Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 2/22 bl. 25-27
  • Is dit so verkeerd om uit te glip?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit so verkeerd om uit te glip?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom party uitglip
  • Die gevare
  • Die skade
  • Hoe om meer vryheid te kry
  • ‘Moenie saam met hulle gaan nie’
  • Waarom laat my ouers my nie toe om pret te hê nie?
    Ontwaak!—2011
  • Waarom moet ek my ouers gehoorsaam?
    Ontwaak!—1994
  • Waarom laat my ouers my nie toe om pret te hê nie?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • ’n Dubbele lewe—Waarom nie?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 2/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Is dit so verkeerd om uit te glip?

“Ons het om middernag uitgeglip en na die koffiekroeg gegaan om saam met ’n paar ouens te wees. Toe het ons op ’n nabygeleë koppie begin uithang. Al die jongmense het gerook, hoewel ek dit nooit gedoen het nie. Ons het rondgesit en oor allerhande dinge gesels, terwyl ons na heavy metal-musiek geluister het. Dan het ons om 5 vm. huis toe gegaan voordat my ouers wakker geword het.”—Tina.a

“Wanneer my pa werk toe gegaan en my ma geslaap het, het ek by die voordeur uitgesluip. Ek het dit oopgelos sodat sy nie kon hoor as ek dit toemaak nie—dit was ’n metaaldeur. Ek het die hele nag saam met my vriende uitgehang. As die son dan in die oggend opgekom het, het ek stilletjies probeer teruggaan. Soms het sy agtergekom dat ek weg is en my uitgesluit.”—Johan.

UITSLUIP—dit klink na opwinding en pret. Dit is ’n geleentheid om die lewe ’n paar uur lank op jou eie te verken, ’n geleentheid om te doen wat jy wil en te wees saam met wie jy wil, sonder om aan enigiemand verantwoording te doen. Daarbenewens het jy waarskynlik al gehoor hoe jou portuurs spog oor die dinge wat hulle doen en die pret wat hulle het wanneer hulle snags uitglip. Daarom is dit dalk vir jou baie aanloklik om by hulle te probeer aansluit.

In ’n opname onder 110 junior en senior hoërskoolleerlinge in Noord-Amerika het 55 erken dat hulle ten minste al een keer uitgeglip het. Die meeste van hulle het dit die eerste keer op die ouderdom van 14 gedoen. Die probleem is so erg dat party deskundiges ouers aangeraai het om elektroniese alarmstelsels in hulle huis te installeer om te keer dat hulle kinders skelm uit die huis uitglip. Waarom is soveel jongmense bereid om hulle hulle ouers se woede op die hals te haal deur uit te glip?

Waarom party uitglip

Soms glip jongmense uit bloot omdat hulle verveeld is en ’n bietjie pret saam met hulle vriende wil hê. Die boek Adolescents and Youth verduidelik dat jongmense dalk uitglip “weens die een of ander beperking, soos om vroegaand tuis te wees of om gehok te wees sodat hulle nie na ’n sosiale geleentheid toe kan gaan nie. Die jeugdige gaan in elk geval en kry dit soms reg om terug te keer sonder om betrap te word.” Een 16-jarige het verduidelik waarom sy uitgeglip het. “Dit voel asof ek ’n baba is en ek nie ’n lewe het nie”, het sy gesê. “Ek moet heelwat vroeër by die huis wees as enigiemand anders. En my ouers wil nie hê dat ek na dieselfde plekke as my vriende moet gaan nie . . . Ek gaan natuurlik in elk geval en vertel dan leuens.” Johan, wat aan die begin genoem is, het op die ouderdom van 14 begin uitglip toe hy na ’n rapkonsert gegaan het wat sy ouers hom verbied het om by te woon.

Die meeste jongmense glip nou wel nie weens slegte beweegredes uit nie. Tina, een van die jeugdiges wat aan die begin genoem is, het gesê: “Ons het nie heel eerste gedink: ‘Kom ons gaan doen iets slegs nie.’ Ek wou net saam met my suster wees, en sy wou uitgaan en pret saam met haar vriende hê.” Johan het gesê: “Ons het bloot uitgehang. Ek wou gesels en saam met my vriende wees.” Maar hoewel dit dalk selde tot ernstige misdade lei wanneer ’n mens saam met jou vriende uithang, beland baie jongmense tog in groot moeilikheid.

Die gevare

Geestesgesondheidsdeskundige dr. Lynn E. Ponton sê: “Dit is normaal vir tieners om kanse te waag.” Dr. Ponton verduidelik verder dat dit normaal en miskien selfs heilsaam vir jongmense is om onafhanklik te wil word, om nuwe dinge te probeer, om in nuwe en interessante situasies te wees. Dit is ’n deel van grootword. Maar baie jongmense waag buitengewone kanse—veral wanneer hulle ver van hulle ouers se toesig af is. Die tydskrif Teen sê: “’n Kombinasie van portuurdwang, verveeldheid, opgehoopte energie en miskien ’n ander katalisator soos ’n bier . . . kan veroorsaak dat tieners die verkeerde kans waag—en met hulle lewe daarvoor betaal.” Een opname het ’n paar van hierdie gevaarlike tienerbedrywighede genoem, soos om te vinnig te ry, vandalisme, dronkbestuur en diefstal.

As jy eers ongehoorsaam was, is dit makliker om by ernstiger oortredings betrokke te raak. Dit is soos Jesus in Lukas 16:10 gesê het: “Hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig.” Dit is dan geen wonder nie dat dit tot ernstige sondes kan lei wanneer jy en jou vriende uitglip. Tina het hoerery gepleeg. Johan het dwelms begin verkoop, is gearresteer en tronk toe gestuur. ’n Jong Christen met die naam Jan het begin om dwelms te gebruik en motors te steel. Baie jongmense maai ongelukkig ook die fisiese gevolge van sulke gedrag—ongewenste swangerskappe, seksueel oordraagbare siektes, alkohol- of dwelmverslawing.—Galasiërs 6:7, 8.

Die skade

Die emosionele skade wat jy jouself berokken, kan erger wees as die skade aan jou liggaam. ’n Gekwelde gewete kan jou baie pyn veroorsaak (Psalm 38:4, 5). Johan sê: “Daar is ’n gesegde wat sê dat jy nie weet wat jy het, totdat jy dit verloor nie. Ek dink soms terug en kan nie glo dat ek so blind was nie.”

’n Mens moet ook nie vergeet dat dit jou reputasie kan benadeel nie. Prediker 10:1 (NW) sê: “Dooie vlieë laat die olie van die salfmaker stink en borrel. Dit is wat ’n bietjie dwaasheid aan iemand doen wat kosbaar is weens wysheid en heerlikheid.” In die ou tyd kon ’n waardevolle salf of parfuum bederf word deur iets so klein soos ’n dooie vlieg. Die goeie reputasie wat jy opgebou het, kan eweneens deur net “’n bietjie dwaasheid” bederf word. En as jy ’n Christen is, sal sulke wangedrag ongetwyfeld daartoe lei dat jy nie voorregte in die gemeente kry nie. Hoe kan jy ander immers aanspoor om Bybelbeginsels te volg as hulle weet dat jy dit self nie gevolg het nie?—Romeine 2:1-3.

Dink ten slotte aan hoeveel pyn jou ouers moet deurmaak wanneer hulle uitvind dat jy nie daar is nie. Een ouer vertel hoe verskrik sy was toe sy ontdek het dat haar 15-jarige dogter nie in die huis was nie. Sy beskryf haarself en haar man as ‘buite hulleself weens kommer’ omdat hulle nie geweet het waarheen hulle dogter gegaan het nie. Wil jy jou ouers sulke pyn en hartseer besorg?—Spreuke 10:1.

Hoe om meer vryheid te kry

Dit is te verstane dat dit frustrerend kan wees as dit lyk of jou ouers te streng is. Maar is dit regtig die oplossing om uit te glip? Jy sal sonder twyfel uiteindelik betrap word. Selfs al is jy uitgeslape genoeg om jou ouers om die bos te lei, sien Jehovah God jou dade, selfs dit wat in die nag gedoen word (Job 34:21). Jy sal dus vroeër of later betrap word en die vertroue wat jou ouers vantevore in jou gehad het, waarskynlik skend. Die gevolg? Dit wat jy juis wou hê—vryheid—sal jy eintlik verloor!

Onthou: Jy moet jou ouers se vertroue wen om vryheid te geniet. En die beste manier om dit te doen, is eenvoudig om hulle te gehoorsaam (Efesiërs 6:1-3). As jy voel dat jou ouers op die een of ander manier onredelik is, moet jy openlik—en respekvol—met hulle praat. Hulle kan selfs dit wat jy sê in ag neem. Jy vind dalk daarenteen dat hulle goeie redes het waarom hulle jou ietwat inperk. Selfs al stem jy nie saam nie, moet jy nooit vergeet nie dat hulle jou liefhet en jou beste belange op die hart dra. Bou voort op die vertroue wat hulle in jou stel, en mettertyd sal jy die vryheid kry wat jy begeer.b

‘Moenie saam met hulle gaan nie’

In die ou tyd het godvresende jongmense dikwels in die versoeking gekom om hulle saam met hulle portuurs aan slegte gedrag skuldig te maak. Salomo het jongmense dus aangespoor: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie. . . . Gaan nie met hulle saam op die weg nie” (Spreuke 1:10, 15). Luister na hierdie raad wanneer sogenaamde vriende jou probeer oorreed om uit te glip. Salomo waarsku verder: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.”—Spreuke 22:3.

As jy alreeds begin het om uit te glip, moet jy ophou! Jy benadeel net jouself op die lange duur. Vertel jou ouers wat jy gedoen het en aanvaar enige straf of beperkings wat hulle jou dalk oplê. Kies nuwe vriende as dit moet—vriende wat ’n goeie invloed op jou sal hê (Spreuke 13:20). Soek na meer heilsame en minder gewaagde maniere om jou lewe te geniet.

Werk bowenal aan jou geestelikheid deur die Bybel te lees en Christelike vergaderinge by te woon. “Hoe sal ’n jong man sy pad reinig?” het die psalmis gevra. Hy antwoord: “Deur op sy hoede te bly ooreenkomstig [God se] woord” (Psalm 119:9, NW). Namate jy geleidelik jou verstand hervorm om te doen wat reg is, sal jy tot die gevolgtrekking kom dat, hoewel dit na pret en opwinding klink om uit te glip, dit net nie die moeite werd is nie.

[Voetnote]

a Die name is verander.

b Sien hoofstuk 3 van die boek Vra wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc, vir inligting oor hoe om groter vryheid te geniet.

[Lokteks op bladsy 27]

‘My ouers wil nie hê dat ek na dieselfde plekke as my vriende moet gaan nie . . . Ek gaan in elk geval en vertel dan leuens’

[Prent op bladsy 26]

Om uit te glip, lei dikwels tot ernstige probleme

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel