algemene probleem. Miskien is jy huiwerig om jou aan ’n vreemdeling voor te stel net omdat jy nie weet wat om te sê nie. Dit sal jou dalk verbaas om te weet dat selfs ouer mense soms ongemaklik in ander se geselskap voel. Fred, ’n sakeman, sê: “In die sakewêreld weet ek hoe om te doen wat ek baie goed doen. As ek net oor besigheid praat, is ek glad nie daaroor bekommerd of ek ’n goeie indruk skep nie. Maar wanneer ek met dieselfde mense oor alledaagse dinge begin gesels, raak ek onseker. Ek is bang dat hulle sal dink dat ek vervelig of boekerig of te tegnies of oninteressant is.”

Hetsy jy skaam, selfbewus of net ongemaklik in ander se geselskap voel, dit is tot jou voordeel om te leer om meer uitgaande te wees. Die Bybel spoor Christene aan om hulle te “verruim” en ander te leer ken! (2 Korintiërs 6:13). Maar hoe kan jy dit doen? Dit sal in ’n toekomstige artikel bespreek word.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 26]

Mense dink dikwels dat skaam persone afsydig is

[Prent op bladsy 26]

Vrees vir mislukking lei daartoe dat party jongmense hulle afsonder

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel