Van ons lesers
Grootouers Dankie vir die liefdevolle wyse waarop julle die onderwerp “Grootouers—die vreugdes, die uitdagings” (22 Maart 1999) behandel het. Ek is ’n grootouer wat twee kleinseuns alleen moet grootmaak. Hulle ma was en is nog steeds ’n dwelmslaaf. Soos die artikel getoon het, het ek met die woede van die seuns te kampe gehad. Ek het geen idee gehad van hoe dit voel om deur albei jou ouers verwerp te word nie. Maar verlede jaar het my jonger kleinseun vir my gesê: “Dankie dat ouma ons ingeneem het.” Daardie woorde het al die probleme en trane die moeite werd gemaak.
D. B., Verenigde State
Danksy die liefde en getrouheid van ons dierbare ouma het ek en my broers jare van verwaarlosing en mishandeling deur ons ouers oorleef. Die Bybelwaarhede wat sy in ons hart ingeskerp het, het ons die krag gegee om nie moed op te gee nie. Vandag is haar drie kleinkinders en sewe agterkleinkinders almal toegewyde Christene.
B. L. B., Brasilië
Ek het ’n 17 maande oue baba, en daar het al spanning tussen my en my skoonma oor sy versorging ontstaan. Ek was so jaloers dat ek die punt bereik het waar ek nie eers Christelike vergaderinge kon geniet nie. Hierdie artikel het my egter help besef dat sy nie kwaadwillig is nie en dat sy hom nie vir haarself probeer neem nie. Ek dank Jehovah dat ek hierdie inligting ontvang het toe ek dit die nodigste gehad het.
M. Z. C., Mexiko
Vyf seuns Ek het die artikel “Ek dank Jehovah vir my vyf seuns” (22 Maart 1999) interessant gevind, aangesien daar talle ooreenkomste tussen Helen Saulsbery en my ma is. Hulle is dieselfde jaar gedoop. Soos Helen het my ma by die huis gebly en na ons omgesien toe ons gesin finansieel gesukkel het—my pa se sakeonderneming het bankrot gespeel. Sy het ook as ’n pionier, ’n voltydse evangeliedienaar, gedien en het altyd vir ons interessante velddiensondervindinge vertel. Dit het gemaak dat ek ook baie graag die pionierdiens wou betree. Noudat ek self twee dogters het, kan ek verstaan hoeveel my ma vir ons gedoen het.
M. S., Japan
’n Spesiale dankie vir die artikel. As ’n pa probeer ek die Bybel se raad volg, maar ek voel dikwels onbevoeg. Die Saulsbery-gesin se ondervinding het my die krag gegee om aan te hou.
R. M. R., Brasilië
Om die dinge te kry wat jy wil hê Ek is ’n 12-jarige meisie. Ek wil julle bedank vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom kan ek nie die dinge kry wat ek wil hê nie?” (22 Maart 1999). Daar is dinge wat ek wil hê—soos ’n fiets en ’n ghitaar. Maar my pa kan dit nie vir my gee nie. Dit is vir my ’n teleurstelling. Julle artikel het my nietemin regtig aangemoedig. Dankie vir hierdie vaderlike raad.
C. U., Nigerië
Spiere Nadat ek vanoggend geoefen het, het ek gaan sit en die artikel “Spiere—meesterstukke van ontwerp” (8 April 1999) gelees. Ek het begin dink aan my oogspiere wat beweeg terwyl ek elke bladsy lees, my armspiere wat saamtrek en verslap terwyl ek uit my koffiebeker drink, my beenspiere wat werk terwyl ek in my stoel rondbeweeg. Sjoe! Hoe wonderlik is hulle tog ontwerp!
N. T., Belize
Ons spiere openbaar net ’n klein deel van die ongelooflike wysheid en intelligensie van ons Grootse Skepper, Jehovah God. Dit het my nog altyd gefassineer om oor die menseliggaam te lees. Maar dit is die eerste keer dat ek ’n artikel hieroor gelees het wat so goed geskryf is en so maklik was om te verstaan.
P. J. O. S., Brasilië