Ons het geleer om in teëspoed op god te vertrou
SOOS VERTEL DEUR ROSIE MAJOR
Ek was vyf maande swanger met my eerste kind toe my skoonma gesien het dat my bene baie erg geswel was. Op daardie dag in Maart 1992 het ek en my man, Joey, nie geweet dat wat op ons gewag het ons vertroue in Jehovah op die proef sou stel nie.
EEN week later het my verloskundige gevind dat my bloeddruk besonders hoog was. Toe sy voorgestel het dat ek in die hospitaal opgeneem word vir toetse en waarneming, was ek vanselfsprekend besorg. Volgens die toetse het ek preëklampsie gehad, ’n komplikasie by swangerskap wat noodlottig kan wees.a
Die dokter in die hospitaal het sterk aanbeveel dat die geboorte onmiddellik aangebring moet word om my en die baba te beskerm. Ek en my man was geskok. “Maar die baba is skaars 24 weke oud!” het ek gesnak. “Hoe sou ons baba buite die baarmoeder oorleef?” “Wel, ek sal dit ’n bietjie probeer uitstel”, het die dokter goedgunstig geantwoord. “Maar as jou toestand versleg, sal ek die geboorte moet aanbring.” Dertien dae het verbygegaan, maar my toestand het vinnig agteruitgegaan. Die dokter het my man ingeroep, en ons het die moeilike besluit geneem om met die geboorte te begin.
Die geboorte
Die aand voor die geboorte het dr. McNeil, ’n kinderarts, ons kom spreek om te verduidelik wat ons kon verwag met ’n vroeggebore baba—moontlike breinskade, longe wat dalk te swak ontwikkel is om behoorlik te werk en menige ander moontlike komplikasies. Ek het gebid vir “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan” en vir die krag om wat ook al gebeur te aanvaar en te verduur (Filippense 4:7). Die volgende oggend is ons baba deur middel van ’n keisersnee gebore. Sy het skaars 700 gram geweeg. Ons het haar JoAnn Shelley genoem.
Vyf dae later is ek met leë hande terug huis toe. My dogtertjie het in die hospitaal se spesiale kindersorgeenheid gebly, waar sy om haar lewe geveg het. Ná twee weke het JoAnn longontsteking gekry. Ons was dankbaar toe sy gestabiliseer het, maar slegs dae later het sy ’n ingewandsinfeksie gekry en moes sy na die waakeenheid van die afdeling verskuif word. Binne nog ses dae het JoAnn ietwat herstel en selfs gewig aangesit. Ons was verheug! Maar ons blydskap was kort van duur. Dr. McNeil het vir ons gesê dat JoAnn aan bloedarmoede ly. Hy het voorgestel dat ons die sintetiese hormoon eritropoiëtien (EPO) probeer kry om JoAnn se vervaardiging van rooi bloedselle te stimuleer. Die takkantoor van Jehovah se Getuies hier in die Bahamas het met verteenwoordigers van die Hospitaalinligtingsdienste in Brooklyn, New York, in aanraking gekom. Hulle het dr. McNeil vinnig van die jongste inligting oor die beskikbaarheid en gebruik van EPO voorsien, en hy het haar daarmee begin behandel.
Nuwe probleme
Etlike angstige weke het verbygegaan. JoAnn het teen hierdie tyd ’n stryd gevoer teen ’n infeksie in haar ingewande, stuipe wat soms apnee (asemstilstand) veroorsaak het, ’n lae hemoglobientelling en brongiale longontsteking. Ons het gevrees dat enige van hierdie probleme die spreekwoordelike laaste strooi sou wees wat die kameel se rug sou breek. Maar JoAnn se toestand het geleidelik verbeter. Toe sy drie maande oud was, was sy nog steeds in die hospitaal en het sy net 1,4 kilogram geweeg. Maar vir die eerste keer in haar lewe het sy self asemgehaal sonder aanvullende suurstof. Haar hemoglobien het tot ’n normale vlak gestyg. Die dokter het gesê dat ons haar huis toe kon neem as sy nog 500 gram aansit.
Drie weke later het JoAnn ’n ernstige apnee-aanval gehad. Toetse kon nie die oorsaak bepaal nie. Die apnee-aanvalle het aangehou en het altyd begin nadat sy gevoed is. Uiteindelik is daar uitgevind dat JoAnn maagslukdermrefluks gehad het. Haar slukderm het nie toegemaak nadat sy geëet het nie, met die gevolg dat die inhoud van haar maag weer in haar keel opgekom het. Wanneer dit gebeur het, het dit haar laat verstik en haar laat ophou asemhaal.
Vroeg in Oktober het JoAnn ’n virus in die baba-eenheid gekry. Baie van die vroeggebore babas in daardie eenheid het daaraan gesterf. In daardie verswakte toestand het JoAnn een van haar langste apnee-aanvalle tot nog toe gehad. Alle pogings om haar by te bring, het misluk. Die kinderarts was op die punt om haar dood te verklaar toe sy op onverklaarbare wyse begin asemhaal het—en net daarna het sy onmiddellik weer stuipe begin kry. Sy is weer aan die ventilator gekoppel, en ons was seker dat dit JoAnn se einde sou beteken. Maar sy het herstel, en ons was dankbaar teenoor Jehovah.
Ons leer om groter vertroue in Jehovah te stel
Die probleme wat ons gehad het voor JoAnn gebore is, kan vergelyk word met iemand wat naby die dokke van ’n boot afval, waar hy dan net land toe kan swem. Nou het dit gevoel of ons in die diepsee van ’n boot afgeval het, met geen land in sig nie. Wanneer ons terugkyk, besef ons dat ons voor haar geboorte soms te veel op onsself vertrou het. Maar deur ons ondervindinge met JoAnn het ons geleer om op Jehovah te vertrou in situasies wat geen menslike oplossing het nie. Ons het geleer om te doen wat Jesus voorgestel het—om net een dag op ’n slag te hanteer (Matteus 6:34). Ons het geleer om op Jehovah te steun, hoewel ons soms nie eers geweet het presies waarvoor om te bid nie. Ons dank Jehovah nou vir die Bybelse wysheid en “die krag wat bo die normale is”, wat dit vir ons moontlik maak om sulke groot probleme die hoof te bied.—2 Korintiërs 4:7.
In krisistye het ek dit dikwels moeilik gevind om my emosionele ewewig te behou. Ek kon aan niks anders as JoAnn dink nie. My man, Joey, het my baie gehelp om my geestelike ewewig te herwin. Ek is so dankbaar teenoor hom hiervoor.
JoAnn kom huis toe
JoAnn se gesondheid het geleidelik verbeter. Eendag het sy die buis van die ventilator letterlik uit haar mond getrek. Dr. McNeil het nou gevoel dat JoAnn huis toe kon kom. Ons was in ekstase! Ter voorbereiding vir haar koms het ons geleer hoe om haar te buisvoed. Ons het ook ’n suurstofvoorraad gereed gekry, ’n hart-en-asemhalingsmonitor gehuur en ’n kursus in noodbybringing gevolg. Uiteindelik, op 30 Oktober 1992, is JoAnn uit die hospitaal ontslaan. Sy het 212 dae in die spesiale kindersorgeenheid deurgebring, en ons ook.
Van die begin af was familielede en lede van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies ’n ware gawe van Jehovah. Hulle het gekom en die huis en tuin skoongemaak, etes voorberei, ons gehelp om by die hospitaal te kom en by JoAnn gewaak sodat ek ’n bietjie kon slaap. Terselfdertyd het ons pragtige fasette van hulle persoonlikhede gesien waarvan ons nie geweet het nie. Party het byvoorbeeld geestelike gedagtes met ons gedeel wat hulle al gehelp het om deur probleme te kom.
Ons lewe vandag
Ons het hard gewerk om die beste beskikbare mediese sorg vir JoAnn se talle probleme te voorsien. Toe sy 19 maande oud was, het ons uitgevind dat JoAnn serebrale gestremdheid het—’n gevolg van breinskade. In September 1994 het sy ’n groot operasie ondergaan vir die maagslukdermrefluks. In 1997 het JoAnn lewensgevaarlike stuipe begin kry. Danksy aanpassings in haar dieet het die stuipe gelukkig opgehou. JoAnn se gesondheidsprobleme het haar liggaamlike ontwikkeling vertraag. Maar sy gaan nou na ’n spesiale skool en doen goed. Sy kan nie loop nie, en haar spraak is baie beperk, maar sy gaan saam met ons na al ons Christelike vergaderinge en in die bediening van huis tot huis. Sy lyk gelukkig.
Jehovah het ons gedurende hierdie moeilike tye baie bemoediging gegee. Ons is vasbeslote om aan te hou om ons “in Jehovah te verheug” en op hom te vertrou ondanks onverwagte struikelblokke (Habakuk 3:17, 18, NW; Prediker 9:11). Ons sien met groot verwagting uit na God se beloofde Paradysaarde, waar ons geliefde JoAnn volmaakte gesondheid sal geniet.—Jesaja 33:24.
[Voetnoot]
a Preëklampsie word gekenmerk deur ’n vernouing van ’n swanger vrou se bloedvate, wat lei tot swak bloedvloei na haar organe asook na die plasenta en die ontwikkelende fetus. Hoewel die oorsaak onbekend is, is daar sekere bewyse wat daarop dui dat die siekte oorerflik is.
[Prent op bladsy 18]
Ons dogter JoAnn
[Prent op bladsy 20]
Ten spyte van haar beperkings is JoAnn ’n gelukkige kind