Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 5/8 bl. 24-27
  • Tasmanië—klein eiland, unieke verhaal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tasmanië—klein eiland, unieke verhaal
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tasmanië word ’n “gevangenis van die ryk”
  • ’n Volk verdwyn
  • Tasmanië se sigbare kontraste
  • Die eiland se rustiger sy
  • Van ’n land van vervolging tot ’n geestelike paradys
  • Het jy al ’n buidelwolf gesien?
    Ontwaak!—1995
  • Australië se berugte gevangene-era
    Ontwaak!—2002
  • Eienaardige diere van Tasmanië se wildernis
    Ontwaak!—2012
  • Vasbeslotenheid het my gehelp om suksesvol te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 5/8 bl. 24-27

Tasmanië—klein eiland, unieke verhaal

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

“AANGESIEN dit die eerste land is waarop ons in die Suidsee afgekom het, en dit nie aan enige Europese nasie bekend is nie, het ons dit die naam Anthoony van Diemenslandt gegee, ter ere van [ons] Ed. goewerneur-generaal.” Dit was die woorde van die Nederlander Abel Tasman op 25 November 1642, die dag nadat hy die eiland Tasmanië, die tweede oudste Australiese staat, gesien het.a Tasman het geen mense gesien nie, maar hy het wel die rook van vure in die verte gesien sowel as kepe wat 1,5 meter uit mekaar op nabygeleë bome uitgesny was. Wie ook al daardie kepe uitgesny het, het hy geskryf, het óf ’n ongewone manier om bome te klim óf is reuse! Die kepe was in werklikheid om bome mee te klim.

Daarna het Van Diemensland 130 jaar lank van die reisplan van ontdekkingsreisigers verdwyn, totdat die Fransman Marion du Fresne en die Engelsman Tobias Furneaux dit besoek het. In 1777 het kaptein James Cook daar aangekom en, soos Du Fresne, het hy die eiland se unieke inboorlinge ontmoet. Sy besoek was egter die begin van ’n tragedie: “Vir sommige lande het [Cook] die weg gebaan vir beskawing en godsdiens”, sê John West in The History of Tasmania, “[maar] vir hierdie mense [die inboorlinge] was hy die voorloper van die dood.” Wat het aanleiding gegee tot so ’n tragiese nadraai?

Tasmanië word ’n “gevangenis van die ryk”

Deportasie, of verbanning, was die Britse strafroede, en Tasmanië het een van Brittanje se strafkolonies geword. Van 1803 tot 1852 is ongeveer 67 500 mans, vrouens en selfs kinders—waarvan sommige net sewe was—van Engeland na Tasmanië verban vir misdade wat wissel van die steel van gebedeboeke tot verkragting. Die meeste gevangenes het egter vir setlaars of aan regeringsprojekte gewerk. “Minder as 10 persent . . . het ooit die binnekant van ’n strafkamp gesien”, sê The Australian Encyclopaedia, “en baie wat wel soontoe gestuur is, was slegs daar vir kort tye.” Port Arthur, aan die Tasman-skiereiland, was die vernaamste strafkolonie, maar die mees geharde gevangenes is na Macquarie-hawe gestuur, wat onthou word as “’n plek van marteling”. Die smal hawe-ingang is die onheilspellende naam Helspoort gegee.

In die boek This Is Australia verduidelik dr. Rudolph Brasch nog ’n belangrike aspek van hierdie jong kolonie—sy geestelikheid, of liewer sy gebrek daaraan. Hy skryf: “Uit die staanspoor is godsdiens in Australië [met inbegrip van Tasmanië natuurlik] verwaarloos en geïgnoreer en, hoogstens, deur die maghebbers tot hulle eie voordeel gebruik en misbruik. Die kolonie is sonder ’n gebed gestig en dit lyk of die eerste diens op Australiese bodem ’n nagedagte was.” Terwyl die pelgrims van Noord-Amerika kerke gebou het, “het die vroeë burgers van die suidelike wêreld”, sê The History of Tasmania, “hulle eerste kerk afgebrand om die verveling van bywoning vry te spring”.

Hierdie reeds bestaande siek moraliteit is selfs verder verderf deur die oorvloed van rum. Rum was vir burgers sowel as soldate “die gewisse weg na rykdom”, sê die geskiedskrywer John West.

Soms was kos egter skaars. Wanneer dit die geval was, het bevryde gevangenes en setlaars dieselfde wild wat die inboorlinge met spiese gejag het met vuurwapens gejag. Dit is te verstane dat die spanning toegeneem het. Voeg nou by hierdie ontplofbare situasie wit rassewaan, die oorvloed van rum en onversoenbare kulturele verskille. Europeërs steek grense af en bou heinings; die inboorlinge jag en samel kos op ’n nomadiese wyse in. ’n Vonk is al wat nodig was.

’n Volk verdwyn

Daardie vonk het in Mei 1804 ontstaan. ’n Kommando wat deur ’n luitenant Moore gelei is, het sonder aanleiding op ’n groot jagparty van inboorlingmans, -vrouens en -kinders geskiet—baie is doodgemaak en gewond. “Die Swart Oorlog”—spiese en klippe teen koeëls—het begin.

Vir baie Europeërs was die moord op die inboorlinge weersinwekkend. Die goewerneur, sir George Arthur, was so ontsteld dat hy sy gewilligheid uitgespreek het om byna enigiets te doen om te ‘vergoed vir die skade wat die regering die inboorlinge onwillig berokken het’. Hy het gevolglik ’n program van stapel gestuur om hulle “bymekaar te maak” en te “beskaaf”. In ’n veldtog wat die “Swart Lyn” genoem is, het ongeveer 2000 soldate, setlaars en gevangenes deur die bos beweeg in ’n poging om die inboorlinge vas te keer en in ’n veilige plek te hervestig. Maar hulle poging was ’n vernederende mislukking; hulle het ’n vrou en ’n seuntjie gevang. Toe het George A. Robinson, ’n vername Wesleyaan, die voortou geneem met ’n tegemoetkomender benadering, en dit het gewerk. Die inboorlinge het hom vertrou en het sy aanbod aanvaar om hulle op Flinders-eiland, noord van Tasmanië, te hervestig.

In haar boek A History of Australia sê Marjorie Barnard die volgende oor hierdie prestasie van Robinson: “Hoewel hy waarskynlik heeltemal onbewus was hiervan het sy versoening in werklikheid ’n nadelige uitwerking gehad. Die ongelukkige inboorlinge was op Flinders-eiland in die Bass-straat afgesonder met Robinson as hulle bewaker. Hulle het weggekwyn en gesterf.” Die gedwonge verandering in lewenswyse en dieet het die werk van die muskette voortgesit. Een bron sê dat “die laaste rasegte Tasmaniese inboorling Fanny Cochrane Smith was, wat in 1905 in Hobart gesterf het”. Gesaghebbendes is dit nie eens hieroor nie. Party verwys na Truganini, ’n vrou wat in 1876 in Hobart gesterf het, ander verwys na ’n vrou wat in 1888 op Kangaroe-eiland gesterf het. Vandag lewe daar nog afstammelinge van die Tasmaniese inboorlinge van gemengde bloed. Hierdie episode, wat by die mensdom se lys van skendings gevoeg kan word, is al gepas “die staat se grootste tragedie” genoem. Daarbenewens beklemtoon dit die Bybelwaarheid dat ‘die een mens oor die ander heers tot sy ongeluk’.—Prediker 8:9.

Tasmanië se sigbare kontraste

Tensy jy museums, biblioteke of die ruïnes van gevangenisse besoek, sal jy vandag nouliks bewus wees van hierdie pragtige eiland se vuurdoop. Tasmanië is ongeveer dieselfde afstand suid van die ewenaar as wat Rome, Sapporo en Boston noord daarvan is. En soos met sy geskiedenis, is daar ook skerp kontraste in sy geografie, al is daar nie ’n plek op die eiland wat verder as 115 kilometer van die see af is nie.

Woude beslaan 44 persent van Tasmanië se totale oppervlak en nasionale parke 21 persent daarvan. Sulke verhoudings is ongewoon! Volgens The Little Tassie Fact Book “is Wes-Tasmanië se wêrelderfenis-gebied een van die laaste groot ongerepte, gematigde wildernisgebiede in die wêreld”. Mere, riviere en watervalle wat vol forel is en deur reën en sneeu gevoed word, onderhou woude potlooddenne, bloekombome, mirte, swarthout, sassafras, leerhout, selery-denne en Huon-denne, om maar net ’n paar te noem. Dit is geen wonder dat die uitsig vanaf die sentraalwestelike plato se hoë vlaktes en dikwels sneeubedekte pieke natuurliefhebbers keer op keer teruglok nie.

Maar “wêrelderfenis”-beskerming is nie sonder ’n stryd verkry nie. En daar is steeds konflik tussen diegene wat besorg is oor die omgewing en die belange van die mynbou, papiervervaardiging en die opwekking van hidroëlektriese krag. Die maanagtige landskap van Queenstown, ’n myndorp, is ’n wrede herinnering aan die gevolge van onbesonne ontginning van hulpbronne.

Inheemse diere het ook gely—veral die buidelwolf, of Tasmaniese tier, ’n geelbruin, hondagtige buideldier. As gevolg van die donker strepe oor sy rug en kruis word hy ’n tier genoem. Ongelukkig het hierdie skraal, skugter vleiseter ’n smaak vir pluimvee en skape ontwikkel. Met ’n prys op sy kop het hy teen 1936 uitgesterf.

’n Ander unieke Tasmaniese buideldier, die Tasmaniese duiwel, het nog lank nie uitgesterf nie. Met sy kragtige kake en tande kan hierdie sterk aasvreter wat ses tot agt kilogram weeg ’n hele dooie kangaroe met skedel en al opvreet.

Tasmanië is ook goed bekend vir sy kortstertpylstormvoël. Nadat hy sy migrasie by die Tasman-see begin het en so te sê om die Stille Oseaan gevlieg het, keer hy elke jaar terug na dieselfde sanderige nes—’n prestasie wat werklik sy Ontwerper en Skepper eer.

Daar naby in sy eie nagtelike broeiplek vind ons ’n ander voël, een wat onder die water “vlieg”. Hierdie oulike voël word die dwergpikkewyn genoem en is donserig, met ’n kort snawel en weeg een kilogram. Hierdie pikkewyn, wat die kleinste van alle pikkewyne is, is ook die lawaaierigste! Hulle vertonings verskil in intensiteit, en soms bereik die geluide wat hulle maak en hulle liggaamsbewegings ’n hoogtepunt. Wanneer ’n paar romanties voel, sal hulle moontlik selfs ’n duet opvoer om hulle gehegtheid aan mekaar te bevestig. Maar baie word ongelukkig doodgemaak deur vissermanne se kiefnette, oliestortings, plastiekvoorwerpe wat vir kos aangesien word of deur honde en wilde katte.

Die eiland se rustiger sy

As jy van die rand van die sentrale plato na die noorde of ooste kyk, sal jy Tasmanië se beskaafder sy sien, met sy omgeploegde, sjokoladebruin landerye, kronkelende riviere en spruite, paaie tussen lanings bome en groen weivelde gespikkel met skape en beeste. So teen Januarie wanneer die laventelplase naby die dorp Lilydale in die noorde in volle bloei is, voeg hulle ’n sagte pers kleur met ’n lieflike geur by hierdie plattelandse mosaïek.

Weerskante van die Derwent-rivier, nie ver van die appelboorde wat aan Tasmanië die naam Die Appel-eiland besorg het nie, is die hoofstad Hobart, met ’n bevolking van ongeveer 182 000. Dit word oorheers deur die groot, onheilspellende berg Wellington, wat 1270 meter hoog is. Op ’n helder dag bied hierdie berg wat dikwels met sneeu bedek is ’n mens ’n panoramiese uitsig van die stad daar onder. Hobart het inderdaad ver gevorder sedert 1803, toe luitenant John Bowen en sy geselskap van 49, waaronder 35 gevangenes, by Risdonbaai vir die eerste keer aan wal gegaan het. Ja, seile en krakende balke behoort tot die verlede, maar een keer per jaar herinner die strawwe Sydney-na-Hobart-seiljagresies ons aan daardie vroeër dae wanneer kleurvolle spinnakers en vaartbelynde rompe vinnig verby juigende skares seil, reg tot in die hartjie van Hobart.

Van ’n land van vervolging tot ’n geestelike paradys

Geoffrey Butterworth, een van die 2447 byeenkomsgangers by die “Godvrugtige vrees”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies wat in 1994 in Launceston gehou is, sê: “Ek onthou toe daar niks meer as 40 Getuies in die hele Tasmanië was nie.” Nou is daar sowat 26 gemeentes en 23 Koninkryksale.

“Maar tye was nie altyd so gunstig nie”, voeg Geoff by. “In 1938 het ek, Tom Kitto en Rod McVilly byvoorbeeld almal reklameborde gedra terwyl ons die openbare Bybeltoespraak ‘Hou rekening met die feite’ geadverteer het. Dit was ’n snydende blootlegging van valse godsdiens wat deur middel van ’n radionetwerk van Londen af uitgesaai sou word. Toe ek by my vriende aansluit, was ’n groep jeugdiges besig om hulle lastig te val. En die polisie het net toegekyk! Ek het hulle te hulp gesnel en het onmiddellik ’n paar houe gekry. Maar ’n man het my aan die agterkant van my hemp gegryp en my weggesleep. Die man het my nie geslaan nie, maar eerder gebulder: ‘Laat staan hulle!’ Toe het hy saggies vir my gesê: ‘Ek weet hoe dit voel om vervolg te word maat, ek is Iers.’”

Jehovah het daardie vroeë pioniers geseën, want vandag het die goeie nuus van God se Koninkryk alle dele van hierdie eiland met sy 452 000 mense bereik. Baie nakomelinge van die vroeë gevangenes en inboorlinge verwag om almal—swart en wit—wat so ’n onregverdige dood in daardie wrede vroeë dae gesterf het, op ’n gereinigde aarde terug te verwelkom, want die Bybel belowe “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges” (Handelinge 24:15). Hierdie ommekeer sal so deeglik wees dat ‘die vorige dinge nie eers aan gedink sal word nie’.—Jesaja 65:17.

[Voetnoot]

a Die naam Tasmanië is op 26 November 1855 amptelik aangeneem. Die oudste staat is Nieu-Suid-Wallis.

[Kaarte/Prente op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Bo: Cradle-berg en Dove-meer

Bo-regs: Tasmaniese duiwel

Onder-regs: Reënwoud in die suidweste van Tasmanië

Australië

TASMANIË

[Erkenning]

Tasmaniese duiwel en ’n kaart van Tasmanië: Departement van Toerisme, Sport en Ontspanning – Tasmanië; Kaart van Australië: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel