Europese gesondheid en veiligheid
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
MEER as 16 000 mans en vroue werk by die hoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap en sy 109 takkantore. Sommige van hierdie vrywilligers werk met drukperse, in werkswinkels en hou masjinerie in stand. Maar ongeag watter werk hulle doen, hulle is verbind tot veilige werksgewoontes, wat lewens en gesondheid beskerm.
In 1998, ná die Europese Week vir Veiligheid en Gesondheid in 1997, is daar erkenning gegee aan die hoë standaard wat die Britse takkantoor stel in hulle fabriek in Mill Hill, Londen. ’n Kristalbak waarop die woorde “Europese Week vir Veiligheid en Gesondheid—Pryswenner 1997” gegraveer is, is aan die Genootskap oorhandig. Wat het daartoe gelei dat hulle hierdie gesogte prys gewen het?
In 1994 het die Wagtoringgenootskap ’n breedvoerige ontleding aan die Gesondheids- en Veiligheidsadministrasie (GVA) voorgelê oor maniere waarop die aantal rugbeserings by die werk verminder kan word. Aan die einde van hierdie veldtog het die Genootskap ’n sertifikaat van die GVA ontvang vir hulle ondersteuning. In 1996 is die Genootskap gevra om ’n kort verslag oor hulle gesondheids- en veiligheidsmaatreëls saam te stel. Daarna is ’n sertifikaat oorhandig aan die “Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap ter erkenning van hulle waardevolle bydrae” tot gesondheid en veiligheid.
Die daaropvolgende jaar, 1997, het die GVA die Wagtoringgenootskap genooi om deel te neem aan hulle Europese gesondheids- en veiligheidsveldtog. Die Genootskap het toe ’n breedvoerige verhandeling met foto’s voorgelê, wat toon dat die stof in ’n skrynwerkerswinkel met 90 persent en houtdeeltjies met 100 persent verminder kan word teen ’n koste van minder as £250 (R2 480) deur individuele stukke kraggereedskap aan die hoofstofuitlaatstelsel te koppel.
Gevolglik was die Genootskap een van die 30 pryswenners wat genooi is om verteenwoordigers van die Europese Kommissie en die Britse regering te ontmoet, asook die voorsitter van die Gesondheids- en Veiligheidskommissie. Toe hy die gegraveerde bak oorhandig het, het hy gesê: “Welgedaan, Wagtoring!”
[Prente op bladsy 31]
Pryse wat die Wagtoringgenootskap gewen het vir hulle hoë standaarde wat gesondheid en veiligheid betref