Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 10/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pouslike aflate
  • Simptoomvrye siekte
  • Ontwrigtende vliegtuigpassasiers
  • Stygende begrafniskoste
  • Bedreigde fossiele
  • Pynlose tandartsbehandeling?
  • Kernafval
  • Gebare vir die regte woord
  • Noodlottige ongelukke by die werk
  • Mondkankerepidemie
  • Wat sê die Bybel oor verassing?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Hulle kouery lei tot ellende
    Ontwaak!—1996
  • Osteoporose—’n Stille siekte
    Ontwaak!—2010
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 10/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Pouslike aflate

Pous Johannes-Paulus II het ter viering van die millennium die jaar 2000 ’n Heilige Jaar verklaar en aflate belowe aan diegene wat ’n pelgrimstog na Rome onderneem, berig L’Osservatore Romano. ’n Aflaat is ’n manier vir Katolieke om kwytgeskeld te word van straf vir sondes. Die Vatikaanse koerant sê: “Elke goeie daad wat deur die genade gedoen word, verdien ’n beloning.” Maar dieselfde tydskrif sê dat die gebruik ook ’n paar interessante vrae laat ontstaan, soos: “Waarom is dit nodig dat die Kerk aflate aan mense verleen as God se vergifnis aan almal geskenk word?” en “As die Kerk volle aflate kan verleen, waarom nog die moeite doen om gedeeltelike aflate te verleen?”

Simptoomvrye siekte

Osteoporose is ’n simptoomvrye siekte wat “meer as 28 miljoen Amerikaners en ongeveer 1,4 miljoen Kanadese bedreig”, berig die koerant Toronto Star. Mans en vroue, oud en jonk, kry die siekte, en dit “kom voor wanneer ouer beenselle vinniger doodgaan as wat dit met nuwe been vervang kan word”. Diegene wat die siekte het, sal dalk geen teken daarvan sien totdat hulle ’n been breek nie. Kenners meen dat al hoe meer tieners en kollegeatlete as gevolg van strawwe diëte “die been verswak wat hulle eintlik moet opbou vir wanneer hulle volwasse is. Jongmense wat op dieet is, vermy dikwels kossoorte wat nodig is om hulle skelet te versterk.” Volgens die verslag “is ongeveer 90 persent van die totale beenmassa teen 18-jarige ouderdom opgebou; volwassenes se beenmassa is op sy hoogste teen 30-jarige ouderdom”. Die verslag beveel aan dat almal ‘genoeg kalsium en vitamien D moet inneem, gereeld moet oefen en rook en strawwe drinkery moet vermy’ om die maksimum beendigtheid op te bou.

Ontwrigtende vliegtuigpassasiers

“Vliegtuigwoede”—onbeheerste gedrag deur vliegtuigpassasiers—“het in die laaste vyf jaar met 400 persent toegeneem”, sê die tydskrif Business Traveler International. Wat is verantwoordelik vir die skerp styging? Stres is ’n groot faktor. Vertraagde of gekanselleerde vlugte, oorvol lughawens en vliegvrees veroorsaak alles angs, wat weer tot woedeuitbarstings kan lei. “Lugrederye adverteer lugvaart as ’n vinnige en maklike vorm van vervoer, maar dit is nie so nie”, sê Stuart Howard, van die Internasionale Federasie van Vervoerwerkers. ’n Verteenwoordiger van ’n groot lugredery meen dat die koms van rookvrye vlugte nog ’n faktor is wat tot vliegtuigwoede aanleiding gee. Volgens die verslag “was gefrustreerde rokers [in 1997] verantwoordelik vir meer as die helfte van [die] gevalle van ontwrigtende passasiersgedrag” op een lugredery. Nog ’n faktor is alkoholgebruik, wat hoog bo seevlak ’n groter uitwerking op ’n mens kan hê. Wat stel die verslag voor moet ’n mens doen as ’n medepassasier luidrugtig is? “Moenie die bemanning roep nie. Staan eerder op en gaan sê vir hulle van die probleem sonder om aandag te trek.” Dit stel ook voor: “Vermy moontlike irritasie deur ligte leesstof saam te bring of na strelende musiek” op ’n draradio te luister.

Stygende begrafniskoste

Al hoe meer mense maak gebruik van verassing om begrafniskoste te verminder. Volgens die Nasionale Vereniging vir Begrafnisondernemers was die gemiddelde koste van ’n tradisionele begrafnis in 1996 in die Verenigde State $4 600 (R27 600). Daarteenoor “kos verassing tussen $500 en $2 000 [R3 000 en R12 000]”, sê die Chicago Sun-Times, “na gelang van die soort kis wat vir die verassing self gekies word en die vaas vir die as”. Verassing vereis ook nie ’n graf en ’n grafsteen nie, wat nog 40 persent by die koste van ’n tradisionele begrafnis kan voeg. Die koerant het gesê dat verassing in 1997 in 23,6 persent van alle sterfgevalle in die Verenigde State gebruik is, en daar word verwag dat die syfer oor die volgende tien jaar 42 persent sal bereik.

Bedreigde fossiele

Fossielhoudende terreine wat al duisende jare oud is, word deur diefstal, vandalisme en oorywerige toeriste bedreig, berig New Scientist. “Party geoloë wil die kosbaarste fossiele na museums verskuif of besoekers verbied om die terreine te besoek”, sê die tydskrif. Ander wys egter op die reg van die publiek om hierdie fossiele in hulle natuurlike omgewing te sien. In ’n poging om die probleem op te los, het die Internasionale Paleontologiese Vereniging begin om ’n lys op te stel van bedreigde terreine regoor die wêreld. Maar tot dusver is nog net 50 plekke op die lys gesit.

Pynlose tandartsbehandeling?

Baie tandartspasiënte sal graag die einde van die tradisionele tandboor wil sien. Volgens FDA Consumer sal dit dalk binnekort tot ’n sekere mate die geval wees. Die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad het onlangs die gebruik goedgekeur van die erbium:YAG-laser vir gebruik deur tandartse. Pleks van tandbederf met ’n klein boortjie te verwyder, kan tandartse nou ’n laser gebruik om dit te verwyder deur aangetaste tandweefsel basies te verpoeier, sê die tydskrif. Die laser het verskeie voordele bo gewone bore. Eerstens is laserbehandeling gewoonlik pynloos. Gevolglik sal baie pasiënte nie meer verdowingsmiddels of -inspuitings nodig hê nie. Tweedens kan behandeling onmiddellik begin omdat die tandarts nie hoef te wag dat jou mond gevoelloos word nie. Daarbenewens word die hinderlike vibrasies van die hoëspoedboor uitgeskakel. Maar een belangrike nadeel is dat die laser nie gebruik kan word op tande wat reeds ’n stopsel in het nie.

Kernafval

Sedert die sestigerjare het die wêreld se kernkragbedryf ontslae geraak van meer as 200 000 metrieke ton verbruikte brandstof, berig die tydskrif New Scientist. En elke jaar word nog 10 000 ton daarby gevoeg. Waarheen gaan hierdie dodelike afval? “Die meeste word eenvoudig by die reaktorterreine geberg”, sê die tydskrif. Maar hierdie fasiliteite is bedoel om radioaktiewe afval slegs ’n paar dekades lank te berg. Op die een of ander stadium sal die kernafval dus na langtermynbergplekke verskuif moet word. Maar die probleem is dat geen land daarin geslaag het om veilige ondergrondse bergplekke vir hulle radioaktiewe afval in te rig nie. Gevolglik “worstel die kernbedryf met ’n probleem wat hulle self geskep het”, sê New Scientist.

Gebare vir die regte woord

“Nuwe navorsing toon dat gebare sprekers dikwels help om woorde te herroep”, berig Newsweek. Hoewel beskrywingsgebare dikwels gebruik word om ’n voorwerp se grootte of vorm aan te dui, dien ander gebare, soos om “volgens die ritme van jou sin kapbewegings in die lug te maak”, ’n ander funksie. Robert Krauss, ’n professor van sielkunde aan die Universiteit van Columbia, sê dat hierdie soort gebare “mense help om woorde te herroep wat moeilik is om te onthou” deur die ontsluiting van wat hy “leksikale geheue” noem. Navorsers vergelyk sulke geheue met die verbindings wat gevorm word wanneer ’n sekere reuk, smaak of klank met ’n gebeurtenis geassosieer word. Net soos die geur van ’n sekere parfuum jou aan jou ouma kan laat dink, kan gebare ’n soortgelyke “deur” tot ’n woord oopmaak, sê die neurowetenskaplike Brian Butterworth.

Noodlottige ongelukke by die werk

Wêreldwyd sterf 3 000 mense elke dag weens werkverwante ongelukke, berig die Franse dagblad Le Monde. Volgens die Internasionale Arbeidsburo word sowat 250 miljoen werknemers elke jaar beseer, wat tot meer as ’n miljoen sterfgevalle lei. “Die aantal werkverwante sterfgevalle is hoër as die gemiddelde aantal sterfgevalle per jaar weens motorongelukke (990 000), gewapende konflikte (502 000), ander geweld (563 000) en vigs (312 000)”, sê die koerant.

Mondkankerepidemie

In Delhi, Indië, is die voorkomssyfer van mondkanker vier keer hoër as in Los Angeles, Kalifornië, berig The Indian Express. Tans is 18,1 persent van alle nuwe gevalle van kanker onder Delhi se manlike bevolking mondkanker—teenoor 10 persent in 1995. Die hoofoorsake van mondkanker is die kou van tabak, bidi’s (Indiese sigarette) en pan masala (’n mengsel van tabak, fyngemaakte betelneut en ander bestanddele), wat in ’n blaar opgerol en dan gekou word. Die koerant het gesê dat die toenemende gebruik van pan masala deur niksvermoedende skoolkinders onrusbarend is. Een deskundige het gewaarsku dat die hele Indië op “’n mondkankerepidemie” afstuur.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel