Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 2/8 bl. 20-23
  • Onderweg na Botany-baai

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onderweg na Botany-baai
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom Australië?
  • ’n Epiese seereis
  • ’n Groot verskeidenheid mense
  • Die lewe in die nuwe land
  • Die donker kant
  • Die gevangenes se bydrae
  • Australië se berugte gevangene-era
    Ontwaak!—2002
  • Sydney—’n woelige hawestad
    Ontwaak!—1999
  • Tasmanië—klein eiland, unieke verhaal
    Ontwaak!—1997
  • “Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 2/8 bl. 20-23

Onderweg na Botany-baai

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

“EK HET die boek in die pad opgetel”, het die jong Job smekend gesê. Hierdie 19-jarige sproetgesig is gearresteer terwyl hy ’n Londense straat oorgesteek het en is daarvan beskuldig dat hy die boek gesteel het. Die waarde daarvan? Tagtig sent! Die regter, wat nie met die jong man se verdediging beïndruk was nie, het hom tot sewe jaar in ’n strafkolonie gevonnis.

Aan die ander kant van die aarde, in ’n gebied wat nou as Quebec, Kanada, bekend staan, is ’n man met die naam François-Maurice Lepailleur gevange geneem. Omdat hy deelgeneem het aan ’n mislukte gewapende opstand teen die Britse regering, is hy ter dood veroordeel. Die hof het egter besluit om hom op ’n ander manier te straf.

Hierdie twee jong mans het meer in gemeen gehad as om net met die Britse gereg te bots. Hulle was albei op ’n bootrit onderweg na ’n plek met die naam Australië en ’n nuwe strafkolonie wat as Botany-baai bekend staan.

Hoe was dit om ’n gevangene in Australië te wees? Hoeveel is soontoe gestuur? En waarom het hierdie twee jong mans hulle so ver van die huis af bevind?

Waarom Australië?

In 1718 het die Britse regering besluit om die toenemende aantal misdadigers in hulle tronke te verminder deur hulle uit te voer. Teen 1770 het hulle elke jaar ongeveer duisend gevangenes verskeep, meestal na hulle kolonies in Maryland en Virginië. Weens die Revolusionêre Oorlog in Noord-Amerika het die Britte hierdie kolonies teen 1783 verloor en kon hulle nie hulle misdadigers daarheen stuur nie. Teen dié tyd het hulle egter alreeds meer as 50 000 gevangenes soontoe gestuur.

’n Alternatiewe bestemming was ’n dorre land aan die ander kant van die wêreld. Dertien jaar vroeër het ’n vlootoffisier met die naam James Cook die ooskus daarvan vir Brittanje gekarteer en ingepalm. Die ontdekkingsreisiger Joseph Banks was ook op hierdie seereis, en hy het voorgestel dat hierdie land ’n ideale bestemming sou wees vir ongewenste onderdane van die Britse Ryk. In Mei 1787 het die eerste vloot van 11 klein skepe dus hulle seereis van 26 000 kilometer na Botany-baai aangepak. Oor die volgende 80 jaar, tot 1868, is altesaam 158 829 gevangenes na Australië toe gestuur.

’n Epiese seereis

In 1833 het die jong Job en sy 300 skeepsmaats by die Sydney-inham in Port Jackson aangekom. Hoewel die kolonie as Botany-baai bekend gestaan het, is die baken met hierdie naam eintlik ’n paar kilometers verder suid van waar die kolonie uiteindelik gestig is.

Die reis self was vir party ’n verskriklike straf. ’n Uittreksel uit François Lepailleur se dagboek gee ons ’n idee van hoe die lewe op die skip was: “In 1840 het ons verby die Kaap die Goeie Hoop in die skeepsruim van die Buffalo gevaar, wat verskriklik was weens die ewige donkerte, die streng reëls wat gehoorsaam moes word en die luise wat ons gedurig gebyt het, asook die hitte, en om ons ellende te vererger, die honger.”

Ironies genoeg het hierdie skepe wat die gevangenes vervoer het van die beste gesondheids- en veiligheidsrekords gehad vir seereise in daardie tyd. Weens die maatreëls wat die Britse regering getref het, was die gesamentlike sterftesyfer van 1788 tot 1868 minder as 1,8 persent. In vergelyking hiermee het daar van 1712 tot 1777 tussen 3 persent en 36 persent van die bejammerenswaardige passasiers op slaweskepe onderweg na hulle bestemming gesterf. Selfs die skepe met emigrante van Europa na Amerika het ’n groter sterftesyfer gehad as die skepe met die gevangenes!

’n Groot verskeidenheid mense

’n Belangrike rede vir hierdie hoë oorlewingsyfer was die talle jeugdiges onder die gevangenes. François was in sy middeldertigerjare, betreklik oud vir ’n gevangene. Die meeste was tussen 16 en 25 jaar oud, en party niks ouer as 11 jaar nie. Die mans het die vroue oortref met ’n verhouding van 6 tot 1.

Die meeste mense wat gedeporteer is, was van die Verenigde Koninkryk. Meer as die helfte was Britte, ’n derde was van Ierland en ’n paar duisend was van Skotland afkomstig. Party, soos François, het van vergeleë plekke in die Britse Ryk gekom wat nou bekend staan as Kanada, Indië, Maleisië, Sri Lanka en selfs die klein eiland Malta.

Hierdie gedwonge immigrante het saam met hulle ’n groot verskeidenheid talente en vaardighede gebring. Onder hulle was slagters, ketelmakers, kopergieters, timmermanne, kokke, hoedemakers, kleremakers en wewers. Daar is duisend verskillende beroepe in amptelike verslae opgeteken, wat ’n goeie deursnee van die Britse arbeidsmag verteenwoordig.

Die gevangenes het dikwels blykbaar ’n beter opvoeding gehad as die arbeidersklas wat in hulle tuisland was. ’n Driekwart van dié wat in Nieu-Suid-Wallis aangekom het, kon lees en skryf. In vergelyking hiermee kon net ’n bietjie meer as die helfte van die bevolking in Brittanje die huweliksregister teken.

’n Mens kon weens ontvoering, moord en sedisie na Botany-baai gestuur word, maar jy kon selfs vir geringer oortredings daar land. Dit kon ’n seereis na die Suidelike Halfrond beteken het as jy op ’n Sondag ’n vermaaklikheidsplek oop gehad het, ’n sakdoek gesteel het of eenvoudig ’n debat oor die Heilige Skrif gehou het.

Die lewe in die nuwe land

Wrede mishandeling, voortdurende onmenslikheid en ’n dierlike bestaan is die bekendste beelde van gevangenes se vroeë lewe in Australië. Dít was vir party ’n werklikheid, maar baie was beter daaraan toe as wat hulle was in die land wat hulle verlaat het.

’n Stelsel het ontstaan waar gevangenes toegewys is om vir vrye setlaars en amptenare te werk of selfs vir hulleself. Pleks van hulle hele vonnis aan ’n span padwerkers vasgeketting te word, kon hulle dus hulle beroep beoefen of ’n nuwe aanleer. Job is byvoorbeeld toegewys om vir ’n ryk maar goedhartige landheer te werk en het geleer hoe om ’n veeboer te wees op een van die landheer se eiendomme aan die buitewyke van Sydney.

Die gevangenes moes elke week vyf en ’n half dae lank, of 56 uur, werk. Dit was aansienlik minder as wat die meeste fabriekswerkers in Brittanje gedurende daardie tyd moes verduur, aangesien hulle van sonop tot sononder gewerk het. Gevangenes kon geld vra vir enige werk wat buite hierdie voorgeskrewe tydperk gedoen is, en hulle het dikwels klein sakeondernemings na ure bestuur, soos om gesnyde gras as veevoer te verkoop.

Hoewel die sweep dikwels gebruik is, het een studie getoon dat 66 persent van die gevangenes in Nieu-Suid-Wallis gedurende hulle vonnis nooit geslaan is nie, of dalk net een keer. Dit het beteken dat hulle nie meer geslaan is as diegene wat in die Britse Leër of Vloot gedien het nie.

Hierdie feite, tesame met die vooruitsig dat gevangenes hulle eie grond ná hulle vonnis kon kry, het deportasie vir party aanloklik gemaak. In 1835 het W. Cope, goewerneur van die berugte Newgate-gevangenis in Londen, van gevangenes gesê wat met deportasie gedreig is: “Negentien uit twintig is bly om te gaan.” En die bewaarder van ’n ander gevangenis het van sy gevangenes gesê: “Nege-en-negentig uit honderd wil baie graag gaan.”

Die donker kant

Die lewe was baie onaangenaam vir diegene wat gedurig die wet oortree het. Een verslag het gesê: “Deportasie is nie ’n maklike straf nie, maar eerder ’n opeenvolging van strawwe, wat elke faset van menslike lyding insluit.” Die trapmeule was só ’n straf. François het een op hierdie manier beskryf: “Dit is ’n meul wat koring maal en deur die gevangenes aangedryf word. 18 mans loop voortdurend op ’n wiel en hulle gewig laat die wiel en die meul draai. Hierdie mans het gewoonlik net een paar boeie aan hulle voete, maar baie keer het hulle tot drie of vier paar aan hulle voete, en hulle word gedwing om net soos die ander te werk, en as hulle dit nie doen nie, word hulle genadeloos geslaan.”

Vrouegevangenes wat ongehoorsaam was, is gedwing om nekboeie te dra. Hierdie toestel was ’n nekband van metaal, met twee uitsteeksels van ten minste 30 sentimeter. Hierdie swaar toestelle was blykbaar al wat gehelp het om die vroue onder beheer te hou.

Strafkolonies soos Port Arthur, oos van Hobart in Tasmanië, was ’n plek waar misdadigers wat weer skuldig bevind is, swaar gestraf is. ’n Amptelike verslag toon hoe streng hierdie plekke was: “Party gevangenes . . . het die dood bo volgehoue gevangenskap verkies en het misdade gepleeg sodat hulle tereggestel kon word.”

Vir party verbanne gevangenes was dit die ergste om van hulle gesin geskei te wees. François het geskryf: “My dierbare gesin vir wie ek so innig lief is, sal verbanning my dan nog lank van julle, van alles wat ek liefhet, geskei hou? Ag, die skeiding is so droewig en pynlik! Om van ’n beminde vrou en jong kindertjies geskei te word wat nie eers die teerheid van ’n liefdevolle vader geken het nie! My dierbare gesin, ek roep dikwels met siel en hart die hemel aan sodat God die kettings kan verbreek wat my aan hierdie plek vasboei en ’n einde kan maak aan my ballingskap en my so toelaat om na my geliefde gesin terug te keer, na alles wat my hart begeer.”

Die gevangenes se bydrae

In 1837 het goewerneur Bourke gesê: “Binne ’n tydperk van vyftig jaar het die vlytige en bedrewe setlaars in Nieu-Suid-Wallis met behulp van dwangarbeid ’n woestyn in ’n pragtige en florerende kolonie omskep.” Teen dié tyd het meer as twee derdes van die manlike arbeidsmag uit gevangenes of oudgevangenes bestaan, wat die oorblywende bevolking van vrye setlaars gehelp het om hierdie buitengewone werk te voltooi. Meer as 90 persent van al die gevangenes het uit vrye wil of weens omstandighede Australië hulle tuiste gemaak.

Die jong Job het ook een van hierdie permanente inwoners geword, want toe hy vrygelaat is, het hy getrou, hom gevestig en uiteindelik die voorvader geword van honderde inwoners van Australië en Nieu-Seeland. François was daarenteen een van die min gevangenes wat ná sy vrylating na sy vaderland en sy geliefde gesin kon terugkeer.

Die pas waarteen dinge in daardie vroeë dae verander het, het bly toeneem, en binne net drie geslagte het die “pragtige en florerende kolonie” in ’n multikulturele nasie verander. Duisende mense van Asië, Kanada en Europa, insluitende Brittanje, besoek nou elke jaar Australië vrywillig of doen aansoek om hier te woon. Wanneer hulle hier aankom, sien hulle toringhoë betongeboue op die grond waar die gevangenes die plantegroei uitgekap het en groot hoofweë waar die gevangenes vantevore hulle voetpaadjies uitgetrap het. Maar selfs tussen die gewoel van Australië se moderne strate getuig ou klipgeboue nog steeds van die harde arbeid van dié teensinnige baanbrekers wat na Botany-baai gestuur is.

[Kaart/Prent op bladsy 20]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BOTANY-BAAI

[Prente]

JAMES COOK

JOSEPH BANKS

[Erkennings]

Cook: Painting by John Weber/Dictionary of American Portraits/Dover; Banks: Dickinson, W. Portrait of Sir Joseph Banks when Mr. Banks. Rex Nan Kivell Collection; NK10667. By permission of the National Library of Australia; baaitoneel: Fittler, James. Sydney, New South Wales, with entrance into Port Jackson. By permission of the National Library of Australia

[Prent op bladsy 23]

(Bo) Sydney se sentrale sakegebied het ontstaan op die plek waar die sogenaamde Botany-baai se strafkolonie eers was

[Prent op bladsy 23]

Die ou Sydney-hospitaal, nou die Staat se Muntmuseum, is deur gevangenes gebou

[Erkenning]

Image Library, State Library of New South Wales

[Prent op bladsy 23]

Hyde Park-barak, ’n tronk wat deur gevangenes ontwerp en gebou is

[Erkenning]

Hyde Park Barracks Museum (1817). Historic Houses Trust of New South Wales, Sydney, Australia

[Prent op bladsy 23]

Die Great North Road. Gevangenes het hierdie hoofweg van 264 kilometer deur sandsteenkoppies met die hand gekap. Dit het Sydney en die Hunter-vallei naby Newcastle verbind. Dit was een van die belangrikste siviele ingenieursprestasies van die kolonie

[Erkenning]

Managed by the National Parks and Wildlife Service, N.S.W.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel