Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 4/22 bl. 12-15
  • Australië se berugte gevangene-era

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Australië se berugte gevangene-era
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die gevangene-era begin
  • Beproewinge ter see
  • Wanneer die dood verkieslik was
  • ’n Straaltjie hoop verskyn
  • Verbanning—’n seën vir baie
  • Onderweg na Botany-baai
    Ontwaak!—2001
  • Norfolk-eiland—van strafkolonie tot toeristeparadys
    Ontwaak!—1992
  • Tasmanië—klein eiland, unieke verhaal
    Ontwaak!—1997
  • Sydney—’n woelige hawestad
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 4/22 bl. 12-15

Australië se berugte gevangene-era

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

JOHN HILL: Skuldig bevind aan diefstal van een linnesakdoek ter waarde van ses pennies en is vir sewe jaar na Australië verban.

ELIZABETH BASON: Skuldig bevind aan diefstal van ses en ’n half meter katoen. Hoewel sy aanvanklik gehang sou word, is haar vonnis verander na verbanning vir sewe jaar.

JAMES BARTLETT: Skuldig verklaar aan diefstal van 450 kilogram tougaring. Hy is vir sewe jaar na Australië verban.

GEORGE BARSBY: Skuldig bevind aan die aanranding van William Williams en dat hy een sybeursie, een goue horlosie en ses ghienies (omtrent ses Britse pond) van hom gesteel het. Hy sou gehang word, maar die vonnis is verander na lewenslange verbanning.

DIT is maar vier voorbeelde van mense wat in Engeland skuldig bevind is en toe in die laat 18de eeu na Australië verban is. Sowat 160 000 mense het gedurende die berugte gevangene-era ’n soortgelyke lot gehad. Vroue het, in baie gevalle selfs saam met hulle kinders, gewoonlik vonnisse van 7 tot 14 jaar ontvang.

“Baie van Australië se ‘misdadigers’ was seuns en meisies wat nog nie eers in hulle tienerjare was nie”, sê Bill Beatley in Early Australia—With Shame Remembered. Een gevangene, sê hy, was ’n kind van net sewe jaar. Die seuntjie is na Australië verban “vir die duur van sy natuurlike lewe”.

Vir baie gevangenes was die situasie nogtans nie hopeloos nie. Trouens, vir party het verbanning uiteindelik ’n beter lewe beteken. Die hele gevangene-era was in werklikheid vol teenstrydighede; daar was onmenslikheid en medelye, die dood sowel as hoop. En dit het alles in Brittanje begin.

Die gevangene-era begin

Die maatskaplike veranderinge wat agtiende-eeuse Brittanje ondergaan het, het tot ’n toename in misdaad gelei, dikwels as gevolg van volslae armoede. Om hierdie neiging teë te werk, het die owerheid streng wette en swaar strawwe ingestel. Vroeg in die 19de eeu kon ’n mens vir sowat 200 oortredings die doodstraf kry. “Die geringste diefstal”, het een reisiger gesê, “word met die dood gestraf.” ’n Elfjarige seuntjie is selfs gehang omdat hy ’n sakdoek gesteel het!

Maar vroeg in die 18de eeu is ’n wet aangeneem wat toegelaat het dat die doodstraf in baie gevalle versag kon word tot verbanning na Brittanje se kolonies in Noord-Amerika. Om dié rede is daar met verloop van tyd sowat 1 000 gevangenes per jaar weggestuur, aanvanklik merendeels na Virginië en Maryland. Maar toe die kolonies in 1776 hulle onafhanklikheid van Brittanje verkry het, het hierdie gebruik tot ’n einde gekom. Daarna is gevangenes in die berugte tronkskepe op Londen se Teemsrivier gegooi. Hierdie drywende tronke kon natuurlik net ’n beperkte aantal gevangenes hou. Wat kon gedoen word?

Die ontdekkingsreisiger kaptein James Cook het die antwoord voorsien toe hy Nieu-Holland—nou Australië—vir Brittanje geëis het. Kort daarna, in 1786, is daar besluit om Australië se ooskus vir strafkolonies te gebruik. Die volgende jaar het die “Eerste Vloot” Engeland verlaat om die kolonie van Nieu-Suid-Wallis te stig.a Ander vlote het gevolg, en kort voor lank was daar ’n hele aantal nedersettings van gevangenes in Australië, sowel as een op Norfolk-eiland, 1 500 kilometer noordoos van Sydney.

Beproewinge ter see

Die vroeë reise na die strafkolonies was ’n nagmerrie vir die gevangenes, wat in nat, stinkende skeepsrompe gestop is. Honderde het gedurende die reis gesterf; ander kort ná hulle aankoms. Skeurbuik het ’n swaar tol geëis. Maar uiteindelik is dokters op die gevangeneskepe gesit, veral dié wat vrouegevangenes vervoer het. Dit het tot ’n dramatiese verbetering in die oorlewingsyfer gelei. Eindelik het die reistyd van ongeveer sewe maande na vier maande afgeneem omdat die skepe vinniger was, en toe het selfs meer passasiers die reis oorleef.

Skipbreuk was ook ’n gevaar. Vyf dae nadat hulle uit Engeland vertrek het en terwyl hulle nog die Franse kus kon sien, het die Britse gevangeneskip Amphitrite in ’n verskriklike storm ingevaar. Nadat dit twee dae lank meedoënloos rondgeslinger is, het dit teen vyfuur die aand van 31 Augustus 1883 ’n kilometer van die kus af gestrand.

Hulle het hulp van die hand gewys, en die reddingsbote is nie gebruik nie. Waarom nie? Omdat hulle gedink het dat die gevangenes—120 vroue en kinders—dalk sou ontsnap! Ná drie skrikwekkende ure het die gehawende skip sy mensevrag in die see gestort. Die meeste van die bemanning en al 120 vroue en kinders het omgekom. Gedurende die volgende paar dae het 82 liggame op die strand uitgespoel—een daarvan was dié van ’n vrou wat haar kind in ’n omhelsing vasgeklem het wat selfs die dood nie kon breek nie.

Wanneer die dood verkieslik was

Die goewerneur van Nieu-Suid-Wallis, sir Thomas Brisbane, het besluit dat die grootste misdadigers in Nieu-Suid-Wallis en Tasmanië na Norfolk-eiland gestuur moes word. “Die misdadiger wat daarheen gestuur word”, het hy gesê, “word vir ewig van alle hoop op terugkeer afgesny.” Sir Ralph Darling, ’n latere goewerneur, het gesweer dat hy die eiland “’n plek van [die uiterste] straf met die uitsondering van die dood” sou maak. Dit is wat Norfolk-eiland geword het, veral nadat John Price, wat van adellike afkoms was, goewerneur geword het.

Daar is gesê dat Price “blykbaar met skrikwekkende akkuraatheid geweet het hoe ’n misdadiger se kop werk en dat dit, tesame met sy genadelose wetstoepassing, hom amper ’n hipnotiese mag oor [die gevangenes] gegee het”. Price se minimum straf van 50 houe of tien dae in ’n sel saam met tot 13 ander gevangenes, met net genoeg plek om te staan, was vir oortredings soos om te sing, nie vinnig genoeg te loop nie of nie hard genoeg aan vragte klip te stoot nie.

Baie gevangenes het na rus in die dood gesmag. ’n Geestelike het vertel van ’n opstand waarby 31 gevangenes betrokke was, waarvan 13 tereggestel en 18 begenadig is, en het geskryf: “Dit het letterlik so gebeur dat elke man wat gehoor het dat hy begenadig is, bitterlik gehuil het, en dat elke man wat gehoor het dat hy ter dood veroordeel is, met droë oë op sy knieë gegaan en God gedank het.” Hierdie geestelike het bygevoeg: “Toe hulle boeie verwyder is en die doodsvonnis gelees is, het hulle gekniel en dit ontvang asof dit die wil van God was. Daarna het [die gevangenes] in ’n spontane gebaar nederig die voete gesoen van die een wat hulle vrede gebring het.”

Net die geestelikes, met hulle kerklike immuniteit, het dit gewaag om hulle teen sulke wreedheid uit te spreek. “Niks wat ek kan sê, kan ’n goeie beskrywing gee van [Price se] barbaarse onmenslikheid . . . teenoor die gevangenes nie”, het een geestelike geskryf. “Dit walg ’n mens as jy daaraan dink, en dit kan ongestraf beoefen word.”

’n Straaltjie hoop verskyn

Die aankoms van kaptein Alexander Maconochie in 1840 het vir Norfolk-eiland verligting gebring. Hy het ’n puntestelsel ontwerp wat rehabilitasie met belonings gekombineer het en gevangenes in staat gestel het om hulle vryheid te verdien nadat hulle ’n sekere aantal punte, of krediete, verdien het. “Ek glo”, het Maconochie geskryf, “dat rehabilitasie altyd moontlik is wanneer dit op die regte manier gesoek word. Die herstellingsvermoë van die menseverstand is onbeperk wanneer die verstandelike vermoëns op ’n gesonde manier aangewend word en nie deur mishandeling benadeel word of as gevolg van ’n lewende dood stagneer nie.”

Maconochie se hervormings was so suksesvol dat dit later in Engeland, Ierland en die Verenigde State toegepas is. Destyds het Maconochie egter nie net nuwe grond betree nie; hy het ook op die tone getrap van sommige invloedryke persone wie se metodes hy verwerp het. As gevolg daarvan is hy uiteindelik van sy amp onthef. Ná sy vertrek het wreedheid na Norfolk-eiland teruggekeer. Maar dit het nie lank geduur nie. In 1854, ná ernstige klagtes deur die geestelikes, is die eiland nie meer as ’n strafkolonie gebruik nie, en die gevangenes is na Port Arthur in Tasmanië gestuur.

Port Arthur het ook vrees ingeboesem, veral in die vroeë jare. Die wreedheid wat daar beoefen is, was egter nie op dieselfde vlak as dié op Norfolk-eiland nie. Lyfstraf is byvoorbeeld teen 1840 in Port Arthur byna heeltemal afgeskaf.

Tasmanië se streng goewerneur, George Arthur, wou hê die kolonie “moes bekend wees vir masjienagtige dissipline”, skryf Ian Brand in Port Arthur—1830-1877. Terselfdertyd wou Arthur hê dat elke gevangene moes weet wat “die belonings vir goeie gedrag en die straf vir slegte gedrag” was. Met dié doel het hy die gevangenes in sewe kategorieë ingedeel, wat gewissel het van dié wat vryheid vir goeie gedrag toegestaan is, tot dié wat tot dwangarbeid in kettings gevonnis is.

Verbanning—’n seën vir baie

“Buiten diegene wat aangehou is in die strafkolonies by Port Arthur, Norfolk-eiland, . . . en sulke plekke gedurende hulle wreedste tye”, skryf Beatty, “het die gevangenes dikwels beter vooruitsigte gehad as wat hulle in hulle geboorteland sou gehad het. . . . Hulle het geleenthede gehad om suksesvol te word.”

Gevangenes wat vroeg vrygelaat is, sowel as dié wat hulle volle termyn uitgedien het, het gevind dat daar baie geleenthede vir hulle en hulle gesinne was. Daarom het min na Engeland teruggekeer nadat hulle bevry is.

Goewerneur Lachlan Macquarie, ’n ondersteuner van bevryde gevangenes, het gesê: “Wanneer ’n man vry is, moet sy vorige toestand nie meer onthou word of toegelaat word om teen hom te tel nie; laat hom geskik voel vir enige posisie waarvoor hy hom oor ’n lang tydperk van onberispelike gedrag waardig bewys het.”

Macquarie het die daad by die woord gevoeg deur grond aan bevryde gevangenes te gee. Daarna het hy gevangenes aangewys om dié wat uit die tronk vrygelaat is, te help om hulle grond te bewerk en verskeie take in hulle huise uit te voer.

Mettertyd het talle hardwerkende en ondernemende oudgevangenes rykdom, respek, en in sommige gevalle, selfs beroemdheid verwerf. Samuel Lightfoot het byvoorbeeld ’n sleutelrol gespeel in die stigting van die eerste hospitale in Sydney en Hobart. William Redfern het ’n hooggeagte geneesheer geword en Francis Greenway het sy merk in en om Sydney gelaat in die vorm van kenmerkende argitektuur.

Uiteindelik, ná 80 jaar, het verbanning na Australië in 1868 tot ’n einde gekom. Vandag lewer Australië se moderne, multikulturele gemeenskap min bewys van daardie vroeë jare. Die oorblyfsels van gevangenenedersettings is nou slegs toeriste-aantreklikhede. Maar ’n nadere ondersoek bring baie minder pynlike herinneringe van die gevangene-era aan die lig: brûe, ou geboue en selfs kerke—wat almal deur gevangenes gebou is. Party is in ’n uitstekende toestand en selfs vandag nog in gebruik.

[Voetnoot]

a Vir ’n bespreking van die strafkolonie by Botany-baai, sien asseblief die Ontwaak! van 8 Februarie 2001, bladsy 20.

[Venster/Prent op bladsy 14]

VERSLAG DEUR ’N AFSTAMMELING VAN ’N GEVANGENE

’n Vyfdegeslagafstammeling van twee gevangenes vertel hoe een van sy voorouers na Australië toe gekom het. Hy verduidelik:

“Op 19-jarige ouderdom is een van my voorouers gevonnis . . . omdat hy ’n beursie gesteel het. Hy het Engeland op 12 Desember 1834 verlaat aan boord die skip George III, saam met 308 passasiers—waarvan 220 gevangenes was. Teen die tyd dat die skip op 12 April 1835 die kus van Tasmanië gesien het, was 50 gevangenes siek met skeurbuik. ’n Soldaat se vrou, 3 kinders en 12 ander het gesterf. Twee kinders is gedurende die lang reis gebore.

“Ná ses weke op see het ’n brand op die skip uitgebreek. Maar ’n ramp is afgeweer danksy die dapperheid van twee gevangenes wat gekeer het dat twee vate vol buskruit ontplof. Maar baie lewensmiddele is nogtans vernietig, en dit het vir die res van die reis tot ’n tekort aan benodigdhede gelei. In ’n poging om so gou as moontlik by die hawe uit te kom, het die kaptein ’n korter roete, deur die D’Entrecasteaux-kanaal aan die suidelike punt van Tasmanië, gekies. Teen 9:30 nm. het die skip ’n ongekarteerde rots vyf kilometer van die strand af, wat vandag as die Koning George-rots bekend staan, getref en gesink. Van die 133 wat verdrink het, was byna almal gevangenes wat onder in die ruim toegesluit was. Slegs 81 van die oorspronklike 220 gevangenes het dit oorleef. Een van hulle was my voorvader. In 1843 het hy met ’n bevryde gevangene getrou, en twee jaar later is hy kwytgeskeld. Hy is in 1895 oorlede.”

[Prente op bladsy 12, 13]

SIR THOMAS BRISBANE

GOEWERNEUR LACHLAN MACQUARIE

Die Britse gevangeneskip “Amphitrite”

[Erkennings]

Gevangenes: By Courtesy of National Library of Australia; F. Schenck se portret van sir Thomas Brisbane: Rex Nan Kivell Collection, NK 1154. By permission of the National Library of Australia; Macquarie: Mitchell Library, State Library of New South Wales; skip: La Trobe Picture Collection, State Library of Victoria

[Prente op bladsy 14, 15]

Selblok van die Port Arthur-gevangenis

[Erkenning]

Boeie en selblok: La Trobe Picture Collection, State Library of Victoria

[Prent op bladsy 15]

Hierdie ligtoring by die Sydney-hawe is ’n replika van een wat deur die oudgevangene Francis Greenway ontwerp is

[Prent op bladsy 15]

Norfolk-eiland se ontoeganklike kuslyn

[Prent op bladsy 15]

Die ou militêre kaserne op Norfolk-eiland

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel